top of page

EKSKLUSIEF VIR DIE WEB |1 April 2021 

10 interessante feite oor kremetartbome

Daar is min jagters wat nie ’n sagte plekkie in hul harte het vir ’n kremetartboom nie. Dié unieke boom is deel van baie se bosveld- of sandvlaktejagherinneringe en dink ’n mens aan kremetartbome, kan jy nie help om ook sommer aan rooi sonsondergange en aande om kampvure te dink nie. Die SA JAGTER/HUNTER-span het dit onlangs weer besef toe hulle in die hart van kremetartwêreld was tydens ’n besoek aan die Musina-omgewing (lees die artikel daaroor in die Mei-uitgawe van die tydskrif).  Maar wat weet jy van hierdie ikoniese boom af?

 

Hier is 10 interessante feite om volgende keer jou mede-kampvuursitters mee te beïndruk:

1. Die kremetart is ’n genus van agt spesies van bome, inheems aan Madagaskar (met ses spesies), en Afrika en Australië (een spesie op elke kontinent).

 

2. Dié boom kom in die warm, dorre savanna streke van Afrika – van die Soedan tot Suid-Afrika se bosveld – voor. Dit groei in sanderige en klipperige grond.

 

3. Die kremetartboom se Latynse naam is Adansonia digitata, maar ander name waarvoor hy bekend staan sluit in tabaldi, bottle tree, upside-down tree en monkey bread tree.

 

4. Kremetarte se ouderdom is moeilik om te bepaal omdat dit nie soos ander bome duidelik sigbare ringe het nie, maar koolstofdatering is op ’n paar reuse gedoen: Zimbabwe se Panke was ongeveer 2450 jaar oud toe dit in 2011 dood is, wat dit die oudste bedeksadige plant maak wat nog ooit gedokumenteer is; Dorslandboom in Namibië en Glencoe in Suid-Afrika se ouderdom word op 2000 jaar geskat.

 

5. Die Ombalantuboom in Outapi, Namibië, is uitgehol en het ’n ingangsdeur. 35 mense kan in die boom pas en hy het al diens gedoen as ’n kapel, poskantoor en huis.

 

6. Kremetarte is moeilik om dood te maak. Jy kan hulle brand of hul bas afstroop, maar hulle sal net nuwe bas vorm en aanhou groei.

 

7. As hulle wel doodgaan verrot hulle van die binnekant af, stort in duie en los net ’n hoop vesel agter. Dit is hoekom daar mense is wat glo die boom gaan nie dood nie, maar verdwyn net.

 

8. ’n Baie ou kremetart kan sy eie ekosisteem vorm omdat dit soveel lewende wesens onderhou, van die grootste soogdiere tot duisende klein kreature wat op die stamme en bas leef. Voëls maak neste in die takke, bobbejane eet die vrugte, nagapies en vrugtevlermuise drink die nektar en bevrug die blomme.

 

9. Die kremetartboom het groot wit blomme wat in die aand oopmaak. Dit vorm ’n vrug wat tot ’n voet lank kan word. Die vrug bevat wynsteensuur en vitamien C en kan gesuig word of in water geweek word vir ’n verfrissende drankie, of gerooster en gemaal word vir ’n koffie-tipe drankie.

 

10. Die kremetartboom word sedert 1942 deur wetgewing beskerm.

 

(Bronne: af.wikipedia.org / en.wikipedia.org / krugerpark.co.za)

 

 

Kremetart en kameelperde.jpg
Kremetartboom alleen.jpg

Lees ook hier

bottom of page