top of page

EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 4 Junie 2020

SÓ BRAND JOU VUURTJIE WARMER

Vir die meeste jagters is langs ’n vuur sit net so deel van die jagervaring soos die geweer en die bok. Sommige glo dat ’n mens ’n klein vuurtjie bou... dis die etiese en regte ding om te doen, sê hulle, want hout is nie ’n onuitputbare bron nie. Ander glo weer hoe groter, hoe beter, al moet hulle social distancing van die hitte toepas.

 

Hoe dit ookal sy, elke man is koning om sy eie vuur en het sy eie manier van doen. Kuier jy by ’n pel, vertel jy hom nie hoe om die vuur te maak nie, want so verdoem jy jouself tot kwaai vriendskap.

 

Almal weet ’n vuur het drie dinge nodig om te bestaan: suurstof, hitte en brandstof. Maar hoe pak jy die hout? Ons het onlangs dié vraag op ons Facebook-groep gevra. Party manne het gesê jy bou ’n “kraal” as jy wil braai en maak ’n “tent” as jy wil kuier. Een of twee ouens steek sommer die hele sak aan die brand, hulle gee blykbaar nie om as die plastiekgeur met dié van die bosveldhout meng nie. Maar die meerderheid was dit eens; om suksesvol kampvuur te maak, pak jy die hout in ’n reghoek soos ’n kraal of in die driehoek soos ’n tent.

​

Glo dit of nie, daar is al wetenskaplike navorsing gedoen oor wat die beste manier is om ’n perfekte kampvuur te bou, waarvan die bekendste studie een is wat deur die slim mense by Duke Universiteit in Amerika gedoen is. Die span navorsers het die verskillende maniere hoe mense kampvure bou ondersoek en gevind dat die beste vuur ’n piramide is wat onder so wyd is soos wat dit hoog is.

 

“Hierdie vorm is die beste manier om die regte hitte- en suurstofvloei in die vuur te verseker,” sê prof. Adrian Bejan, wat die studie gelei het.


’n Vuur word met suurstof gevoed deur die verskil in druk met die lug rondom dit. Soos wat die vuur brand bou laedigtheid hitte binne dit op, terwyl kouer hoëdigtheid lug die vuur omring. 

campfire-1493151033GIm.jpg
square-1433952906-1291094392910535269.jp

Die spoed waarmee die lug deur die drukdifferensiaal beweeg hang af van die digtheid van die lug wat dit omring, die gravitatiewe versnelling, die koëffisiënt waarteen die hitte uitsit, die temperatuur verskil en die hoogte van die vuur.

 

Bou jy dus ’n breë kort vuur, sal jy vind die vuur brand warmer as hy hoër is, of anders gestel, as jy ’n lang maer vuur gebou het sal hy warmer brand hoe korter hy raak.

 

Maar dit alles klink baie ingewikkeld, op die ou einde is jou instink om ’n “kraal” of “tent” te bou - soos wat die mens al van die oertyd af doen - gegrond op gesonde logiese denke wat toevallig gerugsteun word deur wetenskap.

 

So, daar het julle dit. Lekker braai!

bottom of page