top of page

EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 2 Julie 2020

Wat het van die swaeltjies geword?

Waar is ons swaeltjies? Dis die vraag wat al vir weke op voëlliefhebbers in Brittanje se lippe is.

 

Wag, wat?!

“Óns” swaeltjies?

Ja, húlle swaeltjies. Hoewel swaeltjies so deel is van die Suid-Afrikaanse somer soos braaivleis en seevakansies, broei dié voëltjies in Brittanje en het hulle dus seker geboortereg daar, of hoe? 

​

Hoe dit ook al sy, die jaarlikse migrasie van swaeltjies uit Suider-Afrika na Europa is nogal indrukwekkend. Die South African Bird Ringing Unit (SAFRING) wat ons geveerde vriende ring en hul uittog monitor sê die meeste swaeltjies vlieg tot in Brittanje, maar soms tot sover as Rusland en Skandinawië. Die verste wat ’n geringde voël nog gevlieg het, was 11 358km vanaf Mosselbaai tot in Petrovsk in Rusland, slegs 34 dae later.

Swaeltjies African Bird Club.jpg

Foto: Africa Bird Club

Soos meeste dinge wat in 2020 afspeel, is die migrasie van die swaeltjies tussen Suider-Afrika en Brittanje vanjaar nie normaal nie. In kort, hulle het nie opgedaag nie. Die swaeltjies moes al teen Mei en Junie rustig besig gewees het om in Brittanje te broei, na hul jaarlikse vakansie hier by ons, maar hulle word vermis. In Mei is vermoed dat hulle net laat is, soos wat soms gebeur, maar die British Trust for Ornithology sê die getalle is vanjaar drasties laer as in die verlede.

 

Die koms van swaeltjies uit onder meer Suid-Afrika word elke jaar met geesdrif dopgehou deur voëlaars in dié land. Hulle ag hulself as beskermers van die swaeltjies en het in die verlede al suksesvolle boikotveldtogte teen supermarkte gevoer wat ogiesdraad opgerig het om te keer dat swaeltjie in hul winkels se dakke broei.

 

En nou is hulle so bekommerd oor hul gevleuelde vriende, dat die redes vir die afwesigheid ondersoek word. Een moontlik verduideliking is sterk stormtoestande wat tydens April in Griekeland geheers het. Groot getalle swaeltjies is dood gevind op ván die eilande en ook in Athene. Die voëls, wat gewoonlik in Griekeland rus na hul epiese vlug oor die Meditireense See, was nie bestand teen die sterk winde en lae temperature wat dié land toe geteister het nie.

 

Maar daar is kenners wat hierdie teorie betwyfel. Tot onlangs is dit algemeen aanvaar dat die voëls wat Griekeland besoek uit die noorde van Afrika kom, terwyl die swaeltjies uit Suider-Afrika ’n ander roete via Spanje volg. Meer as ’n honderd studies is al gedoen om te verduidelik hoe die verskillende tipes swaeltjies migreer. Maar sommige Britse kenners meen nou dat dié inliging heroorweeg moet word aangesien die weerstoestande in Griekeland tans die beste verklaring kan wees vir die vermiste swaeltjies van Suid-Afrika. Daar is egter nog nie ’n definitiewe antwoord vir hul verdwyning nie.

 

Die swaeltjies word in September en Oktober in Suid-Afrika terugverwag, en ons hou duimvas hulle daag op, want ons somers sal heelwat armer wees sonder hulle.

bottom of page