8 October 2026
Wildsosaties oor die kole
’n Geurige sosatie oor die kole is darem maar ’n liplek-lekker ding. Om jou eie sosaties te marineer en te braai en te sien hoe vriende smul, het sy eie soort bevrediging – DEUR KARLA JANSE VAN RENSBURG

Ek het elandsosaties gemaak met ’n fantastiese filet van Kings Meat Deli, en slagter Eloff du Toit het gehelp met ’n paar wenke om dit te maak: “Kies ’n goeie snit soos kruisskyf of sirloin. As jy ’n heel filet het, sny dit in die breedte in skywe en van daar in blokkies. Jy kan uit ’n snit soos ’n boud sosaties maak, maar dan gaan jy dit langer moet marineer. Met wildsosaties is dit ’n goeie idee om ’n dun stukkie skaapvet tussen die stukkies vleis te ryg om dit lekker klam en sappig te hou. Onthou om jou houtsosatiestokkies in water te week, anders gaan hulle aan die brand raak.”
Eloff sê sosaties is baie gewild onder vleisliefhebbers, want dit is so verbruikersvriendelik. “Dit is ook maklik om jou eie te maak, en ’n kerriemarinade bly maar ’n groot gunsteling. Die asyn wat gewoonlik deel is van die marinade maak die vleis lekker sag en die kerriesmake komplementeer die wild perfek. Dit kan ook help om daardie ‘wilde’ smaak te tem – dan is dit ideaal vir mense wat nie so gaande is oor wildsvleis nie. Eland, springbok, koedoe en gemsbok sorg vir uitstekende wildsosaties.”

Sosaties is so Suid-Afrikaans soos boerewors, maar ek het dit ’n Indiese kinkel gegee deur dit voor te sit saam met tuisgemaakte naan-brood en vars raita. Stroop die geurige, perfek gebraaide vleisblokkies van die stokkies af, vou dit toe in die vars naan en sit dit voor met ’n skeppie raita en van die kerriesous waarin die vleis gemarineer is. Eet dit dan soos ’n voupakkie – die souse gaan oor jou hande en teen jou ken afloop, maar jou oë gaan toegaan van die heerlik smul!
Om die sosaties te maak, het ek inspirasie gekry uit twee resepte: een uit Leslie van der Merwe se boek Everyday Venison, en die ander uit Annelien Pienaar se Vleis. Dit neem ’n paar dae om die sosaties behoorlik te marineer, maar die eindproduk maak dit alles die moeite werd.
Wat is makliker as ’n tuisgemaakte brood met net twee bestanddele? As jy lief is vir Indiese kos, ken jy hierdie sagte, geurige brood wat saam met kerrie voorgesit word. Dit is eenvoudig om jou eie te maak en boonop volgens jou smaak aan te pas.
JY BENODIG:
- 1⅓ k bruismeel, plus ekstra vir sprinkel
- 1 k suurroom
- 2 e olyfolie, vir bestryk
- Gekapte, vars pietersielie, vir garnering
SÓ MAAK ’N MENS:
- Plaas die meel en suurroom in jou elektriese menger se bak. Gebruik die deegbak en meng die bestanddele op medium-lae spoed tot gemeng. Skraap elke nou en dan die kante van die bak skoon sodat alles mooi kombineer. Verhoog nou die spoed en hou aan meng tot ’n gladde bal vorm (sowat twee tot drie minute).
- Sprinkel ’n bietjie meel op ’n skoon oppervlak, haal die deeg uit die mengbak en knie ’n paar keer tot glad. Vorm in ’n bal.
- Gebruik ’n skerp mes en sny die deegbal in agt stukke. Neem een stuk, sprinkel ’n bietjie meel aan elke kant en gebruik ’n koekroller om dit in ’n rowwe ovaalvorm uit te rol. As dit aan die koekroller vasplak, sprinkel nog meel op die deeg, jou hande en die koekroller.
- Sodra jy die deeg uitgerol het, bestryk die bokant van die deeg met olyfolie. Verhit ’n swaarboompan oor matige hitte. Sodra die pan warm is, plaas die deeg in die pan met die oliekant na onder. Braai vir twee minute of tot goudbruin aan die onderkant. Bestryk die bokant van die deeg met olie en draai versigtig om. Braai nog twee minute tot deurgaар en goudbruin. Haal die naan uit, plaas op ’n bord en bedek met ’n vadoek. Herhaal die proses met al die deegballe. Sit dadelik voor, of bêre in ’n lugdigte houer vir later.
(Aangepas van diethood.com)
RAITA
Hierdie Indiese bykos sorg vir ’n verfrissende varsheid wanneer jy iets met skop soos kerrie geniet.
JY BENODIG:
- 1,5 k ongegeurde, volroom-Griekse jogurt
- 1 klein rooi ui, fyngekap
- 1 klein komkommer, fyngekap
- ½ k koljanderblare, fyngekap
- 1 klein tamatie, pitte verwyder en fyngekap
- 1 t seesout
- ½ t varsgemaalde swartpeper
- 1 t suiker
- 60 ml koue water
- 1 t komynsade, vir garnering (opsioneel)

SÓ MAAK ’N MENS:
- Plaas die jogurt in ’n mengbak. Voeg die uie, komkommer, tamatie en koljanderblare by. Meng goed.
- Roer die sout, peper en suiker ook by en meng.
- Rooster die komynsade in ’n warm, droë pan vir ’n paar sekondes tot hulle effens donkerder is en begin knetter. Verwyder van die hitte en voeg by die raita.
- Roer die koue water bietjies-bietjies by terwyl jy liggies meng tot die regte tekstuur verkry is. Die raita moet dik en romerig wees. Bêre die raita in die yskas vir ten minste ’n uur of twee voordat jy dit voorsit sodat die geure kan ontwikkel. Gebruik binne drie dae.
(Aangepas van cookrepublic.com)
ELANDSOSATIES IN ’N KERRIESOUS
JY BENODIG:
(genoeg vir 8–10 porsies)
- 1,5 kg elandfilet, in 2 cm-blokkies gesny
VIR DIE MARINADE:
- 2,5 ml fyn knoffel
- 2,5 ml gerookte paprika
- 30 ml bruinsuiker
- 250 ml amasi
- 50 ml suurlemoensap

VIR DIE KERRIESOUS:
- 30 ml olyfolie
• ½ rooi ui, fyngekap
• 1 knoffelhuisie, fyngekap
• 2 cm vars gemmer, gerasper
• 5–10 ml kerriepoeier (of meer) na smaak
• 1 vars rissie, ontpit en fyngekap (opsioneel)
• 60 ml appelkooskonfyt
• 125 ml rooiwynasyn
• 15 ml bruinsuiker
• Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
VIR DIE SOSATIES:
- Houtsosatiestokkies, oornag in koue water geweek
• 150 g droë appelkose of perskes
• 2–3 sopies brandewyn
• 2 rooi uie, geskil, gehalveer en losgemaak
• 250 g groente van jou keuse (murgpampoentjies, soetrissies, sampioene)
SÓ MAAK ’N MENS:
- Meng al die bestanddele vir die amasi-marinade. Plaas die vleis in ’n groot plastieksak of glas- of erdeskottel en giet die marinade oor. Laat staan oornag in die yskas.
- Om die kerriesous te maak: Giet die olyfolie in ’n pan en soteer die ui. Voeg die speserye by en braai nog ’n minuut of twee. Roer die konfyt, asyn en suiker by en laat opkook. Verlaag die hitte en prut vir 5 minute. Proe en geur na smaak met sout en peper.
- Verwyder van die hitte en laat afkoel. Plaas oornag in die yskas.
- Die volgende dag giet jy die kerriesous oor die vleis in die marinade en laat dit vir twee dae verder in die yskas marineer. Roer elke oggend en aand deur. Die dag voordat jy die sosaties gaan maak, plaas die perskes of appelkose in ’n bak en giet die brandewyn en genoeg water oor om dit te bedek. Laat oornag week.
- Wanneer jy gereed is, ryg die vleisblokkies om die beurt met die groente en die perskes of appelkose op die sosatiestokkies. Behou die marinade.
- Braai die sosaties oor matige tot warm kole en draai gereeld. Die vleis met medium tot rou wees. (Ons het die sosaties in ’n toeknyprooster gepak en só gebraai; dit vergemaklik die proses aansienlik. Bespuit die skoon rooster met kleefwerende kossproei voordat jy die sosaties daarin pak.)
- Maak ’n sous met die oorskietmarinade: Plaas die marinade en die brandewyn-watermengsel waarin die perskes geweek het, in ’n kastrol. Verhit en laat opkook. Voeg ’n klontjie botter by en laat prut tot verdik.
- Laat die gaar sosaties vir 5 minute rus nadat hulle van die kole af kom. Giet die sous oor en sit voor saam met die vars naan en raita.
ALSO READ























