top of page

SA JAGTER/HUNTER | Maart - April 2022 | Deur PIETA OOSTHUIZEN

Stadsjapie skiet raak.jpg

STADSJAPIE SKIET RAAK

My 18-jarige matriekseun, Pietman, se stadsjapievriend uit die Kaap sou vir ’n week of twee op die plaas kom kuier. Weens die Covid-19-pandemie en meegaande verbod op binnelandse vlugte en reis oor provinsiale grense heen, het die week of twee uiteindelik ses weke geword. Ses weke in April en Mei op ’n Vrystaatse ranteplaas met oorgenoeg wild beteken net een ding – die eerste biltong van die jaar moes gemaak word!

 

KITSKURSUS IN SKIET EN VUURWAPENHANTERING 

Dit was ’n reuse-uitdaging, want dié matriekseun se kennis en hantering van vuurwapens was, om dit sagkens te stel, minimaal.

 

Volgens hom het hy in die laerskool wel met ’n windbuks na leë koeldrankblikkies teikengeskiet en ’n paar skote met ’n oopvisier-.22. Sy jagervaring was beperk tot ’n tortelduif wat hy op 10-jarige ouderdom op ’n vriend se plot in die Pretoriaomgewing met die einste .22 geskiet het.

 

’n Kort kursus in vuurwapenhantering en etiket het gevolg. “Benré, ’n mens wys nooit met ’n geweer in iemand se rigting nie, al is dit nie gelaai nie. Jy klim nooit met ’n gelaaide geweer agterop ’n bakkie nie. Jy loop ook nooit met ’n gelaaide geweer in die veld rond nie en maak die geweer veilig voordat jy die jagveld verlaat,” was van die belangrikste instruksies wat hy moes aanhoor. 

 

Ons het die horlosie agt jaar teruggedraai en weer by die .22 en die blikkies begin. “Sorg dat net die puntjie van die korrel bokant die V van die visier uitsteek, dat dit gerig is op die ding wat jy wil raak skiet en op die plek waar jy wil hê die koeël van die .22 moet tref.” Die verskil tussen fyn- en grofvat het ek maar vir ’n ander dag gelos. Die blikkies was tien tree ver. Een van sy skote was mis omdat hy die sneller afgeruk het. Die ander was in die kol en daardie blikkies sal nooit weer water hou nie.

 

Die sprong van die .22 na die haelgeweer was baie groot, maar nadat ek en Pietman eers ’n skoot of twee daarmee geskiet het, het Benré met blink oë sy hande gretig na die 12-boorMossberg uitgesteek. Die pompaksie-haelgeweer was seker meer in sy verwysingswêreld vanweë die baie flieks waarna die Kaapse stadsjapie al op sy slimfoon gekyk het. Tog het die opwinding met die haelgeweer ’n kleurtjie in sy wange gebring en die reuk van die haelgeweerdoppe ’n blywende indruk op sy gemoed gelaat. Hy mag ’n stadsjapie wees, maar hy is definitief wild at heart, het die gedagte by my opgekom.

 

Laaste aan die beurt was die Musgrave .308. Die teleskoop het hom van die begin af gefassineer en hy het die hele vakansie daarvan bly praat as ’n “skoop” – natuurlik ’n direkte vertaling van die Engelse woord “scope”. Hy was aanvanklik lugtig vir die terugskop, maar die paar skote met die haelgeweer het hom oortuig dat hy gereed was vir die .308. Nadat hy sy lê gekry het, het hy ’n netjiese groepering met drie skote geskiet. Ek moes mooi verduidelik hoekom ons die geweer op 25 meter instel as ons dan die springbokke op enigiets van 100-200 meter behoort raak te loop. Die groepering van Benré se drie skote het my oortuig dat hy gereed was vir sy eerste amptelike jagtog. Ek het egter ook besef dat sy beste kans op sukses ’n voorsitjag sou wees.

 

OP DIE SPRINGBOKKE SE SPOOR 

Vroeg die volgende oggend is ons te voet die 150-hektaar-jagkamp in. My plan was om so 80 tree van die wildheining af die bokke voor te lê. Hulle was lief daarvoor om in hierdie omgewing te hou. Ek en Benré het ons in die skaduwee van ’n jong kareeboompie aan die voet van die rant ingegrawe nadat ons vir hom ’n paar ysterklippe opmekaargestapel het om as dooierus te dien. ’n Groen skadunet booor moes ons onsigbaar vir die bokke maak, terwyl Pietman en die plaaswerker, William, gekyk het of hulle die bokke kon opspoor en probeer het om hulle stadig in ons rigting te druk. Die draad was reg voor ons en ’n area van ongeveer 200 meter al langs die draad was binne ons gesigsveld. Die kort steekgras in die skietvak voor ons sou verseker dat die springbokke duidelik sigbaar was – die ideale skoot vir ’n Kaapse stadsjapie op sy eerste springbokjag.

 

Ons het nie lank gewag voor Pietman se eerste stemposboodskap op die selfoon deurgekom het nie. “Pappa, die bokke is reg agter julle op die plato. Net hulle koppe steek bokant die lang gras uit. Ons probeer hulle in Pappa-hulle se rigting druk.” Dit het mooipraat gekos om die opgewonde stadsjapie te oortuig dat ons nie ons voorsitplek moes verlaat nie, maar net geduldig moes wag. ’n Rukkie later het die tweede boodskap deurgekom: “Die bokke is nou besig om af te beweeg. Daar is ’n mooi ram onder hulle.” Skaars het ek die boodskap klaar geluister, toe ek die troppie bokke aan my regterkant teen die lyndraad gewaar.

 

“Benré, bly net kalm,” het ek gefluister toe hy senuweeagtig die geweer oorhaal. “Hulle gaan reg voor ons verbykom.” My woorde was egter skaars koud toe die klompie bokke wegdraai van die draad af en met die mooi ram vooraan, reguit op ons begin afkom met daardie kenmerkende springbokdraffie.

 

Die ram het ongeveer 20 tree » van ons af vasgesteek en na Pietman en William bo-op die platorand reg agter ons gekyk. Benré se asemhaling was hard in my ore en fyn sweetdruppeltjies het op sy voorkop uitgeslaan. Ek kon duidelik sien hoe sy wysvinger al stywer om die sneller krul en het asem opgehou vir die skoot wat moes kom... maar dit het nie. Skielik het die ram sy kop weggedraai, vir ’n vlietende oomblik stip na ons gekyk en toe sy trop met daardie tipiese bokspronge oor die Vrystaatse ranteveld laat spaander. ’n Groot sug het oor Benré se lippe ontsnap: “Ek moes geskiet het, nè Oom?” het hy laat hoor en die geweer laat sak.

 

Dit was die einde van die dag se jag, want die bokke het nie weer in ons rigting gekom nie en Benré kon ook nie langer stilsit nie. “Nee Oom, ek dink môre moet ons maar te voet agter die bokke aan. Ek kan nie so lank op een plek stilsit nie.” 

 

TWEEDE POGING 

Die volgende dag het ons die bokke ’n paar keer raakgeloop – dit was nogal elke keer die stadsjapie wat hulle eerste raakgesien het. Dat hy wakker was in die veld, kon ek nie ontken nie. Tot my verbasing het hy die bokke twee keer bekruip en albei kere binne skietafstand van hulle gekom. Al twee kere moes hy egter so half uit die vuis skiet, met die voor die hand liggende gevolg dat albei skote mis was. Die res van die dag het die bokke nie weer ’n skietkans gebied nie en ons het later met leë hande die aftog geblaas.

 

Die voorsitjag was steeds ons beste opsie om Benré se springbokjag suksesvol te laat verloop. Te voet het ons wel binne skietafstand van die bokke gekom, maar die lang gras het ons sig vir dooierusskote belemmer. Die voorsitplek onder die kareeboompie was die veiligste en sekerste skoot wat hy kón skiet. Hy moes maar net geduldig vir die bokke wag en nie toelaat dat sy bokkoors met hom bokspring nie.

 

Die twee aanjaers te voet was egter te min vir die kamp se grootte. Ons het nog ’n derde aanjaer gekort en al oplossing was dat ek ook moes help aanjaag. Benré was nog te onervare om alleen in die veld gelos te word. Die enigste oplossing was dat Marita, my 15-jarige dogter, saam met hom die voorsitplek beman en kyk dat hy al die basiese dinge reg doen. ’n Dogter wat op die plaas grootgeword het, is mos ’n groot hulp vir enige pa.

 

DRIE MAAL IS SKEEPSREG 

So gesê, so gedaan. Dag drie in die jagveld saam met die Kapenaar was ’n heerlike, sonnige een. ’n Noordewindjie het die toppe van die rooigras geroer en die naderende winter was sigbaar aan die vlieswolkies en effense byt in die lug. Drie maal is mos skeepsreg, het ek my wysgemaak en gesorg dat Benré en Marita hulle sit agter die ysterklippe in die skadu van die karee kry. Ek, Pietman en William is te voet die rante in om die troppie springbokke onder skoot van die jagter te bring.

 

Dit het ons min of meer ’n uur geneem, maar uiteindelik was die bokke op pad na die voorsitplek. Hulle was nog ver en buite sig van die stadsjapie met die digte bos swart hare en die plaasmeisie met die poniestert, maar doelgerig op pad na hulle toe. Ek was bo-op die rant, verskuil in die digte skadu van ’n olienhoutboom, en het hulle kort-kort op hoogte gehou van die bokke se afstand: “200 tree, 150, 100, 80...” Hulle het perfek van regs af stadig en wei-wei die jagters se gesigsveld binnegekom. “Pappa, Benré sê hy sien hulle,” het Marita op die stemposboodskap gefluister. Voordat ek bekommerd kon raak dat Benré dalk te lank draai met die skoot, soos op die eerste dag, het die bokke uitmekaargespat en die klank van ’n geweerskoot het my ore bereik.

 

Ek het geen bok sien lê nie en in hul rigting teen die rant afgestap. Dit was ’n hele entjie na hulle toe en die stadsjapie het in die kolletjie waar die bokke laaste was toe die skoot geklap het, ernstig na ’n dooie bok gesoek. Die teleurstelling was van ver af aan sy houding te bespeur en duidelik op sy gesig waarneembaar toe ek by hom kom. “Nee wat, Oom, hierdie jag-game is nie vir my nie. Oom en Pietman moet maar verder skiet,” het die woorde hard en vinnig oor sy lippe gekom. Ek moes mooipraat om hom weer gefokus te kry. “Op watter deel van die bok het jy gekorrel?” “Agter die blad, soos Oom gesê het, en my geweer was doodstil. Die kruis was solid en het niks beweeg nie. Ek het geskrik toe die skoot afgegaan het. Oom het mos gesê dit moet eintlik so wees.” Die pleitklank in die seunstem het my nie ontgaan nie en die smeking in die bruin oë vir ’n doodskoot het my stilweg ’n skietgebedjie laat opstuur. “Maar Benré, dan was die skoot mos raak. Jy moet onthou dat ’n bok wat deur die hart geskiet is, nog ’n hele ent kan hardloop voordat hy dood neerslaan. In watter rigting het hy gehardloop?”

 

Hy het beduie en ons het saam met Pietman en William, wat ook nou by ons was, begin soek. Ons vyf het sowat 20 tree uitmekaar gestap in die rigting waarin die bokke verdwyn het. Maar helaas, geen dooie bok binne 50 tree nie. Op 80 tree steeds niks. Op 100 tree het my hart in my skoene gesak. En toe skielik: “Daar’s hy, Oom, daar lê hy!” het hy opgewonde uitgeroep en met lang treë na die dooie bok gehardloop. En jou wrintiewaar, daar in die lang gras, ongeveer 20 tree van die lyndraad af, het die springbokooi gelê met ’n bykans perfekte hartskoot!

 

Benré het uit sy vel gespring van ekstase. Sy breë, aanhoudende glimlag het die wêreld op daardie oomblik sommer ’n beter plek gemaak. Hy wou niks weet daarvan dat ons help dra aan die bok nie. Ons moes hom net help om die ooi op sy skouers te lig. Daarna het hy glimlaggend en bloedbesmeer die pad huis toe gevat met die roepstem van die wildernis in sy hart en ’n veraf kyk in sy oë.

bottom of page