top of page

SA JAGTER/HUNTER | November-December 2021 | Deur JACQUES BOSHOFF

1.jpg

BEWERK JOU EIE VLEIS MAKLIK EN GOEDKOOP

Dis geen geheim dat jag lankal nie meer goedkoop is nie, maar ongelukkig het min van ons ’n oom Johan met ’n plaas waar ons nou en dan verniet ’n bokkie kan gaan skiet. Al wat jy terugbring huis toe van ’n jagtog af, is goeie herinneringe en hopelik ’n paar kilogram vleis.

 

Indien jy of jou eggenoot baie analities is, sal jy (en hopelik nie sy nie!) gou besef dat al die kostes verbonde aan ’n jagtog daardie paar kilogram vleis wat terugkom, eintlik baie duur maak. As jy egter só daaraan dink, moet jy liewer nie weer gaan jag nie. Ek reken almal wat al hul wildsvleis vir ’n slaghuis gegee het om te bewerk, het ongelukkig ’n stelletjie of twee afgetrap met óf die gehalte van die vleis wat hulle terugkry óf die hoeveelheid daarvan. Dis waarom ek altyd verkies om my eie vleis te bewerk, hoewel daar ongelukkig nie altyd tyd voor is nie. 

 

Soft-Ice Catering Equipment in Montana, Pretoria, het onlangs ’n paar pakkette in verskillende prysreekse saamgestel met spesiale afslag net vir SA JAGTER/HUNTER-lesers. My eerste gedagte rondom hierdie pakkette was dat dit my baie aan herlaaitoerusting herinner. Dit is toerusting wat aanvanklik ’n taamlike gat in jou sak maak, maar jy verhaal vinnig die koste daarmee en dan het jy dit vir die toekoms.

 

Die rooibokpakket wat R11 495 kos, het in my skoot geval en ek kon dit dus gaan toets en kyk hoe alles werk. Die pakket bestaan uit ’n hamburger patty-pers, worsstopper, vleismeule, vleismenger en vakuumseëlmasjien. Ek moet brutaal eerlik wees: Met die eerste oogopslag het ek gedink ek gaan sukkel met die klein meuletjie en worsstoppertjie. My oorlede pa het ’n slaghuis besit toe ek ’n kind was. Ek is dus taamlik gewoond aan hierdie soort toerusting en ons gebruik tans op ons plaas ook self baie ou maar werkende industriële toerusting. Om dit dalk mooier te stel: Ek was baie skepties oor die rooibokpakket.

 

Soos gewoonlik het ons met die ontbening van die karkas begin. Die TK-12-vleismeule is eerste onder die vergrootglas geplaas. Ons eie groot vleismeule, waarvoor ’n mens omtrent ’n vurkhyser nodig het om dit te verskuif, was op bystand. Met die oopmaak van die verpakking was ek egter reeds beïndruk met die TK-12-vleismeule omdat 6 mm- en 8 mm-maalplaatjies, asook twee lemmetjies daarby ingesluit is. Verder word ’n plastiekvoerderstok van presies die regte lengte ook verskaf, tesame met ’n plastiekveiligheidsraam wat verhoed dat die voerderstok te ver ingaan.

 

Diegene wat meules ken, sal weet hoe belangrik dit is om ’n ekstra skerp lemmetjie byderhand te hê. Ek het dit uitgehaal en was sommer tjoeftjaf gereed om die eerste blokkies vleis te probeer maal. Met ’n gewig van sowat 25 kg, skuif en plaas jy die meule gemaklik waar dit vir jou gaan werk. Ons het die blokkies vleis klein gesny (±5-7 cm). Die eerste tien blokkies vleis en vet se snyery het goed verloop en ek het gou besef dat ek die ou meule wat op bystand was, nie nodig sou kry nie.

 

Die TK-12-meule het soos ’n bom gewerk en my ongelooflik beïndruk. Ons het in totaal meer as 40 kg vleis sonder enige probleme gemaal en dít met die 6 mm-plaatjie. Volgens Soft-Ice se webblad kan die TK-12-vleismeule tot en met 150 kg vleis per uur maal. Nadat ek dit self gebruik het, kan ek dit goed glo.

 

Klaar gemaal, was dit tyd vir die vleismenger en die speserye wat ek by Spicegro gekry het. Dit was vir my iets nuuts omdat ek maar altyd die vleis en speserye self met die hand in vleisbakke gemeng het. Die FME-20- vleismenger kan 20 liter of (ongeveer 13 kg) se vleis op een slag hou. Dit het perfek vir my gewerk aangesien die speserye onderskeidelik 13,5 kg en 15 kg was. Die vleismenger is van hoëgehalte-vlekvryestaal en het ’n deksel om te verseker dat alles nie rondvlieg sodra jy die handvatsel begin draai nie.

 

Die vleismenger het vier lemme aan die binnekant. Die lemme aan weerskante is ontwerp om die maalvleis na die middel van die menger te gooi en die middelste twee lemme is gemaak om die vleis en speserye goed te meng. Die menger het uitstekend gewerk en dit was veel makliker as om met die hand te meng. Daarbenewens was die mengsel van speserye en vleis mooi egalig.

 

Die worsstopper, hamburgerpatty-pers en vakuumseëlmasjien sal in die volgende artikel deeglik beskryf word.

 

*Kontak gerus vir Soft-Ice Catering Equipment by enige van hierdie nommers: 012-548-2745 / 012-548-0103 / 012-548-2136 / 012-548-4270 / 071-564-4285 of stuur ’n e-pos na sales@cateringequipment.co.za. Besoek gerus ook hul webwerf www.cateringequipment.co.za vir meer inligting

bottom of page