top of page

KOLSKOOT 2023 | Deur JOHAN VAN WYK

Bosveldkalibers.JPG

GISTER (EN VANDAG) SE BOSVELDKALIBERS

Bosveldkalibers het nogal verander deur die jare... of het hulle?

​

Ek het al lankal vergeet hoeveel keer ek om die braaivleisvuur of in ’n geweerwinkel moes luister na gesprekke oor bosveldkalibers. Wat is ’n bosveldkaliber, en watter een is nou eintlik die beste? Wel, hoeveel tyd het ons? Dis ’n gesprek sonder einde, maar dis dalk ’n goeie tyd om meer in-diepte te kyk na wat met die term “bosveldkaliber” bedoel word, al dan nie.

​

’N KWESSIE VAN AANWENDING

As die uitgestrekte vlaktes en duine van die Vrystaat, Karoo, en Kalahari jou jagvelde van keuse is, sal jy terdeë daarvan bewus wees dat skietafstande in dié tipe van terrein tot sover as 300 m glad nie ongewoon is nie. Daar is ook ander faktore soos die wind wat hier ’n rol speel, en dis juis om hierdie rede dat ervare vlaktejagters kalibers soos die .270 Winchester, 7x64 Brenneke, sowel as die verskeie 7mm en .300 Magnums verkies vir die oop wêreld. Hulle verkies ook gewoonlik ammunisie gelaai met aërodinamiese koeëls teen ’n trompsnelheid wat die platste trajek moontlik sal verseker. 

Om ’n bok op die oop vlaktes op langafstand te skiet, veral as die briesie jou kuif deurmekaar waai, verg derhalwe ’n deeglike kennis van jou gekose kaliber se trajek, en om net die sneller te trek onder sulke omstandighede is gewoonlik nie goed genoeg nie.

​

As ons egter die fokus verskuif na Thabazimbi of Ellisras se bosveld, dan verander die prentjie. Skietafstande hier is selde verder as 150 m, en meermale selfs heelwat korter. ’n Plat trajek en ’n aërodinamiese koeël wat die loop teen 3 000 vps of meer verlaat is dus nie ’n vereiste hier nie. Wat wél belangrik is, is meer matige trompsnelhede en goeie koeëlkonstruksie. Beide is belangrike bestanddele van goeie penetrasie sowel as aanvaarbare vleisskade.

 

Ten spyte van die feit dat hulle meer geskik is vir die oop vlaktes, is daar wel jagters wat hulle vinnige 7mm’s en .300’s bos toe vat. Een eienaar van ’n .300 Winchester Magnum wat ek ken se argument is dat hy geen kanse vat nie, die beste premiumgehaltekoeëls gebruik wat hy kan kry, en baie seker maak van sy skootplasing. Ek veronderstel dis ’n kombinasie wat kan werk, maar ek is ook oortuig daarvan dat dit die gebruik van die verskillende .300’s en ander soortgelyke kalibers oor ’n kortafstand op wild is wat baie jagters van sulke kalibers afskrik. Die gevolg is onafwendbaar massiewe vleisskade, maar dis egter geensins die kaliber se skuld nie, eerder net die aanwending.

​

MEER GESKIKTE KANDIDATE

Ek het reeds hierbo genoem dat skietafstande in die bosveld selde verder as 150 m is, en meer dikwels heelwat korter. Met dít in gedagte is dit nie nodig om ’n kaliber met oormatige trompsnelheid in die bos te gebruik nie. ’n Vriend van my het die opmerking gemaak dat die  Mauser-sportgewere, wat tot en met die Tweede Wêreldoorlog in Mauser se eie kalibers vervaardig is, almal min of meer dieselfde ballistiese resep gevolg het. 

​

Hulle het almal koeëls wat redelik swaar was vir die betrokke kalibers teen ongeveer 2 300 vps geskiet. Van dié kalibers sluit in die 7x57 (175 grein-koeël), 8x57 (220 grein-koeël), 9x57 (245 grein-koeël), en die 9.3x62 (286 grein-koeël). Bykans al hierdie kalibers het uitstekende reputasies in Afrika opgebou en is vandag nog in algemene gebruik, met goeie rede. 

As ons bietjie nader na die Mauser-resep kyk, dan blyk dit dat die standaardkoeëls waarmee destyds se fabrieksammunisie gelaai was oor uitstekende seksionele digtheid beskik het. Die premium koeëls waaraan ons vandag gewoond is, het om praktiese redes nie voor die 1970’s bestaan nie, en daarom was al die Mauser-kalibers met konvensionele sagteneus, loodkernkoeëls gelaai. Die goeie seksionele digtheid en matige trompsnelheid het mekaar aangevul ten einde goeie koeëlprestasie tesame met uitstekende penetrasie te verseker.

 

Die kombinasie is tot vandag toe ’n wenner en dit is veilig om die aanname te maak dat koeëls met goeie seksionele » en as ’n standaarditem deur baie geweer- en ammunisie-vervaardigers gelys word, is die kaliber se gewildheid besig om in ander dele van die wêreld af te neem. Dieselfde geld vir die 8x57 se groter boetie, die 8x60S. Beide die 8x57JS sowel as die 8x60S is uitstekende kalibers, en as die lewe regverdig was, was die 8x60S vandag net so gewild soos die immergroen .30-06.

 

Beide hierdie staatmakers is skynbaar nie meer cool genoeg vir baie nie, maar diegene wat hulle gebruik, weet van beter! As ons na die ou kalante uit die Britse stal kyk, is bykans almal van hulle herlaai proposisies. Ek het reeds vlugtig gesels oor die .400/350, maar dié kaliber is opgevolg deur die .350 Rigby Rimless. Die latere Rigby .350 het ’n re-latiewe ligte 225 grein-koeël teen 2 625 vps geskiet. Op sy dag was dit ’n sensasionele lading, maar met die .350 Rimless Rigby se groot dopkapasiteit sou die ouer .400/350 se 310 grein-koeël skitterend gewerk het. 

 

Hoe dit ook al sy, die .350 Rigby Rimless was ’n sukses vir Rigby, en gewere in dié kaliber is gesogte versamelaarsitems. Daar word selfs nog hier en daar nuwe gewere in .350 Rigby gebou. Daar is dus nog tekens van lewe. Die .318 Westley Richards is ’n persoonlike gunsteling. Dis nie algemeen bekend nie, maar WDM (Karamojo) Bell, waarna ek reeds hierin verwys het, het inderwaarheid meer olifante en ander grootwild met ’n .318 Westley Richards geskiet as met enigeen van sy geliefde .275 Rigby’s. Hy het ten minste ses van laasgenoemde by Rigby bestel gedurende sy jagloopbaan.

Die .318 se brood-en-botter lading was ’n 250 grein-koeël teen ’n geadverteerde 2 400 vps. Ek het ’n paar jaar terug ’n klompie ou Kynoch-patrone, gelaai met 250 grein-sagteneuskoeëls, oor die chronograaf geskiet en die trompsnelheid was onder 2 200 vps. Inaggenome die ouderdom van die ammunisie is dit te verstane dat die werklike spoed laer as die geadverteerde spoed was, maar selfs teen 2 180 vps is die .318 (en verskoon die uitdrukking...) dodelik.

’n Paar jaar gelede het ’n vriend ’n skaars Oberndorf Mauser in .318 Westley Rihards bekom. Saam met die geweer was daar ’n hoeveelheid oorspronklike Kynoch-ammunisie. My vriend het uiteraard met dié kombinasie begin jag, met groot sukses. Ná ’n paar besoeke aan die bosveld het sy voorraad Kynoch-ammunisie begin op raak. Ten einde die trompsnelheid van die wenkombinasie te bepaal, is een of twee van die ou Kynochs oor die chronograaf geskiet. Groot was my vriend se verbasing egter toe dit blyk dat die trompsnelheid ’n baie beskeie 1 850 vps is. Desnieteenstaande die baie beskeie trompsnelheid het die kombinasie uitstekend gewerk. Dus is spoed vir seker nie noodwendig altyd die antwoord nie.

 

Die .333 Jeffery is ’n kaliber wat vandag bykans vergete is, maar tog is dié kaliber steeds aan die voorpunt van hedendaagse patroonontwerp. Vertrou die Amerikaners om ’n dekade of meer terug die .404 Jeffery se dop te identifiseer as die ideale basis vir die ontwikkeling van ’n hele rits nuwe kalibers soos byvoorbeeld die .300 Remington Ultra Magnum. Die basiese .404-dop is herhaaldelik deur kenners beskryf as die ideale basis vir die ontwikkeling van nuwe kalibers, en ek stem heelhartig hiermee saam. Dis so ietwat ironies dat die ontwerpers van die .333 Jeffery al die hedendaagse “kenners” met 112 jaar voorgespring het!

 

Die .333 Jeffery was beskikbaar in twee weergawes. Een was bedoel vir gebruik in dubbelloopgewere en die dop het dus ’n prominente rand gehad. Die ander weergawe was in sogenaamde rimless-konfigurasie wat bedoel was vir grendelaksiegewere. Ladings met beide 250 sowel as 300 grein-koeëls was teen onderskeidelik 2 400 en 2 200 vps beskikbaar. Dit was veral die 300 grein-lading wat die .333 Jeffery se reputasie gevestig het, en die .333 is gevolglik op grootwild soos olifante ook aangewend. On-danks die .333 se uitstekende reputasie is die kaliber vandag op sy laaste bene. Wat ’n jammerte.

 

DIE AMERIKAANSE SPAN

Alhoewel die .30-06 Springfield vandag met reg een van die gewildste jagkalibers in Suid-Afrika en elders is, sal geen artikel soos dié volledig wees sonder ’n paar woorde oor die ’06 in die bos nie. Gelaai met 200 en 220 grein-koeëls is die .30-06 ’n uitste-kende keuse vir die bosveld. Die 220 grein-lading is in die verlede met sukses op selfs die grootste wild aangewend. Met ’n relatiewe matige trompsnelheid van 2 400 vps en premium koeëls, is dié kombinasie ’n wenner.

Die .308 Winchester is ook ’n goeie kandidaat vir die bos, veral wanneer koeëls van 180 grein en swaarder gebruik word. Die .308 het ook die twyfelagtige voordeel dat dié kaliber op gewere met mediumlengte-aksies soos die Sako Forrester gebou kan word. Dis debatteerbaar of dit werklik so ’n groot voordeel is soos wat sommige beweer, maar daar is diegene wat glo dat dit ’n beduidende voordeel is. Helaas, ek is nie een van hulle nie.

​

Daar is ander Amerikaanse kalibers wat ook uitstekend in die bosveld sal werk. Ek dink hier veral aan die .35 Whelen, gebaseer op die .30-06 se dop wat ’n 250 grein-koeël teen2 400 vps kan skiet. Die .30-30 Winchester het deur die jare ’n mate van gewildheid in Suid-Afrika opgebou, veral onder diegene wat hefboomaksiegewere verkies, maar dié kaliber is myns insiens so ietwat te lig in die broek vir algemene gebruik in die bosveld. Die swaarste koeël wat die .30-30 kan skiet is 170 grein, en hierdie faktor alleen beperk die .30-30 tot wild soos rooibokke en vlakvarke. 

 

Die .45-70 Government wat terugdateer na 1873 is egter ’n baie beter keuse vir bosveldwild soos blouwildebeeste en koedoes in kombinasie met ’n moderne hefboomaksiegeweer soos die Marlin of die enkelskoot-Ruger No 1. Moderne ammunisie het nuwe lewe in dié ou strydos geblaas.

 

ANDER KALIBERS WAT DIE WERK SAL DOEN

Die 9.3x62 Mauser is loshande een van die beste boskalibers ooit. Selfs grootwild soos buffels en olifante het al voor die onderskatte 9.3 met sy 286 grein-koeël die knie gebuig. Die .375 H&H Magnum met 300 grein-koeëls is ook ’n goeie keuse, en alhoewel die .375 te veel geweer vir sommiges is, geniet die kaliber nie verniet die wonderlike reputasie wat hy in die jagveld het nie.

​

Sommige jagters jag met swaarkalibergewere soos die .404 Jeffery, .416 Rigby, en .500 Jeffery in die bosveld. As die skut die terugskop kan hanteer het ek geen probleem daarmee nie. Die grootkalibers skiet gewoonlik groot en swaar koeëls teen matige trompsnelhede en veroorsaak gevolglik min vleisskade gepaardgaande met wonderlike penetrasie. Daar is eintlik nie so iets soos té veel geweer in my opinie nie. Dit is eerder die skut se vermoëns en kennis van sy geweer wat die verskil maak.

 

DIE BOSGEWEER

’n Sydelingse voordeel van ouer gewere in baie van die kalibers wat kortliks onder die vergrootglas was, is dat hulle in baie gevalle wonderlike elegante gewere is wat volgens beter standaarde vervaardig is as baie van vandag se nuwe jaggewere. Ek is nou maar een maal lief vir mooi hout en beheervoeraksies soos die M98 Mauser. As alles nog gekombineer word in ’n elegante pakket wat die trots van die maker weerspieël, des te beter. Ek verkies dus ’n 30-jaar-oue Sako of 50-jaar-oue Brno bo meeste van vandag se plastiek en vlekvrye staal “wonderwerke”. Weereens, dis persoonlike voorkeur en beide kante van die munt het meriete.

​

Vir die vlaktejagter wat in baie gevalle van die bakkie af of dalk vanuit ’n voorsitposisie skiet, is faktore soos die gewig van sy geweer en looplengte van belang ten einde die perfekte skoot te kan skiet. Gewere met langer lope is in staat tot hoër trompsnelhede en is ’n aanwins op die vlaktes. Ek is by keuse en voorkeur ’n stapjagter. Om koes-koes met ’n swaar geweer met ’n groot teleskoop en lang loop te loop en jag in digte bosse is beslis nie my idee van pret nie. Ek verkies dus gewere met lope nie langer nie as 24” wanneer ek bos toe gaan. Inteendeel, lope kan selfs korter wees sonder enige verlies aan effektiwiteit op die afstande waarop geskiet word. 

 

Korter gewere is gewoonlik ligter en lekker handig, hang laer oor die skouer; – iets wat handig te pas kom wanneer ’n mens gereeld onderdeur takke en bosse moet beweeg. Wat die geweer se gewig aan betref, verkies ek gewere aan die ligter kant: hulle is gemaklik om te dra en hanteer gewoonlik baie lekker.

 

Die onderwerpe van boskalibers en -gewere is ’n interessante onderwerp waaroor daar baie uiteenlopende opinies is wat almal deur individuele ondervinding aangevuur word. Wat vir een jagter werk is waarskynlik nie reg vir die volgende jagter nie, maar een ding staan egter soos ’n paal bo water: dis nie altyd net die nuutste en die beste wat werk nie!

bottom of page