top of page

SA JAGTER/HUNTER | Januarie-Februarie 2022 | Deur KARLA JANSE VAN VUUREN | Foto’s: GERRIE JANSE VAN VUUREN

MAAK 'N MIELIEBRAKKIE MET JOU KOEDOEWORS.jpg

Maak 'n mieliebrakkie met jou koedoewors

RESEP: KOEDOEWORS-MIELIEBRAKKIES (CORN DOGS)

 

Jy benodig: 

• 1 kg koedoewors 

• 12 sosatiestokkies 

• Sonneblomolie vir vlakbraai 

VIR DIE DEEG: 

• 1½ k fyn mieliemeel 

• 1¼ k koekmeel 

• ¼ k witsuiker 

• 1 e bakpoeier 

• ¼ t Spicegro FlavourBlastgeurmiddel (all-purpose) 

• 1¾ k karringmelk 

• 1 groot eier 

• 1 e sonneblomolie 

• 1 e heuning

SÓ MAAK ’N MENS:

Braai die koedoewors oor die kole tot gaar. As die wors in ’n spiraal opgerol is, rol dit oop en knyp worsies van omtrent 10 cm af. So nie, kan jy die wors in ’n toeknyprooster pak en oopsprei sodat jy reguit stukkies kan afsny. Laat die wors heeltemal afkoel (verkieslik oornag in die yskas) voordat jy dit in die deeg doop.

 

Gooi die olie in ’n groot pan (dit moet sowat 5-7 cm diep wees) en verhit tot 176 °C oor matige hitte (gebruik ’n digitale termometer om seker te maak die olie se temperatuur is reg).

 

Steek ’n stokkie in elke wors. Om seker te maak die wors en sy stokkie sal steeds in jou pan pas, druk dit lekker diep in of sny die stokkie korter.

 

Klits die mieliemeel, meel, suiker, bakpoeier en sout saam. Meng dan die karringmelk, eier, olie en heuning. Roer die nat bestanddele by die droë bestanddele en klits deeglik tot goed gemeng. 

 

Gooi die deeg in ’n lang glasof maatbeker. Doop elke wors van bo af in die deeg. Draai dit in die rondte om seker te maak dis deeglik bedek en om te voorkom dat lugborrels vorm wat die deeg sal laat bars wanneer jy dit braai. Laat die oortollige deeg afdrup. 

 

Hou elke wors teen ’n 45 °Choek in die warm olie vir 5-7 sekondes om te seël (dit sal help keer dat dit aan die pan se bodem vassit) en laat dit dan versigtig in die olie val.

 

Braai vir ’n totaal van drie minute tot goudbruin – draai soos nodig sodat dit eweredig bruin word. Braai net twee of drie op ’n slag sodat die temperatuur van die olie nie te veel val nie.

 

Skep uit en dreineer op kombuispapier. Sit voor saam met die chakalaka-styl doopsous as ’n ligte middagete of ’n peuselhappie. (*Deegresep aangepas van natashaskitchen.com) 

CHAKALAKA-STYL PIKANTE DOOPSOUS

 

Jy benodig: 

• 6 groot, ryp tamaties 

• 2 e olie 

• 1 e botter 

• 2 uie, fyngekap 

• 2 knoffelhuisies, fyngekap 

• ½ t Spicegro FlavourBlastswartpeper 

• ½ t Spicegro FlavourBlastpaprika 

• ½ t Spicegro FlavourBlast fyn koljander 

• ½ t Spicegro FlavourBlast fyn komyn 

• 1 e vars Italiaanse pietersielie, fyngekap 

• Rissies, na smaak (opsioneel) – sade verwyder en baie fyngekap 

• 1 groot wortel, gerasper 

• 1 e vars koljanderblare, fyngekap 

• Sout en varsgemaalde swartpeper

SÓ MAAK ’N MENS:

Sny kruise aan weerskante van die tamaties en dompel in kookwater. Spoel ná sowat vyf minute met koue water af en trek die skille af. Kap die tamaties in blokkies.

 

Braai die uie in die olie en botter in ’n groot pan oor matige hitte. Voeg die knoffel, speserye en rissies (indien verkies) by en braai nog ’n minuut of twee tot geurig. Roer aanhoudend sodat dit nie aanbrand nie. 

 

Voeg die tamaties en gerasperde wortel by, verlaag die hitte en prut sowat 20 minute totdat die sous verdik. Roer elke nou en dan en voeg ’n bietjie water by as dit lyk of dit te dik word.

 

Proe en geur na smaak met sout en nog peper, indien verkies. Skep die helfte van die sous in jou voedselverwerker en meng tot glad. Roer dit by die res van die sous in die pan en verhit tot deurwarm. Roer die vars kruie by en sit voor saam met die mieliebrakke.

Lees ook hier

bottom of page