SA JAGTER/HUNTER | April 2015

Naby aan die hemel

Die Hartmann-bergsebra is vir my een van die ikone van ons jagvelde. Deur KOOS BARNARD

Ons het hoog geklim, ek en Eunia, totdat ons die Knapsakrivier ver onder ons deur die berge kon sien kronkel. Dit was winter en soos die meeste riviere in Suid-Afrika was die Knapsak droog. En tog het dié rivier ’n hele aantal blink juwele oral in sy kronkels weggesteek – helderblink waterpoele wat spieëlglad in die diep voue van ruwe klowe lê en skuil het.

Vanaf ’n nekkie naby die kruin van die berg was die uitsig pragtig en ons het vir lang minute net doodstil gesit en die skoonheid van die bergwêreld ingedrink. Toe hoor ek dit... die fyn gekletter van klippe wat liggies versteur word. Ons het begin soek en oomblikke later die troppie Hartmann-bergsebras gesien wat asof uit die niet verskyn het. Hulle was skuins bokant ons en duidelik op pad af na die diep kloof wat die Knapsakrivier met eeue se geduld gekerf het. Daar was ’n vul onder die troppie en soos hulle nader beweeg het, kon ons hoor hoe een of dalk meer van die grotes by tye saggies runnik. Dit het amper soos ’n soort gerusstelling geklink, so asof die grotes die vul wou aanmoedig om die ruwe terrein baas te raak en hom gerus te stel dat hulle daar is om die pad te wys. Ons het vasgenael gesit en kyk hoe die troppie minder as 100m bo ons verbybeweeg en in die kloof af verdwyn. Hierdie klompie was veilig, want ek het reeds vroegoggend ’n sebra geskiet.

Die Hartmann-bergsebra is vir my een van die ikone van ons jagvelde. Seker omdat ek die geharde diere in die ou Suidwes, my geboorteland, leer ken het – in die Khomas Hochland waar oom Hugo Kritzinger geboer het. Ek was toe nog ’n jong kannetjie en kon hulle dus nie self daar jag nie, maar oom Hugo het verskeie kere vir ons van hulle biltong gegee en dié was vrek lekker. Ek sou graag een van hierdie streepdonkies in hul natuurlike gebied wou jag, maar dinge het net nooit so uitgewerk nie. Verlede jaar het ek egter die geleentheid gekry om ’n Hartmann naby Philippolis in die Vrystaat te jag. My bestemming was Otterskloof Private Game Reserve wat aan Abel Erasmus behoort. Hy is die man wat die oorspronklike Wintershoek Safari’s begin het (dis suid van Kimberley geleë) en later dié plek aan die regering verkoop het. Vandag staan die ou Winters- hoek bekend as die Mokala Nasionale Park. Toe Abel Wintershoek agterlaat, het hy Ot terskloof bekom wat 14 000ha groot is en gedeeltelik aan die Vanderkloofdam grens.

Die topografie van Otterskloof is divers – dit bestaan uit wye, oop vlaktes, ranteveld, droë lope met digte bos en dan die bergveld hoe nader jy aan die Vanderkloofdam beweeg. Laasgenoemde met sy hoë koppe, berge en diep klowe waardeur die Knapsakrivier moeisaam beur, is veral vir my pragtig. Abel het jare gelede ’n klompie Hartmann-bergsebras op Otterskloof gevestig en hulle het met rasse skrede in getal toegeneem. Dis nou wel nie Suidwes nie, maar Otterskloof is só pragtig dat ek glad nie omgegee het om my bergsebra daar te jag nie.

Eunia Barnard by een van die damme op Otterskloof.

Ek en Eunia het vroegoggend op Otterskloof aangekom en is na ontbyt dadelik na die 300m-skietbaan toe om te kyk of my gewere nog skiet waar ek mik. Vir die sebra het ek besluit om my .30-06 te gebruik en ek het dié ou sanna met 110gr Barnes TTSX-koeëls gelaai. Dis ’n ligte koeëltjie vir so ’n groot dier, maar ek het baie vertroue in my .30-06 en weet uit ondervinding dat dié Barnes-koeëltjie uitstekend penetreer. As ek dus die groot skouerbene vermy, was ek seker dat die 110-greiner sy werk sou doen.

Op 200m het die Barnes’e, wat die loop teen 3 000vps verlaat, mooi gebondel. Ek was tevrede en ons is veld toe... berge se kant toe. Otterskloof het geen binnedrade nie, dus loop die wild net waar hulle wil. Die grootste uitdaging sou dus wees om die sebras betyds op te spoor, aangesien ek slegs twee jagdae tot my beskikking gehad het. Ons het lang ure agter die verkykers deurgebring, ver gestap, weer gesoek met die verkykers en weer gestap. Maar van die bergsebras was daar geen teken nie. Dit was reeds laatmiddag toe ons moeg en effens voetseer weer by die bakkie aankom. Alhoewel ons nie suksesvol was nie, het ons die dag terdeë geniet en verskeie diersoorte gesien – koedoes, swartwitpense, blouwildebeeste, waterbokke, blesbokke, springbokke en duikers. En die natuurskoon was van so ’n aard dat ek by tye skoon vergeet het om te jag... ek wou net sit en kyk en kyk. Daardie aand het ons ’n nuwe strategie beplan. Ek sou die volgende dag donkeroggend alleen veld toe gaan. Met sonop wou ek reeds hoog teen een van die berge sit en met die verkyker soek.

Die Ford Ranger se ligte het die pad gewys toe ek sy neus skuins na ses veld toe wys. Op pad na die afdraaipad wat jou deur die berge neem, ry jy langs ’n operige vlakte met ’n groot gronddam verby. Dis ’n paar kilometer van Otterskloof se hooflodge waar ons gebly het en in die vuil skemer het ek skielik ’n aantal groot diere regs van die pad (die dam se kant) opgemerk. Ek het stilgehou en my verkyker uitgehaal... die Leica het die vuilgrys uit die oggendskemer geneem en ek kon duidelik waarneem dat die nege diere op die vlakte ’n troppie bergsebras was. Hulle was van die dam af Bergsebraspore en -hoef – die .30-06-patroon verleen skaal. op pad terug na die berge toe aan die linkerkant van die pad. Terwyl ek hulle dophou het die klompie begin hardloop, die tweespoorpad sowat 50m voor my gekruis en koers gekies berg toe. Aan die voet van die berg het hulle gestop en daar minute lank getalm voordat hulle die steilte stadig begin klim het. Dit het nou vinnig lig geword en soos hulle hoër klim, kon ek sien dat die sebras ’n goedgebruikte voetpad gebruik wat na ’n nek toe lei. Eens daar, het hulle tydsaam gedraal en toe uiteindelik oor die nek verdwyn.

Teen hierdie tyd was my geweer al uitgehaal en die magasyn vol patrone. Ek het begin drafstap na die berg toe wat seker so 300m van die bakkie was en toe met mening begin klim. Skaars halfpad teen die helling op moes ek eers rus. Klim stadiger, het ek myself gemaan. As jy oor die nek loer en die sebras is binne skietafstand, gaan jy te uitasem wees om te skiet. Dit het langer geneem as wat ek gedink het om die nek te bereik, want die helling was steiler as wat dit gelyk het. Met ’n asem wat erg stoomtrein, het ek plat gaan sit en die helling onder my bestudeer. Daar was ’n breë kloof voor my en aan die verste kant daarvan ’n hoë rant. Na regs het die kloof nouer geraak en tussen die hoë rant en die berg waarop ek gesit het, verdwyn. Die voetpad wat die sebras gevolg het, het na regs gedraai en skuins teen die helling af gelei na die deel waar die kloof tussen die rant en berg verdwyn. Ek het die kloof op en af gefynkam, maar kon niks sien nie.

Verder regs van my het die skouer van die berg en hoë bosse dit moeilik gemaak om die hele kloof te sien tot waar dit tussen die berge verdwyn. Die sebras se vars spore het gewys dat hulle al met die voetpad bly stap het, dus het ek na ’n paar minute versigtig met die paadjie langs begin aanstap. Na skaars 50 of 60 treë het ek drie rooibokke net onder die paadjie sien staan. Dit was nou al lig, met die eerste sonstrale wat begin lek-lek het aan die berge bokant die kloof. Ek was nog in die skaduwee en die rooibokke het my dalk nie goed geïdentifiseer nie, want hulle het op skaars 100m doodstil na my staan en kyk. Al wat ek kon doen, was om te gaan sit en te wag. Hardloop hulle, sou dit die sebras, wat ek gehoop het nog iewers onder in die kloof was, beslis waarsku.

Die Hartmann-bergsebra wat Koos Barnard op Otterskloof gejag het.

Na wat soos ure voel, het die drie rooibokke geluidloos, maar betreklik vinnig na links teen die helling begin afstap kloof se kant toe. Dankie tog! Ek is weer met die voetpad langs en na ’n verdere 100m of so kon ek die hele kloof mooi sien tot waar dit verdwyn. En daar, amper waar die kloof om ’n bergpunt verdwyn, het ek vyf sebras sien staan. Hulle was houtgerus. Daar was genoeg bosse om my te verberg as ek gebukkend sou loop, dus het ek so vinnig as moontlik nader beweeg om die afstand tussen my en die sebras te laat krimp. Ek het kort-kort gestop om te kyk of hulle nog daar is.

Toe ek weer stop, sien ek dat vier van die vyf begin aanstap het en op die punt was om om die punt van die berg te verdwyn. My moed wou net in my skoene sak toe ek tussen die bosse deur die res van die troppie heelwat nader aan my onder in die kloof opmerk. Ek het plat op my boude gaan sit en so vinnig en geluidloos as moontlik aangeskuifel. My mikpunt was ’n groterig klip langs die voetpad vanwaar ek gehoop het om die oorblywende sebras goed in die oog te kry. Van daar af sou die afstand ook onder 200m wees.

By die klip aangekom, het ek my kort skietstokke vinnig oopgevou. Toe ek die geweer oor die stokke sit het die sebras luiweg begin aanstap. Ek het hulle dopgehou... heel agter was ’n hings en ’n mooi groot merrie. Die merrie het skielik vasgesteek, die hings het verby haar gestap en spoedig agter ’n paar bosse verdwyn. Die merrie het nog sowat vyf tree gegee en toe skielik plankdwars gedraai.

Ek het eers ’n breinskoot oorweeg, maar toe daarteen besluit. Maak ek ’n fout, kon ek dalk met ’n kwesdier sit en in daardie berge is dit baie maklik om ’n sebra te verloor. Dus het ek die kruishaar net bo die naaste voorbeen se elmboog geplaas en toe dit mooi stil lê, het ek die sneller versigtig gedruk. Die Barnes het met ’n luide “dup” getref en die boggelrugsprong van die merrie het my vertel dat die koeël reg geplant was.

Sy het woes weggespring, maar ná skaars 10m skielik begin wankel, nog ’n paar wankeltreë gegee en toe neergeslaan. Ek het seker goed ’n minuut doodstil gesit, reg om weer te skiet, alhoewel ek geweet het dit sou oorbodig wees. Toe het ek opgestaan en stadig nader gestap om by haar te gaan kniel. Dit was skuins ná agt, net mooi ’n uur sedert ek die bakkie verlaat het. Die skietafstand was 162m.

Toe ek haar omrol, het ek die Barnes-koeël onder die vel van die verste blad sien bult. Ek het dit uitgesny en die perfek omgeklinkte koeël in my hemp se bosak gesit. Daarna het ek ’n paar foto’s geneem en by die sebra gesit totdat die hele kloof in son gebaai was. Toe is ek stadig oor die berg terug na die Ford toe om die werkers te gaan haal sodat ons my bergsebra kon laai. Ek en Eunia is middeloggend ’n ander berg uit waar ons die troppie sebras dopgehou het en later die middag het ek een van die reusevlaktes besoek waar ek ’n blesbok op 284m geskiet het, weereens met ’n 110gr Barneskoeël. Die aard van die vlakte het dit onmoontlik gemaak om nader te bekruip.

Die kenmerkende patroon van die strepe op die sebra se kruis – dié patroon is eie aan bergsebras.

Later in die jaar is ek weer Otterskloof toe. Hierdie keer om twee springbokke te skiet. Dit het my weer amper twee dae geneem omdat ek beide in oop wêreld bekruip het. Die eerste bok is op 143m geskiet en die tweede een op 201m. Vir hierdie bokke het ek weer my .30-06 gebruik, maar met 150gr Nosler AccuBond-koeëls gelaai.

Otterskloof bied luukse- en minder luukseverblyf in drie verskillende lodges aan. Ek en Eunia het onsself bederf en in die hooflodge gebly en glo my, die diens is puik. Die bestuurder, Henno Cronjé en sy span mense is vriendelik en behulpsaam. As jy soggens veld toe gaan, word daar vir jou ’n koelboks gepak met eet- en drinkgoed. Abel Erasmus en sy seun, Abel jr. wat ook nou betrokke is by Otterskloof, is mense wat aan hoë standaarde glo en die hele opset by Otterskloof getuig daarvan. Die slag- en koelfasiliteite is uitstekend en jagters kan hul vleis op die plaas laat bewerk, aangesien daar ’n slaghuis is wat deur Wynand Brits bedryf word.

Daar is altesaam 32 wildsoorte op Otterskloof en Abelhulle is ook betrokke by die teel van skaarswild en buffels. Ek het my besoeke aan Otterskloof baie geniet en beveel hierdie jagbestemming met groot vrymoedigheid aan. Daar, in die oop ruimtes en op die berge, daal ’n groot rustigheid oor my neer en voel ek werklik naby aan die hemel.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon