top of page

SA JAGTER/HUNTER | Januarie - Februarie 2022 | Deur JOHAN VAN WYK

Versamelstuk of nie.jpg

VERSAMELSTUK OF NIE?

Die wêreld van versamelbare vuurwapens is meermale amper met ’n doolhof vergelykbaar. Versamelbaarheid, aldan nie, hang in baie gevalle van verskeie faktore af wat nie aldag baie mooi deur almal verstaan word nie. Dit lei dikwels tot misverstande en meningsverskille, veral tussen diegene wat wil verkoop en dié wat wil koop.

 

Ten einde ’n bietjie duidelikheid te bring, is dit dalk nou ’n goeie tyd om ietwat meer indringend te kyk na wat ’n bepaalde vuurwapen versamelbaar maak, of dalk net die teenoorgestelde tot gevolg kan hê.

 

DIE TIPE VUURWAPEN 

Wêreldwyd is daar ’n magdom vuurwapenversamelaars met geweldig uiteenlopende belangstellingsvelde. In die VSA is dit groot mode om Winchester-, Colt- en Smith & Wesson-wapens te versamel en die Amerikaners het in baie gevalle amper ’n patriotiese streep as dit by dié tipe wapens kom. Aangesien Winchester, Colt en Smith & Wesson amper sonder uitsondering fabriekswapens is, is daar ’n paar goue reëls wat hardebaardversamelaars van dié vuurwapens volg.

 

Eerstens is dit belangrik dat die wapen nog in oorspronklike kondisie moet wees. Dit moet dus nie oorgeblou wees nie, die kolf moet nog in die oorspronklike toestand wees en daar moenie iewers in die verlede enige veranderinge aan die vuurwapen aangebring gewees het nie. Die oorspronklike kondisie is veral in die geval van ou handwapens soos die bekende 1873 Colt Peacemaker van kardinale belang. Skaars rewolwers wat op die oog af in redelik gehawende kondisie is, het al op veilings vir astronomiese bedrae verkoop om die eenvoudige rede dat die wapen steeds in die oorspronklike toestand was.

 

Dieselfde beginsels geld ook vir ander fabrieksvervaardigde vuurwapens wat vir versamelaars van belang is. Vanuit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt is die beste voorbeeld waarskynlik Oberndorf Mauser-sportgewere wat voor die Tweede Wêreldoorlog vervaardig is. Net soos antieke Colt-rewolwers, hou die Mauser vir baie Suid-Afrikaners ’n bekoring van sy eie in vanweë die diep spore wat dié gewere in Afrika se jagvelde getrap het. Die gevolg is dat daar ’n hele klompie ywerige Mauser-versamelaars in Suid-Afrika is.

 

Dis egter ook so dat daar van die sowat 120 000 Mausergewere wat vervaardig is, betreklik min oor is wat in goeie, oorspronklike kondisie is en dus steeds versamelaars interesseer. Van die meer algemene “opknappings” wat ek al met Mausers teëgekom het, is aksies wat geboor en getap is vir teleskoopmonterings (dit gaan gewoonlik ook gepaard met ’n ander veiligheidsknip, slothandvatsel wat afgebuig word en ’n gleuf vir die gebuigde slothandvatsel wat in die kolf ingesny moet word), staal wat swak oorgeblou is, ander skopkussings en nog ’n paar ander veranderinge wat versamelaars se moed in hul skoene laat sak.

 

Ten spyte daarvan dat sommige onder die indruk is dat sulke veranderinge ’n verbetering of opknapping daarstel, is die teendeel ongelukkig waar. ’n Mauser wat oorgeblou of geboor en getap vir teleskoopmonterings is, verloor onmiddellik ten minste die helfte van sy waarde en is vanuit ’n versamelaarsoogpunt van geen belang meer nie. Dieselfde beginsels geld ook vir ander fabrieksgewere wat onder versamelaars in aanvraag is, soos pre-’64-Winchesters, ouer Brno’s, en so meer.

 

UITSONDERINGS 

’n Ander kategorie vuurwapens wat uiters gewild is onder versamelaars oor die wêreld heen, is kwaliteit- Britse gewere en haelgewere. Topkwaliteit wapens deur bekende makers soos Rigby, Holland & Holland, Purdey en Woodward, om maar ’n paar voorbeelde te noem, is bykans altyd in aanvraag en dikwels ook ’n uitstekende belegging.

 

Iets wat almal nie altyd in ag neem nie, is dat wapens soos dié bykans almal pasmaakvuurwapens is wat oorspronklik vir ’n individuele kliënt volgens sy persoonlike spesifikasies vervaardig is. Die implikasie hiervan is dat bykans geen twee kwaliteit-Britse wapens dieselfde kolf- of loopafmetings het nie, die gravering verskil, en so ook vele ander aspekte.

 

Net soos met fabriekswapens, is goeie kondisie hier ook van wesenlike belang. Die duurste Purdey wat swak oorgedoen is, is betreklik min werd, ongeag wie die oorspronklike eienaar was. Oorspronklike kondisie is met dié soort wapens egter ietwat minder belangrik, hoewel dit vir sommige versamelaars steeds ’n ernstige oorweging is.

 

Vroeër jare was dit algemene praktyk vir Britse vuurwapeneienaars om hul vuurwapens aan die einde van die jag- en skietseisoen na die vervaardigers of dalk selfs ’n ander vervaardiger of geweersmid te stuur vir ’n opknap- en herstelsessie. So ’n sessie kon enigiets insluit, van ’n goeie skoonmaak tot ’n nuwe kolf, of selfs nuwe lope in geval van ’n katastrofe. Hier kan daar dus geen sprake wees van oorspronklike kondisie nie omdat daar waarskynlik verskeie kere aan die vuurwapen gewerk is gedurende sy leeftyd. Daar is egter ’n baie belangrike oorweging in dié verband: Die werk moes volgens dieselfde standaard gedoen word as waarvolgens die wapen aanvanklik vervaardig is!

 

Hierdie is ’n toets wat baie opknappers van versamelbare Britse wapens gereeld dop. Dieselfde prosesse word nie gevolg nie en die wapens is derhalwe so ooglopend swak oorgedoen dat hul waarde weens die swak vakmanskap baie negatief beïnvloed word.

 

Iets anders wat baie Britse vervaardigers gedoen het, was om verskillende grade vuurwapens te vervaardig. Twee sprekende voorbeelde hiervan is Greener en Westley Richards. Die beste wapens wat deur dié twee vervaardigers gemaak is, was so goed en so mooi soos enige ander topklas-vervaardiger se wapens. Sommige van die Westley Richards- en Greener-wapens van ’n laer graad is egter spesifiek vir uitvoer na die verskeie destydse Britse kolonies soos Indië en Suid-Afrika vervaardig. Van dié wapens se kwaliteit en afwerking laat ongelukkig soms veel te wense oor, en ondanks die bekende naam wat dalk op die loop of die aksie gegraveer mag wees, is sulke wapens dus nie noodwendig versamelaarsitems nie. 

 

Om op te som, is kwaliteit en goeie kondisie (nie noodwendig oorspronklike kondisie nie) dus die twee belangrikste faktore wat in ag geneem moet word wat Britse vuurwapens met potensiële versamelaarswaarde betref.

 

NUWE VUURWAPENS 

Ek word gereeld gevra om my opinie oor die versamelaarswaarde (aldan nie) van nuutvervaardigde wapens te gee. In hierdie kategorie praat ek van die duurder produkte van meer bekende vervaardigers met ’n goeie reputasie vir hul kwaliteitvuurwapens. Met ’n paar uitsonderings, is sulke vuurwapens egter nie noodwendig versamelstukke nie. Die rede hiervoor is bloot dat ’n vuurwapen nie noodgedwonge ’n versamelstuk is bloot omdat dit duur is nie, asook dat iemand anders ’n soortgelyke nuwe vuurwapen vir sy eie genot kan aanskaf omdat dié wapen steeds in produksie is en dus beskikbaar is.

 

PROVENANCE EN SENTIMENT 

Die herkoms van ’n vuurwapen is iets wat baie mense misverstaan. Dis wel so dat vuurwapens wat in die verlede deur baie bekende individue soos F.C. Selous en Winston Churchill besit is, meer werd is vanweë sulke persone se beroemdheid. Die feit dat ’n wapen voorheen deur ’n bekende persoon besit is, is egter oor die algemeen nie ’n bydraende faktor tot daardie wapen se waarde nie.

 

’n Goeie voorbeeld hiervan is die pragtige ou Holland & Holland .450 BPE-geweer in die foto’s by hierdie artikel. Holland & Holland het dié ou dubbelloopgeweer in 1884 vervaardig vir ’n kolonel A.H.W. Williams van die Royal Horse Artillery, ’n regiment in die Britse leër. Williams is later in sy lewe tot generaal bevorder en tot ridder geslaan. Hy het uiteindelik bevelvoerder van die Royal Horse Artillery geword en daar is ’n standbeeld van hom in Londen opgerig. Daar word vermoed dat die Holland & Holland in Suid-Afrika beland het tydens Williams se diens hier gedurende die Tweede Anglo-Boereoorlog.

 

Al hierdie geskiedenis is interessant, maar dit maak helaas die geweer nie duurder nie en sy waarde lê steeds daarin dat dit deur ’n baie bekende maker vervaardig is en in uitstekende kondisie is.

 

Sentiment is ’n ander faktor wat baie persone insgelyks misverstaan. Die feit dat iemand se pa of oupa vir jare met ’n bepaalde geweer gejag het, koppel ongelukkig nie ’n verhoogde monetêre waarde aan so ’n wapen nie, veral nie as dit nie meer in wafferse toestand is nie.

 

VERMY SLAGGATE 

Hoe gemaak as jy gekonfronteer word met ’n situasie waar ’n vuurwapen, wat moontlik ’n versamelaarsitem is, te koop aangebied word? In so ’n geval is dit raadsaam om ’n kenner te raadpleeg. In dié verband is die lede van die klompie versamelaarsverenigings in Suid-Afrika, sowel as die handjievol handelaars wat in versamelbare wapens spesialiseer, gewoonlik meer as bereid om ’n eerlike opinie te verskaf. Dis ook baie wys om so ’n persoon of instansie te raadpleeg alvorens enige restourasie- of opknappingswerk aan ’n vuurwapen gedoen word.

Verder is dit nogal handig om ’n bietjie kennis in te win oor die betrokke wapen waarin jy belangstel. Hier wil ek vlugtig terugkeer na die onderwerp van Oberndorf Mausers. Gedurende die tydperk waarin hulle geproduseer is, het die Mauser-fabriek verskillende prosesse tydens die vervaardigingsproses gebruik. So is dit byvoorbeeld redelik algemeen om ’n geweer uit die laat-dertigerjare (toe oorlogproduksie voorkeur gekry het) raak te loop waarvan die aksie en loop deur middel van twee verskillende prosesse oorgeblou is. Mauser het aanvanklik hul sportgewere se staal met die sogenaamde koudblou- of roesblouproses geblou. Dit het goeie resultate opgelewer en was duursaam, maar ook tydrowend.

Soos die oorlogswolke in Europa saamgepak het, het Mauser later van die sogenaamde warmblouproses begin gebruik maak vir onder meer die aksies van hul gewere. Dié blouproses was beide vinniger en goedkoper om aan te wend en was bedoel om kostes te bespaar. ’n Klein bietjie kennis soos dié kan handig te pas kom om te oordeel of daar dalk iewers in die verlede aan ’n bepaalde geweer gewerk was of nie. 

Vuurwapenversameling is ’n interessante vakgebied om te bestudeer. Ondanks die etlike miskonsepsies wat oor die jare by baie posgevat het, het dit ’n groot klomp interessante vertakkinge en steek daar dikwels veel meer agter die ontwerp en vervaardiging van ’n betrokke vuurwapen as wat ’n mens dalk met die eerste oogopslag mag dink. Geniet dus die navorsingsproses en koop met oordeel!

Lees ook hier

bottom of page