top of page

SA JAGTER/HUNTER | Junie 2022 | Deur KARLA JANSE VAN VUUREN | Foto’s: GERRIE JANSE VAN VUUREN

Springbok-en-spek hamburgers.jpg

SPRINGBOK-EN-SPEK-HAMBURGERS MET ’N BIER-EN-CHEDDAR-SOUS

JY BENODIG:

(maak sowat 4 burgers):

• 500 g springbokmaalvleis 

• 100 g spek met lekker baie vet 

• Geurmiddels van jou keuse 

• 2 groot uie, in skywe gesny 

• 1 groot tamatie, in skywe gesny 

• Roket of ander blare van jou keuse 

• Agurkies, in dun skywe gesny 

• 4 groot, vars broodrolletjies 

• Botter vir smeer op die broodjies 

• Tamatiesous, indien verkies

 

VIR DIE BIER-EN-KAAS-SOUS:

• 4 e botter 

• 1 klein ui, fyngekap 

• 2 k ligte bier, soos ’n lager 

• 4 e meel 

• 1½ k room 

• 1 knoffelhuisie, gerasper 

• Sout en witpeper, na smaak 

• Sowat 170 g sterk beleë cheddar 

• Om voor te sit: aartappelskyfies of -wiggies

​

SO MAAK ’N MENS:

1. Begin met die gekaramelliseerde uie omdat ’n mens dit nie kan afjaag nie. Verhit ’n pan oor matige hitte en smelt ’n bietjie botter daarin. Voeg die uieskywe by en roer om die uieringe van mekaar los te wikkel. Voeg nou ’n bietjie water by die pan en sit die deksel vinnig op. Laat dit so ’n paar minute stoom om die uie sag te maak. Haal dan die deksel af, geur met ’n bietjie sout en laat stadig kook tot gekaramelliseer. Die geheim vir heerlike uie is ’n lang gaarmaakproses oor lae hitte. Jy kan hier teen die einde ’n skeut balsemasyn byvoeg, indien verkies. Sodra die uie gekaramelliseer is, verwyder van die hitte en hou eenkant.

 

2. Terwyl die uie hulle ding doen, kan jy die frikkadelle maak. Plaas die springbokmaalvleis en die spek saam in ’n groot mengbak. Geur met sout en peper of ’n speserymengsel van jou keuse. Meng deeglik. Maak jou hande nat (dis makliker om met maalvleis te werk as jou hande koud en nat is) en verdeel dan die maalvleis eweredig in balle van 170 g elk (gebruik ’n elektriese kombuisskaal om die proses te vergemaklik). Vorm elke bal in ’n netjiese frikkadel. Plaas in die yskas tot jy reg is om te braai.

 

3. Ek hou daarvan om ’n toeknyprooster te gebruik om frikkadelle oor die kole te braai. Dit kan ’n uitdaging wees om te verseker die frikkadelle bly in een stuk en sit nie aan die rooster vas nie. Die toeknyprooster maak hierdie proses makliker. Bestryk elke frikkadel aan albei kante met ’n bietjie sonneblomolie. Pak op die rooster en braai dan oor hoë hitte om hulle te seël. Braai ongeveer 10 minute in totaal – dis genoeg om die frikkadelle een keer op elke kant te laat lê; twee keer is die maksimum. Moenie aan die frikkadelle karring om te sien of hulle vassit nie. Verwyder van die hitte en maak gereed om jou burgers te bou. Jy kan ook nou jou broodrolletjies rooster nadat jy hulle gebotter het. 

 

4. Jy kan die sous vooraf maak (of vra iemand om dit te maak terwyl jy besig is om die frikkadelle te braai). Smelt die botter in ’n swaarbodempan oor matige hitte. Voeg die uie by en braai tot sag, sowat 2-3 minute. Roer die meel by en roer tot die mengsel strooikleurig is, sowat 2 minute. Klits die bier by en hou aan klits tot glad.

 

5. Verlaag die hitte en prut tot die bier begin reduseer en die alkohol weggekook het – dit behoort 4-5 minute te neem. Roer die room en knoffel by en hou aan kook terwyl jy aanhoudend roer totdat die sous verdik – ongeveer 10 minute. Verwyder van die hitte, proe en geur met sout en peper na smaak. Klits die kaas by en roer tot heeltemal gesmelt. Die sous kan effens bitter proe (veral as jy nie die alkohol goed weggekook het nie), maar dit het ’n lekker bier-nasmaak. Die geure in die burger sal mekaar komplementeer – daar is soet van die gekaramelliseerde uie, sout van die frikkadel, suur van die agurkies en die bietjie bitter van die biersous. Dié resep maak sowat vier koppies sous. Bêre enige oorskiet vir tot drie dae in die yskas. 

 

6. Bou jou burger: Smeer ’n bietjie tamatiesous op die onderste deel van die rolletjie. Plaas dan die frikkadel bo-op, gevolg deur ’n groot skep van die tuisgemaakte sous op die vleis. Dan kom die res van die vulsels in enige volgorde wat jy verkies. Geniet saam met aartappelskyfies of -wiggies en ’n lekker koue bier!

​

(Sousresep aangepas van foodnetwork.com. Maak en braai van die frikkadelle uit Vuurwerke deur Jan Braai.)

bottom of page