top of page

EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 1 Oktober 2020 | Deur M BEETON

Ontmoet mnr. Geweergravering

Lees jy ’n artikel oor ’n pasmaak-geweer of die restourasie van ’n klassieke ou haelgeweer, is die kans goed dat jy Jonathan Knoesen se naam gaan raaklees. As dit kom by gravering is hy die persoon by wie baie geweermakers, -smede en -eienaars aanklop. Op die ouderdom van 31 en binne slegs ses jaar het dié Rustenburger ’n reputasie opgebou as iemand wat nie net kwaliteitwerk lewer nie, maar ook pragtige tonele en kunswerke op gewere met sy graveerwerk skep. Soveel so dat selfs Rigby in Londen belangstelling in sy werk getoon het.

​

Jonathan vertel egter dat dit nie noodwendig ’n maklike pad na sukses was nie. “Vir die eerste twee jaar het ek mense geïrriteer met e-posse waarin ek gevra het vir werk. Ek het aan enigiemand wat ek aan kon dink, gestuur – geweerwinkels, geweersmede... almal. In dié tyd het ek geen geld gemaak nie. My vrou het gewerk en my pa het ons baie gehelp. As dit nie vir sy ondersteuning was nie, sou my besigheid dit nie gemaak het nie.

​

“Ná twee jaar het ek my eerste projek gekry wat redelike goeie geld ingebring het en vandaar het ek meer mense uit die bedryf as kliënte kry en dinge het begin verander.”

​

Maar waar het dit alles begin?

​

“Ek het vir ses jaar op die Bathopele-myn op Rustenburg gewerk en gehoop om deur hulle ingenieurswese te studeer, maar dit het nie gerealiseer nie. Eendag gesels ek met ’n kollega en ek vra hom of hy van gegraveerde gewere hou. Dié gesprek het my belangstelling daarin aangewakker. Ek is nog altyd kunstig en het navorsing begin doen gravering. Ek het nie grootgeword met gewere of jag nie, ek het maar twee jaar gelede my eerste bok geskiet, so hierdie was beslis ’n hard right vir my.”

IMG-20200930-WA0003.jpg
IMG_20200930_113907.jpg
DSC_0811.JPG
IMG-20200930-WA0002.jpg

Jonathan het gou agtergekom dat daar nie baie inligting of kenners in Suid-Afrika is as dit kom by geweergravering nie.  

 

“Ek het probeer uitvind wie doen gravering en Armin Winkler se naam het opgekom, maar niemand anders nie. Ek het op 'n forum gevra oor gravering en iemand van Estland het my in kontak gesit met 'n man van Johannesburg wat sou kon hekp. By hom het ek uitgevind watter toerusting om aan te skaf en daarna het ek ten duurste dvds van Amerika af bestel en myself geleer.

 

“Dit was in 2014 en as ek nou terugkyk sien ek hoe baie foute ek in die begin gemaak het. Ek moes definitief in dit in groei.”

 

Sy toewyding en talent het vrugte afgewerp en twee jaar gelede het selfs Rigby in Londen belangstelling in sy werk getoon en vir Johnathan begin werk stuur.

 

“Johan van Wyk en Andrew Tonkin het my aan die besturende direkteur van Rigby voorgestel. Hy het baie van my graveerwerk gehou en my gevra om vir hulle werk te doen. Dit was vir my ’n groot eer om aan ’n geweervervaardiger wat al vanaf 1775 bestaan, werk te lewer.”

 

Die logistiek en reëls rondom werk deur ’n buitelander vir ’n Londense wapenmaatskappy het dit egter vir Jonathan moeilik gemaak om gereeld aan hulle werk te verskaf.

 

Hoewel Rigby vir hom ’n hoogtepunt sover in sy loopbaan was, is daar ook heelwat ander werk vir kliënte wat hom altyd sal bybly.

“Een van my gunsteling-projekte was vir dr. Rian Steyn. Hy het vir my ’n geweer gegee wat deur Danie Joubert gebou is, met ’n kolf deur Faan de Vos, en gesê ek kan mal gaan en doen wat ek wil. Ek het ’n klomp goud ingesit en ook ’n gravering gemaak van ’n olifant wat op ’n foto was wat deur ’n vriend van hom – ’n professionele fotograaf – geneem is.”

 

Dit is juis om die natuur so realisties as moontlik na te maak wat Jonathan inspireer om kwaliteit-werk te lewer. “Dit gaan vir my daaroor om dit wat die Here gemaak het, getrou weer te gee.”

 

Om in die Skepping te wees, is ook wat vir hom lekker is van jag. “My eerste dier wat ek geskiet het, was ’n swartwildebees. Maar vir my gaan jag meer oor die ervaring daarvan as die skiet van die bok.”

 

Wat is volgende vir Jonathan?

“Ek het besluit om vir `n mesmaakkursus te gaan en wil begin messe maak en graveer. Dis makliker om met messe my werk oorsee te neem. Om ’n mes uit te voer is baie makliker as geweerparte, so as ek dus internasionaal wil naam maak moet ek uitbrei na messe.”

 

Wat beteken dit vir sy geweerkliënte?

“Ek gaan steeds aan met geweergravering, ek sal nie sommer ophou daarmee nie.”

 

*Kontak Jonathan by 072-537-0149.

bottom of page