SA JAGTER/HUNTER | Junie 2022 | Deur JOHAN VAN WYK
STOFPAAIE MET DIE .30-06 SPRINGFIELD
Ek moes lank en hard dink oor die eerste bok wat ek met ’n .30-06 geskiet het. Inteendeel, dit het terugblaai in ’n gehawende ou notaboek van my gekos om vas te stel dat dit ’n rooibok naby Marken was, al die jare terug in 1997 – amper ’n halwe leeftyd gelede, soos die tyd loop. Die jare tussenin was ek bykans nooit sonder ’n .30-06 in die veld nie en my en dié kaliber se saamloop-paadjie was tot dusver ’n groot sukses.
OORSPRONG
Net soos baie ander kaliber-suksesverhale, het die .30-06 se storie in uniform begin. Die Amerikaners het teen die laat 1800’s besef dat hulle Krag-Jorgensengewere in .30-40 Krag nie meer die pyp gaan rook teen die nuutste verwikkelinge in Europa nie, veral nie die kombinasie van die M98 Mauser-aksie en die 8x57 J nie. Die welbekende Springfield Armory het dus opdrag ontvang om die probleem op te los, en in 1903 is nie net die Model 1903 Springfield-geweer bekendgestel nie, maar ook die .30-03.
Die Model 1903 Springfieldaksie was op die M98 Mauser gegrond. In later jare moes Springfield selfs vergoeding aan Mauser betaal omdat inbreuk gemaak is op ’n aantal Mauser-patente in die Springfield se ontwerp. Die .30-03 het ’n 220 grein-rondeneuskoeël teen 2 300 vps geskiet, maar dit was weereens verwikkelinge in Europa wat ’n herontwerp aangespoor het, en in 1906 is die .30-06 deur die Amerikaanse owerhede aanvaar. Die .30-06 se dopnek was fraksioneel korter as dié van die .30-03. In stede van die swaar 220 grein-koeël, is daar nou gebruik gemaak van ’n 150 grein-liggewigkoeël teen 2 700 vps. Dit was dié lading wat die Amerikaners in beide die Eerste en Tweede Wêreldoorloë, sowel as die konflik in Korea gebruik het.
IN “CIVVY”-STRAAT
Dit het geweerbouers en -vervaardigers nie lank geneem om die potensiaal van die .30-06 as ’n jagkaliber raak te sien nie. Winchester het reeds so vroeg as 1908 die .30-06 in kommersiële gewere op die rakke beskikbaar gehad en ander vervaardigers soos Remington en Savage het spoedig gevolg. Van die bekende Amerikaanse pasmaak-geweerbouers soos Griffin & Howe, Sedgley en andere het in die 1920’s en later pragtige gewere in .30-06 vervaardig wat deur jagters wêreldwyd gebruik is. Die gevolg is dat die meer snobistiese Britse vervaardigers vinnig gevolg het. Dit kos egter moeite om gewere deur Holland & Holland, Jeffery, Westley Richards en so meer in .30-06 raak te loop.
Selfs die Duitsers het ’n gesonde mate van respek vir die .30-06 gehad. Hoewel hulle nooit in groot hoeveelhede gemaak is nie, het die Mauserfabriek in Oberndorf gedurende hul produksietyd deurentyd gewere in .30-06 vervaardig. Hulle het egter verkies om dié kaliber aan te dui as die “U.S. Govt 1906”, en Mauser-gewere in .30-06 wat van voor die Tweede Wêreldoorlog dateer, is dienooreenkomstig vervaardig.
Vandag is daar haas nie ’n vervaardiger wat ek van weet wat nié ’n geweer gekamer vir die .30-06 vervaardig nie. ’n Vinnige Internet-soektog het aangedui dat die .30-06 ’n standaarditem is vir bykans elke vervaardiger, met uitsondering van ’n paar in die VSA wat fokus op kalibers vir gebruik in sogenaamde “kort” aksies. Maar meer hieroor later.
IN DIE JAGVELD
Sedert daardie eerste rooibok, het my en die .30-06 se saamloop-paadjie baie langer geraak. Ná my eerste .30-06 (’n Steyr) het ek ’n effens gebruikte FN Mauser in hierdie kaliber raakgeloop wat vir baie jare nie net my enigste jaggeweer was nie, maar ook ’n groot vertroueling. Saam het ons etlike rooibokke, koedoes, blouwildebeeste, springbokke, swartwildebeeste, blesbokke en nog ’n klomp ander wild vrieskas toe gebring. Dit het gou vir my duidelik geword dat diegene wat die .30-06 bestempel het as ’n “.30-nul-kwes”, “.30-sukkel-ses” of enige van die ander byname wat dié kaliber deur die jare verwerf het, dit waarskynlik nooit self gebruik het nie. Inteendeel, my respek vir die .30-06 het deur die jare net gegroei.
Soos ek deur die gehawende notaboek geblaai het, het ek baie aangename herinneringe in die jagveld saam met die .30-06 opgediep. Ek het ewe skielik weer onthou van die ou alleenloper-springbokram wat vroegoggend amper reg langs my lêplek agter die miershoop verbygeloop het en toe vir ’n sekonde geaarsel het. Dan was daar die ander springbokram wat bo-op ’n kontoerwal vir my staan en kyk het, waar ek my bes gedoen het om die Leupold se kruisdraad tot ruste te kry. Of wat van die gemsbok wat op die grasvelde langs die Gariepdam uiteindelik gaan stilstaan het en my skietkans gegee het. Daar was natuurlik ook die njalabul in Zoeloeland se ruie bosse wat ook net nie wou stilstaan nie. Toe hy uiteindelik gaan staan, was al wat ek kon sien, ’n stukkie van sy blad deur die mik van ’n doringboom. Ek onthou ook daardie onvergeetlike middag naby Pongola toe ek en vriend Ren onverwags probleemdierbeheer in ’n boer se mielieland moes toepas. Twee skote het binne sekondes van mekaar geklap, en twee vlakvarke sou nooit weer in die mielielande pla nie. ’n .30-sukkel-ses? Probeer weer!
Net soos met enige ander kaliber, moet die jagter gewapen met ’n .30-06 ook maar sy deel doen om sukses in die jagveld te verseker. Selfs ’n .460 Weatherby Magnum sal ’n bok kwes met swak skootplasing. Daar is geen kaliber wat van hierdie basiese vereiste vrygestel is nie. Ek het twee keer ’n bloutjie met ’n .30-06 in die jagveld geloop – soos die noodlot dit wou hê, in beide gevalle met blouwildebeeste. In die eerste geval was dit doodgewoon swak skootplasing wat te blameer was. Die tweede keer was dit ’n geweer wat weens ’n gekraakte kolf elke dan en wan ’n koeël laat beland het waar dit nie moes nie. Gelukkig het albei jagte suksesvol afgeloop, maar ek het die nodige lesse uit al twee geleer.
Waar die .30-06 se ster vir my helder skyn, is dat die groot verskeidenheid koeëls wat in .308” beskikbaar is, tesame met die werkverrigting wat uit die .30-06 verkry kan word met moderne, ingevoerde dryfmiddels, hierdie kaliber se moontlike aanwendings selfs wyer maak as voorheen. Vir die vlaktes was goeie, aërodinamiese 165 grein-koeëls in die verlede die aanbevole kombinasie. Ek het self dié resep meermale met groot sukses aangewend.
Met ’n dryfmiddel soos Hodgdon se H4350 kan die versigtige herlaaier egter ’n 180 greinkoeël teen ietwat vinniger as 2 700 vps (die standaard vir fabrieksammunisie in die .30-06, gelaai met dié koeëlgewig,) lanseer uit ’n geweer met ’n 24”- loop; dit gee die .30-06 so ietwat meer van ’n perdekrag-inspuiting. Uiteraard kan dieselfde argument aangevoer word vir ligter koeëls in die .30-06 asook ander kalibers. Die nuwe komponente maak egter nuwe dinge vir die .30-06 moontlik.
Trajekgewys is ’n 180 greinkoeël met ’n goeie ballistiese koëffisiënt, wat die loop teen 2 700 vps verlaat en ingestel is om op 200 meter in die kol te tref, se trefpunt op 300 meter maar slegs sowat 8” laer. Vergelyk dit met die trajek van ’n soortgelyke koeël teen 300 vps vinniger uit ’n .300 Winchester Magnum, wat ook die kol op 200 meter tref en minder as 2” platter skiet op 300 meter. Is die ekstra terugskop, geraas en dryfmiddel regtig die moeite werd?
In die bosveld is die .30-06, gelaai met 180 grein-koeëls, insgelyks ’n gewilde keuse, maar dis in hierdie terrein dat die swaarder 200 en 220 greinkoeëls goed tot hulle reg kom. Veral die 220 grein-lading in die .30-06 is al met sukses op selfs olifante gebruik, hoewel dit bepaald nie die aanwending was wat die .30-06 se ontwerpers vir dié kaliber in gedagte gehad het nie.
Ek het die laaste paar jaar die middeweg gevolg en slegs ammunisie gelaai met 180 greinkoeëls geskiet. Met behulp van ’n chronograaf en tyd op die skietbaan, het ek die trajek van my gekose jagammunisie (gelaai met Swift Scirocco II-koeëls met ’n uitstekende ballistiese koëffisiënt) mooi vasgestel en nie weer heen en weer verander tussen ammunisie gelaai met verskillende koeëlgewigte nie. Ek is seker daar is jagters wat ander resepte met groot sukses volg, maar dis die stelsel wat ek die laaste paar jaar gebruik het. Die ietwat swaarder koeëls bied ook goeie penetrasie in groter diere soos gemsbokke en koedoes.
Vir diegene wat nie herlaai nie, bied sekere vervaardigers ook nou ammunisie met hoër trompsnelhede. Hornady se Superformance-reeks is ’n goeie voorbeeld hiervan. Dit word bewerkstellig deur die gebruik van spesiale dryfmiddels wat nie die publiek beskore is nie, maar die drukvlakke van dié ammunisie is steeds aanvaarbaar. Hierdie ammunisie is nie altyd in SuidAfrika op die rakke beskikbaar nie. Indien dit egter wel verkrygbaar is, is dit ’n goeie keuse vir jagters wat nie herlaai nie.
HERLAAI VIR DIE .30-06
Ek het reeds vlugtig na sekere aspekte van herlaai vir die .30- 06 verwys. Stadiger brandende dryfmiddels soos Norma URP, Reloder 17, S-365 (vir diegene gelukkig genoeg om daarvan te besit), H4350, IMR-4350 en ander soortgelyke dryfmiddels werk goed in die .30-06 met koeëls van 165 grein en swaarder. Ek het in die verlede uitstaande resultate verkry met IMR-4350 sowel as Hodgdon H4350 met 180 grein-koeëls. Hulle is definitief my voorkeurdryfmiddels in die .30-06 van dié wat ek al probeer het. Met die swaar koeëls werk die twee 4350’s en hulle eweknieë ook goed, maar stadig brandende dryfmiddels soos H4831 en Norma MRP is hier ook goeie keuses.
Loodkernkoeëls ligter as 165 grein het in my beskeie opinie ’n beperkte aanwending in Afrika, alhoewel hulle goed werk op wild in die klas van springbokke, blesbokke en dalk tot en met swartwildebeeste en hartbeeste. Die ietwat swaarder koeëls doen op die ou end alles wat die ligter koeëls kan vermag, plus nog ’n bietjie meer. Monometaal-koeëls se werkverrigting is ietwat anders en hier kan ’n ietwat ligter koeël soms met gemak instaan vir ’n swaarder eweknie weens die gebrek aan gewigsverlies ná impak van die monometaal-koeëls.
Die voordeel van bykans enige geweer in ’n .308”-kaliber is dat daar ’n magdom komponente van verskillende vervaardigers op die mark is. Vir die plaaslike herlaaier is .308”- koeëls beskikbaar van Peregrine, Rhino, Titan, Sus-Tac, Kriek en nog ’n paar ander vervaardigers. Die keuse is dus definitief nie tot duur, ingevoerde koeëls beperk nie.
Wat ingevoerde koeëls betref, is Hornady, Swift, Nosler, Barnes en andere bekend vir hul premiumkoeëls wat uitstekende werkverrigting in die jagveld bied. Vir diegene wat dalk meer tyd op die baan wil deurbring, vervaardig Speer, Hornady, Sierra, en ander effens goedkoper koeëlreekse wat dalk ietwat meer beperkte jagaanwendings het, maar die gat in die beursie is terselfdertyd ook nie so groot nie. In Suid-Afrika is beskikbaarheid egter tans ’n kopseer en spesifieke aanbevelings is dus nie noodwendig moontlik nie.
Dopkapasiteit met van die ingevoerde dryfmiddels kan soms ’n kwessie wees, veral in kombinasie met lang monometaal-koeëls. Ek verkies dus doppe met dun wande. Ek het goeie resultate met Norma, Winchester, Remington en Federal se doppe gehad, terwyl PMP-doppe by verre die kleinste dopkapasiteit gehad het van dié waarmee ek al geskiet het.
Op die ou end is ’n goeie herlaaihandleiding sowel as goeie oordeel die twee belangrikste komponente van suksesvolle, veilige herlaaiwerk. Hou dus asseblief by bestaande veiligheidsmaatreëls en praktyke – dit is daar vir ’n rede.
LANG VS KORT AKSIE
Ek het voorheen verwys na die soms byna magiese voordele wat toegeken word aan korter grendelaksies wat kalibers soos die .243 en .308 Winchester kan hanteer. Net om my kant te stel: Ek is glad nie gekant teen sulke aksies of die kalibers wat hulle hanteer nie. Ek dink egter daar word meer tyd in geweerwinkels deurgebring om sulke onderwerpe te debatteer as wat daar praktiese ondervinding in die jagveld opgedoen word.
Die feit van die saak is dat die .308 Winchester, met reg een van die gewildste kalibers ter wêreld, eenvoudig nie die dopkapasiteit van die .30-06 het nie en dus nie dieselfde trompsnelhede met vergelykbare koeëls kan lewer nie. Ja, die korter aksies is “stywer” en dus in teorie potensieel meer akkuraat. Hoe ’n groot verskil gaan dit egter maak op ’n koedoebul wat op 60 tree voor jou in die mopanies probeer wegkruip, of selfs die blesbok wat skuins duskant 300 tree op die vlakte staan?
Wat my eintlik ietwat irriteer omtrent die kortaksie-aanhangers is dat sommige die .30-06 se langer patroonlengte as ’n fatale gebrek afmaak en dan allerhande afgewaterde argumente wil gebruik om te bewys dat ander kalibers vanweë hul korter lengte en ander redes “beter” is. Beter as wat? As die sowat kwartduim wat een geweer se aksie korter is as ’n ander s’n vir jou belangrik is, is ek vreeslik bly. Dit veroorsaak egter helaas nie dat iets anders om dieselfde rede ná al die jare ewe skielik swakker is of nou minder doodmaak nie.
Ek het baie goeie tye in die veld deurgebring met ’n .30-06 in my hande en dié kaliber is vir seker een van my gunstelinge. Dit is veelsydig, is maklik om voor te herlaai met ’n magdom komponente wat feitlik orals beskikbaar is, en die terugskop is matig. Nadat hy ’n .30-06 tydens ’n jagtog in Afrika suksesvol op ’n groot verskeidenheid diere gebruik het, het ’n Australiese vriend van my die laaste aand om die kampvuur die volgende oor die .30-06 te sê gehad: “It just works!” Ek dink dit som die ’06 mooi op.