SA JAGTER/HUNTER | Februarie 2022 | Deur PIETA OOSTHUIZEN
KOORSBOK
Koorsbok het niks met bokkoors te make nie – dis ’n bok wat ’n jagter se jagkoors kan breek nadat hy weens Covid-inperkings ’n lang tyd nie met sy roer in die jagveld kon kom nie.
Bokkoors is iets wat menige jagter al oorgekom het. Dit is nie net beperk tot nuwe of jong jagters nie. Selfs die meer ervare jagters kry soms ’n adrenalienaanval wat gepaard gaan met vlak, oneweredige asemhaling, sweetdruppels wat op die voorkop, onder die arms en op die rug uitslaan en erge bewerasie. Dit word gewoonlik veroorsaak wanneer jy onverwags op kort afstand in daardie 60”-koedoebul vasloop en hy salig onbewus is van jou bestaan. Of wanneer jy die perfekte skoot op daardie trofeedier skiet waarna jy al so lank op soek is, net om agter te kom daar was nooit ’n patroon in jou geweer se loop nie.
Gedurende 2020 het ons jagters egter ’n ander soort koors tydens die wêreldwye Covid-19-pandemie ervaar, veral toe ons hoor dat geen jag tydens vlak 5 van die landwye inperking moontlik sou wees nie. Dít terwyl die jagseisoen net om die draai was! Hoe lank sou die vlak 5-inperking duur? Sou ons vanaf 1 Mei na vlak 4 beweeg en dan toegelaat word om te jag? Mag ons oorslaap op die jagplase en oor provinsiale grense reis? Hierdie en talle ander vrae het ’n ongekende koors onder jagters veroorsaak wat tot kortasemigheid, erge benoudheid, hoë koors en veral slapeloosheid gelei het.
Net toe dit lyk of my jagkoors in erge depressie gaan omskakel, veral toe ek hoor dat my matriekseun weer op 1 Junie moet terug skool en koshuis toe, het ek besluit dat ek as plaaseienaar seker geregtig is om van my eie wild vir die pot te jag. So is ek en Pietman een Saterdag in Mei te voet die rante in op soek na ’n koorsbok – net die regte medisyne om die ergste jagkoors te breek.
JAGVELD TOE
Oom Ron met sy 69 winters agter die blad het ook die Saterdagoggend by ons aangesluit. Hy was besig om hoë jagkoors op te doen ná twee maande se inperking tuis in Bloemfontein. Die uitstappie in die jagveld en ’n moontlike koorsbok sou hom die wêreld se goed doen. Hy het egter sy aandag van die koors probeer aflei deur sy Musgrave .243 te restoureer. Die kolf is afgeskuur en geolie, alle merkies op die aksie is verwyder en die loop is met ’n ligte staalwolletjie afgeskuur en gepoleer sodat oom Ron met ’n spiksplinternuwe geweer op die plaas opgedaag het. Miskien het die werkies aan die geweer nie sy koors afgebring nie, maar dit eerder opgejaag!
OP SOEK NA KOEDOES
Ons was eintlik op soek na koedoes wat vroegoggend teen die ysterkliprante ’n sonkolletjie opgesoek het. Die digbegroeide olienhoutklowe en soetdoringbosveld langs die rivieroewers het ideale skuilplek vir dié statige diere gebied. Troppies rooiribbokke het ook natuurlik op die plaas voorgekom en dié fynproewer-biltongdraers het die Vrystaatse ranteveld en sonkolletjies met die koedoes gedeel.
Die jagkamp was ook die tuiste van ’n klompie uitgeslape takbokke wat ’n mens se jagvernuf en waaksaamheid tot die uiterste beproef het.
Rex, oom Ron se jaaroue beeshond, moes by die bakkie wag toe ons drie elkeen ’n ander koers ingeslaan het. Vanweë sy ouderdom sou oom Ron hom aan die voet van die groot olienhoutkloof verskuil terwyl ek en Pietman die steil rant aan die bopunt van die kloof behoedsaam vanuit twee verskillende rigtings nader. Ons het gehoop om self ’n kans op een van die koorsbokke te kry of hulle haastig in oom Ron se rigting te laat spore maak.
Dit was ’n lieflike, windstil, wolklose herfsdag en ons sou mooi moes kyk waar ons trap. Geen takkie mag kraak of klippie knars onder ons voete in die soektog na ’n koorsbok nie, want die ribbok se skril fluit, die koedoe se blaf of die takbokke se wipstert sou die koors wat ons reeds onder lede gehad het, net vererger.
Om ongehoord en ongesiens in die digbegroeide kloof af te sak, was geen maklike taak nie. Olienhoute, karees en hier en daar ’n witstinkhout of wag-’n-bietjie het so dig opmekaar gestaan dat jy jou maklik kon verbeel jy was iewers in die Knysnabos.
Die rooigras wat danksy die goeie reënjaar heuphoogte gestaan het, het dit ook nie makliker gemaak om die los klippe raak te sien nie en ’n rollende klip in die kloof af was die laaste ding wat ons nodig gehad het. Stadig maar seker het ons elkeen ’n pad ondertoe gevind, onsigbaar vir mekaar en ongeveer 200 tree uitmekaar. Behalwe ’n vlakvarkbeer wat halfpad na onder besig was om die grond om te dolwe, het ek geen teken van wild gewaar nie. Spore was volop, mis het oral rondgelê, blare was van die fyn takkies gestroop, maar van ’n magiese koorsbok was daar geen teken nie.
Uitasem, natgesweet en met ’n koors wat net nie wou breek nie, het ek by oom Ron aangekom waar hy in die skadu van ’n groot karee lekker dooierus oor ’n grondwalletjie gelê het.
Hy het nie goeie nuus gehad nie: “Julle het twee mooi koedoebulle opgejaag, Pieta, maar hulle was te ver. Hulle het dadelik weggeswaai uit die kloof en is tussen ons deur.” Op daardie oomblik het ’n geweerskoot in Pietman se rigting geklap. Ek het dadelik die oorkantste rant van die kloof deur my verkyker bespied. Skielik het ek ’n pragtige takbokhert halfpad teen die oorkantste rant in ’n sonkol gewaar. Hy het ’n oomblik of twee stilgestaan en toe stadig onder die laaghangende takke van ’n olienhoutboom ingestap.
Dit het gelyk of hy swaar gekwes was. ’n Hele ent agter die bok het Pietman in die verkyker se lense verskyn. Ek het hom vinnig op sy selfoon gebel en verduidelik waar die bok tussen die bome weggeraak het. Daarna het ek en oom Ron haastig in sy rigting koersgevat. Terwyl die bok teen die hellingrant was, het ons ’n realistiese kans gehad om hom in te haal. Sou hy egter oor die kruin van die rant verdwyn, sou dit maar moeilik gaan. Die grootste deel van die jagkamp het anderkant die rant uitgestrek gelê. Afgesien van die plato bo-op die kruin, was dit digte boswêreld. Dit sou selfs moeilik wees om ’n bloedspoor suksesvol te volg.
Die soektog na die bok teen die helling het niks opgelewer nie, nie eens ’n bloedkolletjie nie. Die onsekerheid het aan my begin knaag en ek het Pietman deeglik uitgevra: Waar het die bok gestaan toe jy hom die eerste keer gesien het? Waar was hy toe jy geskiet het? Wat was die afstand? Na watter deel van die bok het jy gemik? Het jy dooierus gevat? Wat was die bok se reaksie toe die skoot klap? Vir my hét die skoot geklap, maar ek weet hoe ’n mens jou daarmee kan misgis. Die feit dat ons egter nie bloed of selfs net ’n spoor kon kry nie, het met my kop gesmokkel. Vir my het die takbok nou regtig ’n koorsbok geword.
DIE SON TREK WATER
Dit was ongeveer 12:00 en die dag het aangestap. Ons het besluit om vir eers die soektog te laat vaar en later met Rex terug te keer om die bok te probeer opspoor. Terug by die bakkie het ons sowat ’n uur en ’n half in die skadu van ’n wag-’n-bietjie vertoef, wors gebraai, koffie gedrink en planne beraam om die koorsbok op te spoor en nie met leë hande huiswaarts te keer nie.
Oom Ron en Pietman sou terugstap tot waar laasgenoemde die skoot geskiet het en ons die laaste keer die bok in die digte skadu van die olienhout sien verdwyn het. Rex sou dié keer saamgaan om te kyk of hy nie ’n bloedspoor kon uitsnuffel nie. Ek sou dieselfde rant van die teenoorgestelde kant af nader en in oom Ron-hulle se rigting werk. Die swaar gekweste koorsbok het dalk net-net die kruin van die rant oorgesteek en lê tien teen een nou dood teen die rant se oorkantste helling.
Met die volkolf-6,5x54 Mannlicher-Schönauer oor my skouer, my oë wawyd oop en my sintuie skerp ingestel, het ek die ranthelling voor my uitgeklim. Dit was die warmste tyd van die dag en ons soeke na die magiese koorsbok het ook my temperatuur in die warm son laat styg, want van die koorsbok was daar geen teken nie. Bo-op die rant se kruin het die plato voor en weerskante van my uitgestrek.
DIE RAAKSKOOT
Skielik het ’n sesde sintuig my na regs laat kyk. Ongeveer 120 tree van my af het die koorsbok plankdwars in al sy glorie gestaan. Die fier, trotse houding van die bok wat reguit en uitdagend vir my kyk, die dik nek, die gewei met talle blink punte in die middagson en die feit dat hy nie laat spaander het nie, het my effens lighoofdig gelaat. Ek het in een beweging op my knie afgesak, die geweerband oor my skouer geglip, oorgehaal en op die bok aangelê.
Asof êrens in ’n koorsdroom het ek die geweer in my hande voel bokspring en vaagweg die skoot hoor afgaan. Ek kon hoor en sien dit was raak, maar die bok het nie geval nie. Hy het blitsig omgeswaai en in ’n digte boskaas 50 tree verderaan verdwyn.
Pietman, oom Ron en Rex het min of meer dieselfde tyd ook bo-op die rant verskyn. Oom Ron se “Daai skoot was raak!” is opgevolg deur Pietman se “Waar lê hy?” “Hy’s daardie kant toe,” het ek in die rigting van die boskaas beduie. Oom Ron het Rex se leiband losgemaak en hy het soos ’n pyl uit ’n boog rieme neergelê in die rigting waar die bok weggeraak het. Ons is haastig agterna en ek het so in die stilligheid gewonder of hierdie koorsdroom dan nooit einde gaan kry nie.
Tog, 50 tree verder was my hoë koors gebreek met die koorsbok wat net anderkant die digte boskaas in ’n effense ooptetjie gelê het.
Dit was ’n bykans perfekte hartskoot en ook die enigste skoot op die bok. Pietman het bevestig dat dit die bok was waarna hy geskiet het en só het die koorsdroom ’n gelukkige einde gehad. Daar was geen gekweste bok nie en die ergste koors in die drie jagters was
gebreek deur die pragtige trofeedier wat aan ons voete gelê het.
“Wat mis ons jagters nie alles wanneer ons tydens die grendeltyd nie in die jagveld kan wees nie?” het ek gedink. Die voorreg om in die natuur te wees, die kameraadskap van jarelange jagmaats, die gevoel van jou hartsgeweer in jou hande, vroegoggend se spore in die voetpad en die blaf van ’n koedoebul in digte ruigtes – dít jaag ons koors op!