SA JAGTER/HUNTER | Mei 2022 | Deur HERMAN JONKER
STILTE ASSEBLIEF
Die oerwoud is ’n raserige plek. Blaffende honde, gillende Kawas wat Ducatis en Katanas dice, die piep-piep en doefdafpffftsk van die vullislorrie, die sielsteistering van klein Lisa langsaan se klavierlesse, en natuurlik alarms wat tydig en ontydig koggel en kerm en om aandag skreeu. Dit alles teen ’n konstante agtergrondgedruis van ’n duisend onsigbare karre, lorries, vliegtuie, masjiene en luidsprekers wat enigiets van Mafikizolo tot Kurt Darren uitbasuin.
Kollektief vloei hierdie geraas saam tot die rustelose, polsende hartklop van Die Dier. Dag en nag dreun dit en verdoof ons tot ’n toestand waar stilte hoegenaamd nie meer bestaan nie. Sulke tye sê mense mos hulle verlang na die stilte van die veld. Maar eintlik is dit nie waar nie, want ook die veld is nooit stil nie. Die natuur se geluide is bloot op ’n ander skaal, en die diere se stemme veel mooier en rustiger as die dawerende pensrammel van die betonoerwoud se geldmonster.
Hoe klink die veld?
Diskreet, sou ek sê, want in die veld hoor jy selfs die geringste stemmetjies. Hoe groter die stilte raak, hoe meer hoor jy. Op ’n stil aand in die veld kan selfs die kriekies of ’n padda doer oorkant in die leegte jou wakker hou. Soms verluister jy jou aan iets so basies soos die sagte hoe-hoe van ’n uil, want in die relatiewe stilte van die natuur kry selfs ’n enkele harmonieuse roep lewe. Een soort lewe tussen die baie bome van die bosveld, en miskien anders in kaal wêreld. Elke kontrei het sy eie klanke. Maar die veld se geluide is nie altyd diskreet nie. Veral nie met hadeda en tarentaal in die omte nie.
Hadeda, het iemand eenkeer gesê, is die vlieënde gestalte van die Antichris. En tarentaal het op sy beurt loshande die vuilste bek daarbuite. As iets ’n paar tarentale ontstel, al is dit ook net ’n hardlywige muishond wat hurk, klink dit mos soos ’n messtekery om ’n papsak. Dit sketter en skel, met die een wat verste sit wat die hardste vloek. En dit hou nie op nie. Nes die hele drama wil bedaar, begin een weer van voor af skel.
Maar laat ons nou eers “veld” omskryf, want dis ’n begrip wat nogal wyd verdun geraak het. Elkeen het sekerlik sy eie prentjie, maar vir my moet dit verkieslik wildernis wees, al is die term seker nêrens meer tegnies geldig nie.
Ek hou van plekke sonder drade. Groot, wilde plekke. Rou Afrika, sonder genade. Ek respekteer die robuuste balans daarvan, en die nietigheid wat mens daar ervaar, en natuurlik die natuur en sy geluide. Die klanke van die Afrika-nag, waar dit nog in bykans suiwer vorm bestaan, is nie net boeiend nie, maar betowerend.
Natuurlik praat ek nou nie hier van ’n jaghuis waar agt man gelyk staan en probeer vertel terwyl Lekker Sokkietreffers langs ’n wattelhoutvuur dreun nie. En ook nie van een of ander “lodge” waar Netflix harder as die kragopwekker speel nie.
Ek praat van wilde plekke wat jou dwing om na die natuur te luister. Vreedsaam. Sielvol. Opehart.
Bedags hoor jy nie soveel nie. Miskien nou en dan ’n vliegtuig daar hoog bo, op pad na ’n ander kontinent, of die gewone voëlgesprekke en diere-interaksies. Maar dis wanneer die dag begin wes vlug dat die veldkoor gereed maak.
Die sonbesies begin spoed verloor, die voëlsang raak dringender, en daar kom ’n algemene gewaarwording dat die bos se volume bietjie opgedraai word. Dis miskien nog laatmiddag, maar daar anderkant bekaaaak, bekaaaaak ’n fisant hom al klaar vir die nag wat kom. Van alle kante kom die geluide. Party roep, party skel, ander pleit, want in wilde bos is die donker nie vir sissies nie.
Soos die nag daal, raak die aandkonsert stiller, maar nie minder dramaties nie. Jakkals se begrafnisliedere kom by. En hiëna se dronkpraatjies, en nagapie se ge-dzzzk hier bo die tent, en ’n moerige ou leeu daar oorkant wat klink of hy aan ’n renostergraat staan en wurg.
Daar’s ’n uiteenlopende koor daarbuite, en terselfdertyd ’n hele gehoor, want die diere is op mekaar ingestel. Die nagpraatjies van die onderskeie diere raak ’n interessante, interaktiewe konsert wanneer die son oor wilde natuur sak.
Nie dat dit altyd welkom is nie. Naguiltjie se sagte geskinder kan jy nog geniet, maar die geharkhark van honderde lawaaibrulpaddas, of ’n iesegrimmige seekoei wat heelnag skoorsoek, laat jou later in jou slaapsak swets. En uit die hele nagkabaal is niks seker so steurend soos die ge-krrrrr hier teen jou tentsiwwe van een of ander mal fladdertor wat sin gekry het vir jou bedlampie nie.
Jy leer later om geluide te klassifiseer as goed of sleg. Vriend of vyand. ’n Bobbejaantjie in ’n boom se nagmerries pla jou nie, maar ’n diep asem of ’n dik tak wat breek laat jou regop sit en fyn luister.
Kort-kort is daar die ritsel van ’n blaar, of die kraak van ’n takkie. Dit kan ’n muis wees wat daar skarrel, of die kronkels van ’n mfezi wat agter hom aan is, maar dit kan ook die sagte skuifel van ’n olifantpoot of die fluister van ’n katvoet wees. Die ou grotes beweeg mos bykans geluidloos as hulle onder die dekmantel van die donker kom snuffel om te kyk wat die indringer aanvang.
Sulke kere voel die tentseil dun, maar om roerloos in die veld te lê en na die nag te luister is ’n baie besondere manier van hoor.
Dis seker die mooiste, mooiste vorm van stilte.