top of page

SA JAGTER/HUNTER | JULIE 2022 | Deur THINUS STEYN

MAAK DIT MOEILIK.JPG

MAAK DIT MOEILIK

Wanneer jy voel jag raak te maklik, oorweeg dit om terug te gaan na die ou manier van dinge doen.

 

Soms wanneer ek ná ’n lang dag in die veld uiteindelik my moderne skietstokke in ’n hoek staangemaak het, my verkyker/afstandtaster opgehang het, my roer met sy taktiese teleskoop en akkurate, handgelaaide ammunisie in die kluis toegesluit het, my GPS, waterbottel en rugsakkie elkeen op sy eie plek gebêre het en seker gemaak het ek het alle ander items uit my broek-, hemp- en baadjiesakke gehaal, gaan sit ek met ’n koue Duitse bruisdrankie in die hand en droom oor ’n eenvoudiger tyd. ’n Tyd toe my jagtoerusting uit ’n gelaaide geweer, ’n mes en miskien ’n waterbottel of lemoen bestaan het. ’n Tyd toe bekruip ’n vereiste en nie ’n alternatiewe opsie was nie. ’n Tyd toe ’n langafstandteleskoop ’n Weaver met 6x vaste vergroting was en variable power-teleskope met agterdog bejeën is.

 

Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek gebruik soms laser-afstandtasters, dikloopgewere en teleskope wat ewe geskik vir langafstand-teikenskiet as vir jag is en dié moderne toerusting maak my werk baie makliker. Wanneer ek egter vir myself jag om ’n bok vir my kombuis te skiet of sommer net alleentyd in die veld deur te bring, hou ek daarvan om jag eenvoudiger en ja, ook moeiliker te maak.

 

’n Boogjagter was ek nog nooit nie, maar ek het enorme respek vir iemand wat met ’n boog bekruipjag. Ek het wel al met ’n tradisionele voorlaaier en oopvisier-rewolwers gejag. Deesdae gebruik ek egter my standaardjaggewere, maar met eenvoudiger visiere.

 

WEAVER K2.5-TELESKOOP

’n Stokou Weaver K2.5-teleskoop was die vonk wat die vuur van eenvoudiger geweerjag aangesteek het. Ek het ’n moderner, gebruikte laevergroting-teleskoop op ’n Internet-forum gekoop. Die boks waarin dit gekom het, was wel die boks van die teleskoop wat ek bestel het, maar die teleskoop daarin was ’n staalbuis-Weaver K2.5x – stokoud maar oënskynlik ongebruik. Die verkoper het aangebied om my geld terug te gee, maar ek was so beïndruk met die Weaver dat ek besluit het om dit te hou. Daar was ’n tyd dat hierdie 2½x-vergroting-Weavers dié grootwildteleskoop in Afrika en Alaska was.

 

UIT NA DIE JAGVELD

Maar wat maak mens nou met so ’n verouderde stuk optika? Ek is nie ’n versamelaar nie en daar was dus net een ding om te doen: Monteer die teleskoop op ’n jaggeweer en gaan jag. Die ou teleskoop het sy plek gekry op ’n Musgrave K98 7x57 wat ek in die laat 80’s gekoop het.

 

Die helderheid van die lense en die wye sigveld van die Weaver het my beïndruk, maar dit was nogal ’n gestoei om die ou teleskoop op skoot te kry. Dit is maklik om te vergeet hoe bederf ons is met moderne teleskope se herhaalbare verstellings. Met die Weaver ingestel, was ek gereed vir die jag. Dit het nie reg gevoel om sakke vol moderne toerusting saam te dra met dié geweer/teleskoop-kombinasie nie. Ek het die jag met ’n gelaaide geweer, vyf spaarpatrone en ’n mes aangepak – geen verkyker, afstandtaster, GPS, skietstokke of kunsmatige rus nie. In die digte oewerbos langs die Oranjerivier het ek met dié eenvoudige teleskoop en geweer ’n vlakvarksog op 60 tree met ’n skoot uit die vuis platgetrek. Dit het meer werk gekos; ek moes versigtiger bekruip en ’n paar keer diere los wat ek met meer moderne toerusting sou kon skiet, maar dit het gevoel asof ek werklik gejág het.

 

Die 2.5x Weaver het goed gelyk op die klein Musgrave, maar hoort ’n grootwildteleskoop dan nie op ’n grootwildgeweer nie? Ek het die ou Weaver oorgeskuif na my Parker-Hale .375 H&H, weer deur die insteloefening geworstel en ’n eland gaan jag. My eerste keuse was natuurlik ’n buffel, maar fiskale realiteit het dit ongelukkig nie toegelaat nie. Dit was relatief maklik om ’n elandtrop op te spoor, maar om binne skietafstand te kom het heelwat tyd en geduld geverg. Ná ’n oggend se harde werk het ek dooierus gevat oor die stam van ’n ou, dooie, omgevalle soetdoringboom en ’n elandkoei op effens meer as 100 tree met ’n hartskoot laat val.

 

WAT HET JAGTERS GEBRUIK VOOR DAAR TELESKOPE WAS?

As kind het ek met oopvisiere leer skiet – eers met ’n windbuks, later met ’n .22 LR en nóg later met ’n ou BSA .303. Die meeste van my jagondervinding was egter met gewere met teleskope. Daar was ’n paar uitsonderings: ’n bosbok met die 7x57 met oopvisiere en ’n rooibok, vlakvark en jakkals met ’n .54 Thompson Renegade-voorlaaier. My ondervinding met die ou Weaver-teleskoop het my laat wonder of ek nog met oopvisiere kon jag. Ek het twee gewere met oopvisiere en afknip-teleskoopmonterings, naamlik die Parker-Hale .375 H&H en ’n 9.3x62 met ’n sintetiese kolf. Ek het die 9.3x62 se teleskoop afgehaal, ’n oggend lank met oopvisiere op ghongs geoefen en daarna gaan jag. Die digte oewerbos langs die Oranjerivier was weereens my gekose jaggebied.

 

’n Geweer sonder ’n teleskoop dra en hanteer makliker. Die jag is egter baie uitdagend. ’n Mens moet nader aan die wild kom om seker te maak van perfekte skootplasing en daarby is ’n dier wat in diep skadu staan, amper onmoontlik om te skiet. Tog kon ek daarin slaag om ’n varksog op ±50 m plat te trek met ’n skoot uit die vuis.

 

HULPMIDDELS VIR BETER SIG

Die probleem met oopvisiere is dat die oog die teiken, korrel én visier moet oplyn. Vir ons manne aan die verkeerde kant van 50 raak dit moeilik. Ek kan nog oopvisiere gebruik wanneer ek ’n skietbril dra, maar dit word ’n groot uitdaging. Hoe nou gemaak as jou oë en oopvisiere nie meer wil saamwerk nie?

 

Rooikolvisiere (red-dot sights/reflex sights) bied, soos oopvisiere, geen vergroting nie. Soos met ’n teleskoop hoef jy egter nie drie voorwerpe tegelyk te probeer oplyn nie. Plaas die kol op die teiken en skiet. Moderne rooikolvisiere is kompak en lig; jou geweer hanteer dus soos ’n geweer met oopvisiere. Soos met oopvisiere moet jy steeds naby aan jou prooi kom, maar dit is baie makliker om jou skoot presies te plaas.

 

Ek gebruik twee rooikolvisiere: ’n Lynx RDR-1 met ’n 4 MOA kol en ’n Aimpoint Micro H1 met ’n 2 MOA-kol. Die Aimpoint is permanent op my .375 H&H en die Lynx op my 9.3x62 vir kortafstandjag. Hoewel die Aimpoint my gunsteling is, lewer die Lynx foutvrye diens teen ’n baie billike prys.

 

Daar het al heelwat wild voor dié twee gewere met rooikolvisiere geval. Ek gebruik die 9,3x62 meestal vir vlakvarke, terwyl die .375 met sy elektroniese visier al koedoes, waterbokke, ’n blouwildebeesbul en ’n gemsbok op sy kerfstok het. ’n Rooikolvisier, veral een met ’n 2 MOA-kol, laat jou toe om langer skote te neem as met oopvisiere. Met die nodige oefening is dit heel moontlik om akkurate 200 m-skote te skiet.

 

Ek probeer egter steeds binne 100 m van wild kom wanneer ek met hierdie soort visiere jag. Aanvanklik was ek bekommerd oor die elektroniese visiere se batteryleeftyd, want wat maak jy nou as die battery op ’n kritieke tyd pap raak? Die batteryleeftyd van moderne rooikolvisiere is egter letterlik jare.

 

Ek ruil die Aimpoint se battery jaarliks en die een in die Lynx elke ses maande. Ek dra wel ’n spaarbattery saam wanneer ek jag, maar het nog nooit nodig gehad om een in die veld te ruil nie.

 

Wanneer jy voel jag raak te maklik, oorweeg dit om terug te gaan na die ou manier van dinge doen. Maak jou jag moeiliker. Jy gaan minder vleis huis toe vat, maar jy gaan kwaliteittyd in die veld deurbring.

bottom of page