7 October 2026
Jagstorie: Op soek na ’n eenhoring
Die dag van eenhorings jag is vir ’n groepie manne soos ’n hedendaagse jagsprokie wat waar geword het – DEUR THINUS STEYN

David by sy afhoringkoedoe.
Die swartwitpensbul staan in die oggendson langs ’n groot olienhoutboom. Deur die verkyker lyk hy na ’n aanvaarbare trofee, maar dan draai hy sy kop. Hy het net een horing en Chris sien dit op dieselfde oomblik as ek. ’n Swartwitpens is nie op Chris of Dave, my kliënte, se wenslys nie, maar nou, naby aan die einde van die jag, begin beide jagters na ekstra diere kyk.
“What is the price for a one-horned sable?” vra Chris.
Ek gee hom ’n prys. Ek kan amper die ratte in sy kop hoor draai. Hy is ’n ruk stil, dan sê hy: “Let’s find that kudu first.”
Daardie koedoe is ’n uitdaging, soos groot koedoebulle maar is. Die jag was tot dusver baie suksesvol, maar ’n groot koedoebul ontwyk ons nou al vir sewe dae. Ons los die swartwitpens.
Dit is ’n koue suidewind wat waai; nie die ideale weer vir koedoejag nie. Maar Diana is ’n wispelturige meisie en ’n uur later sien Chris ’n mooi koedoebul in ’n kloof staan. Ná ’n kort maar uitdagende bekruipery, skiet hy sy bul.
Nadat die foto’s geneem is, sit ons op ’n koue rots en drink sterk, bitter koffie uit ’n vakuumfles.
“What are the chances of getting a big, one-horned kudu?” vra David uit die bloute.
Ek maak die som in my kop. Dit neem ’n koedoebul omtrent sewe jaar om trofeestatus te bereik. Daar is omtrent 300 koedoes op die reservaat, waarvan omtrent die helfte bulle is, sê maar 150 bulle in teorie. Teoreties (en teorie in dié geval is selde 100% korrek) behoort daar dus ±20 skietbare bulle te wees.
Hoeveel van hulle gaan toevallig ’n gebreekte horing hê? Ons het nou sewe dae gejag vir ’n tweehoringbul waarmee ons tevrede was. Wat is dus die kans dat ons ’n uitgegroeide eenhoringbul op ’n 20 000 ha-reservaat gaan kry?
Vir seker beter as om die mitiese eenhoringsdier te kry, maar nie veel beter nie. Miskien kan ons dan sommer ’n draak jag as ons klaar is met die eenhoring, dink ek. Ek wonder of dit eties is om ’n draak te skiet as hy sit, of moet jy hom in vlug skiet?
“Slim to none,” beantwoord ek die Amerikaner se vraag.
Maar agter in my kop knaag iets. Vroeër in die jaar het ’n ander oorsese jagter vroeg in sy jag besluit hy wil begin eenhorings versamel. Hy het ’n eenhoring-gemsbokkoei, ’n rooihartebeesbul met ’n misvormde horing en ’n groot koedoebul met een horing platgetrek.
Ons het sy koedoebul heel toevallig gekry, maar vroeër gedurende die jag het ons ’n ander eenhoringbul in ’n kom naby die Oranjerivier bekruip en dié het ons ontwyk. Ek wonder of dié bul nog in die omgewing is.

’n Jong eenhoring-koedoebul. Sommige jagters spits hulle juis op sulke trofeë toe.
DIE DAG VAN DIE EENHORINGS JAG
Daar is twee redes hoekom jagters eenhoringdiere of diere met misvormde horings wil jag. Die eerste is die behoefte om trofeë te hê wat anders is as die norm. Daar is jagters wat hierin spesialiseer, maar volgens my ondervinding is hulle redelik yl gesaai. Ek het egter al gehoor van veral Europese jagters wat bereid is om ’n hoë prys vir so ’n dier te betaal.
Die tweede is ’n meer praktiese rede. Baie boere en jagondernemers is bereid om volwasse, manlike diere met af- of misvormde horings teen heelwat goedkoper pryse te verkoop as wat hulle vir ’n trofeedier sal vra. ’n Mens kry dus ’n jag wat net so uitdagend, of selfs meer uitdagend is as om ’n trofeedier te skiet.
Ek stop die ou Land Cruiser ’n kilometer van die kom af. Ons rits ons baadjies toe en trek ons handskoene aan voordat ons begin stap. Dit is yskoud.
Op die rand van die kom gaan staan ons agter ’n yl doringbos en haal ons verkykers uit. Aan die oorkant van die kom, sowat 1,5 km weg, is ’n berg. Tussen ons en die berg, maar nader aan die berg, is ’n lae rantjie wat saam met die berg ’n klofie vorm. Daar staan ’n troppie koedoekoeie in ’n kol soetdorings, laag teen die berghang.
Dan flits iets in die klofie. Dit is ’n koedoebul in ’n ruie kol bome en ons hou hom amper ’n uur lank dop voordat hy beweeg. Wanneer die bul in die oopte instap, kan ek amper nie my oë glo nie – dit is ’n groot afhoringbul!
David is so opgewonde dat hy nie kan stilstaan nie. Ons gaan versigtig moet wees, maar ons kanse is goed; die bul gaan nie sommer in dié weerstoestande sy skuilplek in die klofie wil verlaat nie.
Ons sak in ’n vlak, blinde klofie af tot in die kom. Met die rantjie tussen ons en die bul kan ons nou redelik vinnig beweeg. Tussen ons en die rantjie is ’n strook soetdoringbome en ons loop ons vas in ’n klein troppie koedoes bestaande uit ’n jong bulletjie en vier koeie. Gelukkig sien ons hulle eerste. Ons beweeg terug en probeer ’n ander roete.
Ek trap amper op ’n duiker wat agter ’n bos skuil. Dit is moeilik om te sê wie die grootste geskrik het, maar gelukkig hardloop die bokkie nie in die koedoes se rigting nie.
’n Halfuur later loer ek versigtig tussen twee rotse op die rantjie se kruin deur. Die afhoringkoedoe is nie meer waar ons hom laaste gesien het nie. Vir byna ’n halfuur fynkam ons die klofie en berghang deur ons verkykers.
Ek besluit die bul is óf weg óf hy staan aan die klofie se kant teen die rantjie. Ek beduie vir David om die geweer te laai en hy stoot stadig ’n patroon in die loop.
Ons beweeg voetjie vir voetjie vorentoe oor die klipperige terrein teen die rantjie af. Elke twee tree stop ek om te kyk en te luister.
Links voor ons is ’n bos. Wanneer ek versigtig om die bos loer, staan die bul minder as 50 tree van ons af. Gelukkig kyk hy skuins weg van ons af. Ek skuifel versigtig tot agter die bos en beduie vir David om verby my te beweeg.
Hy loer om die bos en kyk dan vir my, sy oë so groot soos pierings. Daar is nie ’n manier hoe ons die skietstokke gaan kan opstel sonder dat die koedoe ons hoor of sien nie; hy gaan uit die vuis moet skiet.
Ek vorm ’n pistool met my voorvinger en duim en wys hy moet skiet.
Hy lê aan… Die veiligheidsknip klik onnatuurlik hard, dan verskeur die skoot die stilte in die klofie. Klippe spat en takke kraak soos die koedoebul wegspring.
Ek vlieg om die bos en sien die bul om ’n lae rantjie verdwyn. Langs my herlaai David. Ons beweeg vinnig maar versigtig oor die rantjie. Die afhoringbul lê net agter die rantjie.
Ons skud blad. Dan los ek vir David waar hy langs sy bul kniel om vir Chris te gaan haal en die bakkie te roep.
Chris besluit dat hy wel die eenhoring-swartwitpens wil hê terwyl dit dan nou so goed gaan. Normaalweg is ’n swartwitpens in ons area nie naastenby so moeilik om te jag soos ’n koedoebul nie.
Ons geniet rustig middagete terwyl ons die jag beplan. Daar is oral swartwitpense; troppe koeie, jong bulle en een reusetrofeebul, maar die afhoringbul is weg. Ek probeer Chris oortuig om die trofeebul te skiet, maar hy stel nie belang nie. Dit lyk of daar nou eenhoringkoors in die lug is.
Laatmiddag klim ons teen ’n rant uit. Die afhoring-swartwitpens staan ±500 m van ons af teen die hang. Ons gaan minstens 200 m nader moet kom, maar die wind waai amper reguit in sy rigting. Dan ruik of sien hy ons en begin stadig teen die rant af beweeg.
Ons stap amper ’n kilometer terug bakkie toe en ry dan ’n 5 km-draai om aan die regte kant van die bul te kom. Wanneer ons hom weer sien, is hy omtrent 800 m van ons af. Die wind is in ons guns en daar is ’n stroombedding wat ons kan gebruik om hom te bekruip.
Ons parkeer die Land Cruiser onder in die stroombedding en maak vinnig ’n plan. Langs die stroompie staan ’n groot kareeboom, sowat 200 m van waar ons laas die afhoringbul gewaar het. As ons ongesiens by die boom kan kom, behoort ons ’n skoot op die bul te kry.
Ons kruip teen die wal op tot by die boom, maar die swartwitpens is weer weg. Agter ons mompel David iets van muise en manne se planne.
Tien minute later gewaar Chris iets agter ’n bos verder teen die hang op. Dit is die bul; deur die verkyker kan ek net sy horing sien uitsteek. Hoe Chris hom raakgesien het, weet ek nou nog nie.

Chris by die eenhoring-swartwitpens.
Die bul is omtrent 400 m ver en daar is nog ’n bos omtrent halfpad tussen ons en die bok, effens laer teen die hang. Ons klim terug in die stroombedding en maneuvreer tot die bos tussen ons en die bul is, waarna ons weer begin bekruip.
Deur die ghwarriebos waaragter ons skuil, kan ons die swartwitpens se horing agter ’n bos sien uitsteek. Die bul is amper 250 m van ons af. Wanneer hy agter die bos uitstap, behoort ons ’n skoot te hê.
Gelukkig het die wind gaan lê. Ná wat soos ’n uur voel, begin die bul beweeg en hy gaan staan in die oopte. Uit die klap van die koeël weet ek dat die skoot te ver terug is.
Die bul verdwyn oor die kruin van die rant voordat ons ’n opvolgskoot kan skiet. Toe ons oor die kruin loer, staan die swartwitpens in ’n bos met sy lyf reguit weg van ons af. Hy is amper 100 tree weg en staan heelwat laer as ons.
Ek druk ’n patroon, gelaai met ’n soliede koeël, in my 9.3×62 se loop en ruil gewere met Chris.
“Shoot him on the root of his tail,” fluister ek.
Toe die skoot klap, hardloop die bul teen die steil hang af en verdwyn buite sig. Net daarna hoor ons hom val.
Die bul is reeds dood wanneer ons hom vind, maar ek laat die jagter hom weer skiet. Dan kniel ons uitasem langs hom. Die eerste skoot het die lewer getref en die laaste skoot was effens laag en links, maar het sy werk gedoen.
Dit is laatmiddag toe ons die foto’s neem en dan versigtig teen die hang afklim na waar die bakkie nou staan. Ons is moeg maar gelukkig.
Nie een van ons sal die dag van die eenhorings gou vergeet nie!
(Dié artikel het in die January-Februarie 2023-uitgawe van SA JAGTER/HUNTER verskyn)
ALSO READ
Die wat, waar en hoe van kleiner vlaktebokke-jag: Die springbok























