top of page

SA JAGTER/HUNTER |September-Oktober 2023 | Deur KARLA JANSE VAN VUUREN | Foto’s: GERRIE JANSE VAN VUUREN

Kos.jpg

Gemsbok-gyro's met tuisgemaakte pitas

Genoeg vir 6-8

 

JY BENODIG:

​

VIR DIE PITAS:

• 800 g broodmeel

• 2 e suiker

• 1 e droë gis

• 2 t sout

• 2 e olyfolie

• 2½ k water, by kamertemperatuur

​

VIR DIE VULSEL:

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 2-3 e suurlemoensap

• 2 e rooiwynasyn

• 3 e ongegeurde Griekse jogurt

• 1 t droë origanum

• sout en varsgemaalde swartpeper, na smaak

• 500 g wildsvleis, in repies gesny (ek het gemsbok gebruik)

​

VIR DIE TZATZIKI-SOUS:

• 1 klein komkommer

• 1 k ongegeurde Griekse jogurt

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 1 e vars suurlemoensap

• 1 e vars dille, en ekstra vir garnering

• 1 knoffelhuisie, fyngekap

• 1 e witwynasyn

• olyfolie

Om voor te sit: gekrummelde feta, fyngekapte tamaties, rooi uie (in dun skyfies gesny)

​

SO MAAK ’N MENS:

  1. Begin met die pitas. Plaas die meel, gis en suiker in die mengbak van ’n elektriese menger met ’n deegbak. Meng goed met ’n lepel. Voeg die sout by en roer.

  2. Voeg die olyfolie en water by en skakel die menger aan op ’n lae spoed. Meng tot ’n deeg vorm. Verhoog die spoed en hou aan meng vir ten minste agt minute of tot die deeg glad is.

  3. Bedek die bak met ’n vadoek of kleefplastiek en laat die deeg by kamertemperatuur rys vir ’n uur of twee of totdat dit in volume verdubbel het.

  4. Berei die vleis voor terwyl die deeg rys: Meng die knoffel, suurlemoensap, rooiwyn-asyn, olyfolie, jogurt, oregano en sout en peper en klits goed. Voeg die vleisrepies by en meng. Bedek die bak en plaas in die yskas. Marineer vir ten minste ’n uur of twee.

  5. Maak ook solank die tzatziki-sous: Rasper die komkommer, meng met ’n halwe teelepel sout en plaas in ’n vergiettes wat met ’n skoon vadoek uitgevoer is. Laat dit vir so 30 minute staan en druk dan die komkommer in die vadoek om soveel as moontlik van die vloeistof te verwyder.

  6. Meng die komkommer met die res van die bestanddele vir die sous. Proe en geur na smaak. Drup olyfolie oor en plaas in die yskas vir sowat 30 minute.

  7. Nadat die deeg gerys het, knie dit liggies af en plaas op ’n meelbestrooide oppervlak. Rol die deeg in ’n wors en sny in agt ewe groot stukke. As jy baie presies wil wees, kan jy elke stuk deeg weeg om seker te maak hulle is ewe groot.

  8. Rol elke stuk deeg in ’n bal en plaas die deegballe op ’n meelbestrooide oppervlak. Bedek met ’n skoon vadoek en laat dit vir 30 minute rus.

  9. Gebruik ’n koekroller en rol elke deegbal in ’n dun sirkel. Werk versigtig en besprinkel met nog meel as jy vind die deeg sit aan die roller of oppervlak vas.

  10. Verhit ’n swaarboompan oor matige hitte en sprinkel ’n bietjie olyfolie daarin. Plaas ’n deegsirkel in die pan en braai vir 1-2 minute aan elke kant. Hou mooi dop dat dit nie brand nie. Herhaal tot jy agt heerlike pitas het. Bedek en hou eenkant tot jy gereed is om die gyro’s aanmekaar te sit.

  11. Verhit ’n riffelpan oor hoë hitte en braai die vleisrepies tot gaar (doen dit in sarsies sodat jy nie die pan oorweldig nie, want dan gaan die vleis stowe en al die vloeistof uitkook). Braai vir ’n minuut of twee aan ’n kant en oppas vir oorgaar maak.

  12. Maak die gyro’s: Skep die vleisrepies op die pitas, drup die sous oor en sprinkel feta, tamaties en rooi uie na smaak oor. Garneer met vars dille, vou toe en geniet dadelik.

(Die Pita-resep is aangepas van richanddelish.com, vulselresep van culinaryhill.com)

bottom of page