SA JAGTER/HUNTER | November-Desember 2021 |  Deur NICO SWART

'n ander soort leeujag.jpg

'n Ander soort leeujag

Dit is nou al meer as ’n jaar later, maar min het ons destyds geweet dat die drie maande wat ons afgestaan het om ’n leeumannetjie uit sy “verknorsing” te red, ons lewens onherroeplik sou verander. Dit het soveel vrae ontketen oor waar hy vandaan gekom het en waarom die natuurbewaringsbeamptes nie opgelet dat hy uitgebreek het nie. Hierdie verhaal kon ’n beter einde gehad het, maar mense het weereens die natuur in die steek gelaat en ons moes noodgedwonge die situasie beredder.

 

VUILBAARD VEROORSAAK KONSTERNASIE

Ek dink met heimwee terug aan daardie dag wat ek die eerste oproep ontvang het om ons van die gevreesde vuilbaard te verwittig. Vroegoggend op 3 Februarie het ’n leeuspoor op ’n nat grondpad ’n totale ommeswaai in ’n paar manne se waarnemingsvermoë teweeggebring. Die oproep van ’n benoude buurvrou wie se veewagters tydens hul normale roetine op ’n beeskarkas afgekom het, het almal in rep en roer gehad. Die karkas het glo gelyk soos ’n geskenk wat op Oukersaand oopgeskeur is. By verdere ondersoek het die spoor van ou vuilbaard soos ’n fossiel op sandsteen in die Karoo gelê – so lank en breed soos ’n Parker-pen in ’n boer se hempsak. Die eerste gedagte van ’n kat met kolle het in my agterkop opgekom.

 

Onder al ons kontakte wat jakkalse jag en “tweebeenjakkalse” monitor, het ons ’n spoorkamera (of trail camera, soos die Engelse sê) gekry, asook ’n handleiding wat alles stap vir stap in al die Babiloniese tale verduidelik. Ons het die apparaatjie naby genoeg aan die vorige aand se slagtingstoneel opgestel waar die Brahmaanbeeskruising aan sy einde gekom het. Die Land-Cruiser was 50 m weg, en hoe laer die son gesak het, hoe vinniger het die adrenalien in hoendervleis verander. Terwyl ons na die Cruiser teruggestap het, het die idee van iets goeds wat die goeie Vader geskep en in die natuur geplaas het om wanbalans en swak genetika hok te slaan, in my kop bly spook. 

 

’N GESAMENTLIKE SOEKPOGING

Die volgende oggend vyfuur toe Moeder Natuur haar gordyne oopskuif, het die bevestiging gekom, amper soos ’n swart-enwit ID-foto – dit was ’n groot leeumannetjie. Die hele noordelike KwaZulu-Natal het betrokke geraak: die SAPD, Natuurbewaring, boere en selfs personeel van ’n nabygeleë wildreservaat, asook veeartse met pylgewere en die korrekte verdowingsmiddels. Die dreuning van ’n helikopter wat die gebied fynkam, het heeldag opgeklink. Almal was gereed om te help, maar van die vuilbaard het daar net ou spore agtergebly. Almal het bespiegel oor die waar en die hoe en aan wie die kat behoort het. 

 

 Met die uurglas wat leegloop, het die kat in die volgende drie maande die omgewing behoorlik kruis en dwars verken. Hy het oral slegs sy spore agtergelaat, soms net effe té naby aan wat ’n mens jou comfort zone sou noem. Die plaaslike koerant het ’n voorbladstorie gepubliseer en Natuurbewaring het ’n verwyderingspermit uitgereik.

 

Omtrent elke dag het ons ’n oproep uit die gemeenskap gekry dat die kat iewers gewaar is. Dit het outomaties ’n onmiddellike reaksie veroorsaak wat geen resultate opgelewer het nie. ’n Vriend wat katte jag, moes sy trop spoorsnyhonde onverrigtersake huiswaarts laat keer. Hy het voorgestel ons maak ’n opname van waar die leeu elke keer opgemerk word; só het ons ’n patroon gekry van die halfmaanroete wat hy volg. Die buurman het daagliks hare aan die doringdraad gekry in ’n 10 km-radius in die vlei-area. Met tamboekiegras en riete as skuiling, meer as genoeg vlakvarke, rietbokke en ’n standhoudende spruit, het vuilbaard baie gerieflik so onder die radar geleef.

 

’N KAT-EN-MUIS-SPELETJIE 

Ons het ’n spoorkamera aangeskaf, wat direk met ’n basiese sein ’n foto na jou selfoon kan stuur. Daarna het ons aas uitgesit. Die aand van 11 Mei het die kamera bevestig dat die leeu daar is. Hoe nou gemaak? Hy het laat snags beweeg tussen gras wat bykans 2 m hoog staan. Selfs die gesoute jagters het geweier om hul honde daar in te stuur; dit sou selfmoord wees! 

 

Die hoogloopspruit was op ’n stadium ’n opsie, maar dalk nie ’n wyse een nie, siende dat ons te voet in daardie lang gras sou wees met ’n uitgeslape leeu in die omtrek. Wat ons wel geweet het, was dat ons ’n hoogtevoordeel moes kry. Derhalwe het ons ’n jagskuiling aangeskaf; dit was meer soos ’n oop Wendy house wat ongeveer 6 m hoog op ’n soort windpomp staan. Ons het die affêre so 70 tree van waar ons aas uitgesit het, staangemaak. 

 

Met al ons toerusting, van nagsigteleskope tot koffie, was ons oorgehaal om die punt aan die einde van hierdie verhaal neer te pen en die boek toe te klap. Die aas was uitgesit en die bloed gegooi om dit vir die leeu soos ’n bakkery te laat ruik wat sy smaak- en reuksintuie prikkel. Die lang wag het begin, maar tevergeefs. Gedurende die laat oggendure, nadat ons al in die kooi gelê het, het nog ’n foto op die selfoon deurgekom – vuilbaard was daar! Ons het besef hy kon ons die hele tyd sien, want die skuiling se oop kant was in die aas se rigting gedraai. Hierdie leeu was slim! Dié stelling dra meer gewig as wat ek op daardie stadium besef het, maar wel later sou uitvind... 

 

Die volgende nag, met die skuiling omgedraai en slegs twee skrefies oop vir die geweerloop, het ons lê en wag. Met ’n voorgevoel dat die leeu daar is, het ons die bakkie laat kom en by die plek waar die karkas geplaas was, verbygery. Die kat het die karkas so pas omtrent tien tree verder geskuif! Terwyl ons 300 m verder gery het om weer om te draai, het hy die karkas nóg verder gesleep. Ek het hoendervleis gekry toe ek die soveelste keer besef hoe uitge - slape hierdie kat is…

 

Die volgende aand voor son - onder, warmer aangetrek en met nóg meer koffie, het die reën ons huis toe gejaag toe ’n bliksemstraal ’n hoogspannings - kraglyn bitter naby aan ons tref. Ons het die daaropvolgende aand dieselfde roetine gevolg, maar met ’n klein temperatuurverskilletjie – dit was ysig koud.

 

Ons het geduldig gewag en dié keer het die kamera gewaarsku dat ou vuilbaard op pad was. Toe ons hom gewaar, was ons gereed. Hy was massief en grasieus en het baie skepties begin vreet. ’n Mens kon elke geluid hoor soos hy die vleis en vel skeur. 

 

Glo dit of nie, maar vir die volgende vyf patrone wat gelaai is, het die slagpen nie die ontste - ker geslaan nie. Leeu se kind het omgedraai en in die donker verdwyn. Het ek nie van beter geweet nie, sou ek kon sweer daar was ’n grinnik op sy gevreet! Hierdie leeu het kat-enmuis met ons gespeel en só sy gesag op ons afgedwing. 

 

Dit was asof ’n alarm in my kop afgaan toe ek besef dat die kat nog nie een keer gebrul het om sy dominansie te toon in al die tyd wat ons sit en wag het nie. Hy vreet “vrot” vleis eerder as om self te jag…iets was anders omtrent hierdie leeu. Of dalk het sy gedrag bloot bewys dat mense eintlik minderwaar - dig is vergeleke met die aanpas - baarheid en oorlewingsvernuf van die natuur se skepsels. Dit het my ook nederig laat besef dat hy met goeie rede die “koning van die oerwoud” genoem word. Ons sal nooit opgewasse genoeg wees om met hom mee te ding nie. Al voordeel wat ons bo hom het, is die koue staalsneller van ’n geweer, en dit is die lafhartige uitweg – dit is mos hoe die mensdom sulke probleme uitsorteer. 

 

Ons het hom gefaal die dag wat hy uitgebreek het en niemand ’n poging aangewend het om hom op te spoor nie. Vir ’n oomblik kon ek nie help om te wonder of die stukkende geweer nie dalk ’n rede was om ons meer tyd te gee om hierdie manjifieke dier beter te leer ken en te bewonder nie. Ongelukkig het daardie swaar taak steeds op ons skouers gerus en ons moes voortgaan... 

 

Die knellende vrae het vir die soveelste keer by ons opgekom: Waarom, hoekom, wanneer is dit tyd dat ons die einde bereik? Die geweersmid het die slot uitmekaargehaal en skoongemaak. Sy bevinding was dat die koue weersomstandighede en jare se aanpaksel die veergedeelte beskadig het; dit het verhoed dat dit die slagdop hard genoeg kon tref of die projektiel lanseer. Wat kon nóg skeefloop? Ons het nou byna drie maande lank elke dag na die leeu gesoek. 

 

Die volgende aand het ons met nuwe moed en geduld, warm klere en beproefde toerusting teruggekeer. Maar helaas, die geluk was steeds nie aan ons kant nie. Ons het weer baie bloed op die grond gegooi. Die aand van 16 Mei kry ons weer teenspoed – die spoorkamera het opgepak. Wat nog? Ons het beurte gemaak met die nagsigtoerusting en kon in die verte die kenmerkende geroep van hadidas in die vallei hoor. Kort daarna het ons ’n koedoekoei gewaar wat uit dieselfde rigting beweeg.

 

VAARWEL OU VUILBAARD... 

Ons was gereed toe die magiese katoë vanuit die donker verskyn. Ek het verwonderd gekyk hoe hy sagkens, tree vir tree, geluidloos deur die grasse beweeg. Hy het weer begin vreet en met ’n trotse houding opgekyk, reguit in ons rigting. Dit was asof hy geweet het wat gaan volg, en gelate sy lot aanvaar het. Twee kort, opeenvolgende knalgeluide het meer as net die voël- en wildbevolking in die vlei gesteur – vir ’n kortstondige oomblik het dit ook my menswees ontwrig. Dis verby! Met ’n oorweldigende gevoel van respek en hartseer, maar ook verligting, het ons ou vuilbaard gaan groet. Terwyl ek geboë staan en afkyk na die slim, vernuftige en eens trotse dier, het die trane onwillekeurig oor my wange gebiggel. Dit was asof ek my sondes aan hom wou bely, aan hom wou verduidelik en by hom pleit dat omstandighede ons geen ander keuse gelaat het nie. Ek kon die woorde nie op my lippe vorm nie, maar het in my hart vir hom gesê: “Ek is jammer dat my spesie jou in die steek gelaat het…

 

Op daardie oomblik het ek besef dat indien ons nie natuurbewaring begin toepas en ons bekommernisse daaroor aan die wêreld uitbasuin nie, daar niks vir ons nageslag gaan oorbly nie.

 

’N NUWE BEGIN 

Die nag van 16 Mei het nie ’n einde aan hierdie verhaal gebring nie, maar eerder ’n nuwe begin. Ter ere aan die “skim” wat so ’n integrale deel van ons lewens geword het, het ons ’n skietbaan gebou naby aan waar die noodlottige verhaal afgespeel het. Ons het dit “Leeugat” gedoop. Die doel daarmee is nie net om teikenskiet te bevorder en nog ’n SAJWV-geakkrediteerde baan daar te stel nie, maar ook om as tasbare en konstante herinnering te dien dat natuurbewaring aktief toegepas moet word; dit maak nie saak op watter skaal nie, want elke bietjie dra tot die einddoel by. Natuurlik is dit ook vir my ’n spesiale herinnering dat ek die voorreg gehad het om nader kennis te maak met die vaardigste, mees gerespekteerde dier in die natuur. Vaarwel, ou grote…

 

Ter nagedagtenis haal ek ’n vriend aan: “It’s been a year since my journey with him ended, and I will never know where he came from or why he chose my backyard to live in when he had thousands of hectares of cattle farms around him. Often, the only evidence we had that he was there was the hair in the barbed-wire fences and footprints in the sand, often to the most recent cattle calf he had preyed upon. Sadly, after months of him avoiding live capture, we made the difficult decision to put him down. However difficult, our biopsy from the post mortem came back showing chronic lung disease, hence nullifying the option of relocating, had he been captured. Respect to my two fellow farmers, who at our own expense made every attempt to change this outcome but were eventually left with no choice but to end it. Apart from paperwork, the authorities could do nothing due to financial constraints, while their infrastructure and fences surrounding Big 5 reserves continue to fall into ever worse disrepair as a result of corruption and greed. This magnificent animal’s end will not be the first and definitely not the last.”