top of page

EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 3 Desember 2020 | Deur M Beeton

 PROFIEL 

Gebore om met hout te werk

As kind het Faan de Vos se pa daaraan geglo om vir sy seun die gereedskap te gee om dit wat hy wou hê self te maak, eerder as om vir hom die klaar produk te gee. Dit het dié plaaskind van Standerton gedwing om te leer hoe om met sy hande te werk. Hy het op 12 sy eerste geweerkolf gemaak uit ’n dwarslêer wat hy van die tenkstander gesteel het, en vandag is hy een van die mees gesogte kolfmakers in die land, veral vir manne wat pasmaakgewere laat bou of dubbelgewere restoureer.

Houtwerk is een van Faan se ingebore talente. Waar hy in sy werkswinkel op sy plaas net oos van Pretoria sit, vertel hy dat die houtwerkonderwyser hóm soms gevra het hoe om sekere goed te doen. Maar sy liefde vir gewere is aangewakker deur Lukas Potgieter se rubriek Boer en sy roer, wat hy as kind getrou in die Landbouweekblad gelees het. Soos wat hy ouer geword het, het daardie liefde omgeskakel in ’n passie vir hoe ’n geweer gemaak word en werk, eerder as die geweer self.

DIE PAD NA SUKSES

Dit was die geweerkolfmaker Piet Jacobs wat Faan gehelp het om sy eerste treë op die pad na sukses te neem.

 

“Ek was nog op skool toe oom Piet my onder sy vlerk geneem het. Ek het begin geld verdien met die kolwe wat ek maak en as dit nie vir oom Piet was nie, sou ek nie vandag gewees het waar ek nou is nie.”

 

Maar dit was nie ’n gegewe dat hy ná skool daarmee sou voortgaan nie. Hy het eers B.Com. aan die Universiteit van Pretoria studeer.

 

“Ek het gaan swot, maar met die kolwe voortgegaan. In 1999 het ek vir (die geweermaker) Danie Joubert ontmoet en my eie kliënte begin kry. Teen die tyd wat ek klaar was met my graad het ek besef ek maak meer geld deur vir myself te werk en kolwe te maak, as om vir iemand anders by ’n ouditeursfirma te werk.”

Sedertien het Faan ’n reputasie opgebou as iemand wat kwaliteitkolwe maak en nie skroom om werk te vat wat uitdagend is nie, daarom is daar ’n waglys as jy van sy dienste gebruik wil maak.

 

“Ek werk hoofsaaklik op dubbelgewere en side-lock, bar-in-wood-haelgewere,” vertel hy en daar is ’n rede hiervoor. Hy erken hy het ’n sagte plekkie in sy hart vir ’n 9,3x62mm Mauser.

 

“Dit is ’n sentimentele kaliber en ek hou van sogenaamde understated elegance. As dit kom by gewere het ek ’n passie vir die produksie van die geweer eerder as die produk self.”

 

 

IMG_20201127_100405.jpg
IMG_20201127_100319.jpg
IMG_20201127_100312.jpg
IMG_20201127_100255.jpg

Sy plan vir die toekoms is juis om meer te spesialiseer in dubbelgewere.

 

Vra ’n mens hom wat dit is aan ’n geweerkolf wat vir hom mooi is, antwoord hy dadelik: “Lyne wat reg vloei. Dis belangrik sodat die geweer in harmonie is.”

 

Faan sê dit neem hom gemiddeld 120 ure om ’n kolf te maak. Stap een in die proses is om uit te vind wat die kliënt se behoefte is, of wat die doel van die geweer is. Is dit ’n erfstuk wat gerestoureer word of is dit ’n unieke pasmaakgeweer?

 

Dan word die hout uitgesoek. Faan werk uitsluitlik met Turkse okkerneuthout, maar soms bring ’n kliënt ’n stuk hout vir die kolf wat hy wil hê.

Sodra die hout gekies is, word die styl bepaal en afmetings gedoen. Hy vorm die geweer tot dit so 80 % reg is, dan word die finale passing gedoen voordat die ruitwerkpatroon en afwerking klaargemaak word, weereens volgens wat die kliënt verkies – wil hy ’n glansafwerking hê of moet dit dof wees?

 

As ’n selferkende A-tipe persoonlikheid sê Faan dat hy altyd daarna streef om die beste te wees.

“Ek het ’n sekere standaard waarvolgens ek werk, waarmee ek gelukkig is en geen geweer verlaat my werkswinkel as dit nie op daardie standaard is nie. En elke kliënt kry dieselfde werk van my af, ongeag hoe duur of nie die geweer is.”

 

Maar praat ’n mens met Faan besef jy gou dit is nie net omdat hy goeie werk wil lewer nie, maar ook omdat hy regtig hou van wat hy doen.

 

* Om Faan te kontak skakel, 082-415-7919 of stuur ’n e-pos aan faandevos44@gmail.com

Lees ook hier

bottom of page