top of page

WEBWEERGAWE | 5 November 2020 

Alles oor die waterbok

Wetenskaplike naam: Kobus ellipsiprymnus

In die volksmond: Kringgat

 

STATISTIEK

Skouerhoogte:

Bul 127cm/koei 119cm

Lewende gewig (gemiddeld):

Bul 237kg/koei 174kg

Karkasgewig (gemiddeld):

Bul 130kg/koei 96kg

Horings:

Net die bulle

Spoor:

8cm

 

HOEKOM ’N WATERBOK JAG?

Die waterbok word meer om sy trofee as vleis gejag aangesien dit ’n taamlike duur bok is en die mite bestaan dat sy vleis ’n slegte geur het. Die groot sondebok is klierafskeidings op die vel wat moontlik tydens die afslag en verwerkingsproses aan die vleis kan raak en die smaak beïnvloed. Maar die teendeel is ook al bewys en soos met enige ander wildsbok is sy vleis lekker wanneer die afslag en vleiswerk met sorg gedoen word.

 

SO, JY GAAN ’N WATERBOK JAG, MAAR WATTER KALIBER MOET JY GEBRUIK?

Waterbokke word gewoonlik in bosagtige gebiede of in vleilande en rietbosse aan die kant van riviere aangetref. Kalibers wat geskik is vir die jag van groter bokke op kort- tot mediumafstande is dus ideaal vir waterbokke. Enige van die 7mm-

waterbok - Copy.jpg

kalibers, vanaf die 7x57 en groter en gelaai met swaar koeëls (160 tot 175gr) is `n goeie minimum. Ook die .30-06, al die .300 Magnums, die 8x57, .338 Win Mag en die 9.3x62 is geskik vir hierdie bokke.

​

Swaar koeëls is in die meeste gevalle verkieslik, want die waterbok is ’n groot dier en wanneer lyfskote geneem word veroorsaak die swaarder, stadiger koeëls minder vleisskade.

 

WAAR PLAAS ’N MENS DIE SKOOT?

Die waterbok se lewensbelangrike organe se ligging is maar soortgelyk aan dié van ander groot bokke. Hulle het wel dik borsbene wat veroorsaak dat die hart effentjies hoër van die onderkant van die borsbeen lê as by ander diere.

 

Waterbokke se hart/longarea is effens kleiner as soortgelyke groot bokke soos die blouwildebees. ’n Veilige skoot is laag op die blad in lyn met die voorbeen as die dier plankdwars staan.

 

Pasop vir nekskote – die waterbok se nek is nie so dik as dié van die gemsbok of blouwildebees nie, maar daar is groot spiere bo die nekwerwels geleë, mik dus laer as die middel van die nek. Aangesien waterbokbulle dikwels om hul trofeë geskiet word, beveel ons nie breinskote aan nie.

waterbok.jpg

Koop die Nov-Des-uitgawe van SA JAGTER/HUNTER en lees oor Johan van Wyk se Covid-waterbok

HOE WEET JY OF DIT ’N TROFEE IS?

Die minimum lengte vir ’n Rowland Ward-waterbok is 28”, maar om trofeelengtes met ’n redelike mate van akkuraatheid in die veld te kan skat, is nie maklik nie, aangesien die dier ver weg kan wees, of agter bosse of ander dier kan staan. Daarom is dit nuttig vir die jagter om vinnige metodes van trofeeskatting te ken.

 

Die akkuraatste manier van horingskatting by ’n waterbok is om die horings te vergelyk met die lengte van die ore. ’n Bul se ore is ongeveer 9” lank, daarom moet die horings minstens drie maal die lengte van die ore wees, plus een duim om RW te haal. Kyk ook na ’n goeie saal of terugkromming en let op die gladder punte. As laasgenoemde so lank of langer is as die oor, sal die horings waarskynlik RW haal. Kyk ook vir dik horingbasisse met lang (of gesplete) punte en ’n witterige voorkoms, wat alles sal dui op ’n volwasse bul.

 

(Bron: SA JAGTER/HUNTER, Oktober 2019; Skootplasing 2015)

bottom of page