SA JAGTER/HUNTER | AUGUSTUS 2022 | Deur THINUS STEYN

Die Fout.JPG

DIE FOUT

Die Amerikaanse jagter haal sy geweer trots uit die geweertas – ’n Weatherby Mark V in .300 Weatherby Magnum. Dit is nie my gunstelinggeweer nie, maar dit is nie wys om ’n ander man se vrou, ryding of roer te kritiseer nie en ek knik goedkeurend. Hy glip die slot oop, kyk dat die kamer leeg is en oorhandig die blink geweer aan my.

 

Ek bekyk die uitspattige skietding van nader. Daar is merkies op die loop waar die blou afgeskuur is, die grendelknop is blink van baie hantering en dit lyk of die onderkant van die voorlaai in ’n onderonsie met ’n rasper betrokke was.

’n Mens kan baie omtrent ’n jagter leer as jy na sy geweer kyk. Ek hou van wat ek sien.

 

“I don’t think we are going to struggle,” sê ek toe ek sy roer teruggee. Hy glimlag. “I never struggle, I’m lucky. It’s always been that way.” Op die skietbaan sukkel ons nie. Die Weatherby is op skoot op 200 meter. Die jagter skiet die ghongs op 250 en 300 meter van sy geweer se tweepoot én van my skietstokke af skoot vir skoot raak.

 

In die jagveld moet ons versigtig wees of ons voorspoed ruk hande uit. Die eerste oggend val ’n reuse-elandbul voor die Weatherby. Voor sononder neem ons foto’s van die trotse jagter en sy koedoebul op ’n Oos-Kaapse berg. Op pad terug na die jaghuis stel Panien voor dat ek vir my ook so ’n geweer aanskaf.

 

Dag twee gaan dit net so goed; toe ons moeg maar gelukkig net voor sononder by die jaghuis instrompel, hou ’n gemsbokbul, ’n blesbokram en ’n njalabul die slagters in die slagstoor besig. 

 

MOEILIKE PLAASEIENAAR

Die derde dag jag ons op ’n wildsplaas sowat ’n uur se ry van ons basis af. Ná ’n vinnige ontbyt pak ons die pad in die donker aan. Ons stop net voor sonop by die boer se huis. Die plaaseienaar is ’n moeilike man met ’n skerp tong. Hy heet die Amerikaner hartlik welkom, trap Panien uit omdat hy nog half aan die slaap lyk en krap ’n ou wond oop deur my te herinner dat die waterbokbul wat ’n kliënt van my die vorige seisoen gekwes het, nooit gevind is nie. Die feit dat ons drie dae lank tevergeefs na die bul gesoek het én dat ons hom ten volle betaal het, noem hy nie. Hy gee my ’n lesing oor jagtegniek, -etiek en skootplasing en sweer my die dood voor die oë as daar weer ’n dier op sy plaas gekwes word. Dan bied hy ons ’n koppie koffie aan.

 

TEENSPOED MET ’N WATERBOK 

Ons kry ’n mooi waterbokbul waar hy in die oggendson in ’n oop kol teen ’n berghang staan. Dit is moeilike terrein, maar ons slaag daarin om binne 200 meter van die bul te kom. Ons sukkel om die skietstokke opgestel te kry; om die tweepoot te gebruik is buite die kwessie, want die bos om ons is te hoog. Die Amerikaner lê oor die skietstokke aan. Hy lyk nie baie gemaklik nie. “Don’t shoot unless you are 100% sure of the shot,” fluister ek in sy oor. “Don’t take a chance.”

 

Die Weatherby verskeur die stilte – die waterbok spring en ek hoor die koeël klap. Dan verdwyn die bul in ’n spekboomruigte. Ons staan vyf minute lank stil terwyl ons kyk en luister. Ek los die jagter en Panien op die plek waarvandaan ons geskiet het, ingeval die bul uitbreek. Dan stoei ek ’n pad deur die digte bos na die plek waar die bul geskiet is. Ek kry sy wegspringspore, maar geen bloed nie. Versigtig volg ek die spore deur ’n tonnel in die spekboom en kry ná 50 tree bloed teen ’n spekboomtak. Tien tree verder val ek amper oor die waterbok. Ek druk my gelaaide geweer se tromp teen sy oogbal – ’n waterbok is nie ’n buffel nie, maar ’n mens weet nooit…

 

RAMPSPOEDIGE HARTBEESJAG 

Ná middagete gaan jag ons ’n rooihartbees. Ons gewaar ’n groot bul in ’n oopte onder ons. Die jagter vat dooierus oor ’n rots, stewig op die tweepoot. Die hartbees staan plankdwars amper 300 tree weg. Niemand is werklik verbaas toe die bul in sy spore neerslaan nie. “Daai gun kláp ’n ding,” deel Panien sy professionele ballistiese opinie.

 

Om by die bul te kom, moet ons deur ’n vlak klofie. Ek maak ’n fout; in plaas daarvan om die jagter en spoorsnyer te los om die bok dop te hou terwyl ek gaan seker maak hy is dood, beweeg ons almal saam teen die hang af en deur die klofie. Die oop kol waar die rooihartbees se karkas moet lê is nie net oop nie – dis leeg! Daar is skropmerke op die grond en bloedspatsels maar geen hartbees nie. ’n Ou gesegde kom skielik by my op: “A buck that run, then drops; the hunt stops. A buck that drops, then run; the hunt has just begun.”

 

My hart sak in my skoene.

 

OP DIE GEWONDE HARTBEES SE SPOOR

Die bloedspoor is aanvanklik maklik om te volg; groot spatsels helderrooi bloed naby aan mekaar. “He won’t go far, bleeding like this,” praat die Amerikaner homself moed in. Ek antwoord nie. Die bloed lyk of dit van ’n vleiswond afkomstig is en ek vermoed ons het ’n probleem. Ná die eerste 200 meter wéét ek ons het ’n probleem. Die bloed word al hoe minder en die spatsels is al hoe verder uitmekaar. Dan verloor ons die spoor heeltemal. Ek merk die laaste bloeddruppel met my GPS en Panien knoop ’n stuk toiletpapier om ’n tak. 

 

Ons soek; eers in ’n reguit lyn, dan in sirkels. Panien kry ’n druppel bloed op ’n klip en dan nog een 20 tree verder. Die spoor wys dat die bul in ’n wildspaadjie afbeweeg het. Dan verloor ons weer die bloed, maar daar is dowwe hartbeesspore in die stofpaadjie wat deur ’n vlak klofie kronkel. Voordat ons in die klofie afbeweeg, bespied ek die area deur my verkyker. Ek gewaar die hartbeesbul waar hy langs ’n soetdoringboompie in die klofie staan – of eerder, ’n hartbeesbul wat langs ’n soetdoringboompie staan. Ek bekyk hom en merk op dat hy siek lyk. Sy kop hang, en te oordeel aan sy houding, lyk dit of hy enige oomblik kan omval, maar ek sien geen bloed op hom nie.

 

“Dis hy!” sis Panien. Ek twyfel en dink aan die gevolge as ons die verkeerde hartbees skiet. Dan stel ek die skietstokke op. “Get on him but don’t shoot yet,” beveel ek die jagter. Die tyd draal verby en die hartbees lyk al sieker. Ek bestudeer hom deeglik deur die verkyker.  

 

Dit lyk na die gekweste bul; die vorm en lengte van die horings lyk identies. Dan gewaar ek ’n merk op sy nek en neem ’n besluit. Toe die Weatherby brul, bokspring die hartbees, hardloop ’n paar treë en slaan in ’n stofwolk neer. 

 

DIE VERKEERDE BUL 

Dit is nie die gekweste bul nie... Daar is ’n merk op sy nek, maar dit is ’n ou wond. Miskien het ’n tak hom daar gekrap. Panien stap verder in die voetpaadjie af. Sowat 50 tree anderkant die dooie hartbees kry hy weer ’n bloedspoor.

 

Ons vat dadelik weer die spoor. ’n Uur later skiet ek die gekweste bul dood toe hy teen ’n rant voor ons uithardloop. Die Amerikaner skud my blad. “Good shot!” sê hy. Ek weet nie of hy beïndruk is met my skietvernuf en of hy sarkasties is nie. Sy skoot was hoog deur die bok se skof.

 

Die plaaseienaar luister aandagtig toe ek hom die storie van die rampspoedige hartbeesjag én my fout vertel. Hy bly lank stil en ek wag op die storm wat op dié stilte gaan volg. Ek wonder nie wat die fout my gaan kos nie; ek het op pad na die opstal reeds dié som gemaak. Ek hoop net die uittrapsessie hou nie te lank aan nie.

 

“Stap saam met my,” beveel die kwaai oom. Ons loop na sy trofeekamer, waar ek al voorheen was. Die oom het ’n indrukwekkende versameling. “Wat sien jy?” vra die oom. Ek sien ’n duistere toekoms, maar antwoord: “Trofeë?” Die oom sug. “Wat sien jy nié?” 

 

Ek kyk na die buffel, blouwildebees, njala, reuse-koedoebul en die versameling ander wild. Dan sien ek wat ek nié sien nie: “’n Rooihartbees?”

 

Die oom knik. “Julle het twee mooi bulle geskiet,” sê hy. “Hulle is amper identies. Laat jou kliënt een kies, dan hou ek die ander een vir my versameling.” 

 

DIE REINE WAARHEID 

Dit is stil in die bakkie op die lang pad terug kamp toe. Almal is moeg. Panien snork saggies op die agtersitplek en die Amerikaner saag balke op die passasiersitplek. My bene is lam en my lyf seer, maar ek is nie vaak nie. Ek herkou aan die oom se laaste woorde voor ons ry: “Ou seun, as ’n man vir jou sê hy het nog nooit ’n fout gemaak nie, sal hy vir jou oor ander goed ook lieg...”