WEBWEERGAWE | 2 Julie 2020
Beheer jou reuk in die veld só
Hoe belangrik dit is om jou reuk te probeer verdoesel en hoe effektief middels is wat jy aanspuit, is al dikwels deur jagters gedebatteer. Sommige glo vas daaraan, terwyl ander dink dis sommer nonsens.
Maar dat reuk gewis ’n jagter se grootste probleem is wanneer hy te voet jag, is gewis so. Natuurlik is die beste raad hiervoor om te sorg dat jy teen die wind in jag.
Glo jy egter daaraan om jou reuk te probeer neutraliseer het ons vir jou sewe wenke wat moontlik kan help (en wie weet, dalk maak dit op ’n spesifieke dag tog ’n verskil):
1. Gebruik reuklose seep om jou lyf en hare mee te was. Daar is heelwat seep op die winkelrakke beskikbaar wat reukvry is.
2. Bespuit jou hele lyf en alles wat jy saam met jou dra met ’n reuk-neutraliseerder. Een van die produkte wat tans verkoop word, is No-Scent.
3. Was jouself vroegoggend voor jy die veld instap van kop tot tone. Fokus op die hare, onder jou arms en ook die voete. Dit help nogal baie indien ’n jagter se hare lekker kort gesny is.
4. Gebruik koeksoda om jou tande mee te borsel en borsel ook jou tong goed. Koeksoda is bekend daarvoor dat dit reuke neutraliseer.
5. Hou jou voete vir 10 tot 15 minute in ’n bak met verdunde bleikmiddel (Jik) en besproei dit dan met ’n reukneutraliseerder.
6. Gebruik ’n reuklose deodorant om sweet te verminder en om te keer dat bakterieë jou sweet verander in die sweetreuk.
7. Trek elke dag skoon onderklere aan.
En hier is een laaste wenk:
Maak jou eie reukweerder deur dié resep te volg:
Meng twee liter water met een liter waterstofperoksied. Dis die goed waarmee sommige dames hul hare bleik. Gooi ’n koppie koeksoda by asook een ons (ounce) fyngerasperde reuklose seep.
Meng dit totdat alles opgelos is. Los die mengsel dan in ’n oop houer vir twee dae sodat die chemiese reaksie kan plaasvind. Wanneer dit in die permanente houer geplaas word, moet die prop effe losgemaak word sodat die gasse wat ontwikkel, kan ontsnap. Maak net seker dat die houer nie lek nie.
(Rean Steenkamp, SA JAGTER/HUNTER, Junie 2020)