top of page

SA JAGTER/HUNTER | Januarie-Februarie 2022 | Deur JACQUES BOSHOFF

Bewerk jou eie vleis.jpg

BEWERK JOU EIE VLEIS MAKLIK EN GOEDKOOP (DEEL 2)

In deel 1 in die Nov/Des 2021- uitgawe het ons die vleismaler en -menger getoets. Vandeesmaand vertel ek meer oor die hamburger-patty-pers, worsstopper en vakuumseëlmasjien. Die hele pakket is teen ’n spesiale prys van slegs R11 495 aan SA JAGTER/HUNTER-lesers beskikbaar by Soft-Ice Catering Equipment in Montana, Pretoria.

 

A100-HAMBURGER-PATTY-PERS 

Eerste onder die vergrootglas was die A100-hamburger-pattypers. Ek moes dit eers mooi bekyk aangesien ek maar gewoond is aan die normale Tupperwareprodukte wat ’n mens gewoonlik by die huis gebruik. Die pers het ’n houer bo vir die papier of plastiekvelletjie wat jy aan beide kante van die hamburger-patty sit. Die pers maak patties van 100 mm in deursnee, en soos al die Soft-Ice-toerusting wat ek nou al getoets het, word alles wat nodig is om dit te gebruik, saam met die masjien verskaf. In dié geval kry jy 1 000 velletjies (100 mm in deursnee) om die patties mee te maak.

 

Die pers werk eintlik baie eenvoudig. Jy plaas die velletjie in die onderste houer, sit jou balletjie maalvleis in en ’n velletjie bo-op, en trek die handvastel af. Die masjien maak dan ’n klikgeluid, wat beteken die patty is gepers en reg. Met die oplig van die handvatsel draai die boonste drukplaat weg en die onderste houer kom op sodat jy die patty maklik kan verwyder. Indien die masjien nie ’n klikgeluid maak nie, kom die onderste houer nie op nie en die boonste plaat skuif ook nie weg nie. Die rede hiervoor is om seker te maak dat al die patties dieselfde grootte is. Dit beteken ook dat jy vinnig moet vasstel hoeveel maalvleis min of meer nodig is, anders peul die vleis langs die kante uit of die patty is te dun. Ek het dit gelukkig vinnig uitgewerk en ’n sekere opskeplepel uit die kas was net die regte ding vir die werk. Daarna het ek die patty-makery aan een van my vriende oorhandig en dit het toe só vinnig gegaan dat ek amper nie genoeg maalvleis vir wors oorgehad het nie. 

 

CV-3-WORSSTOPPER 

Soos reeds genoem, verskaf SoftIce altyd al die nodige saam met hul toerusting, wat ook die geval was met die worsstopper. Daar was plastiekstoppypies van 20 mm, 30 mm en 40 mm saam met die masjien in die boks. Hulle het soos ’n bom gewerk en dis glad nie nodig vir vlekvryestaal- of aluminiumpypies nie. Al kan die worsstopper ongelukkig net 3 kg vleis op ’n slag hanteer, moet ek bieg dat dit vir my baie beter gewerk het as ons eie groot stopper wat ons gewoonlik gebruik. Alles het seepglad verloop en dit was net ’n plesier om daarmee te werk.

 

ET-2500-VAKUUMSEËLMASJIEN 

In 2019 het ek ’n volledige toetsverslag oor die ET-2500-vakuumseëlmasjien gedoen en was so beïndruk daarmee dat ek self een gekoop het. Ek weet van meer as tien mense wat ook al een aangeskaf het en baie tevrede is daarmee. As jy dalk in die mark is vir ’n vakuumseëlmasjien vir tuisgebruik en jou vleis self bewerk, is dit vir seker die perfekte oplossing. Dit is boonop bitter goedkoop. Ek glo dat enige nauurse tuisblokman ’n vakuumseëlmasjien op sy persoonlike toerustinglysie het.

 

Hierdie masjien is nie noodwendig goedkoop nie; R10 000- plus val nie in almal se prysklas nie en die risiko om ’n tweedehandse een te koop is groot, want as dit breek, gaan jy heel moontlik sukkel om parte te kry en hulle is boonop skaars. Dit is kinderspeletjies om daarmee te werk. Tans kry ’n mens sakkies in twee breedtes (150 mm en 250 mm) en dit kom in 5 m-rolle. Binnekort sal daar ook sakkies van 280 mm breed in 10 m-rolle beskikbaar wees. Die rol sakkies kom binne-in die masjien; jy glip die punt van die rol onderdeur die snyer en maak die sakkie so lank as wat nodig is. 

 

Hierdie proses het my ’n bietjie plastiek gekos totdat ek mooi uitgewerk het hoe om seker te maak die sakkie is groot genoeg vir dit wat ek wil seël. Dit was heel maklik: Plaas dit wat jy wil seël bo-op die sakkie en laat ongeveer 2 cm ekstra toe as die masjien se deksel toe is, dan weet jy jy is veilig en gaan nie onnodig sakkies mors nie. Maak dan die deksel toe, draai die knop aan die masjien se regterkant in plek en druk die Seal-knoppie. Daarna trek jy die snyer van links na regs en siedaar, jy het jou sakkie!

 

Indien jy dieselfde goed gaan verpak, kan jy vooraf sommer genoeg sakkies maak om die proses vinniger te laat verloop. Hier kom die geheim wat ek sommer al ná die derde probeerslag ontdek het: Om die vakuumseëlmasjien die beste te laat werk, moet jy die sakkie se oop kant met jou wors of wat ook al daarin moet kom, mooi presies aan die verste kant van die vakuumgleuf binne-in die masjien sit, dan werk dit elke keer perfek. Sodra jy dit mooi op die vakuumgleuf het, maak weer die deksel toe, draai die knop regs wat die deksel sluit en kies dan die volgende: Dry of Moist Food en Normal of Fast vir die seëlproses. Druk dan Vacuum & Seal. Dis so maklik soos dit. Ek het elke keer die Fast-opsie gekies, want dan word die lug vinniger uit die sakkie gesuig en is die hele proses vinniger.

 

Ek het al wors, droëwors, biltong en pakkies vir die kinders se kosblikke met die masjien gemaak en dit het my nog nie teleurgestel nie. Die sakkies is baie sterk – jy sal dit nie maklik met die hand oopskeur nie en sal jou knipmes uit jou sak moet haal daarvoor. Vir die kinders se kosblikkies knip ek met ’n skêr ’n keep aan albei kante sodat hulle die sakkie maklik kan oopskeur; baie soos die tamatiesous-sakkies wat jy saam met ’n wegneemete kry. Hulle is mal daaroor.

 

Ek moet eerlik wees: Hierdie masjien is nie net ’n moet vir die jagter wat sy vleis self tuis bewerk nie, maar ook vir elke huis. Dit is taamlik klein (40 cm x 27 cm) en staan 12 cm hoog. Dit pas gemaklik in die meeste kombuise en die afwerking van vlekvrye staal laat dit boonop duursaam lyk. Saam met die masjien kry jy ook ’n kontrepsie waarmee jy jou wynbottel kan seël. Dis ’n pypie met ’n proppunt wat jy in die oop wynbottel se prop druk. Dit suig al die lug uit sodat jou wyn langer kan hou. 

 

Ter opsomming van hierdie en die vorige artikel, kan ek hierdie stel masjiene met vrymoedigheid aan enige iemand aanbeveel. Die prys is reg, die toerusting is van topgehalte en ’n mens het nie nodig om een van jou motors buite te parkeer omdat jy nou ’n slaghuis by die huis het nie. Die toerusting hanteer maklik genoeg om dit sommer in die kombuis te gebruik. Om jou eie vleis te bewerk gaan jou ure se genot verskaf en geld bespaar. As jy eers ’n paar suksesvolle resepte saamgeflans het, gaan vriende en familie dikwels uitvis of jy nie nog van daardie lekker wors het en of hulle dit nie by jou kan koop nie. Dis baie soos ’n geweer wat op ’n tiekie skiet met daardie selfgelaaide patrone: Iets om op trots te wees en te geniet! 

 

*Kontak gerus vir Soft-Ice Catering Equipment by enige van hierdie nommers: 012-548-2745 / 012-548-0103 / 012-548-2136 / 012-548-4270 / 071-564-4285 of stuur ’n e-pos na sales@cateringequipment.co.za. Besoek gerus ook hul webwerf www.cateringequipment.co.za vir meer inligting.

 

WEN! WEN! WEN!

Die goeie mense by Soft-Ice Catering Equipment het ons toestemming gegee om al die produkte wat getoets is as pryse weg te gee. Jy staan dus ’n kans om hierdie CV-3-worsstopper, ET-2500-vakuumseëlmasjien en A100-hamburger-patty-pers te wen. Hou ons Facebook-bladsy dop om te sien hoe jy vir hierdie pryse in aanmerking kan kom.

Lees ook hier

bottom of page