SA JAGTER/HUNTER | Junie 2022 | Deur THINUS STEYN

Die duisternis.jpg

DIE DUISTER(NIS)

“Dié duisternis,” onderbreek Panien die stilte. Ek vermoed aanvanklik dat hy na my gemoedstoestand verwys, hier waar ek op die jaghuis se stoep sit, besig om ’n modderprop uit ’n .270 se loop te verwyder. Maar dan voltooi hy die sin, “leer die manne van daar dan nooit skiet nie?”

 

Dit neem my ’n oomblik om die kloutjie by die oor te bring. Dit was ’n lang, emosioneel uitmergelende dag en my brein is in neutraal. Dan skop my oorwerkte brein in rat en sy vraag begin sin maak. Ons jagkliënt, wat verantwoordelik is vir my beswaardheid én die modder in die geweer se loop, is immers ’n Duitser, of dan ’n “Duister”, soos Panien na hom verwys. Dit maak mos sin dat ’n Duister se tuisland die Duisternis is. 

 

’N GOEIE BEGIN... 

Die dag het goed begin en ons gas was in ’n gemoedelike bui. Dit was immers sy eerste jagdag in Afrika. Op ons 100 meterskietbaan het hy ’n gholfbalgrootte groepering met die Ruger .270 geskiet. Ten spyte van die roer en kaliber se Amerikaanse herkoms, het hy te kenne gegee dat hy tevrede is met die geweer. Dit was tydens die jag van sy eerste SuidAfrikaanse dier, ’n springbok, dat dinge uitgerafel het.

 

Dit is nie nodig om die presiese aantal skote wat dit geneem het om die ram plat te trek, hier te noem nie, maar ná die eerste twee waarskuwingskote, het ek ’n leë boks teen ’n miershoop staangemaak om seker te maak die “verdammte” Amerikaanse skietding met die “verdammte” Amerikaanse teleskoop was nog op skoot. Panien het so onderlangs opgemerk dat dit snaaks was dat ’n “verdomde” geweer wat nie ’n bok kan raak skiet nie, so netjies op ’n “verdomde” boks skiet.

 

Laatmiddag, met die .270- ammunisie wat kommerwekkend min raak, het ’n mooi springbokram besluit om voor ’n 130 grein Nosler Partition in te stap, met noodlottige gevolge.

 

Met ons aankoms by die jaghuis, het ek my eie bydrae tot die lang lys mislukkings van die dag gelewer. Soos dit ’n goeie jaggids betaam, het ek eerste van die bakkie afgeklim sodat ek my kliënt se geweer kon aanvat. Net toe hy die geweer wil aangee, het my vrou van die kombuisdeur se kant af geroep dat die koelboks kombuis toe moet kom. Soos dit ’n goeie eggenoot betaam, het ek omgekyk om haar te antwoord. Dit was op daardie oomblik dat ons Europese gas die geweer, met die tromp na onder, gelos het. Die geweer het, loop eerste, soos ’n enorme veerpyltjie in die pas natgespuite grasperk vasgepen. 

 

ERGER EN ERGER 

Dag twee begin op ’n somber noot. Die Duister is nie ’n oggendpersoon nie. Hy is nie gelukkig met die Engelse ontbyt wat my vrou vir ons voorsit nie. Hy is nie gelukkig met die Amerikaanse geweer nie. Ook nie met die Amerikaanse teleskoop en die Amerikaanse patrone nie. Ek bied hom my Howa .300 Winchester Magnum aan. Dit is ’n fout; sy haat vir magnums ken geen perke nie en dit wil voorkom of hy nog minder van Japannese as van Amerikaners hou. Ek leer ’n paar nuwe Duitse woorde, almal onbruikbaar in gemengde geselskap. Daarop gaan haal ek my 7x57 uit die kluis.

 

Die Duister bekyk die Musgrave. Hy hou van die kaliber. Hy hou van die M98 Mauseraksie en die Sako-patrone is vir hom aanvaarbaar. Die enigste moontlike probleem is die Japannese Tasco-teleskoop. Op die skietbaan bring die 7x57 én die jagter hul kant. Ons oefen van die skietstokke af en ná ’n uur is ons jagter gereed vir die tweede rondte.

 

’n Halfuur later skiet die Duister met sy eerste skoot vir die dag ’n rooibok raak. Twee ure en drie Sako 7x57-patrone later, skiet hy die gekweste rooibok dood.

 

Laatmiddag bekruip ons ’n pragtige bosbokram in ’n rivierloop. Op 80 tree stel ek die skietstokke op. Panien druk sy ore toe en ek hou die pikswart ram deur my verkyker dop. Die effense windjie koel my natgeswete voorkop af. Die laatmidruie oewerbos. Die Duitse jagter vloek.

 

Dag drie begin op ’n hoë noot. Ons kry ’n koedoebul oorkant ’n klein klofie. Dit is ’n 100 tree-skoot – onder normale omstandighede, ’n formaliteit. Onder die huidige omstandighede, ’n dobbelspel. Die Duister vat dooierus oor ’n dik soetdoringtak en ek fluister raad in sy oor: “Take your time. Keep your hand under the fore-end of the rifle. Shoot him low on the shoulder. Don’t rush your shot. Squeeze the trigger.”

 

Die klein 7mm se blaf weergalm deur die kloof en die koedoe slaan in sy spore neer. Ons staan langs die bul. Daar is ’n netjiese gaatjie tussen sy oor en oog en die bloedkol groei onder sy kop. Ek skud die Duister se hand. “Waidmannsheil,” sê ek. “Waidmannsdank,” antwoord my kliënt, die trane vlak in sy oë. Hy is op daardie plek wat ons as jagters so goed ken, iewers tussen bewoë en ekstaties. 

 

Panien het ’n plan om ’n bosbokram te kry. Die ram wat ons die vorige middag mis geskiet het, loop elke aand op dieselfde paadjie en Panien weet van ’n plek om hom voor te lê. Ek is skepties – as iemand op mý geskiet het, gaan ek daardie plek soos die pes vermy. Panien en die Duister praat my egter om. Laatmiddag neem ons stelling in agter ’n droë boomstomp wat omgeval het. Die stomp bied skuiling én ’n dooierus. Die paadjie is 80 tree weg, met die wind in ons gesigte.

 

Die Duister sit met sy geweer gereed op die stomp; die voorlaai rus op Panien se netjies gevoude bosbaadjie. My .300 Win-chester Magnum is ook gereed, want ek het geen behoefte om ’n gekweste bosbokram in die donker, digte bos te volg nie. Ná ’n uur verskyn die bosbokram soos ’n skim en gaan staan reg oorkant ons skuilplek.

 

Die Duister haal asem soos iemand wat pas die Comradesmaraton voltooi het. Ek druk die Howa se veiligheidsknip vorentoe, die kruishaar op die ram se blad, my vinger op die sneller. Ek wag vir die skoot, maar dit kom nie... Dan stap die ram rustig in die paadjie af en verdwyn in die bos. Ek kyk kwaai vir my kliënt. Hy mompel iets onverstaanbaars. Panien haal sy skouers op. Dit is te laat om iewers anders te probeer. Al wat ons kan doen, is wag. 

 

NOG ’N KANS 

’n Tweede bosbokram kom teen alle verwagtings in doodluiters in die paadjie af geslenter. Hy stop op dieselfde plek as sy voorganger. Die skoot is oorverdowend. Die ram kyk verbaas in ons rigting en ek sien hoe die hare op sy rug begin rys. My brein sê “wag”, maar my snellervinger het reeds sy eie besluit geneem. Toe die .300 Magnum brul, steier die groot swart ram ’n paar treë en val.

 

Ek is te bang om te kyk hoeveel koeëlgate daar in die ram is, want ek weet wat die antwoord gaan wees. Ek weet nie hoe ek vir die Duister gaan verduidelik dat ék sý bok geskiet het nie. Panien ken geen vrees nie. Hy ondersoek die karkas lank en deeglik en verklaar dan luidkeels in Engels: “Only one shot hit!”

 

Die Duister kyk vir my; sy hele lyf begin ruk en skud. Dan bars hy uit van die lag. “You missed! The PH missed!” Hy swaai ’n vinger voor my neus. “Bad shooting, bad shooting!” Daar is nie veel wat ek kan sê nie. Ek kry in elk geval nie eintlik tyd om te praat nie. Die Europese jagter is te besig om sy opinie omtrent Japannese gewere, Amerikaanse teleskope en “verdammte” magnum-kalibers te deel.

 

Dag vier is die dag wat ons gas ons verlaat. Hy moet net ná middagete vertrek, maar wil vir oulaas ’n draai gaan stap. Ek is nie opgewonde oor dié idee nie. In my ondervinding eindig ’n beduidende persentasie van laaste-oomblik-jagte in ’n gekweste bok. Ek reken dit is beter om die jag op die vorige aand se hoë noot af te sluit, maar daar is nou geen keer aan die Duister nie.

 

Ons kry die rooiribbokram teen ’n klipperige rant, minder as ’n kilometer van die huis af. Ek maak of ek hom nie sien nie en Panien toon ongekende belangstelling in ’n swerm kakelaars. Dan fluit die simpel bok en die Duister sien hom.

 

Die ribbok is 200 tree weg en staan reguit vir ons en kyk. Om ’n doodskoot te skiet moet ons jagter, ’n jagter wat twee keer ’n hele bosbok misgeskiet het, ’n teiken van effens meer as 10 cm in deursnee op 200 meter tref. Ek hoop hy skiet eerder heeltemal mis. Gegewe sy vorige rekord, is dit gelukkig baie waarskynlik.

 

“Wait until it turns broadside,” gee ek raad. “I can take the shot!” sê die jagter selfversekerd. “Wait!” beveel ek, onnodig hard. Dan, onverwags en onwelkom, blaf die 7mm. Die koeël tref die ribbok presies in die kuiltjie.

 

Ek skud die Duister se hand. “I told you,” sê hy. Daar is tye wat dit beter is om stil te bly. Dié is een van daardie tye, besluit ek.