top of page

SA JAGTER/HUNTER | Mei 2022 | deur REAN STEENKAMP

Hoe ver kan 'n kragboog 'n bok plattrek.jpg

HOE VER KAN 'N KRAGBOOG 'N BOK PLATTREK?

In die laat 1990’s, toe boogskiet in Suid-Afrika begin posvat het, is skote met ’n boog verder as 35 tree nie as etiese skote gereken nie. Deesdae hoor en sien ’n mens YouTube video’s van boogjagters wat bokke oor baie lang afstande plattrek. Is dit reg of verkeerd?

 

‘n Mens wonder ook hoe ver ’n kragboog kan skiet en vir watter gedeelte van dié afstand is die slaankrag van die pyl steeds groot genoeg om vlaktewild vinnig mee dood te skiet.

 

In die verlede is verskeie redes genoem waarom ’n lang skoot nie met ’n boog na ’n bok geskiet moet word nie. Een rede is natuurlik dat hoe verder die bok staan, hoe “kleiner” word die teiken waarna die jagter mik en hoe groter word die kans dat die jagter ’n swak skoot kan skiet. Omdat die pyl ook langer neem om die bok te bereik wanneer dit oor ’n langer afstand moet trek, is daar ’n groter kans dat die bok kan beweeg nadat die pyl die boog verlaat het. As die bok net een tree vorentoe gee, sal ’n pyl wat die longe moes tref, die maagholte raak skiet.

 

LANG BOOGSKOTE – ’N OMSTREDE KWESSIE 

Tog hoor en lees ek al hoe meer van jagters wat bokke oor al verder afstande jag. Praat ek met die boogjagorganisasies in die land, hoor ek ook dat hulle nie ’n spesifieke afstand as die limiet vir ’n etiese skoot vasstel nie. Dit hang van die skut se vermoë af. Indien iets 25 jaar gelede taboe was, is dit nie vandag ook maar die geval nie? Wat het intussen verander? 

 

Om meer lig op die moeilike saak te werp, het ek by ’n paar bekende jagters in Suid-Afrika gaan kers opsteek.

 

Een van dié mense is Fritz Rabé, ’n bekende professionele jagter met baie jare se boogjagondervinding. Fritz sê die volgende oor lang skote: “Dis ’n baie debatteerbare onderwerp. Elke mens het sy eie maksimum afstand wat hy effektief kan jag – ongeag of dit ’n pyl of patroon is. Dit hang ook van die grootte van die dier se lewensorgane en sy reaksievermoë af en ook of die dier rustig is of nie. Dit is baie makliker om ’n groot koedoebul op 60 tree raak en dood te skiet as ’n steenbok.

 

“Ek voel dat ’n jagter selfdissipline aan die dag moet lê met elke skoot. As hy ’n skoot kan nomineer op ’n dag en hom uitvoer, dan kan hy hom vat, maar om te hoop dat dit raak is, sê vir jou dat ’n kans gevat is.”

 

Harry Marx, voormalige president van die Suid-Afrikaanse Boogjagtersvereniging wat die etiese skietkursus vir dié organisasie ontwikkel het, het die volgende siening: “Die boogjagter is immers verantwoordelik vir sy dade. Maar ek vra myself af, hoe ver kan jy skiet en steeds die teiken tref? Hierdie vraag kom van tyd tot tyd in baie vorme ter sprake. Akkuraatheid is net een aspek daarvan. (Ek sal snaarspring ignoreer aangesien die dier bykans nie die boog hoor wanneer dit 100 meter van hom af geskiet word nie.) 

 

“Ek hou nie daarvan om stellings te maak soos ‘jy moet elke keer ’n tennisbal op dié afstand kan tref nie’. Dit maak nie sin nie, want hoeveel is ‘elke keer’? Ek hou nie daarvan om te sê dat 80% van jou pyle binne ’n 6”-deursnee moet wees nie. Dit beteken jy sê 20% wondpersentasie is aanvaarbaar. Die grootte van die dier word ook nie in ag geneem nie.

 

“Ek haal graag SABA se riglyne aan. Stel jou voor jy dink jy kan ’n blouwildebees op 35 tree plattrek. Die teikenarea is omtrent ’n 8”-sirkel, so maak ’n 8”-papiersirkel op die teiken. Staan nou op twee keer hierdie afstand – met ander woord op 70 meter. Skiet soveel pyle as wat jy meters wegstaan van die teiken (dus 70 pyle). Tel hoeveel hiervan in die teiken is. Só bepaal jy die werklike maksimum afstand waaroor jy dit kan oorweeg om te jag.

 

“Indien jy oor 100 meter met jou boog skiet, en jy kan die 8”-teiken met 100 uit 100 pyle tref, dan sê ek jy kan die skoot op akkuraatheid probeer. Maar die pyl sal ongeveer een sekonde neem om die teiken op 100 meter te bereik. Dit is soos om met ’n geweer op ongeveer 1 200 meter te skiet.

 

As jy van mening is dat die dier nie in daardie een sekonde sal beweeg nie, kan jy dit as ’n etiese skoot beskou.

 

“Ek het ’n kameelperd op 42 meter, ’n rooibok op 36 meter en ’n blouwildebees op 35 meter geskiet. Ek toets nie hoe ver ek dit kan doen nie. Ek verkies om onder 35 meter te jag, en 20 meter is die eerste prys. Vir my is boogjag hoe naby jy kan kom...”

 

Die bekende Adrian de Villiers, of “Dr Death”, soos sommige hom noem, sê die volgende: “Om lang skote te skiet sal altyd omstrede wees. Daar sal altyd iemand wees wat omgekrap sal wees indien ek vir hulle sê ek skiet lang skote onder ideale omstandighede.

 

“Ek is voorstander daarvan om te leer om langer skote te skiet, maar dat die nader skote makliker is, is gewis. Ek het egter opgemerk dat baie meer verkeerdloop voor die skoot wanneer die jagter die skote onder druk neem – selfs naby-skote. Van die tien kliënte wat een keer saam met my loop en bekruip en op groot vlakvarke geskiet het, was die resultate drie dood, een gewond (nie ernstig nie) en ses mis. Om naby en senuweeagtig te wees, is dus nie beter as om ’n langer skoot te neem wanneer jy én die dier kalm en ontspanne is nie.

 

“Indien jy ’n gholfbal op 60 meter kan skiet, hoekom moet jy nader gaan indien die omstandighede perfek is en jy weet jy kan die skoot skiet?  

 

Ek het al onder ideale omstandighede ’n jong wildebees op 82 meter en 90 meter geskiet. Ek het ook een keer ’n suksesvolle plankdwarsskoot op ’n gemsbok op daardie afstand geskiet – weer onder perfekte, windstil toestande. My swaar pyle vlieg so stil dat die diere nie ’n duim voor impak beweeg nie. Ek het ook ’n rooibok op ’n jag saam met my seun Ryan de Villiers op 66 meter geskiet – en die dier het glad nie beweeg voordat ek dit getref het nie. Ek wens ek kon sê ek het nog nooit met nabyskote gewond nie, maar dit sou nie waar wees nie.”

 

WEES SEKER VAN JOU SKOOT

Dit is duidelik dat al die manne reken ’n mens moenie op ’n dier jag maak oor ’n langer afstand as waar jy seker van jou skoot is nie. Dit is natuurlik ’n reël wat niemand moet minag nie – wat die afstand ook al is. Jy skiet eenvoudig nie verder as die afstand waaroor jy gereeld oefen en waar jy seker is jy skiet altyd in die kol nie. 

 

Die vraag is egter of jy werklik oor die langer afstande kan jag, al kan jy baie goed oor daardie afstand skiet? Waag jy nie te veel nie? Is daar nie eenvoudig net té veel faktore wat buite jou beheer is nie?

 

met my boog op ’n blouwildebees aangelê. Die dier het mooi plankdwars gestaan en ek het die sneller stadig begin druk. Voor die pyl egter uit die boog is, het die wildebees vir ’n ander wildebees geskrik en dwars gedraai. Die boodskap om die sneller te druk was reeds na my brein gestuur en ek het die pyl losgelaat. Gelukkig het die pyl die dier steeds deur die ribbekas getref en sy twee longe deurboor. Ek was egter gelukkig, want het hy anderkant toe geswaai, was hy gewond. 

 

Dit is dus waar dat sake ook oor kort afstande kan skeefloop en dat ’n dier gewond kan word. Die gedagte is dat die kanse dat dinge oor die korter afstande kan skeefloop, heelwat minder is as oor langer afstande, waar dit die pyl bykans ’n sekonde neem om die dier te bereik. 

 

Die kans dat die dier die boog sal hoor klap wanneer die pyl geskiet word, is gewis groter hoe nader ’n mens aan hom is, maar hoe korter die afstand, hoe kleiner is die kans ook dat die dier gaan reageer. Ek het al ’n klomp bokke met ’n houtboog geskiet wat teen minder as die helfte van die spoed van ’n moderne kompakte boog skiet. Ek sorg egter dat ek so naby as moontlik aan die bok is en baie van die diere het nie verder as tien tree gestaan nie.

 

Aan die ander kant is dit natuurlik ook waar dat die dier nie die boog sal hoor as die pyl oor ’n lang afstand geskiet word nie en dus glad nie sal reageer nie. Dit is egter bykans onmoontlik om te voorspel of die bok gaan stilstaan of nie. As jy ’n dier goed ken, kan jy seker ’n baie goeie voorspelling maak. Die bok hoef egter net een tree vorentoe te gee terwyl die pyl in die lug is, en hy is gewond. Wat is dus die antwoord?

 

n Lang skoot met ’n pyl en ’n lang skoot met ’n geweer verskil in baie opsigte. Selfs ’n geweerskoot oor 1,2 km tref die bok in ’n breukdeel van ’n sekonde en gee hom nie kans om te beweeg voor die koeël hom tref nie. Wind, hitte wat die lug oor klippe laat styg en verskeie ander faktore maak egter só ’n skoot ook baie moeiliker as die normale skote. Die skut moet weet wat hy doen om te verseker dat hy nie die bok kwes nie. Kan ’n mens dan sê dat lang skote wel geskiet kan word, maar net deur ’n klein groepie boogskuts wat hulle op dié soort skote toespits, en dat Jan Alleman liewer sulke lang skote moet vermy? ’n Maklike antwoord op hierdie vraag en die skep van ’n eenvoudige reël daarvoor is uiters moeilik.

 

HOE VER KAN ’N KRAGBOOG ’N PYL SKIET?

Die ander vraag is natuurlik hoe ver kan ’n boog ’n pyl skiet en vir watter deel van die pyl se vlug behou dit genoeg slaankrag om ’n bok diep genoeg te penetreer om hom vinnig te dood? Om dié afstand te bepaal is nie maklik nie, maar ons het ’n paar riglyne gevolg en daarna ’n paar toetse gedoen om nader aan die waarheid te kom.

 

In die verlede het ek gesien hoe my dogter Anke verskeie blouwildebeeste doodskiet met ’n kragboog (compound bow) wat op 35 lb gestel is. Anke het so twee of drie jaar gelede die grootste blouwildebees wat nog ooit op dié spesifieke plaas gejag is, met dié boog platgetrek. Die blouwildebees het 155 kg geweeg nadat die ingewande, pote en kop verwyder is.

 

Om die maksimum afstand te probeer bepaal wat 'n mens 'n bok effektief kan doodskiet, het ek die hulp van Yster Louw van Wildebees-wapenwinkel ingeroep. Ons het by die veronderstelling begin dat ’n mens bykans enige vlaktewild met ’n Mathews Triax, wat op 45 lb gestel is, kan plattrek indien jy die dier op die regte plek tref.

 

Ons het dus op ’n afstand van 25 meter gaan staan en Yster het drie skote met dié 45 lbTriax in ’n nuwe, soliede rubberteiken geskiet. Daarna het hy die boog na 70 lb opgestel en weer drie skote op 25 tree op ’n skoon gedeelte van die teiken geskiet. Hy het toe drie skote elk in ’n skoon gedeelte op die teiken oor afstande van 50 meter, 80 meter, 100 meter en 134 meter geskiet. Dit was ’n ronderige teiken met ’n klomp plat kante en dit was dus moontlik om elke keer op ’n skoon gedeelte te skiet. Ons laaste skoot was op 134 meter omdat dit die verste is wat ons ’n reguit, oop skoot op die Wildebees-terrein kon skiet.

 

Elke keer as ons drie skote geskiet het, het ons gemeet hoe diep die pyl die teiken binnegedring het. Daarna het ons die drie getalle bymekaargetel en deur drie gedeel om ’n gemiddeld te kry.

 

Die resultate was soos volg

• Penetrasie met die boog gestel op 45 lb oor 25 meter = 17,2 cm 

• Penetrasie met die boog gestel op 70 lb oor 25 meter = 24,1 cm 

• Penetrasie met die boog gestel op 70 lb oor 50 meter = 22,6 cm 

• Penetrasie met die boog gestel op 70 lb oor 80 meter = 18, 6 mm 

• Penetrasie met die boog gestel op 70 lb oor 100 meter = 18,9 mm (Ja, dit was effens meer as op 80 meter en ons het nie tans ’n verklaring daarvoor nie.) 

• Penetrasie met die boog gestel op 70 lb oor 134 meter = 18,2 mm

 

Ná ek ’n grafiek van die penetrasie en afstand saamgestel het, kon ek min of meer skat dat die pyl steeds op ongeveer 157 meter (maar dalk verder) dieselfde slaankrag het as dieselfde pyl uit dieselfde boog wat op 45 lb gestel is en oor 25 meter geskiet is. Daarna behoort die pyl se slaankrag oor verder afstande stelselmatig te verminder. 

 

Uit hierdie bevindinge kan ’n mens dus aflei dat ’n moderne kragboog met dieselfde of groter slaankrag as ’n Triax, met ’n treklengte van 29” en gestel op 70 lb, ’n bok minstens tot op 157 meter effektief behoort te dood indien dit op die regte plek getref word.

 

Hiermee sê ek glad nie dat ’n mens ’n bok oor dié afstand moet probeer skiet nie, maar bloot dat dit wel gedoen kan word.

bottom of page