EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 20 Desember 2019 | Deur DIRK STEYNBERG

’n Kort kursus vir onervare jagters

Toe ek ingestem het om as leermeester op te tree vir twee onervare jagters, het ek gewonder of ek nie alweer ’n verkeerde perd opsaal nie. Die eienaar van ’n bekende jagplaas het my kom sien en gevra of ek twee van sy goeie vriende, aan wie hy ’n paar gunste verskuldig is, sal uit neem vir ’n jag op sy plaas.

Ek sou hulle terselfdertyd moes touwys maak oor jag en die veld. Miskien omdat ek nogal gevly gevoel het, het ek ingestem, maar dalk was dit omdat hy my ’n vlakvark beloof het vir my moeite.

 

Die twee manne, André en Nico, was baie ywerig en het heelwat nagelees oor jag. Hulle het ook al ander jagters op jaguitstappies vergesel en dit het my laat moed skep. Die reëlings vir die voorgenome jag was grotendeels reeds getref. Ons sou die Vrydag op die plaas bymekaarkom, die belangrikste punte in die teorie bespreek en dan ’n paar skote met hul gewere skiet om te bepaal of hulle darem ’n kol op die teiken kan raakskiet.

 

OP DIE PLAAS AANGEKOM...

Na die skietbaansessie vertel ek die manne wat die belangrikste aspekte van jag is. Hoewel die elemente van die natuur onvoorspelbaar is, speel elke aspek van die natuur die hoofrol in die jagteater: die wind en die windrigting, die son en die skaduwees. Ek verduidelik hoe om geluidloos te loop, beklemtoon die belangrikheid van ’n gemaklike dooierus, die gebruik van skietstokke en die korrekte druk van die sneller. Die belangrikheid van wapenveiligheid kry baie aandag en ek demonstreer ook die regte manier hoe om jou geweer in die veld te dra.

 

Reeds vroegoggend is ons aan die gang en gereed vir die jag, maar André moet eers sy ligtekleur baadjie gaan omruil vir ’n donkergroene. Die twee gidse is op hulle pos en ek verduidelik vir hulle wat van hulle verwag word. Die jagters wil elk 'n bok skiet en die gidse moet sorg dat hulle darem nader as so 150 tree van die wild kan kom. Intussen moet hulle gedurig seker maak dat alle veiligheidsmaatreëls nagekom word. Ek verduidelik ook aan die twee gidse dat ons die onervare manne van die veld en die diere moet leer en dat hulle moet help waar hulle kan.

 

Die manne stap elkeen in 'n ander rigting terwyl ek koers kry na ’n vlei ongeveer 300 meter van die opstal. Volgens die gidse is dit ’n goeie plek om ’n vlakvark raak te loop. Ons spreek af om teen eenuur terug te wees by die plaasopstal.

 

PROBLEME MET DIE EERSTE BOK

Kort na my daag André by die huis op, duidelik nie baie gelukkig nie. Hy het wel sy bok gekry, vertel hy, maar dit was ’n gesukkel om naby genoeg aan die bokke te kom. Die wind het hul posisie telkens verraai en hy het baie gesukkel om saggies te loop, want sy stewels was nuut en te hard. Hy was ook maar ongeduldig want daar was nie ’n geskikte dooierus nie en hy moes van die skietstokke gebruik maak. Hy erken ook dat hy nie die kruishaaar van sy teleskoop kon kry om stil agter die bok se blad te bly nie. Toe het hy maar die sneller meer geruk as afgedruk. Tog, die bok het geval met ’n netjiese skoot!

 

’n Jagtog wat eindig met ’n bok in die koelkamer, is nie noodwendig ’n suksesvolle episode nie en die doel heilig nie noodwendig die middele nie. Die vraag kan nou gevra word, is die jagter tevrede en trots op hoe hy te werk gegaan het en kan daar iets positief uit sy optrede geleer word?

 

Terwyl ons regmaak om sy bok met die bakkie te gaan haal, stap Nico die werf binne, ook met ’n lang gesig. Hy het ’n bok gekwes en ons moet kom help. Gelukkig is daar ’n Jack Russel op die plaas wat juis vir die opspoor van gekweste bokke gebruik word. Ek kry hoop en die vyf van ons en die hond, wat met ’n tou vasgemaak is, spring weg die veld in. Gelukkig het die gids die plek gemerk en ons kry gou die bloedspoor.

 

Ek besef dis nou ’n goeie geleentheid vir nog ’n les en laat die jagters self die spoor volg terwyl ons die hond vir eers vashou. Soos die geluk dit wil hê, sien ons die bok waar hy so 250m teen die oorkantste rand met sy kop in ’n bos staan. Omdat die tyd min raak, skiet ek hom liewer en stuur een van die gidse om die bakkie te gaan haal. Terug by die plaashuis vertel Nico hoe sy jag verloop het. Ten spyte van die gekweste bok het alles redelik goed gegaan. Hy het ’n geskikte droë tak gekry om as dooierus te gebruik, maar het gesukkel om homself stewig agter die geweer in te kry. Die gids het toe met sy rug teen hom kom sit sodat hy die geweer kon stilhou en sy skoot kon inkry.

 

MY EIE PRESTASIE

Toe kom die vraag waarvoor ek bang was – het ek ’n vlakvark gekry? Ek beduie toe dat daar nie ’n spoor van die varke was nie en dat dit die rede is hoekom ek so gou teruggekom het. Wat egter werklik gebeur het, is dat daar wel ’n beer, ’n sog en drie opgeskote jonges was wat rustig, heeltemal onbewus van my, in die jong groen gras gewei het. Ek het op daardie stadium agter ’n bos inbeweeg en was so 70 meter van die varke af. Ek het op my sitvlak gesit en stadig, al sittende, agter die bos uitgeskuif totdat die varke oop en bloot in my sigveld was...

 

Ek sit toe in my geliefkooste posisie met my sitvlak op die grond en my elmboë op my knieë en maak reg om die beervark die ewigheid in te stuur. Maar die kruishaar wou nie tot stilstand kom nie. Ek het die bos voor my as dooierus probeer gebruik, maar dit wou net nie werk nie. Ek gaan lê toe op my maag, maar die kruishaar spring rond soos ’n kat op ’n warm plaat.

 

Gedurende al my jare as jagter het ek nog nooit bokkoors gekry nie, vandag lyk dit vir my het ek varkkoors – seker omdat ek nie voor hierdie jong manne ’n fout wou maak nie. Ek staan toe maar op en loop terug opstal toe...

 

NABETRAGTING HOU

Die dag se gebeure word bespreek en die mees ooglopende foute word uitgewys. Nico vertel dat sommige van sy vriende van ’n bakkie af jag. Op sy vraag of dit eties is, sê ek dat ek bakkiejag as ’n hulpmiddel in die veld sien, maar ek wil dit graag kwalifiseer en die verskillende redes waarom sekere jagmetodes toegepas word, verduidelik.

 

Party jagplase word ook gebruik vir toerisme en jag met ’n kamera en om hier onoordeelkundige jag toe te laat, kan tot gevolg hê dat die wild bang word vir die voertuie. Wat hier 'n oplossing mag wees, is om die voertuig ver van die wild te los en die jagters te voet te laat nader gaan. Op ander, baie groot en uitgestrekte plase kan die bakkie gebruik word om nader aan die diere te kom en dan te voet verder te volg. Laastens kan die bakkie gebruik word om liggaamlik gestremdes of ou mense wat graag nog ’n jaguitstappie saam met vriende of familie wil meemaak, te vervoer. Om tyd, of liewer die gebrek daaraan, as ’n verskoning vir bakkiejag te gebruik, is ’n argument wat nie waterhou nie. As jy in die gelukkige posisie is om die eienaar van ’n jagbesigheid te wees, behoort tyd nie ’n faktor te wees nie. (Die oes van wild is nie nou ter sprake nie.)

 

Ten spyte van al die teëspoed wat Nico en André gehad het, verkies hulle stapjag omdat hulle so deel kan voel van die natuur. En ek sal volgende keer twee keer dink voordat ek weer so ’n opdrag sal aanvaar.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon