top of page

EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 7 Mei 2020

10 redes om wildsvleis te eet

Wildsvleis was die afgelope tyd in die kollig nadat die EMS-stigting in April prokureursbriewe aan drie regeringsdepartmente gerig het om, in lig van die Covid-19-pandemie, die slag, uitvoer en eet van wildsvleis in Suid-Afrika te verbied.

​

Verskeie groepe, insluitend die SAJWV, het hulle sterk uitgespreek teen die hierdie versoek (lees hul reaksie hier). Hulle het ook enige vergelyking van SA se streng-gereguleerde vleisbedryf met China se vleismarkte (waar die Covid-19-virus volgens sommige, na die mens oorgedra is) as belaglik uitgewys.

​

​Benewens die feit dat die wild- en jagbedryf jaarliks ’n reusebydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie maak, is wildsvleis veelsydig, gesond en sommer baie lekker ook.

KERRIEGOELASJ IN BORD EN POT.JPG

Ons het ’n lys opgestel van tien redes waarom wildsvleis goed is vir ’n mens:

 

1. Wildsvleis bevat slegs ’n kwart van die hoeveelheid vet wat in beesvleis gevind word en het minder kalorieë as hoender.

 

2. Dit is meer proteïenryk as ander vleis en volgens kenners hou dit jou langer versadig. Die hoër proteïene help ook vir spierbou en -herstel, hormoonproduksie, breinfunksie, en slaap.

 

3. Dit is laag in sodium en is dus beter vir jou hart.

 

4. Wildsvleis is hoog in Omega-3, en die Omega-3-tot-6-verhouding is baie goed. Die Omega-3-inhoud van vleis is afhanklik van die dier se dieët. Diere wat graan gevoer word, het minder van dié vetsuur as diere wat op gras of in die veld wei. Daarom het wildsvleis gewoonlik meer Omega-3 en ook ’n beter Omega-3-en-6-verhouding.

 

5. Dit bevat ’n hoë hoeveelheid sink wat belangrik is vir die liggaam se immuunstelsel. Volgens navorsing ly 17.3% van die wêreld se bevolking aan ’n sinktekort. Daar is ook in die VSA gevind dat 40% van dié land se mense wat ouer as 60 is, nie genoeg sink inneem nie. ’n 170g-porsie wildsvleis verskaf 48% van die daaglikse inname sink wat ’n mens benodig.

 

6. Die meeste vleis bevat CLA (conjugated linoleic acid), maar wildvleis het heelwat meer daarvan. CLA is ‘n vetsuur wat baie gesondheidsvoordele vir die mens inhou, onder meer is dit goed vir jou hart.

 

7. Wildsvleis kom van diere wat werklik vrylopend is en in hul natuurlike omgewing leef en wei. Dié vleis is dus organies en vry van kunsmatige invloede.

 

8. Vir die oorgrote meerderheid jagters is dit belangrik om die dier op ’n etiese manier in sy natuurlike omgewing te jag. Dus word die dier op ’n meer menslike manier om die lewe gebring as byvoorbeeld by slagpale.

 

9. Dis ’n baie veelsydige kosproduk, waarvan wors, biltong en droëwors, filet, steaks, stowe vleis, maalvleis, frikkadelle, schnitzel en nog vele meer gemaak kan word.

 

10. Om bokke te jag vir vleis, is baie lekker!!

 

Bronne: stagison.com /  goodhouskeeping.com  / nutritionadvance.com

bottom of page