BEL ONS | CALL US
E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Tel: +27 12 485 9382

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401

DOOIERUS | SA JAGTER/HUNTER | Maart 2020 | Deur HERMAN JONKER

BENTLEYS IN 

DIE BOSVELD

Kyk ’n bietjie rond wie jag deesdae. Kyk ’n bietjie watter soort stewels se spore lê in die jagveld. Kyk ’n bietjie watter rygoed laai bokke by die vleisverwerkers af. Kyk ’n bietjie die  pryse by Safari Outdoor. Wat is die gemene faktor?

En kyk dan ’n bietjie rond wie jag nié. Die grilleriges jag byvoorbeeld nie. Hulle jag nie self nie en dis seker hulle keuse. So ook die groeneriges. Hulle hou glad nie van jag nie, en dis natuurlik hulle goeie reg. En dan die armriges. Die armes kan nie jag nie, al wil hulle en al is dit ook hulle goeie reg. Want of ons dit wil weet of nie, jag het ’n rykmansding geraak.

 

In hierdie land kan enigeen wat wil, vir hom ’n bekostigbare permit uitneem en dan wettig sy kwotatjie kreef of vis gaan vang. Die see en sy skatte is gratis. Ander kostes sal daar wel wees, maar dis gering in vergelyking met wat dit kos om ’n jagplaas te betree.

 

Maar wat doen ’n arm man as hy ’n bok wil jag? Daardie nederige broodwinner in die lokasie byvoorbeeld, wat voor sy plakkershut sit en verlang na sy kinderdae in die oop veld, op die spore van sy eie vleis. Weliswaar was dit miskien met hond en kierie agter hase aan, maar hy’s steeds ’n jagter in murg en been, net soos ons. Waar kan hy wettig jag? Kommersiële jag kan hy nie eens naasteby bekostig nie. Hy kan maar net droom van wat ons doen. Waar kan só ’n man jag, ’n man wat dankbaar is vir ’n tuinwerkie en bly is oor ’n brood? Wat kan hy jag? Waarmee? Hoe?

 

Of die pensionaris met sy netjiese Nissan1400-bakkietjie, wat in 11de laan agter diefwering en Vibracrete woon. Daar waar hy by sy duiwehok in die agterplaas sit, onthou hy sy jongdae van loop en bosbok soek by Blombos. Hy sit en verlang steeds na die geurigheid van die melkhoute en die drup-drup van die mis en die roep van die bokmakierie. Vir hom voel dit asof hy destyds ’n deel van sy siel agtergelaat het in daardie ruigtes.

 

Daardie oompie het die ou .303 wat hy van sy oupa gekry het, later maar verkoop. Hy kon dit nie meer bekostig om te gaan jag nie, nie met drie meisiekinders vir wie se geleerdheid hy moes spaar nie. Nou is dit al jare dat hy net herinneringe het om te koester. Waar kan só ’n man jag?

 

Ek weet, ja. Jag is besigheid. Dis vraag en aanbod – daar’s ekonomiese beginsels aan die werk. Wildvleis eis sy pond vleis want insette is hoog. Die jagbedryf is nie die welsyn nie. Maar steeds: Waar kan ’n arm man jag? Want die jagtersinstink is tog sterk in talle van ons, ongeag ons inkomste, en dis ’n jeuk wat gekrap wil wees. Waar’s die alternatiewe roete vir ’n landsburger wat nie toljag kan bekostig nie? Hoe moet hy maak om sy burgerlike kwota biltong te bekom?

 

Sekere ander lande het jagareas op staatsgronde waar landsburgers beheerd kan jag. Soms is dit volgens ’n lootjiestelsel en die aanbod is dikwels beperk, maar dit is meestal bekostigbaar. Hier by ons weet ek van enkele provinsiale reservate wat jagpakette aanbied, maar is daar enigiets wat werklik vir die arm jagter toeganklik is?

 

Al wat ek sien in antwoord op hierdie vraag, is die optrek van skouers. Is dit dan enige wonder dat armes hul jaghonger uitleef met strikke en honde? Kan ’n mens ’n spoorwegpensioenaris blameer as hy onwettig vir hom ’n steenbokkie langs die pad skiet met ’n blink ou seloentjie?

 

Vir die bedryf, asook volhoubare jag in die breë, sal dit rampspoedig wees as jag uiteindelik vereenselwig sou word met ’n uitgelese groep bevoorregtes. Dit sal lei tot bitter vervreemding tussen jagters en die algemene publiek. Eintlik is dit reeds aan die gebeur. Kyk maar net die woedende reaksie in die media wanneer die kollig val op een of ander ryk oorsese trofeejagter.

 

Welvaart is iets waarna almal strewe, maar dit is nie elkeen beskore nie. Daarom sal daar altyd afguns wees onder dié wat minder het. Daar is ook ’n verwante aspek: So afstootlik soos sukkelende armoede vir ’n ryk man is, net so vulgêr kan rykes se vergrype vir ander wees. Jaag jag in die eksklusiewe kamp in, dan kan sy openbare beeld net skade ly.

 

Daarby moet ’n mens ook nie die simboliek van wildheinings miskyk nie. Hulle trek lynreg ’n streep tussen dié wat het en dié wat nie het nie. ’n Sigbare grens tussen dié wat mag jag en dié wat nie mag jag nie, tussen oorvloed vleis en honger. Die snykant hiervan het ons nog nie beleef nie. As jag ’n politieke speelbal moet raak waarmee populistiese leiers die armes opsweep, sal selfs geëlektrifiseerde heinings nie genoeg wees om die bokke binne en die gepeupel buite te hou nie.

 

Jag het sy oorsprong in die vrye natuur gehad. Tradisioneel het dit iets in die pot besorg vir Jan Alleman, ook vir dié wat niks anders kon bekostig nie. Maar nou beweeg dit na ’n eksklusiewe rykmanstydverdryf. Hierdie migrasie bekommer my. Wat inkomste betref is ons een van die mees ongelyke lande ter wêreld. Wat diere betref, een van die mees geseëndes. Solank hierdie twee uiterstes in die jagveld kopstamp, voospel dit niks goed vir ons natuurerfenis óf ons jagtoekoms nie.