top of page

SA JAGTER/HUNTER | Oktober-September 2022 | Deur KARLA JANSE VAN VUUREN | Foto’s: GERRIE JANSE VAN VUUREN

Boskombuis 1.jpg

TAPAS-FEES

TRADISIONELE CROQUETTAS MET BLOUWILDEBEESBILTONG

Ek het hierdie resep aangepas uit die Spaanse sjef Omar Allibhoy se uitstekende boek, Tapas Revolution. Hy maak dit met serrano ham, maar ek gee dit ’n eg Afrika-geur met droë blouwildebeesbiltong. Dit is nie moeilik om te maak nie, maar neem wel ’n bietjie tyd. Dit is egter beslis die moeite werd wanneer jy daardie eerste geurige, romerige happie neem!

​

JY BENODIG:

• 50 g botter

• ½ klein ui, fyngekap

• 30 g droë wildsbiltong van jou keuse, baie fyn gesny – vra jou slagter om te help (ek het blouwildebees gebruik)

• 800 ml volroommelk

• 60 g koekmeel

• Knypie neutmuskaat

• 1 t sout

• Knypie witpeper

• 2 eiers

• 50 g droë broodkrummels

• Olie vir diepbraai

​

SO MAAK ’N MENS:

1. Smelt die botter in ’n pan oor matige hitte en braai die ui tot glasig. Verhit die melk tot amper kookpunt in ’n aparte kastrol terwyl die uie braai.

2. Roer die meel by die uie en braai sowat 5 minute tot die meel strooikleurig is. Voeg die warm melk bietjies-bietjies by en klits aanhoudend om ’n dik roux te vorm. Hou aan tot al die melk bygevoeg is en jy ’n gladde béchamel het. Laat opkook, verlaag die hitte en voeg die neutmuskaat, sout en peper by. Laat sowat 40 minute oor lae hitte prut en klits gereeld om seker te maak dat dit nie vasbrand nie. Proe en geur verder na smaak indien nodig.

3. Roer nou die biltong by. Voer ’n bakplaat of vlak glasbak uit met bakpapier. Giet die béchamel daarin en maak dit mooi gelyk. Plaas ’n stuk kleefplastiek bo-op (dit moet aan die sous raak) om te voorkom dat ’n velletjie vorm. Plaas in die yskas vir ten minste 3 uur.

4. Dit behoort nou ferm genoeg te wees om te hanteer. Trek die kleefplastiek af en keer die soliede sous versigtig uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Trek die bakpapier af. Besprinkel met ’n bietjie meel en sny in repe en dan in klein vierkante (sowat 4 cm x 4 cm). Sprinkel meel oor jou hande en rol die vierkantjies in balletjies.

5. Klits die eiers in ’n mengbakkie en gooi die broodkrummels uit in ’n vlak bord. Doop elke bal in eiers en dan in die broodkrummels. Plaas op ’n skoon bord en verkoel.

6. Verhit die olie in ’n groot, diep pan tot dit 180 °C bereik. Braai die croquettas (net ’n paar op ’n keer) tot goudbruin en bros (dit behoort net 90 sekondes te neem). Dreineer op kombuispapier en sit dadelik voor. As jy dit weer wil opwarm, plaas dit ’n paar minute teen

180 °C in jou lugbraaier – die mikrogolf sal dit pap maak.

​

 

MINI-SOSATIES MET VLAKVARK-SALAMI EN FETA

Hierdie is ’n happie wat jy maklik volgens jou eie smaak kan aanpas.

​

JY BENODIG:

(GENOEG VIR 8 MINI-SOSATIES)

• 8 groot blokkies of lekker dik skywe vlakvark-salami (jy kan enige wildsvleissalami hiervoor gebruik)

• 8 blokkies ongegeurde feta

• 8 heel peppadews

• 8 klein hout-sosatiestokkies

​

SO MAAK ’N MENS:

Ryg die bestanddele op die stokkies: Begin met ’n blokkie feta, dan salami, en dan ’n peppadew. Jy kan ook groen olywe en ’n basielkruidblaar opryg as jy wil. Of probeer gerus songedroogde tamaties en mozzarella in plaas van die feta en peppadews.

​

​

RYP TAMATIESLAAI

Hierdie slaai bring varsheid na die tafel en kan weer eens volgens jou eie smaak aangepas word. Maak net seker die tamaties is lekker ryp en sny die uie en soetrissies baie dun sodat dit nie oorheers nie.

​

JY BENODIG:

• 3-4 ryp tamaties, in dun skywe gesny

• 1 klein Engelse komkommer, in dun skyfies gesny

• â…“ rooi ui, baie dun gesny

• ½ geel soetrissie, in dun repies

gesny

• 1 e vars dille of ’n ander vars krui van jou keuse (basielkruid of oreganum werk goed)

 

Vir die vinaigrette:

• 2 e rooiwynasyn

• 3 e olyfolie

• ½ t Dijon- of korrelmosterd

• Sout na smaak

​

SO MAAK ’N MENS:

1. Klits al die bestanddele vir die slaaisous goed saam tot dit emulsifiseer om ’n sous te vorm. Hou eenkant.

2. Meng al die slaaibestanddele versigtig saam. Voeg 2 e van die vinaigrette by en meng met jou hande – wees net versigtig om nie die dun skyfies te breek of te kneus nie. Proe en voeg nog slaaisous by indien nodig. Sit dadelik voor.

(Aangepas van vikalinka.com)

​

​

EMPANADAS MET GEURIGE BLOUWILDEBEESMAALVLEIS

Moenie skrikkerig wees om jou eie deeg te maak nie; dis eintlik baie maklik. Ek maak my empanadas sommer in die lugbraaier, maar dit is ook perfek om in die oond te bak.

​

JY BENODIG:

• 1 e botter

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• ½ ui, fyngekap

• ½ rooi soetrissie, fyngekap

• 500 g blouwildebeesmaalvleis

• 1 t fyn komyn

• ½ t paprika

• ½ t sout

• ½ t swartpeper

• ½ t rissievlokkies (opsioneel)

• ¾ k beesvleisaftreksel

• 1 eier, geklits saam met 1 e water

 

Vir die deeg:

• 3 k meel

• ½ t sout

• 170 g botter

• 1 eier

• ¼-½ k water of melk

​

SO MAAK ’N MENS:

1. Smelt die botter in ’n groot pan en braai die knoffel, uie en soetrissie tot glasig. Sprinkel die komyn, paprika, sout, swartpeper en rissievlokkies oor en braai nog ’n minuut.

2. Voeg die maalvleis by en braai tot gaar. Voeg die aftreksel by en prut sowat 5 minute tot die meeste van die vloeistof weggekook het. Proe en geur met nog sout en peper indien nodig. Verwyder van die hitte en laat afkoel.

3. Om die deeg te maak: Meng die meel en sout in jou voedselverwerker. Voeg die botter by en pols tot krummelrig. Voeg die eier en bietjies-bietjies water of melk by tot die deeg bymekaarkom. Verdeel die deeg in twee balle en druk plat. Verkoel tot benodig (haal dit net sowat ’n halfuur voordat jy dit wil uitrol uit die yskas, anders gaan dit te hard wees).

4. Rol een van die deegballe dun uit en gebruik ’n piering om sirkels uit te sny. Skep sowat 1-2 e vulsel in die middel van elke deegsirkel. Vou dit toe en gebruik ’n vurk om te verseël. Bestryk met die geklitste eier en water.

5. Voorverhit die lugbraaier (indien nodig) tot 170 °C. Bespuit die mandjie met klapperolie. Pak die empanadas in een laag in die mandjie; hulle moenie aan mekaar raak nie. Lugbraai 8-9 minute tot goudbruin en gaar. Sit warm voor saam met die chimichurri. (Jy kan ook die empanadas in die oond bak teen 180 °C vir 15-20 minute of tot goudbruin bo-op).

(Deegresep aangepas van laylita.com)

​

​

DOOPSOUS VIR DIE EMPANADAS: CHIMICHURRI

Hierdie heerlike vars doopsous van Argentinië is die perfekte pasmaat vir die empanadas.

​

JY BENODIG:

• 1 k vars koljanderblare of Italiaanse pietersielie

• 4 knoffelhuisies

• Sout en peper na smaak

• ½ k olyfolie

• 1 t rissievlokkies (opsioneel)

• 1 e droë oreganum

• 1 ½ e wit asyn

• ’n knypie komyn

​

SO MAAK ’N MENS:

Plaas al die bestanddele in jou voedselverwerker en pols tot goed gemeng maar steeds met heelwat tekstuur. Proe en geur met sout en fyn witpeper, indien nodig. Sit saam met ekstras soos olywe en vars brood (verkieslik ’n varsgebakte ciabatta) voor.

(Aangepas van fufuskitchen.com)

bottom of page