Koos se bospaaie | 5 Desember 2019 | Deur KOOS BARNARD

Wille vark

“Kola, het jy al met ’n wille vark slaags loop staan en raak?” So vra oom Martiens wyl hy oor sy blikbeker na die vlamme toe korrel.

“Wille vark Oom?” vra ek.

“Ja man, daai balielyfvarke metie sterte wat so kierts regop staan as hulle hardloop, wat noem julle die goed tog?”

“Vlakvarke?”

“Ditsem Kola. Verpesting se kontant-astrante wielneuste darie. Jy sal sweer hulle het notice van ou queen Victoria self gekry lat die hele veld aan hulle behoort.”

“Hoe so Oom?”wou ek weet.

“Jong,” sê oom Martiens, “dié vertel ek jou nou, sôre eers hier vir ’n knertsie, my beker se boom is droër as ’n boorgat in die Sinai-woestyn.”

 

Ek het die bottel geselswater oor oom Martiens se blikbeker gekantel en daarna my eie met koffie gevul. Na die eerste slukkie het oom Martiens sy oë bot toe geknyp, sy tong behaaglik geklap en toe skop sy gesels weer in rat.

 

“Kola, dit was ’n koue wintersmôre, depressiejare se tyd. So koud lat dit my smaak die son het ook metie depressie sy gat gesien. Ewen wel, jou pa en ek was aan’t jag dour skuins annerkant Windhoek op Karamba.   

 

“Ons het ’n klomp koedoes gewaar, maar hulle is vort teen ’n kliprant uit. Nou ja, jou pa was mos ’n besige entjie mens en hy wou opsluit agter die spul skottelore aan. Ek het maar agter gebly want my bene willie meer so lekker ghêrs change teen die skuinstes nie en my longe is ook al kaput. 

 

“Ek maak my toe maar sit voor ’n rosyntjiebos wat so skuins neffens ’n groot erdvarkgat staan. “Lekker sit ek toe daar innie melktand-sonnetjie en vat notice van alie klein gogga-goetertjies en voëltjies en so aan vannie skepping. Só ingedagte loop staan en raak ek van allie vrede in my hart lat ek sommer later die Mauser plat oppie grond langs my lat lê.

 

“Hoe lank my gedagtes so saam met die vrede gedwaal het weet ek nie, maar iets het my plotseling gewaarsku om links te kyk. Daar, innie tregterbek van die erdvarkgat staat ’n wille varkie my en betrag. So naby lat ek skrik en skoon regterkant toe omval. Dis toe lat daai varkie met ’n snork wegvlieg, met nog drie van sy boeties wat agterna tou.

 

“Ek vlieg op, half onvas vannie skrik en bevind my toe reg vorie bek vannie gat. Net toe Kola, maak ’n groot vark sy verskyning. Ene met onheil in sy hart. Ek dans en pypkan soos Mannetjies Roux maar daai wielneus volg my soos ’n geleide missiel, skerpkant vorentoe, reg vir byt.

 

“Ek slaat toe neer met die balievark amper bo-op my. Skop was al raat en ek laat my bene so vinnig werk sôsie pistons van Schumacher se reisieskar. Dis net een bolling stof soos ek ennie vark mekaar rev daar innie veld.

 

“Toe die stof effens loop lê, kom ek agter my bene piston nog in overdrive maar die wielneus is skoonveld. Asvaal vannie stof en skrik maak ek myself bymekaar en dis eers toe ek regop staan lat ek die groot skeur in my broek, die liederlike sny aan my regterkuit en die pyn ontdek. 

 

“Toe jou pa terugkom, moes hy die mouter loop haal want ek kon nie lekker stap nie. Die hele jag was daarmee heen.”

 

Oom Martiens het so gevat-vat na sy regterkuit en weer die blikbeker uitgehou. “Sôre dan net vir die ou weeskindjie hier, my keel is sommer van nuuts af benoud gebaklei met daai vark.”

 

Oom Martiens het geril, so asof hy weer daardie oggend se koue en varkgeveg aan sy lyf kon voel. “Kola, laat ek jou een ding sê. Pasop vir te veel vrede innie hart oppie verkeerde tyd. Dit maak jou blind vir onheil...

 

“En vat nou ’n bietjie raad van ’n ou man. Onheil het baie vorms, dissie net iemand of iets wat jou liggaamlik wil kom staan en henner nie. Satan skuil oral en hy het baie toertjies.”

 

Daarmee was oom Martiens se lesing klaar. Ons het stil na vlamme sit en staar, elkeen besig met sy eie gedagtes.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401