top of page

Beleid vir Facebook-blad

Ons onderskryf die beleid van die SA Jagtersvereniging. Enigiets rakende wild, jag en veldlewe is welkom. Wat ons nie toelaat nie is die volgende:

Enige kru taal; pornografie en onder die belt grappies, spotprente en sketse; politieke, rassistiese, seksistiese of afbrekende kommentaar en posts. Verder verbied ons enige foto's of video's wat jag of jagters in 'n slegte lig stel of wat nie 'n positiewe beeld van jag uitdra nie. Enige foto's wat geplaas word moet van so 'n aard wees dat niemand 'n vinger na jagters kan wys en ons beskuldig dat ons 'n behae daarin het om diere dood te maak of dat ons bloeddorstig is of skietlustige "cowboys" is nie. Diegene wat nie by hierdie reëls hou nie sal van die groep verwyder word. SA JAGTER/HUNTER-tydskrif beveel ook aan dat skote op wild beperk word tot 300m. Dis bloot 'n aanbeveling, niks meer nie. Ons is terdeë daarvan bewus dat daar skuts is wat akkuraat op wild kan skiet op langer afstande. Wanneer ons egter aanbevelings maak moet ons eerder konserwatief wees anders kan ons baie maklik bestempel word as onverantwoordelik. Foto's en video's van baie lang skote met die beskrywing van die afstand daarby sal ongelukkig nie hier geplaas kan word nie. Ons gun die langafstandskuts hulle sport maar glo dat hulle prestasies op 'n ander blad tuis hoort. Ons laat nie advertensies op die blad toe nie, behalwe vir jagplase/jagte en skietkompetisies. Enigiemand wat 'n produk of dienste wil adverteer kan dit op ons webblad www.sajagterhunter.com (VERKOOP/BOKSPOG) doen, of as jy opsoek is na produkte of dienste is dit ook daar te kry. Mense wat wel jagte/jagplase of skietkompetsies hier adverteer kry een geleentheid per maand om iets te post en dieselfde plek/jag/kompetisie mag slegs een keer per maand geadverteer word, al word dit deur verskillende mense gepost. Enige jagondernemers wat op ons blad adverteer moet hulle pryse bysit, indien hulle nie daarby hou nie sal hulle van die blad verwyder word. Dan vra ons lede om asb die “report”-funksie te gebruik om onvanpaste posts aan admin te rapporteer. Let ook daarop dat kinders onder die ouderdom van 10 se jagfoto's nie geplaas sal word nie. Hierdie is die Facebook-groep van die SA JAGTER/HUNTER-tydskrif. Enige iemand wat iets plaas van, deur of oor ’n ander tydskrif of wat ’n ander webblad of Facebook-groep hier adverteer sal verwyder word. Dankie vir julle samewerking.

bottom of page