top of page
SA JAGTER/HUNTER | Augustus 2016

’n Jagmaat uit die Oosblok

Wanneer ’n geweer beter skiet as wat die jagter se vermoë is, dan word dit sommer gou-gou sy getroue jagmaat. Deur GERHARD VERDOORN

Gedurende die herfs van 2002 het die geweergogga my weer gebyt en het ek ’n ernstige geweerkoopinfeksie opgedoen. Om die koors te breek “moes” ek vir weke lank wapentydskrifte en Speer se herlaaihandboek bestudeer om te bepaal watter geweer en welke kaliber die antibiotika vir my ernstige siektetoestand sou wees.

Dit moes ’n doodmaak-platskieter wees wat die gaping tussen my .416 Rigby Ruger M77 Express en .270 Winchester Ruger M77 kon vul. Hoe nader die winterkoue gekom het, hoe meer het die .300 Winchester Magnum na die regte antibiotika gelyk. Die meeste groot vervaardigers bou .300 Winchester Magnums, maar ek het gereken die CZ met sy langer-as-gewoonlik 25.5”-loop sou my koors die vinnigste kon breek. Op ’n dag is ek toe na ’n “dokter” toe wat vir die uiters billike prys van R4 500 ’n voorskrif uitgeskryf het vir ’n CZ 550 Magnum in .300 Winchester Magnum. Wonderbaarlik het ek die infeksie daar en dan oorwin, my koors het summier gedaal en ek het stukke beter gevoel.

Die dag toe ek die nuwe CZ in ontvangs geneem het, het die geweer onmiddellik in my DNA ingekloon. Al was die Tsjeg nie so fyn uitgevat soos ’n Sako of Sauer nie, was dit steeds vir my ’n imposante geweer. Die kolf was van eenvoudige okkerneuthout en die balans baie goed, alhoewel sommige slimjanne my wou wysmaak dat die 25.5”- loop te lank sou wees. ’n Mens loop mos in wapenwinkels vele doktore van die wapenwêreld raak, manne wat net mooi alles weet. Dis juis die lang loop wat die koeëls ekstra woema gee en ’n spoedvraat soos ek sou veel eerder nog ’n duimpie of twee by die loop wou voeg as om dit korter te sny.

Die .300 Win Mag is met korrel en visier toegerus en ek moet toegee dat ’n CZ darem net mooier lyk met oop visiere al monteer ons almal deesdae slim kyk/mikgoed bo-op ons skietgoed. Die klassieke kolf het my egter baie gepla, want met die Leupold VX2 3-9x40-teleskoop moes ek my wang ongemaklik hoog oplig om deur die teleskoop te kon korrel. Dit het egter nie die CZ kluisgebonde gehou nie en ons het die Pelindaba-skietbaan gereeld besoek om geskikte ladings vir die .300 te vind.

Rietbok.jpg

Dis hoe ek gewoonlik met die CZ 550, .300 Win Mag skiet. As jy ‘n stabiele rus soos hierdie Harris-tweepoot gebruik kan jy met gemak op langer afstande skietGideon (regs) saam met sy seuns Piet en Cas by die buffel wat Gideon geskiet het.

As jy ’n .416 Rigby gewoond is, is die byt van dié .300 Win Mag niks meer as die van ’n lastige muskiet nie, so ek het geen probleme ondervind met die terugskop van die CZ nie. Dit was vir my interessant hoe die CZ se trefpunt met enige koeëltipe of -massa altyd in ’n vertikale lyn gehou het – daar was geen afwyking na links of regs nie. Speer se 200gr-skerppuntkoeëls, Hornady se 220gr-rondeneuse en selfs Lapua se 180-greiners het nooit van die vertikale lyn afgewyk nie. Soos te verstane, het die trefpunte se hoogtes verskil na gelang van die koeëls se massas, snelhede en ballistiese koëffisiënte. Op ’n goeie dag vanaf ’n skiettafel, wat my pa nog vir my gebou het, het die CZ met gemak vier koeëls in ’n 20mm-kol op 200m gegroepeer.

My eerste jag met die CZ was in die Breslau-privaatnatuurreservaat naby Pontdrift in Limpopo, wat een van my gunsteling- jagplekke is. Dit was toevallig ook my eerste onsmaaklike ervaring met loodkernkoeëls. Ek het die CZ met 220gr Hornady-rondeneuse gevoer wat voor 69gr S385 gelaai was, omdat ek gewoonlik die swaarste koeëls verkies. Dié pyle het die tromp teen 2 650vps verlaat. ’n Stewige rooibokram wat plankdwars op 120m gestaan het, het my eerste jagskoot met die Tsjeg op die blad gevat en spreekwoordelik stof uit die aarde geval.

Maar nog voor ek die geweer kon laat sak, het die ram opgevlieg... Gelukkig het my tweede skoot hom finaal geanker, al was my bewerasie baie erg. My onderkaak het amper die grond getref toe ek die pad van die koeël al op die blad langs kon volg, op met die nek tot onder die oor! Nodeloos om te sê, ek het net stukkies skrapnel van daardie koeël herwin. Gelukkig het die tweede skoot gepenetreer en die ram se binnewerke aan flarde geruk, wat ’n blitsige dood beteken het. Daardie insident het my uiters skepties oor loodkernkoeëls gelaat, alhoewel ek steeds Hornady se pille as baie akkuraat beskou vir gebruik op die skietbaan.

Ná Breslau is die Tsjeg saam met my Kalahari toe. ’n Hartskoot op ’n groot gemsbokkoei het die dier vinnig laat omdop, maar weereens was ek nie gelukkig met die loodkernkoeël se prestasie nie. Dit wat van die koeël oorgebly het, was nie noemenswaardig nie en die gemsbok se blad was een bloederige massa. Ek moes herbesin oor loodkernkoeëls en het weer gaan lees oor wat in die mark beskikbaar was. Die eerste pakkie Barnes TSX-koeëls wat ek in my lewe gekoop het was 200-greiners vir die CZ. Die Tsjeg het hulle met die aanmoediging van die 67gr S365 teen 2 833vps uitgespoeg. Op 160m het die Barnes’e binne 15mm gegroepeer. Van toe af het die rooibokke met eentonige reëlmaat geval, maar die skade met bladskote was erger as wat ’n leerlingblokman met ’n stomp byl sou kon aanrig. My geduld was op met vleisskade, loodkernkoeëls, ’n teleskoop wat ontoereikend was en die geweer se kolf wat nooit stewig teen my wang gedruk het nie.

Org Hamman vertel my toe van Jan Bondesio in Naboomspruit wat geweerkolwe bou. Jan het allerhande soorte inheemse hout gehad en aanbeveel dat hy die Tsjeg met drolpeer sou versier. Ses weke later was die kolf gereed en dié meesterstuk het my stoutste verwagtinge oortref. Die drolpeerkolf het die mooiste vlamme gehad, die afwerking was perfek en die wangstuk se hoogte presies reg sodat, as ek my wang teen die kolf druk, my skietoog 100% reg agter die oogstuk van die teleskoop is. Wat nog meer sin gemaak het was dat die CZ se gewig nou anderkant 13lb gedraai het. Ek hou van ’n swaar roer al eet die skouerband jou so ’n bietjie in die jagveld. Wat eens ’n redelik aantreklike geweer was, het ontpop in ’n pronkstuk. Met die nuwe kolf het die geweer net so goed, maar baie gemakliker geskiet as met die oorspronklike ene.

Rietbok.jpg

So lyk my CZ 550 in .300 Win Mag met sy pasmaakkolf van drolpeerhout wat Jan Bondesio gemaak het. Die geweer skiet baie akkuraat en ek gebruik meestal 200gr-koeëls (Barnes-X) in hom. Let op die Leupold-teleskoop.

Daar was nog die kwessie van ’n meer toepaslike teleskoop. Ek het uiteindelik besluit op die Leupold VX3-L 4.5-14x50 – die halfmaan in die voorste lens het beteken dat die teleskoop baie laag op die brug gemonteer kan word.

Met die daaropvolgende jag op Breslau het ek eers die aand op die plaas aangekom nadat ek inderhaas na ’n vergadering die teleskoop gaan optel het. Ek het die heeltyd ’n vae kommer oor die nuwe kolf en nuwe teleskoop gehad – sou dié kombinasie werk in die jagveld? In die lanternlig om die kampvuur het ek die teleskoop gemonteer en die nag met gemengde gevoelens kop neergelê. Die volgende oggend is ek weg skietbaan toe en na net twee skote was die koeëls in die kol op 50m. Die werklike toets was egter vanuit skerpskutterposisie met ’n Harris-tweepoot en die Barnes TSX 200gr-koeëls op 160m.

Tot my verbasing het vier skote ’n groepering van net oor die 12mm tot gevolg gehad! Dit was seker die beste groep wat ek in my lewe geskiet het en dit was ook my motivering om vanaf die tweepoot te jag. Op daardie jag het ek nege rooibokke geskiet, almal met nek- of kopskote. Sommige jagters sal my seker ernstig oor die kopskote wil berispe, maar dit was berekende skote na lang bekruiptogte met ’n akkurate geweer. My CZ het ’n wye aptyt en skiet feitlik alle ammunisie met goeie akkuraatheid. Al wat nie werk nie, is die 143gr-volmantelkoeëls wat PMP maak.

Nadat ek hoofsaaklik van die Harris-tweepoot af begin skiet het, het ek gemsbokke, springbokke, blouwildebeeste, rooibokke, blesbokke, rooihartbeeste en selfs ’n rooiribbok met die CZ gejag. Dr Krappies Els noem hom die “Meat Master” en met reg so, want as jy lyfskote skiet, is die bok so te sê klaar afgeslag en die vleis onbruikbaar verwerk. Plaas jy egter daardie kruishaar op die nek of tussen die oë, verseker die CZ onmiddellike sukses sonder enige vleisskade. Die voordeel van die .300 Win Mag met die vinnige Barnes TSX-koeëls is dat dit ’n baie goeie doodmaakeffek het, selfs al tref die skoot nie altyd die nekbeen presies nie. Ek weet ons redakteur sal seker aanbeveel dat die patrone na laer snelhede afgelaai moet word. Ek het egter nie ’n Magnum gekoop om met hom soos ’n swartkruitgeweer te skiet nie. Ek wil snelheid hê, uit en gedaan. Die bokke moet nie die koeëls sien aankom nie!

My reëls vir jag met die Tsjeg en myself is die volgende: Ek skiet slegs vanaf die skerpskutter- lêposisie met die geweer gesteun deur ’n Harris-tweepoot ongeag die terrein; ek gebruik slegs selfgelaaide ammunisie met Barnes TSX 200gr-koeëls; ek gebruik genoeg tyd om die wild te bekruip totdat die situasie die ideale skoot bied; as ’n bok dwars of skuins staan, skiet ek slegs ’n hoë nekskoot; as die bok reguit vir my kyk, skiet ek hom op die neusbrug net onder die oë; as die bok lynreg van my af wegstaan, skiet ek net waar die skedelbasis aan die nek koppel; laastens is ek nooit windgat oor ’n goeie skoot nie.

Die .300 Win Mag is kragtig genoeg om met al die bogenoemde skote dodelik te wees – die bokke val soos klippe. Ek beskou ’n kopskoot op ’n dier wat dwars staan as riskant en daarom is die hoë nekskoot my keuse as ’n veilige doodskoot. Dieselfde beginsels geld vir my .375 H&H-gewere asook my Remington Sendero in 7mm Rem Mag. Met die .223 Remington Ruger Varminter op springbokke en rooibokke moet ’n mens baie versigtig wees, want daardie klein pyltjie het nie naastenby die slaankrag van ’n .284-, .308- of .375-koeël nie. Die .223 is dodelik akkuraat, maar ek vat baie meer tyd met hom om ’n doodskoot te verseker as met die groter kalibers.

Rietbok.jpg

LINKS BO: Die .300 Win Mag-patroon (derde van regs) saam met ander kalibers (vlnr): .454 Casul, .44 Mag, .357 Mag, .223 Rem, .300 Mag, .375 H&H en .416 Rigby

Of alle CZ’s soos myne is, sal ek nie weet nie, maar my geweer het geen haakplekke met verskillende ammunisie nie. Die geweer skiet beter as wat my vermoë is en as ek ’n skoot misskiet (wat wel soms gebeur) is dit die Afrikaner se skuld en nie die Tsjeg s’n nie. Sal ’n mooier of duurder .300 Win Mag beter vaar? Ek twyfel. In die kluis is dit die geweer wat die meeste bokke huis toe gebring het, bloot omdat ek hom al langer as die ander (behalwe die 416 Rigby en .270 Win) het en omdat ek die geweer 100% vertrou.

As ek vreemde jaggebied invaar is die Tsjeg altyd my eerste keuse omdat hy baie verder as die twee .375-gewere kan bykom, hy hard genoeg slaan om enige dier vinnig grond toe te bring en sy balans perfek vir my is. Hy is swaar en werk my gal in die veld, maar as die Tsjeg eers vasgetrap het op sy tweepoot, is hy soos ’n GPS-geleide missiel. Ek steek my minder goeie skietvaardighede agter my Oos-blokmater weg en hy faal my nooit nie. Ons het al lekker saam gejag en die kolf het al heelwat skrape en krappe opgedoen, maar dit gee die CZ net meer karakter. Op die skietbaan gebruik ek deesdae Hornady se 208gr A-Max-koeëls. Hulle wikkel teen 2 780vps met 69gr S365 as aandryfmiddel en is baie akkuraat. As ’n mens jou oë toeknyp vir die growwe afwerking van die Tsjeg is daar bitter min fabrikate wat by hom sal kan kers vashou.

Die idee van ’n .300 Weatherby Magnum in ’n Weatherby MkV Accumark RC-geweer staan my baie aan, maar ek hoop met dié artikel het ek myself oortuig dat dit ’n lawwe idee is. Wat my ou Tsjeggiese maat nie kan doodkry met goeie ammunisie en goeie skootsplasing nie, gaan ’n Weatherby ook nie doodkry nie. Ek hoop maar net ek luister vir myself...

bottom of page