top of page

SA JAGTER/HUNTER | September-Oktober 2021 | Deur KARLA JANSE VAN VUUREN | Foto: GERRIE JANSEN VAN VUUREN

ELAND-SCHNITZELS.jpg

Eland-schnitzels met groenpeperkorrel-en-jenewerbessiesous

JY BENODIG: VIR DIE SCHNITZELS:

 

• Sowat 100 ml olyfolie

• 5 ml FlavourBlast- gedroogde roosmaryn

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• FlavourBlast- fyngemaalde swartpeper

• Sout na smaak

• 210 g meel

• 20 ml FlavourBlast-All Purpose Spice

• 5 ml FlavourBlast-knoffelpoeier

• 4 ekstragroot eiers, liggies geklits

• 60 ml melk

• 200 g Panko-broodkrummels

• 800 g eland-sirloin, in schnitzels gesny (vra jou slagter, of doen dit self; mik vir sowat 150 g vleis per schnitzel)

 

VIR DIE SOUS:

• 1 klein ui, grofgekap

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 25 ml botter

• 2-3 e groenpeperkorrels (gedroog of gepiekel; indien laasgenoemde, spoel goed af)

• 2 e jenewerbessies, gekneus (beskikbaar by Woolworths)

• 500 ml hoenderaftreksel

• 500 ml room

• Sout en peper na smaak

​

METODE:

Meng die olyfolie, eerste hoe- veelheid knoffel, sout, swartpeper en gedroogte roosmaryn en marineer die schnitzels vir ten minste ’n uur of verkieslik oornag in die yskas.

 

Maak die schnitzels: Gebruik drie aparte diepborde vir die verskillende lae waarmee die vleis bedek moet word. Meng die meel en All Purpose Spice saam en keer dit uit in een van die borde. Klits die melk en eiers saam en geur met ’n bietjie sout. Plaas die broodkrummels in die derde bord, voeg die knoffelpoeier by en geur ook met sout en peper.

 

Begin deur die vleis eers in die melkmengsel te doop, dan in die meelmengsel en druk die meel goed vas.

 

Plaas die vleis eers eenkant vir tien minute sodat die meel goed kan vaskleef. Doop die vleis daarna weer in die melkmengsel en strooi die broodkrummels bo-oor. Druk die broodkrummels oral oor die vleis vas. Plaas die schnitzels op ’n bakplaat en sit dit in die yskas vir ’n uur sodat die krummels kan bind. Jy kan die vleis op hierdie punt vries of gaarmaak.

 

Volg een van twee gaarmaakmetodes: Vlakbraai die schnitzels vir drie minute aan elke kant. So nie, kan jy ’n bakplaat met kleefwerende kossproei bespuit en die schnitzels daarop plaas. Bak by 180 °C vir 25 minute en draai die vleis ná 12 minute om.

 

Om die sous te maak: Verhit ’n pan oor matige hitte en smelt die botter. Braai die ui, knoffel en groenpeperkorrels vir sowat drie minute. Voeg die aftreksel en jenewerbessies by en laat prut tot die vloeistof met die helfte gereduseer het. Voeg die room by en laat weer prut tot die sous gereduseer en verdik het. Proe en geur indien nodig. Sit voor in ’n bekertjie saam met die schnitzels.

​

OM VOOR TE SIT: kapokaartappels, pap of polenta (ek het myne voorgesit met kapokaartappels gemaak van oranje patats en gewone aartappels), ander groente van jou keuse.

 

*Idee vir die sous aangepas van ’n resep van Johan Opperman van Coal Café (www.coalpty.co.za) en vir die schnitzel uit Annelien Pienaar se nuwe boek Vleis: die omvattende gids (R380, uitgegee deur Human & Rousseau). Bykomende inligting van seasonedpioneers.com.

​

​

bottom of page