top of page

SA JAGTER/HUNTER | Julie 2022 | Deur KARLA JANSE VAN VUUREN | Foto’s: GERRIE JANSE VAN VUUREN

'N ITALIAANSE FEES.jpg

GNOCCHI MET ELAND-FRIKADELLE EN MURGPAMPOENTJIES

JY BENODIG:

(genoeg vir 4):

VIR DIE GNOCCHI:

• 450 g aartappels

• 1 k meel

• ½ t sout

• 1 middelgroot eier

Jy het net ongeveer die helfte van die resep nodig vir hierdie gereg. Die res van die rou gnocchi kan gevries word. Pak hulle sodat hulle nie aan mekaar raak nie op ’n bakplaat en plaas in die vrieskas. Ná sowat ’n uur kan jy die gnocchi in ’n Ziplock-sakkie sit en tot ’n maand lank vries. Wanneer jy dit wil kook, hoef jy dit nie eers te ontvries nie – gooi dit net direk in kokende soutwater.

 

VIR DIE SOUS:

• 500 g eland-maalvleis

• 2 ml fyn komyn

• 2 ml fyn koljander

• Sout en peper (na smaak)

• Olie, vir braai

• 1 ui, fyngekap

• 3 knoffelhuisies, fyngekap

• 125 ml witwyn of hoenderaftreksel

• 3 groot murgpampoentjies (zucchini), grofgerasper

• 200 g roomkaas

• Vars basielkruid en pietersielie, grofgekap (na smaak)

• Parmesaankaas (opsioneel, na smaak)

 

SO MAAK ’N MENS:

1. Begin deur die gnocchi te maak. Kook die aartappels (met die skil aan) in ’n groot kastrol tot sag. Laat dit afkoel en trek dan die skille af. Druk die aartappels baie goed fyn sodat daar geen klonte in is nie.

2. Meng die meel en sout op ’n skoon, plat oppervlak en maak ’n holte in die middel. Voeg die aartappels en eier by en meng met jou vingers tot ’n sagte deeg vorm (jy sal weet dit is reg wanneer dit nie meer aan jou vingers vassit nie).

3. Sprinkel meel oor ’n skoon kombuisoppervlak. Verdeel die deeg in sowat vier dele en rol dit in dun repe uit. Sny nou sowat 2 cm-blokkies van elke reep en druk elke blokkie liggies met ’n vurk sodat dit groefies bo-op kry (dit is belangrik, want dit gee vir die sous plekkies om aan vas te kleef). Herhaal met al die deeg; sprinkel dan nog ’n bietjie meel oor sodat hulle nie aan mekaar vassit nie. Laat die gnocchi vir sowat 20 minute rus voor jy dit gaarmaak.

4. Terwyl die gnocchi rus, maak die sous. Plaas die rou maalvleis in ’n mengbak en voeg die koljander en komyn by. Geur mildelik met sout en swartpeper. Maak jou hande nat (dis dan makliker om met die rou vleis te werk) en rol klein frikkadelletjies van sowat 2 cm in deursnee.

5. Verhit sonneblomolie in ’n groot swaarboompan. Braai die frikkadelletjies in sarsies tot goudbruin buiteom (dit hoef nie deurgaar te wees nie). Hou eenkant tot benodig.

6. Soteer die uie en knoffel in ’n bietjie olyfolie in ’n skoon pan tot sag. Skep die frikkadelletjies weer in die pan en

roer ook die wyn of aftreksel, tamaties en murgpampoentjies by. Geur met sout en peper. Laat prut oor matige

hitte vir sowat 5 minute. Die feit dat die frikkadelletjies in die sous gaarkook, help om dit sappig te hou.

7. Terwyl die sous prut, kook gou die gnocchi. Plaas ’n groot kastrol met soutwater op die stoof en verhit tot kookpunt. Skep die gnocchi in die water en laat dit kook tot dit na die oppervlak dryf (dit sal net ’n paar minute neem – wees versigtig om dit nie pap te kook nie). Skep nou die gnocchi uit en voeg dit by die sous. Roer versigtig sodat jy nie die gnocchi breek nie.

8. Rond die gereg af deur klontjies roomkaas hier en daar te laat drup en die varsgekapte kruie oor te sprinkel. Indien verkies, kan jy ook ’n bietjie parmesaankaas bo-oor rasper. Sit dadelik voor saam met ’n lekker knoffelbrood.

 

(Gnocchi-resep aangepas van anitalianinmykitchen.com. Sousresep aangepas van een van Errieda du Toit se resepte.)

bottom of page