VERKORTE WEERGAWE | SA JAGTER/HUNTER | Oktober 2015 | Deur KASSIE KASSELMAN
Noodsaaklike herlaaitoerusting
Begin deur jouself te vra watter funksies verrig moet word. Dit is altyd goed om van die eindproduk af terug te werk om sodoende die uitrusting wat nodig is te identifiseer en aan te skaf. Die vereistes wat aan die eindproduk gestel word, dikteer weer die eienskappe van die spesifieke gereedskap wat gesoek word.
​
As voorbeeld dien die kwessie van ’n pers (reloading press). Almal sal saamstem dat ’n pers ’n noodsaaklikheid is, maar watter pers sal die doel die beste dien?
Die doel van my eerste vraag aan ’n potensiële herlaaier is altyd om uit te vind vir watter wapens hy die ammunisie gaan laai. Indien hy net handwapens wil laai, maar nie in duur progressiewe masjiene wil belê nie, sal ’n O-raampers met ’n klein werksopening aanvaarbaar wees. Indien hy ook vir ’n .375 H&H Magnum wil patrone laai, benodig hy ’n pers met ’n groter werksopening en kragtiger hefboomkrag. Dieselfde benadering geld vir wanneer die skaal, kruitgooiers, matryse en die res van die toerusting gekies word.
Kom ons kyk eers na die primêre funksies wat verrig moet word sodat ons die noodsaaklike toerusting kan identifiseer. Tesame hiermee loer ons na die eienskappe wat van daardie toerusting verlang word om die herlaaier se huidige en toekomstige behoeftes te bevredig. Wat hy aanskaf, moet ook binne die perke van sy begroting bly.
NOODSAAKLIKE TOERUSTING
1. Kennis. Alhoewel hierdie nie ’n fisiese apparaat is nie, is my advies altyd aan voornemende herlaaiers om eerstens in kennis te belê voordat enige toerusting aangekoop word. Dis raadsaam om ’n GOEIE BOEK en/of VIDEO as verwysingsbron byderhand te hê om onsekerhede op te klaar.
2. Vorming van die dop. Hiervoor word die volgende benodig:
• ’n PERS om die dop in die matrys in te druk en weer uit te trek. Die pers moet groot genoeg en robuus genoeg wees om al die kalibers waarvoor dit gebruik gaan word te bedien. Sogenaamde “akkuraatheid” speel nie veel van ’n rol by die keuse van ’n pers nie, maar wel die kapasiteit en die manier waarop dit werk.
• ’n DOPSKOENTJIE om die doppie op die pers se drukstang vas te hou. Indien jy ’n pers kies wat nie dopskoentjies benodig nie, het jy nie hierdie stukkie toerusting nodig nie.
• ’n SMEERMIDDEL om te verseker dat die doppie met die minste moontlike wrywing en verwringing gevorm kan word. Maak seker jy kies die regte smeermiddel – hoëdruksmeermiddel vir groot bottelnekdoppe, wakse of droë grafiet/mika-poeier vir nekvorm of die aanspuit-tipe smeermiddel vir kort reguitwanddoppies.
• ’n Stel MATRYSE (reloading dies) om die dopvorming en die koeëlplasing moontlik te maak. Vir standaardkamergewere en vir algemene jag of baanwerk is standaard-matryse baie geskik, maar vir kompeterende skiet raak kompetisiestyl-matryse ’n oorweging, mits die geweer se spesifikasies die matryse kan ondersteun. Selfs pasmaakmatryse is deesdae beskikbaar.
3. Sny van die doplengte. Dit is van uiterste belang om doplengtes te beheer, vir beide veiligheid en akkuraatheid.
• ’n DOPSNYER wat verstelbaar is om die doppe se lengtes te beheer en die dop se bek haaks te hou met die lengte-as van die dop. Verskeie tipes dopsnyers is beskikbaar en almal werk goed.
• ’n ONTBRAMER om die gesnyde doppie se bek glad te maak.
• ’n SKUIFLINIAAL (calliper) om lengtes te bepaal. Omdat ons instrumente en mates gebruik uit lande wat die metrieke stelsel volg, asook uit lande wat imperiale mates gebruik, moet die skuifliniaal ’n selekteerbare skaal vertoon. Die digitale model werk gewoonlik die maklikste vir die herlaaier en voldoen aan die akkuraatheidsvereistes.
4. Voorbereiding van die slagdophuls. Die slagdophuls (primer pocket) en die vlamgat moet voorberei word om effektiewe en veilige ontbranding van die dryfmiddel te verseker. Hiervoor word die volgende toerusting benodig:
• ’n SLAGDOPHULS-SKRAPER (primer pocket uniformer). Dit verseker dat die nuwe slagdoppie wat gelaai word stewig in die huls pas en tot die regte diepte gelaai word.
• ’n VLAMGATSKRAPER (flash hole uniformer). Dit verseker dat die regte grootte van die vlamgat gehandhaaf word om konstante ontsteking van die dryfmiddel te verseker.
5. Afweeg van die lading. Dit maak nie saak of die herlaaier die ladings per volume of gewig afweeg nie, dit moet presies en konstant dieselfde gedoen word.
• ’n KRUITSKAALTJIE wat in greineenhede weeg tot die naaste eerste desimaal. Vir hierdie doel kan elektroniese skaaltjies en balkskaaltjies gebruik word. As jy net een skaaltjie kan koop, kies dan altyd die balkskaaltjie omdat dit die betroubaarste meting gee en die minste deur onsigbare eksterne invloede geaffekteer word. ’n Elektroniese skaaltjie is ’n nuttige aanvulling vir kruiskontrolering en vir die bepaling van onbekende massas.
• ’n KRUITGOOIER wat benaderde ladings skep. Hier kan meganiese kruitgooiers of elektroniese kruitgooiers, wat met elektroniese skale integreer, gebruik word. Die herlaaier se begroting sal dikteer watter stelsel gekies word. Onthou net dat elektroniese kruitgooiers van Eskom afhanklik is en kwesbaar is teen die wisselende stroomvoorsiening uit kragopwekkers.
• ’n KRUITDRUPPER om die benaderde lading af te rond wanneer meganiese kruitgooiers gebruik word. Dit is beter om ’n swaar drupper te gebruik wat vaster staan.
• ’n TREGTERTJIE om die dryfmiddel in die doppie te stort. Maak seker dat die tregtertjie se opening wel oor die dop se bek pas.
6. Skoonmaak van doppe. Toerustinggewys is daar baie opsies, solank die doppe net skoongemaak word voordat dit gevorm word. ’n Herlaaier se begroting dikteer gewoonlik watter metode sy behoeftes die beste pas:
• Doppe kan met die HAND skoongemaak word.
• Dit kan in ’n oplossing van seep, wynsteensuur, suurlemoensap en ander konkoksies, wat in water verdun is, GESPOEL word.
• Dit kan ook in TUIMELAARS skoongemaak word, hetsy die droë medium vibrasietuimelaar, die sonies/chemiese skoonmaker of die roterende tuimelaar met ’n chemiese konkoksie en vlekvrye staalpennetjies as medium werk.
7. Verpakking. Hier is twee belangrike items wat aangeskaf moet word:
• ’n DOPSTAANDER om die doppe regop te hou terwyl hulle in die laaiproses hanteer word. Jy kan een koop, of een uit hout of verwerkbare materiaal vervaardig.
• ’n AMMUNISIEKASSIE om die gelaaide patrone in te verpak.
TOERUSTING WAT AANGESKAF BEHOORT TE WORD
Die toerusting wat hierbo gelys word, is volgens my die minimum om patrone korrek te laai. Wanneer die funksionaliteit van die patroon egter verbeter moet word, is daar bykomende toerusting wat jy sal moet aanskaf. Dit hoef nie noodwendig onmiddellik gekoop te word nie, maar dit voeg waarde toe tot die kwaliteit van die patroon.
• CHRONOGRAAF: Hierdie instrument wat koeëlsnelheid meet, stel die herlaaier in staat om sy ladings effektief te ontwikkel. Alhoewel dit nie fisiek vir die laai van die patroon gebruik word nie, is dit ’n onmisbare hulpmiddel vir die handlaaier en kan eintlik as ’n noodsaaklike hulpmiddel beskou word.
• ’N APPARAAT OM DIE DOPPIES UIT TE GLOEI:
Hierdie apparaat kan uit handmodelle bestaan, of dit kan ’n outomatiese uitgloeimasjien wees. Die gebruik van hierdie apparaat verleng die dop se lewensiklus en bevorder konstantheid in akkuraatheid.
• NEKSKILAPPARAAT: Om die potensiële konsentrisiteit van die patroon te verhoog.
• BINNENEKRUIMERS: Dit word gebruik om die verdikking aan die binnekant van die nek weg te sny om veiligheid en eweredige trompsnelhede te bevorder.
• HAND-SLAGDOPPLASER (HAND PRIMING TOOL): Ofskoon feitlik alle perse gebruik kan word om slagdoppies in die dop te plaas, vergemaklik dié slagdopplaser die proses aansienlik.
• KONSENTRISITEITMETERS (RUN-OUT GAUGE): Om doppies se konsentrisiteit te moniteer en om die finale gelaaide patroon te klassifiseer, word ’n konsentrisiteitsmeter gebruik. Hierdie apparaat is veral belangrik vir die kompetisieskuts of jagters wat oor lang afstande baie akkuraat moet skiet.
ANDER TOERUSTING
Sodra die handlaaier meer bedrewe word, sal hy toerusting benodig wat die laai van patrone makliker maak, of om die akkuraatheidspotensiaal van sy ammunisie vir spesifieke skietdissiplines te verbeter. Hierdie toerusting is gewoonlik hoogs gespesialiseerd en spesifieke behoeftes asook die herlaaier se begroting bepaal wat hy gaan aankoop.
HERLAAISTELLE
Herlaaistelle is gewoonlik ’n goeie begin, maar geen herlaaistel waarvan ek weet, bevat al die noodsaaklike items wat vir die basiese laai van ’n ordentlike patroon nodig is nie. Iemand wat begin laai, moet daarvan bewus wees dat hy die stel sal moet aanvul... sommige stelle meer as ander.