top of page

SA JAGTER/HUNTER | Mei 2022 | Deur KARLA JANSE VAN VUUREN | Foto’s: GERRIE JANSE VAN VUUREN

resep 1.jpg

’n Meksikaanse fees met 'n springbokblad

STAP 1

BEREI DIE BLAD VOOR

 

JY BENODIG: 

• 1 kg ontbeende spring- bokblad 

• Olyfolie 

• 1 ui, gekap 

• 2 wortels, gekap 

• 2 selderystokkies, gekap 

• 1 knoffelhuisie, geskil en middeldeur gesny 

• 1 blokkie beesvleisaftreksel 

• 2 lourierblare 

• Sout en peper na smaak

 

SÓ MAAK ’N MENS: 

1. Verhit die olyfolie in ’n groot, oondvaste swaarboomkastrol (met ’n deksel) en verbruin die vleis aan alle kante. Voeg die res van die bestanddele by, asook genoeg water om die vleis te bedek. 

2. Sit die deksel op en plaas die kastrol in die oond. Kook stadig teen 110 °C vir sowat 6-8 ure totdat die vleis uitmekaarval as jy dit met ’n vurk pluis. 

3. Laat afkoel en skep enige vet af. Dreineer maar behou die vloeistof en groente (dis ’n lekker aftreksel wat jy in soppe en souse kan gebruik). Pluis die vleis uitmekaar sodat dit soos tipiese flentervleis lyk. Nou is jy gereed om jou sombrero op te sit en Meksikaanse lekkernye met die springbokvleis te skep. 

(Resep-idee uit Everyday Venison deur Leslie van der Merwe)

 

RESEP 1

TACO’S MET BBQ-SPRINGBOK FLENTERVLEIS EN KOOLSLAAI

 

JY BENODIG 

(genoeg vir 4): 

250 g gaar springbokflentervleis 

 

VIR DIE BBQ-SOUS: 

• 1 k tamatiesous 

• 1 e Worcestersous 

• 1 e appelasyn 

• 1 k ligte bruinsuiker VIR DIE ROMERIGE KOOLSLAAI: 

• 1 klein pers of wit kool, fyngekap (’n kombinasie van die twee lyk mooi)

• 2-3 e romerige mayonnaise 

• Sap van 1 lemmetjie of klein suurlemoen 

• Sout en peper na smaak OM VOOR TE SIT: 

• 6-10 klein, sagte tortillas 

• ’n Growwe salsa gemaak van gekapte tamaties, sprietuie, rooirissies en komkommer (pas dit aan volgens jou smaak) 

• Vars koljander, gewas en grofgekap 

• Vars jalapeno’s, in dun skyfies gesny (opsioneel)

 

SÓ MAAK ’N MENS: 

1. Meng al die bestanddele vir die BBQ-sous in ’n klein kastrol. Laat prut oor matige hitte vir ’n paar minute – roer gereeld sodat dit nie aanbrand nie. Proe en geur na smaak indien nodig. 

2. Voeg die flentervleis by die sous en roer sodat dit die vleis deeglik bedek. Laat ’n paar minute prut sodat die geure lekker met mekaar kan begin gesels. 

3. Meng die lemmetjiesap en die mayonnaise saam en voeg die fyngekapte kool by. Proe en geur na smaak met sout en peper. 

4. Verhit die tortillas vir ’n paar sekondes aan elke kant in ’n warm, droë pan (of vir 10 sekondes in die mikrogolf). Skep ’n eetlepel van die koolslaai bo-op elke tortilla, gevolg deur ’n lepel salsa en dan ’n lepel vleis. Garneer met die koljander en jalapeno’s. Sit dadelik voor. 

(Geïnspireer deur ’n resep op eatlittlebird.com.)

 

RESEP 2

QUESADILLAS MET SPRINGBOKFLENTERVLEIS, DRIE KASE EN GEKARAMELLISEERDE UIE

 

JY BENODIG 

(genoeg vir 4-6): 

• 6 groot tortillas 

• 200 g mozzarellakaas, gerasper 

• 200 g beleë cheddarkaas, gerasper 

• 2 wieletjies fetakaas, gekrummel 

• 2 groot uie, in dun skyfies gesny 

• ’n skeut balsemasyn 

• 250 g springbokflentervleis 

• Opsioneel: vars of ingelegde jalapeno’s, in dun skyfies gesny

 

OM VOOR TE SIT: 

Guacamole (of vars avokadopeer, in skywe gesny), suurlemoenskywe en tamatiesalsa

 

SÓ MAAK ’N MENS: 

1. Meng die drie kase saam in ’n mengbak.

2. Braai die uie oor matige hitte in ’n bietjie botter. Gooi ’n bietjie water by en sit die deksel op. Verlaag die hitte en prut stadig tot sag. Haal die deksel af, voeg die asyn en varsgemaalde sout by en nog ’n klontjie botter. Hou aan braai tot die uie pragtig goudbruin en gekaramelliseer is. Verwyder van die hitte. 

3. Plaas een tortilla op ’n groot bord en sit vir sowat 10 sekondes in die mikrogolf tot sag. Sprinkel nou van die kaasmengsel oor een helfte van die tortilla (hou een kant leeg). Versprei daarna van die vleis eweredig booor die kaas. Skep van die uie bo-op (hier kan jy ook jalapeno’s invoeg, indien verkies). Moenie die tortilla oorvol maak nie, anders gaan jy sukkel om dit te hanteer wanneer jy dit warm maak. Vou die tortilla toe sodat dit soos ’n halfmaan lyk. 

4. Plaas die tortilla versigtig in ’n warm, droë pan en bak tot goudbruin. Draai versigtig om met ’n eierspaan en herhaal aan die ander kant. Glip uit op ’n bord en sny in vier skywe. Herhaal die proses met die ander tortillas of tot al jou vulsels opgebruik is. Sit voor saam met varsgemaakte guacamole of avo, vars suurlemoenskywe en ’n salsa gemaak van fyngekapte tamaties, sprietuie, rooirissies en gerasperde wortels (daar is ook lekker klaargemaakte salsas op die winkelrakke as jy wil tyd spaar).

bottom of page