EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 13 Augustus 2019 | Deur CASSIE NIENABER
Die herlaaier se 10 gebooie
Baie jagters en sportskuts verkies om self hul ammunisie te laai omdat hulle 'n lading vir hul spesifieke gewere kan ontwikkel wat meer akkuraatheid verseker. Die herlaai van ammunisie is 'n fyn kuns wat tegniese kennis vereis en ons het Cassie Nienaber van Mamba Reloading gevra om sy Tien Gebooie van herlaai met ons te deel.
Hierdie gebooie oorvleuel en ondersteun mekaar dikwels.
1. VEILIGHEID
'n Wapen en ammunisie is ontwerp om dood te maak. Wees dus wakker en werk versigtig sodat jy nie jouself beseer of erger nog jou eie dood veroorsaak nie. Moet NOOIT spoed najaag nie.
​
2. PASOP VIR HOORSÊ
Onthou, in die land van die blinde is eenoog koning. Kies jou bron van inligting met oorleg. Alles wat jy lees of hoor, is nie noodwendig waar nie, veral op sosiale media. Hou by betroubare bronne waarvan jy doodseker is jy die inligting van kan vertrou.
​
3. HERLAAITABELLE
Die belangrikste bron is altyd die herlaaitabelle van die verskaffer van jou dryfmiddel (kruit). Hou by hulle kriteria vir jou koeëlgewig en -tipe/ontwerp. Moet NOOIT hulle maksimum koeëlsnelheid oorskry nie. Dit is baie moontlik dat jy met minder meer kruit as hulle, die maksimum koeëlsnelheid kan bereik.
​
4. KENNIS
Hoe verrig jy enige werk of taak sonder dat jy behoorlike kennis het daarvan? Die beste bron is vervaardigers se handleidings, boeke, herlaai-DVD’s en UITGESOEKTE bronne op sosiale media en die internet.
​
5. UNIFORMITEIT
'n Baie belangrike hoeksteen vir akkuraatheid is uniformiteit of eenvormigheid van jou herlaaiprosedure en jou skiettegniek.
​
6. KIES JOU KOMPONENTE
Hoe meer uniform jou komponente, hoe groter is die kans dat jy goeie akkuraatheid kan behaal.
7. MEET OM TE WEET
Sonder meting het jy geen beheer oor die proses of resultate nie. Dit behels metings tydens die herlaaiproses die meet van jou gelaaide rondtes se koeëlsnelheid.
​
8. HOU REKORD
Sonder rekordhouding het jy ook geen beheer nie. Behoorlike rekords maak dinge baie makliker en veiliger.
​
9. AANVAARBARE AKKURAATHEID
Vervaardigers maak dikwels 'n groot storie daarvan as hulle geweer in staat is tot 1MOA (sowat 29mm @ 100m, 56mm @ 200m, ens.). Hulle doen dit sekerlik omdat 1MOA-groepe uitsonderlik is. Wees daarom baie dankbaar indien jy 'n geweer en ammunisie het waarmee jy 1MOA-groeperings skiet. Baie lope, geld en skouers is al op geskiet op soek na die ewig ontwykende alles-in-een-gat groepering, wat eintlik glad nie nodig is vir die meeste tipes skiet of jag nie.
​
10. GENIET JOU SKIET
Die meeste van ons het reeds genoeg daaglikse frustrasies, raak ontslae van alle frustrasies uit jou herlaai. Ontspan en skiet om dit voluit te geniet!
Vir alles oor herlaai besoek Cassie se webblad
011-425-0289 / 082-412-5344