top of page

SA JAGTER/HUNTER | Mei 2022 | Deur FRANCOIS VAN EMMENES

Veiligheid in die jagveld

VEILIGHEID IN DIE JAGVELD DEEL 1

“Wat bedoel oom!?” Die gesigsuitdrukking op klein Bernard Warnich se gesig was een van verwarring. Hy was maar sowat 10 jaar oud. Op sy vraag oor waar een van my nuwe gewere se safety sit, het ek geantwoord: “Tussen jou ore…” Dís waar wapenveiligheid begin en ook waar dit die meeste kere eindig. Dis die punt wat ek toe aan Bernard verduidelik het. Die afgelope 30 jaar het ek ’n verandering waargeneem in die mate waartoe basiese wapenveiligheid toegepas word – ek is oortuig dit het verbeter. SuiderAfrika se jagters is oor die algemeen ’n klomp bakgat, veilige manne en vroue. Skietongelukke vind selde plaas, maar vra jou die vraag af: Wil ek die uitsondering wees? Ek het gaan sit en nadink oor my eie ervaringe die afgelope drie dekades en besef hoe maklik dinge kan skeefloop.

 

’N PAAR DUUR LESSE

In 1997 het ek en my jagmaters ná ’n lang dag in die bakkie op Mpofu Wildreservaat aangekom. Gretig om dieselfde middag nog gou ons gewere te zero, het ons afgesuiker skietbaan toe en haastig ’n teiken opgeplak voor die son sak. Almal het ’n kans gekry en ek was laaste aan die beurt net toe die son agter die berge verdwyn.

 

Ek het drie patrone in my .30-06 se magasyn gelaai en ’n enkele skoot op die kol geskiet. Dit het so ’n duim hoog getref – perfek. Daarna het ek die geweer van die sakke af gelig, die slot oopgemaak, dit weer toegestoot, en ja – toe trek ek die sneller... Die koeël het met ’n stofwolk honderde meter ver teen die lae berg op getref. Ek sal liewer nie hier herhaal wat swaer Johann my minder subtiel meegedeel het nie… Die les? Daar is eintlik ’n paar. Looprigting is een van die goue gebooie van wapenveiligheid en iets wat ek sonder uitsondering my hele lewe lank al toepas. Gelukkig het my loop baan-af en grond toe gewys, maar wat as ek booor die berg geskiet het? Tweede les: Moenie haastig wees as jy skiet (en herlaai) nie – nie op die baan nie en ook nie in die veld nie. Haastigheid voorkom dat jy mooi dink wat jy doen. Almal sal sekerlik saamstem dat dit lewensbelangrik is as daar gewere betrokke is. Ek wás haastig – haastig om in die kamp te kom, ’n warm baadjie aan te trek, ’n vuurtjie aan te steek en ’n biertjie oop te knak.

 

Ongeveer ses jaar gelede het ek en ’n paar ander manne in noord-KwaZulu-Natal gaan jag. Vriend Jaco (nie sy regte naam nie) het nonchalant die kamp binnegeloop, waar ons reeds om die vuur sit en ontspan het ná die dag se jag. Hy het sy .308 van sy skouer af gehaak en by die klipkombuis ingestap. Sekondes later het ’n skoot geblaf. Boeglam geskrik, het ons verbysterd heen en weer gekyk. Jaco het uit die kombuis te voorskyn gekom. Sy gesig was spierwit, maar om meer as een rede. Hy het die sneller getrek omdat hy gedog het die kamer is skoon. Sy skoot het ons enigste sak broodmeel getref en aan flarde geskiet, en van die meel het op sy gesig beland… Gelukkig het die koeël wat van die klipmuur weggeskram het, hom nie getref nie. Die les? Moenie dog nie, kýk! Moenie net aanvaar ’n geweer is “skoon” nie en moenie iemand anders se woord daarvoor aanvaar nie – kyk self.

 

Hoeveel van ons het nie al motorhuis toe gestap om iets te gaan haal, net om daar te kom en te vergeet wat jy moes gaan haal het nie? Dieselfde beginsel is hier van toepassing: Ons vergeet eenvoudig. As jy die kamp instap, maak jou geweer skoon – haal alle patrone uit die magasyn en kamer. Doen dit sommer al ’n ent buite die kamp; jy gaan in elk geval nie ’n bok naby die kamp skiet nie.

 

My jaggroepies se manne stap met skoon gewere, slotte oop, die kamp binne. Hulle loop reguit na diegene wat reeds daar is en wys hul veilige geweer aan almal – ’n wedersydse, gerespekteerde gebaar wat almal op hulle gemak laat voel.

 

My pa se goeie vriend se neef is ’n paar jaar gelede in ’n jagongeluk in die Oos-Kaap doodgeskiet. Hy was ’n vooraanstaande boer en nie hy of sy jagmaats was groentjies in die veld nie.  

 

Tog is hy nie hier vandag nie... ’n Ander jagter in die geselskap het bo-oor ’n lae bergie geskiet na ’n dier wat op die horison gestaan het, gemis en sy medejagter in die bobeen getref, baie ver van waar die skut was. Die koeël het die hoofslagaar in die bobeen afgesny en die man het in die veld doodgebloei. Tragies, want dit was voorkombaar as nog ’n goue reël gevolg was: Maak seker van jou teiken en dít wat agter jou teiken is. Geen mens kan deur ’n berg kyk nie en geen jagter kan sê waar sy koeël opeindig as hy oor die horison skiet nie. Ek is persoonlik seker al by tien geleenthede aangepor om te skiet na ’n bok wat op ’n kruin staan, en moet met trots sê dat ek nog nooit aan dié versoeking toegegee het nie. ’n Mens weet eenvoudig nie wat daar is nie, ten spyte van die gids/boer wat aandring dat “daar vir kilometers niks daardie kant toe is nie…” Daar kan ’n rondloper wees, ’n plaaswerker wat kortpad neem, ’n misverstand tussen plaaswerkers of gidse oor wie waar is, die lys is legio… Heng, ’n mens kan selfs ’n ander dier raak skiet en kwes, maar jy sal nooit weet nie. Wag liewer vir die bok wat mooi oop staan sodat jy kan sien wat agter hom is.

 

In 2016 het ek my goeie vriend se seun, kom ons noem hom Zandré, uitgeneem om ’n rooibokooi op ’n vriend se plaas te jag, waar ek soms as gids optree. Zandré, toe sowat 12, was al ’n redelik ervare knaap met jag en skiet. Ons het die troppie rooibokke gekry presies waar ek gedink het hulle sou wees en tussen die klippe en bome bekruip tot so naby as 80 meter. Ek wou hê hy moes ’n ou, droë ooi skiet en het my tyd geneem om hom in posisie te kry, die skietstokke vir hom reg te sit en hom gemaklik te kry.

 

Zandré het sy geweer op die “V” gesit en deur die teleskoop gekyk. Ek het so ’n halwe meter vorentoe beweeg om ’n beter sigveld deur my verkyker te kry toe die skoot langs my oor loop (asof ek nie doof genoeg was nie…). Ek het my alie afgeskrik en my regteroor het weer gesing. My eerste reaksie was dié van verstomming en daarna het ek my onmiddellik vervies. “Wat het jy nou gedoen, seun?! Ek het vir jou gesê wag totdat ek sê jy moet skiet! Watter bok het jy na geskiet?!” Zandré se verbasing was onmiskenbaar en sekondes later het die trane geloop. Hy weet nog steeds nie wat gebeur het nie. Volgens hom was sy kamer skoon. Ons het voor die tyd afgespreek dat hy slegs sou laai as ons reg was om op ’n bok aan te lê en ek vir hom gesê het om dit te doen. Die kamer was duidelik nié skoon nie; sy vinger moes die sneller geraak het toe hy die geweer in die bokke se rigting gemik het… Weereens ’n klomp lesse: Hou jou vinger van die sneller af totdat jy reg is om te skiet. Ken die status van ’n patroon in die kamer, of dit nou jou geweer is of nie. Hou jong en dalk onervare jagters mooi dop.

 

GEWERE OP BAKKIES: DIE MOETS EN MOENIES

’n Ander ding wat reeds verskeie kere kop in die jagveld uitgesteek het, is die bêre van ’n geweer voorin die bakkie tydens of ná die jag. Sommige jagters dink dit is aanvaarbaar dat die loop na bo wys, meestal omdat hulle bang is die kroon kry seer as hy ondertoe wys en teen die bakkie se vloer druk. ’n Geweer wat na bo wys, is uiteraard gerig op die jagter wat moontlik agterop staan, en dít verbreek die goue reël oor looprigting. As jy bekommerd is oor die kroon, draai ’n sakdoek of iets anders om die loop se punt. Sou ’n skoot afgaan, om watter rede ook al, is dit reguit grond toe deur die bakkie se vloer, nie in die rigting van jou vriend agterop se bors nie. Ek hou ook nie van gewere wat op die agterste sitplek van ’n dubbelkajuit lê nie – die loop wys steeds in ’n gevaarlike rigting en menige jagter is al raak en/of doodgeskiet as hy ’n (skoon?) geweer aan sy loop uit die bakkie trek – die sneller haak aan iets en...boem!

 

Van bakkies gepraat, my onaangenaamste ondervindinge in die jagveld het te doen met lede van ’n jagspan wat nie basiese veiligheid en/of jagetiek verstaan nie. Dit lei soms tot persoonlike spanning. Net verlede jaar het ek en ’n ou pêl sommer sleg vasgesit toe hy botweg nie wou aanvaar dat geen gelaaide geweer op die bakkie mag wees nie. Sy pa het hom geleer dat dit aanvaarbaar is om ’n patroon te laai en dan die slagpen te ontspan deur die sneller te trek terwyl die slot toegemaak word. ’n Ander, nog gevaarliker variasie is ’n gelaaide geweer met die veiligheidsknip aan. Hoe veilig dit ook al klink, dit ís nie! In die eerste geval lê die slagpen teen die slagdoppie en ’n harde stamp, soos ’n geweer wat op sy kolf val, kan moontlik genoeg energie op die slagpen uitoefen om dit terug te trek en dan oomblikke later weer vorentoe te laat spring as die veer sy werk doen, met die gevolg dat die skoot afgaan. Ek het al minstens tien keer in die jagveld geval óf my geweer laat val. Geweerbande breek, ’n bakkie stamp of ry deur gate en jagters gly en val – dis feite. ’n Skoon geweer kan nie “per ongeluk” afgaan nie. In die tweede geval is die risiko selfs hoër – moet nooit-ooit ’n veiligheidsknip vertrou nie. Dit is ’n meganiese ding wat kan faal of per ongeluk na die gevaarposisie gedruk word sonder dat iemand dit agterkom.

 

Wat op die vorige paar punte volg, is goeie etiket en maniere. Iets wat my jaggroepies al jare lank doen as daar ’n bakkie betrokke is, is om jou geweer te ontlaai en die slot oop te hou as jy by die bakkie (of jaghuis) aankom. Ek stap gewoonlik na die bestuurder en passasier en wys my oop slot en skoon kamer en magasyn vir hulle. Daarna wys ek dit ook vir die manne agterop, met ’n duidelike: “My geweer is veilig.” Eers dan sal ek dit oorweeg om my geweer aan te gee en self in/op die bakkie te klim. Die punte wat op dié wyse versamel word by die boer, plaasbestuurder of professionele jagter is groot en hulle sal dit almal baie waardeer as jy jou skoon kettie aan hulle wys – elke keer. 

 

’n Goeie vriend van my het jare gelede met sy toeslot-geweer op die bakkie geklim en die loop voor my bors verbygeswaai. Ek het onmiddellik gereageer met: “Moenie jou loop na my wys nie!” Hy het hom vervies en geantwoord: “Ek jag al dekades, moenie my oor veiligheid coach nie!” Ek het dit daar gelos, maar dit was maar ’n onaangename atmosfeer agterop die bakkie tot by die plaashuis... Laat een van die ander jagters jou geweer neem voor jy opklim.

 

In die volgende uitgawe kyk ons na ’n ander paar jagveldsituasies, asook haelgeweerskiet en algemene veiligheid.

bottom of page