top of page

Januarie-Februarie 2024 | SA JAGTER/HUNTER | Thinus Steyn

Hartseer bees.JPG

DIE HARTSEER BEES

Dit is nie maklik om naby genoeg aan ’n rooihartbees te kom vir ’n goeie skoot nie. Hulle het fyn sintuie en wanneer hulle onraad vermoed, maak hulle hulself gou uit die voete.

​

Dit is my ou vriend Jean Marais wat hulle eerste gewaar – ’n troppie rooihartbeeste daar waar die rante van die Mooikloof ’n 90°- hoek vorm. Die hartbeeste is ’n goeie kilometer weg van ons af en ons bekyk hulle deur ons verkykers. Ons retireer tot agter ’n lae randjie en bespreek ons strategie. Die hartbeeste wei laag teen die hang, naby ’n groot olienhoutboom. Indien ons die terrein reg gebruik, behoort ons binne skietafstand te kom. Die wind, uit die noorde, is in ons guns wanneer ons laag teen die hang langs begin bekruip.

​

Die hang is klipperig en ons vorder stadig. Nou en dan moet ons om of oor ’n groot rots klouter. Dit neem ons byna ’n uur om tot binne 300 meter van die troppie te kom. Ek loer versigtig oor ’n groot, plat rots. Die hartbeeste is op dieselfde plek waar ons hulle laas gesien het. Daar is twee bulle in die trop – een jong bul en ’n groot ou donker rooi trofeebul met ’n mooi stel horings. Jean is nie ’n trofeejagter nie en die jong bul is die een waarna ons soek. Die groot bul en van die koeie lê en herkou.

​

Die jong bul wei effens verder teen die hang op. My ou Leicaverkyker/afstandtaster sê hy is net onder die 300 meter ver. Jean maak homself versigtig gereed vir die skoot. Ek hoor hoe die .308 Norma Magnum se slot saggies toeklik. Ons fluister saggies heen en weer totdat ons seker is ons kyk vir dieselfde bok. Jean lê aan. Dan gee die bul twee treë vorentoe, nou is hy agter ’n koei.

​

Ons wag, geduldig. Dan stap die koei weg, maar nou staan die bul met sy agterent na ons toe. Ons wag, geduldig. Daar is slegter plekke om ’n vroegwinteroggend deur te bring as teen ’n klipperige Vrystaatse randjie met die son se strale louwarm op jou blaaie.

​

Die hartbeeste is salig onbewus van ons, daar is geen haas nie. ’n Koei wei tussen ons en die bul in. Dan stap die koei stadig vorentoe, die bul se blad is oop. “Nou,” fluister ek, maar voordat Jean die skoot kan afknyp, draai die bul en kom skuins na ons toe aangestap. Die hartbeesbul stop agter ’n olienhoutboom. Ons wag, geduldig.

​

Dit tyd sleep verby teen die spoed van ’n gletser. Al die koeie lê nou. Uiteindelik kom die bul agter die boom uitgedrentel; 280 meter, sê die Leica. “Wag tot hy stop,” fluister ek onnodige raad – Jean is ’n ervare jagter. Die bul stop vir ’n oomblik, effens skuins na ons toe. Nou, dink ek, nou! Maar dan gaan lê die bul ook. Ons wag, geduldig.

​

’n Halfuur sluip verby, die hartbeeste slaap rustig. Nog 15 minute drentel verby. Die klip waarop ek sit is nou heelwat ongemakliker as wat hy ’n uur gelede was. Ons wag, nie meer heeltemal so geduldig nie.

​

Een van die hartbeeskoeie staan op. Dan fluit ’n ribbok skril hoër teen die hang. Ek fynkam die hang met die Leica. Hoog bo die trop hartbeeste staan ’n rooiribbokooi en sy kyk vir ons. In my geestesoog sien ek die trop rooihartbeeste teen die rant opstorm.

Dit is selde ’n goeie idee om ’n dier wat lê te skiet, maar as jy weet wat jy doen, is dit nie moeilik nie. Ek maak ’n besluit. Ek verduidelik saggies en Jean knik. Die ribbok fluit weer.

​

Die .308 Norma Mag verskeur die stilte. Die bul se kop sak, asof hy aan die slaap raak. “Laai,” fluister ek, asof sag praat nou sal saak maak. Die skoot weergalm in die kloof af en hartbeeste vlug holderstebolder teen die hang op. Die ribbokke kies die hasepad. Die bul lê waar die koeël hom getref het. Ons kyk vir mekaar en glimlag. Ons stap met stywe bene na waar Jean se rooihartbees lê. Jean kniel by die bok en ek stap teen die rant af om die bakkie te gaan haal. En dié lang gesig? Elke keer wanneer ek rooihartbeeste jag, dink ek aan die ou, flou grappie van die perd wat by die kroeg instap en ’n bier bestel.

​

Die kroegman skink die bier, kyk die perd op en af en vra: “En dié lang gesig?” ’n Hartbees se gesig laat ’n perd s’n kort lyk.

Dit is moeilik om ’n volwasse rooihartbees met enige ander bok te verwar. Die kombinasie van die uitsonderlike lang gesig, die vorm van die horings, die vaalwit boude en die dieprooi kleur van veral die ou bulle maak dit maklik om hulle uit te ken.

​

Rooihartbeeste is mediumgrootte bokke. By ons is die gemiddelde gewig van rooihartbeeste vir volwasse bulle sowat 150 kg en vir koeie 120 kg. Die kleur van volwasse diere wissel van ligbruin tot ’n diep rooibruin kleur; die boud en pens is vaalwit of roomkleurig en die boonste gedeelte van die voorbene, en soms ook agterbene, is donkerbruin of swart. Die neus en voorkop is swart. Die stert is swart en wanneer ’n hartbees hardloop, word die stert reguit na agter gehou.

​

Sowel bulle as koeie het horings, maar die bulle s’n is opvallend dikker. Die horings groei op ’n “platform”, wat die gesig nóg langer laat lyk. Die horings is geriffel, behalwe die punte, wat glad is. Soos bo genoem, lyk die horings anders as enige ander bok s’n. Van voor gesien is die horings amper hartvormig maar van die kant af buig die horings eers vorentoe en dan skerp terug.

​

Die rooihartbees (Alcelaphus buselaphus caama) kom wydverspreid in Suider-Afrika voor. Die enigste ander hartbees wat in Suid-Afrika voorkom, is Lichtenstein se hartbees (Alcelaphus lichtensteinii), waarvan daar ’n trop uit Malawi in die Krugerwildtuin hervestig is nadat hulle daar uitgesterf het.

​

Die rooihartbees is verwant aan die tsessebe (Damaliscus lunatis), in die volksmond bekend as ’n basterhartbees, die blesbok (Damaliscus pygargus phillipsi) en die bontebok (Damaliscus pygargus pygargus).

​

Daar is gevalle waar kruisteling tussen rooihartbeeste en blesbokke plaasgevind het en, hoewel ek nog nooit van so ’n geval gehoor het nie, is ek seker dat rooihartbeeste en tsessebes ook kan kruis. Dit gebeur egter selde onder normale natuurlike omstandighede.

Op die reservaat waar ek werk, kom rooihartbees, blesbok en tsessebe in dieselfde area voor en ek het nog nooit ’n baster teëgekom nie. Rooihartbeeste is hoofsaaklik grasvreters wat van kort tot mediumlengte gras hou. Blare, vrugte en sade maak ’n klein persentasie van hulle dieet uit.

​

Rooihartbeeste vorm teeltroppe wat gewoonlik een groot teelbul, koeie, kalwers en soms een of meer jonger bulle insluit. By ons is tropgrootte tipies tussen 10 en 20, maar ek het al meer as 50 in een trop getel. Territoriale bulle loop alleen en verdedig hulle terrein aggressief.

​

Bulle wat nie teel nie, vorm bultroppies. ’n Koei het een kalf wat ná ’n dragtigheidtydperk van agt maande gebore word en kalwers word op ongeveer ses maande gespeen.

 

DIE JAG VAN ROOIHARTBEESTE

In die Suid-Vrystaat en Noord- Kaap waar ek meestal rooihartbeeste jag, klim ek gewoonlik tot op ’n koppie of ander hoë punt en gebruik my verkyker om die hartbeeste op te spoor. Dan, met die wind in aanmerking geneem, gebruik ek die terrein om binne skietafstand te kom. Dit is egter nie altyd so maklik nie. Rooihartbeeste het fyn sintuie en wanneer hulle onraad vermoed, maak hulle hulself gou uit die voete. In wye oop terrein waar dit onmoontlik is om ongesiens tot binne skietafstand te kom, werk dit soms om in enkelgelid stadig in die rigting van die trop te stap, terwyl jy jou skietstokke soos ’n gemsbok se horings voor jou hou. 

​

Skootplasing is soos met die meeste ander bokspesies. Hart/long-skote is die veiligste keuse vir die deursneejagter. Vermy brein- en nekskote tensy jy werklik ’n ervare jagter en ’n uitsonderlik goeie skut is. Onthou dat daar ’n groot verskil tussen ’n kopskoot en ’n breinskoot is. Die hart en die grootste gedeelte van die longe sit tussen die blaaie en in die onderste helfte van die bors. Wees versigtig om nie te hoog te skiet nie en hou in gedagte dat die longe nie so ver agter die blaaie uitsteek as wat baie jagters dink nie. Veral laag agter die blad is daar bitter min long. Daar is goeie diagramme op die internet beskikbaar wat skootplasing illustreer. Kevin Robertson se boek The Perfect Shot hoort op elke ernstige jagter se boekrak.

 

KALIBERS EN KOEËLS VIR ROOIHARTBEESJAG

Aangesien rooihartbeeste wydverspreid en in terrein wat wissel van vlaktes tot bosveld voorkom is dit belangrik om jou geweer, kaliber en koeëls te kies na gelang van waar jý jag. Ek weet van baie rooihartbeeste wat met die .243 Win en ander 6mm-kalibers gejag is. Persoonlik verkies ek ’n minimum kaliber van 6.5mm. Op langer af stande werk gewone loodkernjagkoeëls goed vanweë die laer impakspoed. Vir bosjag verkies ek premium jagkoeëls.

​

Laserafstandtasters en teleskope wat akkuraat kan stel om te kompenseer vir die trajek van ’n koeël het die gaping tussen platskietkalibers soos die .270 Win en die 7mm- en .300 Magnums en die meer besadigde kalibers soos die 6.5x55 Sweedse Mauser, .308 Win en .30-06 Springfield amper irrelevant gemaak. Enige kaliber van 6.5mm af op wat ’n koeël van 120 grein of swaarder teen ’n trompsnelheid van 2 600 vps of hoër kan lanseer, werk goed tot op 300 meter, mits die jagter die trajek ken van die kaliber/koeëlkombinasie wat hy gebruik.

Persoonlik is my gunstelingkalibers vir rooihartbees jag die 6.5mm Creedmoor en die 6.5x55 Sweedse Mauser, maar ek het al die 7x57 Mauser, .30-06 Springfield, .300 Win Mag en 9.3x62mm baie suksesvol aangewend vir dié doel.

 

GESLAGS-IDENTIFIKASIE

Volwasse bulle se horings is merkbaar dikker as die van volwasse koeie. Dié stelling is waar, maar in die praktyk help ondervinding baie. Indien jy geen of min ondervinding op dié gebied het, is dit verkieslik om ’n ervare gids of vriend by jou te hê om jou met uitkenning te help as daar ’n rooihartbees op die spyskaart is. Waar terrein en plantegroei jou toelaat om die penslyn van die hartbeeste te sien is die punt van die penisskede duidelik sigbaar by bulle. Dit help veral waar sub-volwasse diere gejag word omdat dit heelwat moeiliker is om in dié geval geslags-identifikasie uitsluitlik op die horings te baseer. Rooihartbeesbulle vryf graag hulle horings op die grond en in modder.

Ek sal egter versigtig wees om my besluit of dit ’n bul of ’n koei is slegs op die teenwoordigheid van modder op die horings te baseer. ’n Goeie verkyker met 8-10x-vergroting is ’n goeie – ek wil amper sê noodsaaklike – stuk toerusting vir die hartbeesjagter.

 

TROFEË EN VLEIS

’n Groot rooihartbeesbul maak ’n unieke en indrukwekkende skouer-montering. Danksy die uitsonderlike lang gesig maak rooihartbeesskedels ook ’n indrukwekkende skedel of Europese montering. Selfs ’n rooihartbeeskoei se skedel lyk mooi wanneer dit gebleik en op ’n mooi houtskild gemonteer is. Ek hou van rooihartbeesvleis vir biltong, droëwors en ook kombuisvleis en die meeste jagters met wie ek gesels, voel dieselfde. Dit is egter so dat smaak verskil en nie almal hou daarvan nie. Onthou dat die kwaliteit van die vleis, soos met die meeste diere, gaan afhang van die ouderdom en geslag van die hartbees en ook van die wyse waarop die dier gejag en die vleis hanteer is. Indien jy nog nooit ’n rooihartbees gejag het nie, plaas die bok op jou spesielys. Rooihartbeeste is dikwels een van die meer bekostigbare “groot” bokke en wanneer jy een plattrek, het jy goeie vleis en, selfs as jy ’n koei skiet, ’n netjiese stel horings om jou jare later nog aan jou jag te herinner.

bottom of page