EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 1 Augustus 2019 | Deur TINETTE MAREE

Toe kwes ek die verpeste bles

Emosies kan hoog loop wanneer ’n jag nie soos plan verloop nie.

Kyk, vroumense staan mos maar oor die algemeen bekend as emosionele wesens – die grootste en oudste raaisel vir die manlike spesie. En onthou, as jy nog nooit saam met ’n vrou in die jagveld was terwyl sy haar eerste bok kwes nie, het jy nog nie die totale omvang van “die vrou” beleef nie. Ek, die vrou, gaan jag mos so ’n paar naweke gelede saam met my professionele jagter (’n man wat ook reageer op die naam Pa) en nog een van die gesoute jagters in my lewe, my kêrel, Calvin. Die jag het plaasgevind naby Bronkhorstspruit in temperature net onder vriespunt. Om reeds teen sesuur die oggend agterop ’n bakkie te vertoef in sulke koue weer is klaar genoeg om die traankliertjies lekker te olie en, onwetend, sou ek die vreeslikste jagervaring nóg beleef.

Die plaas was mooi oop met enkele bome hier en daar wat dit darem so ’n bietjie makliker gemaak het om agter die troppe springbokke en blesbokke aan te trek. Ongelukkig was alles op die plaas wilder as die wildtuin. Elke keer wanneer ons binne skietafstand van die bokke was, laat spaander al wat vier bene het – alles behalwe ’n enkellopende elandbul, ’n maklike teiken, maar een wat blykbaar ’n bietjie buite die prysklas wandel waarvoor my pa begroot het.

Ná lang ure van agter die trop aanloop, bekruip en naderhand die bakkie gebruik as uitkoms, gewaar ons die blesboktrop in ’n oop kol in die middel van wat niks anders is as ’n paar bossies nie. Ons sou natuurlik later agterkom dat dié oopte uiters nadelig raak vir diegene wat agter ’n bok moet aansukkel wat vol adrenalien gepomp is. Die naaste wat ons aan die blesbokke kon kom was om en by 200m ’n afstand wat vir my, wat ten minste ses jaar gelede al my eerste bok laat val het, soos kinderspeletjies gelyk het.

Angstig staan ons al drie agterop die bakkie en besluit op die gunstigste wit blesbokram wat voor in die trop van ten minste 25 staan. Nadat ek doodseker gemaak het ek kyk na dieselfde ram as waarna my pa deur sy verkyker staar, lê ek aan oor die bakkie se raam en haal diep asem. My hartklop klink soos donderslae in my ore en die bekende opgewonde gevoel vul my hele liggaam... maar toe gebeur iets verskrikliks. My vinger voel stadig na die sneller en ek verwag, soos gewoonlik, die oorverdowende slag, maar niks. Eerste fout, ek het vergeet om die safe af te haal! Totaal gedisoriënteerd probeer ek maar weer.

Tinette se blesbok wat sy uiteindelik gekry het.

Aangesien “Ongeluk” klaar aan my deur kom klop het, het dié seker maar besluit om homself gemaklik te kom maak op my skouer, want die trop het uitmekaar gespat. Toe hulle uiteindelik weer besluit om stil te staan, lê ek ietwat onseker aan. “Pop, sien jy die een wat voor in die trop staan – hy kyk nou na ons toe en net links van hom is daar ’n ooi wat in die gras lê. Sien jy hom?”

“Ja, Pa.” ’n Paar sekondes later prewel my pa: “Oraait...” en ek wonder skielik van wanneer af my pa my vertrou met sulke uitdagende skote – waar die bok amper so oor sy skouer na jou loer. Ek blaas my asem uit en voel na die sneller. Ek weet wel nóú, terwyl ek hier skryf, dat my pa my nié met so ’n skoot vertrou nie en dat die ram waarna hy verwys het, ’n perfekte bladskoot gebied het.

My fout. Al wat leef en beef spat in verskillende rigtings toe ek skiet en my pa frons verontwaardig toe hy die bok sien wat sukkel-sukkel weghardloop. Dit alles bevestig ek het nou net ’n helse fout gemaak (en ook dat daar blykbaar twee blesbokke was met ooie wat links van hulle in die gras lê). Vreeslik ondersteunend herhaal Calvin elke paar sekondes: “Gee kans hy sal nou val...” Maar met die driebeenbok wat ’n lyn sny die verte in, moes hy toegee dat die arme ding wel nié nóú gaan val nie...

Die volgende twee ure het daaruit bestaan om ’n bok (wat klaarblyklik skielik beter met drie bene kan hardloop as met vier), agterna te sit en om my kalm te hou dat ek nie self besluit om die vlaktes uit te hardloop nie. My trane het klaar vlak gelê, maar toe my pa eers terug voorin die bakkie is, breek die damwal en ek huil só dat ek nie eers meer die driebeenbok kan dophou van die bakkie af nie.

Nadat ek hoog en laag gesweer het dat ek nooit, ooit weer aan ’n geweer gaan vat nie en ook elke ander moontlike opsie oorweeg het, het ek besluit om Calvin te oortuig om namens my te skiet en dan voor te gee dat dit ek was. My pa voorin die bakkie sou mos nie weet nie. Die mans het egter anders besluit en toe ek my weer kom kry, is ons te voet agter die bok aan. Kort voor lank lê ek gesig-in-die grond tussen die graspolle besig om te bekruip agter ’n moeë bok aan wat intussen genadiglik besluit het om te gaan lê. Tien minute later val my “ram” met ’n netjiese kopskoot. Ek was verlig oor my goeie skoot en ook baie bly dat die die bok uit sy lyding kon verlos.

Vreeslik opgewonde help my pa my op en ons stap terug na waar Calvin ons met die bakkie ontmoet. By die bok aangekom bekyk my pa die “gedierte” en nadat hy “die ram” (wat toe ’n ooi was) se agterbeen gelig het, kry hy so ’n skewe glimlag en sê: “Ons het beslis na twee verskillende “ramme” gekyk.”

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon