top of page

SA JAGTER/HUNTER | Julie 2021 | Deur PIETER GAYBBA

DSCF7655.JPG

VELDRY TYDENS JAG

Ongeag hoe ’n mens daarna kyk, êrens tydens die jagtog gaan jy met jou bakkie van die pad af ry. Normaalweg is dit om daardie karkas te gaan oplaai wat op die onmoontlikste plek beland het. Dit is waar ’n 4x4- kursus goud werd is. Dit help dat jou voertuig heel bly terwyl jy jou bok gaan oplaai sodat hy ook kan bakkie ry.

 

Voor ons by die ry kom, kyk ons eers na ’n paar dinge wat jou voertuig se veldryvermoë kan beïnvloed.

 

SOORTE BANDE

Daar waar die tekkie die teer slaan, is sekerlik die belangrikste deel van jou voertuig. Kies bande wat geskik is vir die omgewing waarin jy jag.

 

Voordat jy bande koop, vra jouself eers die volgende af:

• Waar gaan ek die meeste ry?

• Hoe vinnig wil ek ry?

• In watter klimaat gaan die bande die hardste werk?

• Wat is die vrag wat my voertuig gaan dra? 

• Watter banddruk benodig ek vir die terrein waarop ek beweeg en vir die vrag op my voertuig?

 

Daar is hoofsaaklik drie soorte bande in die kommersiële voertuigwêreld: 

HT (Highway Terrain):

Hierdie bande word van sagte rubber vervaardig en is geskik vir 80 % se padry en 20 % se veldry. Die meeste bakkies kom nuut van die vloer af met hierdie bande. Die voordeel van dié bande is min padgeraas en uitstekende padhouvermoë op teerpaaie. Hulle is ook ideaal om deur die sand mee te ry en het ’n hoë spoedgradering. Die nadeel is dat hulle nie baie vrag kan dra nie.

 

AT (All Terrain):

Met ’n samestelling van medium tot harde rubber vir 50 % se padry en 50 % se veldry, bied hierdie bande ’n dubbele voordeel. Hulle het boonop ’n medium spoedgradering en kan vrag goed hanteer – beslis die ideale keuse vir die seisoenale jagter.

 

MT (Mud Terrain):

Hierdie bande is uiters gewild onder 4x4- entoesiaste, maar ongelukkig om die verkeerde rede: “Want dit lyk cool,” soos die jongmense sal sê. Hulle word aangeskaf om kosmetiese redes en nie vir funksionaliteit nie. MT-bande is uitstekend vir modder en klipperige terrein danksy drielaagsywande met ’n harde rubbersamestelling. Hulle werk goed vir 80 % se veldry en 20 % se padry. Met ’n uitstekende waterverplasingsvermoë, is dit die perfekte bande vir nat omstandighede. Aan die negatiewe kant het dié bande ’n hoë padgeraas en ’n lae spoedgradering. Dit is waarom so baie 4x4’s rol – die band se spoedbeperking word oorskry en dit bars, met katastrofiese gevolge. MT-bande is nie geskik vir sandry nie en hulle hou ook nie lank nie; die gemiddelde leeftyd is 40 000 km dit bars, met katastrofiese gevolge. MT-bande is nie geskik vir sandry nie en hulle hou ook nie lank nie; die gemiddelde leeftyd is 40 000 km.

​

BANDDRUK 

Vir die teerpad word ’n banddruk van tussen 2,2 kPa en 2,5 kPa aanbeveel en vir grondpaaie ’n effens sagter druk van sowat 1,8 kPa tot 2,0 kPa.

 

Sand is baie onvoorspelbaar, maar ’n baie goeie beginpunt is 1,2 kPa. Moet egter nie laer as 0,8 kPa gaan nie, want die kans dat jy die band van die velling kan afdruk of dat sand tussen die velling en die band kan inkom, is groot. Vir modder is ’n banddruk van 1,5 kPa voldoende, afhangende van die soort modder waardeur jy ry. 

 

Klippe is effens moeiliker. Die band moenie te sag wees nie, anders kan die sywand beskadig word. As die band te hard is, kan dit weer nie die skok voldoende absorbeer nie. ’n Banddruk van tussen 1,5 kPa en 1,8 kPa word dus aanbeveel. 

 

KEN JOU VOERTUIG 

Voor jy die pad verlaat, is dit noodsaaklik dat jy jou voertuig ken. Jy moet weet wat die grondvryhoogte is: Dit is nie hoe hoog die bakwerk van die grond af is nie, maar waar die laagste punt op jou voertuig is. Dié punt word gewoonlik by die ewenaarhuls of die skokbrekermonterings op sommige voertuie gevind.

 

Dis baie belangrik wanneer daar oor hindernisse gery word dat die voertuig haak, maar kom ons kyk na voertuigdinamika:

 

Aanvalhoek: Die hoek wat gevorm word voor die voertuig voordat dit oor ’n hindernis beweeg. As jy ’n bosbreker asook ’n wenas op jou voertuig aanbring, kan dit hierdie hoek kleiner maak en jou voertuig se 4x4-vermoë benadeel.

 

Oorvalhoek (Break-over angle): Die hoek wat gevorm word tussen die bande en die middelpunt op die laagste gedeelte tussen die wiele en die onderstel. Kortwielbasis-voertuie het hier die grootste voordeel.

 

Vertrekhoek (Departure angle): Die hoek wat gevorm word tussen die hindernis en die agterkant van die voertuig. Spaarwiele en trekstange wat agter gemonteer word, kan hierdie hoek ook beïnvloed.

 

Omvalhoek (Roll-over angle): Die maksimum gradiënt wat die voertuig na die kant toe kan kantel voor dit rol. Viertrekvoertuie se swaartepunt is gewoonlik hoog. Soms word dit selfs hoër namate jy die voertuig se suspensie aanpas vir ’n groter oorvalhoek of wanneer hoër bande gepas word vir ’n beter grondvryhoogte. Die algemene reël bepaal dat vir elke duim wat jy hoër gaan, jy twee duim breër moet gaan om die voertuig se swaartepunt dieselfde te hou – iets om te onthou wanneer aanpassings gemaak word.

 

Maksimum waterrydiepte (Wading depth): Die diepste vlak wat jou voertuig deur water kan beweeg voor water by die luginlaat ingesuig word. ’n Snorkel is nie altyd ’n aanduiding nie; sommige voertuie wat met ’n snorkel toegerus is, het ’n eenrigtingklep aan die onderkant van die luginlaatpyp wat water uitlaat en in die oop-posisie kan vassteek! Petrolaangedrewe voertuie se waterryvermoë is ook maar net ongeveer ’n halwe meter. Baie manne het al hul moses teengekom in diep water met moderne bakkies met rekenaars en gesofistikeerde toerusting.

 

Kies die regte voertuig vir jou jag, afhangende van die terrein waar jy jag. Leer jou voertuig net so goed soos jou roer ken en raak vertroud met al die kontroles sodat jy weet waartoe dit in staat is.

Lees ook hier

bottom of page