SA JAGTER/HUNTER | September-Oktober 2022 | Deur MELLIES

Jag sonder grense.JPG

JAG SONDER GRENSE

Doen jouself ’n guns en gaan jag op ’n plaas sonder grense.

 

In die derde kloof lig ek my verkyker tot teen my oë en dit voel of ek aan ’n elektriese heining vat soos ek ruk. Ek fluister vir Sniper dat ek ’n wit gesig en twee skottels sien. Sniper bevestig dit is ’n koedoekoei. Die Leica flikker en wys ’n ses, ’n een en ’n nul – die adrenalien begin sommer dadelik vloei!

 

Met ’n strategie in plek beweeg ons plat op ons knieë in trurat op ons spore en dan versigtig vorentoe op ’n klipbank tussen die bosse. Koedoes op oop plase verdwyn mos vinniger as ’n no. 13-spanner uit ’n werkswinkel. Opgewondenheid en geduld baklei woes in my binneste. Uiteindelik is dit opgewondenheid wat die oorhand kry en ek sleep my voete baie vinniger vorentoe as wat geduld dit sou doen. Op ons pense loer ons by die klipbank af, net om te besef dat die terrein ons om die bos lei.

 

Die koeie is nog ver vorentoe en nie reg onder ons soos ons vermoed het nie. Minute later vind ’n herhaling van vroeër plaas. Ek gewaar drie koeie in die troppie skuins onder ons in die digte plantegroei. Natuurlik laat ek my nie vertel die drie aantreklike dames is op hul eie nie. Elke boom, bos, skaduwee en klip word deurgekyk – weer en weer en weer en dan… “Daar’s hy!” skree ek kliphard vir myself. Ek beduie vir Sniper ek sien twee diep draaie van ’n koedoebul net-net bo ’n besembos op ’n krans oorkant ons.

 

Aan my regterkant is die kloof se ingang, reguit oos. Onder op die voet van die kloof gewaar ek jou wraggies nog ’n klomp bokke van dieselfde draaihoringspesie as dié reg voor ons. Om ons kanse op sukses te verbeter, stel ek voor dat ons eerder na die ander trop koedoes beweeg. Vir ’n man met ’n kolonie rooimiere in sy broek lê Sniper al geruime tyd doodstil en ek weet voor my siel dit is net ’n kwessie van tyd voor ’n skoot gaan loop.

 

Ek pleit by Sniper om my net ’n halfuur te gee sodat ek tot by die ander trop koedoes onder in die kloof kan kom en maak my skaars. Terwyl ek oor die rowwe terrein op die plato skarrel op pad na “my” trop koedoes, lig Sniper my oor die tweerigtingradio in dat daar nog twee koedoebulle saam met ou Diepdraaie is – ’n mooi volwasse bul, asook ’n jong een. Ongeag die ouderdom of horinglengte is dit goeie nuus.

 

Uitasem en opgewonde neem ek ’n gemaklike sitposisie in op ’n klipbank wat ook ’n trappie maak. Vanuit die hoek waarteen ek sit, gewaar ek vir Sniper, ’n halfdosyn koedoekoeie en Diepdraaie met sy twee trawante. Voor my kan ek die twee koedoekoeie van vroeër uitmaak tussen die bosse reg onder my, 310 meter weg volgens die Leica. Laasgenoemde word met

moeite hanteer weens die ruiter op sy windjie wat sedert die vorige dag met ons aankoms op die plaas al teen ’n stewige pas galop het.

 

Teen 4:30 die oggend begin Sniper en ek met voorbereidings vir die jagdag in die berge. Rugsakke met genoeg brandstof en vloeistof, asook roere word reggekry. Gedurende hierdie sessie verneem ons dat die ruiter nie meer alleen is nie. Ongekend aan die wintermaande, het drie musketiers – weerlig, donderweer en reën – by die ruiter aangesluit. Dan giet ’n donkerpers kombers reg rondom ons water op die aarde uit en sorg ook dat die son, wat jagters moet bystaan, ’n korter werksdag het. By die eerste hek drup dit nog saggies op die 4x4 se windskerm.

 

Twee hekke later, en ons is in die hoofpad onderweg na die berge. Twintig minute later op die klam grondpad, sleutel ek die elektriese hek se kode in by die plaas se netjiese sandsteeningang. By die plaasopstal skud ons blad en drink ’n vinnige koffie terwyl boerdery en roere bespreek word. Met die windrigting in ag genome, verduidelik die eienaar in watter klowe ons suksesvol sal wees. Ten spyte van groot opgewondenheid sal ek jok as ek sê dit is ’n plesier agter op die 4x4. Sniper en ek maak beurte om hekke te diens tot voor die steil berge. Die 4x4 word tot stilstand gebring, daar word na eerste rat, lae bestek oorgeskakel, en die V6-masjien neem ons (amper) doodstil en sonder moeite met die tweespoorpad tot heel bo.

 

Bo-op die berg stap ons met ’n wye draai sodat die wind in ons guns reg van voor is. Intussen het Spike ook opgedaag as ekstra hulp. Die eerste twee klowe het net rooiribbokke. Op die buurplaas staan ’n enkele ribbokram uit die wind, sy dik nek met oranje jas duidelik sigbaar. Dié bergbokkies bly darem mooi en het uitstekende vleis. Alhoewel rooiribbokke op die spyskaart is, wil ons eers vir ’n koedoe elk probeer, wat so drie klikke moeiliker is om te jag.

 

Bergjag bly maar ’n gunsteling, en met elke kloof wat voor my gaap of rant wat met die verkyker verken word, voel ek vooraf soos ’n kleuter met ’n lucky packet – ’n verrassing in die vorm van koedoes, rooiribbokke of selfs vlakvarke indien ek gelukkig is. As gevolg van die CCI250 se vonkie wat die N560 maak brand in die .300 Win Mag-dop en ’n 200 grein Nosler AccuBond deur die loop druk, weerklink ’n massiewe gedonder deur die klowe. En soos dit hot dogs gereën het toe Ouboet van Orkney Snork nie se hot dogwaentjie ontplof het, reën dit koedoes!

 

’n Grys streep van 12 vroulike en jong diere hardloop weg van die geraas af, bergop. Die twee bulle saam met Diepdraaie beweeg staan-staan weg van Sniper af. Laasgenoemde is nie saam met hulle nie. Sniper laat weet dat hy Diepdraaie geskiet het, maar die ou grote het blykbaar sy adrenalienpompie ingepak en is weer op die been, reg vir episode twee. Nietemin, die man hou mooi kop en ’n tweede skoot weergalm kort daarna...

 

Sniper is baie verlig en op pad na sy welverdiende koedoebul. Sy geskarrel tussen die digte plantegroei veroorsaak dat die twee jonger bulle spoed optel. Ek hoop met alles in my dat een van hulle sal onthou van ’n handrem wat tot hulle beskikking is sodra hulle by die onrustige koeie onder my aansluit. Ek voel hoe my skoene vol word van my moed wat sak, want die koeie skrik vir die bulle en die bulle vir die koeie. Koedoes het seker Brahmaanbloed, dink ek. Hulle skrik vir mekaar, vir hul eie ore en spring draad vir ’n grap.

 

Onder my is ’n trop koedoes wat nou hol. Tyd vir tel is daar nie. Svên (my 7mm-08 Rem of seven-em-em-oh-eight soos die Yanks sê) wil nog h’m en ha toe het ek hom onder sy pens beet en laat waai. Nie draf of drafstap nie, oopketel in ’n poging om die koedoes af te sny of darem te sien waarheen hulle in die volgende kloof beweeg.

 

Arme Svên klink soos ’n baba in ’n ou Cruiser op ’n sinkplaatpad soos hy skud. Voor my gaap die kloof waarheen ons almal gehardloop het. Daar is geen manier dat die trop ongesiens bergop is nie; dit is net té vêr. Hulle moet êrens onder my wees. Teleurgesteld en poegaai, lig ek weer die Leica en hoop ek het sekondes gelede iets gemis.

 

My droë keel wat fluit en pleit lawe ek met ’n geel energiedrankie en my bene rus, my sitvlak plat op die koue klip. Intussen laat weet Sniper hy is in my rigting op pad. Ek wou nog instruksies vir “plan B” deurgee, toe bars die groter bul onder my uit. Sy ratkas moet baie oud wees, want hy weet net van stop en overdrive.

 

Op 320 meter steek hy voor ’n groot donga vas en swenk na regs, weg van die vlakte af. Ek lê agter Svên en moet skuif-skuif soos hy voor my verbybeweeg. Op 250 meter (vinnig geskat) steek hy vas – plankdwars, neus omhoog en ore gespits... Ek konsentreer en mik laag op die blad. Die Leupold VX5 se verligte rooi rooi kolletjie is van groot hulp. Die 150 grein Nosler Ballistic Tip vlieg vir ’n halfsekonde en klap hard teen die mooi dier se linkerblad. Deur die teleskoop sien ek die regteragterbeen wat in die lug skop, kenmerkend van ’n hartskoot.

 

’n Paar treë verder slaan hy letterlik gat-oor-kop met sy voorpote wat onder hom padgee. Ek en Svên het hard gewerk en hy kon uiteindelik sy staal wys met presies waarvoor hy aangeskaf is – as bergjagroer. Ná sowat ’n uur sluit Sniper en die laaispan by my aan. Gelukkig is daar ’n pad 20 meter van ons af en laai die 12 hande my bul sonder moeite.

 

Om ’n lang storie kort te maak: Sniper se Diepdraaie lê nie naby ’n pad nie. Die naaste pad is van so ’n aard dat die karkas opgesny en na bo gesleep moet word. Nou ja, jagters wat al in dieselfde bootjie was, sal presies weet waarvan ek praat.

 

Die laaste dag is beide Sniper en ek ook suksesvol met ’n rooiribbokram elk, maar dit is ’n storie vir ’n ander dag. Doen jouself ’n guns en gaan jag op ’n plaas sonder grense – die grense van plesier en satisfaksie is ongekend.