
KOLSKOOT | 2021 |Deur HERMAN JONKER
.jpg)
Wanneer is 'n kind oud genoeg?
Natuurlik sal ’n entoesiastiese jagter sy passie vir jag met sy kinders wil deel. Die groot vraag is egter: Wanneer is die tyd ryp?
Stadig nou! Dit is belangrik om eerstens te besef dat jou kind nie noodwendig ’n ontluikende jagter is, wil wees, of hoef te wees nie. Net soos sommiges sportief is en ander nie, is party gebore jagters terwyl ander ongemaklik is daarmee. Gee jou kind dus die blootstelling, maar moenie ’n geweer in sy hande forseer net omdat dit jou eie belangstelling is nie.
GEREEDHEID
Ouers verwag gewoonlik ’n kitsbeslissing as hulle vra wanneer ’n kind gereed is om te jag. Die antwoord is egter veel ingewikkelder as bloot ’n spesifieke ouderdom. Ja, die kind moet sekerlik oud genoeg wees om ’n geweer sélf met die nodige veiligheid en behendigheid te kan hanteer en akkuraat te vuur, maar sy emosionele volwassenheid is net so belangrik.
Met die realistiese elektroniese speletjies waaraan kinders blootgestel word, raak die sprong van speelskiet na werklik skiet gevaarlik smal. Waar die rekenaar egter agterna afgeskakel kan word, is dit nie die geval met die werklikheid nie. Die kind moet oud genoeg wees om die erns en implikasies van jag te besef, want hy gaan gekonfronteer word met egte bloed en die wete dat hy onherroeplik ’n lewe geneem het.
Is hy emosioneel opgewas- se hiervoor? Hoe gaan hy dit ervaar en wat kan die effek daarvan op sy psige wees? Wees versigtig dat jy as ouer nie jou gebreide siening as maatstaf gebruik wanneer jy jou kind beoordeel nie. Vra jouself eerder hoe die kind dit sou ervaar as hy byvoorbeeld die toneel van ’n noodlottige motorongeluk moes aanskou.
Volgens ’n Amerikaanse studie ervaar kinders die grootste toename in hul emosionele besorgdheid en liefde vir diere wanneer hulle tussen 7 en 10 jaar oud is, terwyl feitlike en kognitiewe begrip van diere eers tussen 11 en 14 jaar toeneem. Etiese en ekologiese begrip ontwikkel later, tussen 14 en 17 jaar.
Die spesifieke studie beveel 12 tot 14 jaar aan as die beste ouderdom om ’n kind omtrent die buitelewe te leer. Dit is die stadium wanneer kinders die basiese begrip van ’n ekosisteem begin verstaan en ’n sin vir moraliteit ontwikkel.
Ouers is oor die algemeen te haastig wanneer dit kom by die groot besluit of die tyd ryp is vir kleinboet of kleinsus om iets te skiet. ’n Mens kan die gretigheid verstaan, maar in baie gevalle veroorsaak dit dat oorywerige pa’s jagtertjies vroeg breek, eerder as kweek. Daar is egter skynbaar ’n korrelasie tussen die ouderdom waarop iemand aan jag bekend gestel word en die duur van sy belangstelling. Bogenoemde studie voer aan dat ouer toetreders, veral dié bo 20, waarskynlik gouer weer sal ophou jag as iemand wat as kind aan jag bekend gestel is. Die betrokkenheid van die vaderfiguur en die mate waartoe jag ’n familiekultuur is, is ook belangrike faktore wat die aard van ’n jong jagter se belangstelling beïnvloed.
VOORBEREIDING
Om ’n jong jagtertjie aan jag bekend te wil stel deur hom bloot iets te laat skiet, is om van die verkeerde kant af te begin.
Dit is veel belangriker om hom van ’n jong ouderdom af stelselmatig in die weë en die wêreld van die jagter in te lyf.
’n Deeglike vakleerlingskap, voor hy sielkundig opgesaal word met die verantwoordelikheid van doodmaak, help hom om die standpunte en waardes van jagters te verken. Langs hierdie weg groei hy as’t ware in jag in – iets wat uiteindelik vir hom ’n lang en vervullende reis kan raak.
As ’n eerste stap behoort hy gereelde blootstelling aan die veld te kry sonder dat ’n geweer noodwendig by is. Kamp, uitkenning van spesies en geslagte, spore en veldkennis is almal fasette waarvan die jagter iets behoort te weet en wat vir ’n kind stimulerend en verrykend kan wees.
Die volgende fase kan dié van helper wees wanneer die grootmense jag. Pligte soos hekke oopmaak, die jagvoertuig skoonmaak, vuurmaak en dergelike takies sal hom leer dat jag nie net ’n skietspeletjie is nie, maar ’n proses met verantwoordelikhede. Terselfdertyd kry hy geleentheid om te sien hoe volwasse jagters optree – iets wat vir hom leiding kan gee, mits die rolmodelle reg is.
Teen hierdie tyd behoort junior al goed bekend te wees met skietkuns en wapenhantering, maar nie noodwendig met ’n volwaardige jaggeweer nie.
Die ou, tradisionele leerskool van eers kettie dra, dan windbuks en daarna .22, was ’n goeie een. Baie van vandag se gesoute jagters het hul vaardighede en toewyding te danke aan hierdie geduldige proses. Geduld is nie meer so volop nie, maar die nederige windbuks bly steeds ’n bekostigbare manier om jong skuts deeglik vertroud te maak met wapenveiligheid en aspekte van skietkuns soos skietposisie, greep, trajek en wind.
Die junior jagopleiding wat jagtersverenigings aanbied, is natuurlik ook uitstekende voorbereiding vir ’n jong jagter. Hierdie mense ken hul vak en verstaan die vermoëns van kinders. Hul ouerlike ego is nie op die spel nie en die opleiding is in lyn met breër riglyne, terwyl die ouer se uitkyk tot sy eie ervaringsveld en omstandighede beperk kan wees. Die meeste verenigings bied ook kursusse aan waar ouer juniors self ’n bok kan skiet en bewerk
DIE KIND SE EERSTE JAG
Wanneer kry die kind kans om op ’n lewende dier te skiet?
Die ou maatstaf van hoe jonger die jagter, hoe kleiner die prooi, het steeds meriete. Kleiner diere is nie noodwendig makliker nie en ’n lewe is ’n lewe, maar deur hiermee weg te spring, laat dit minstens ruimte vir groter aspirasies later en die persepsie van ’n leerskool met vlakke. Die genoemde studie vir die US Fish & Wildlife Service beveel ook aan dat kinders jonger as 16 hulle by kleinwild bepaal.
Dit is egter belangrik om dit van meet af by die jong jagter in te prent dat enige lewende dier of voël nooit bloot as ’n teiken beskou mag word nie en slegs gejag kan word as daar regverdiging voor is en die reëls en wette nagekom word. Hy behoort trouens ’n goeie besef van jagetiek te hê voor hy hoegenaamd toegelaat word om self op iets te skiet.
Die dag wanneer junior sy eerste bok skiet, behoort vir hom ’n mylpaal te wees. Respekteer dit en voeg waarde aan die ondervinding toe deur ’n volwaardige, toegewyde jag daarvan te maak, nie sommer net ’n kortpad-skietkans so tussen die grootmense se jag deur nie.
Moet dit egter ook nie só aanpak dat hy druk ervaar nie. Elke pa wil graag sy kind na sy hand leer maar moet ook sy eie beperkinge en die invloed van sy eie ego kan herken. Dit kan selfs raadsaam wees om die kind liewer saam met ’n ander betroubare persoon veld toe te stuur. Dit gebeur maklik dat ’n pa se behoefte om sy kind te sien presteer hom ongeduldig maak en dat hy daardeur onbillike druk op die kind plaas. ’n Kind wil nie graag sy ouer teleurstel nie en die ervaring kan ’n onaangename een raak wat sy belangstelling in jag demp, eerder as aanwakker.
Hoe die kind se eerste jag ook al gebeur, die sukses daarvan moenie gemeet word aan wat dood is nie, maar eerder aan die waarde van die ondervinding vir die kind.
Was daar vir hom lewenslesse in die ervaring? Het hy avontuur en uitdaging geproe, moes hy deursetting en geduld aan die dag lê, of teleurstelling oorkom? Wat het hy geleer van die natuur en die rol van lewe en dood daarin? Was dit vir hom betekenisvol?
SLAGGATE
Die grootste slaggat waarin die ouer seker kán trap, is om “sukses” bloot aan die doodmaak van ’n dier te koppel, sonder om die kind met die nodige verwysingsraamwerk toe te rus. Dikwels is die pa se eie ego hiervoor verantwoor- delik. Hy wil graag met sy kind spog en is self nie volgroeid genoeg as jagter om sy fout te besef nie.
Jy bewys nie ’n kleintjie ’n guns as jy hom ’n geweer help laai en vashou en dan ’n ophef van hom maak omdat “hy” ’n bok geskiet het nie. Hy weet goed hy sou dit nie sonder hulp kon doen nie, en as gevolg daarvan kan hy ontoereikend voel of selfs die gevolgtrekking maak dat dit OK is om te kul.
Nog minder is dit in die kind se belang as hy op ’n jong ouderdom al verskeie “prestasies” op sy kerfstok het sonder dat hy die jag daarvan verstaan het of waardering daarvoor het. Die pa wat byvoorbeeld spog dat sy pikkie van sewe al ’n eland geskiet het, doen sy kind waarskynlik ’n onreg aan.
Deur die kind ryp te druk, ontneem hy hom van ideale en mylpale. So ’n kind het nie geleentheid om natuurlik as jagter te groei nie. As hy kleintyd al alles gedoen het, bly daar vir hom min oor om na te strewe en sy belangstelling in jag kan dan bloot ’n kortstondige fase wees. Sy toekoms as jagter is vir hom bederf omdat hy nie die dieper fasette en aantrekkingskrag van jag stelselmatig ontdek het nie, maar dit bloot ervaar het as kitsgratifikasie, met pa se geld gekoop.
DIE GROTER PRENTJIE
As geheel kan die inlywing van ’n kind in die jagwêreld ’n konstruktiewe proses wees met ’n veel wyer invloed as net die skep van ’n jagter.
Daar is min terreine waar die geleentheid om ’n band tussen ouer en kind te smee, so gunstig is as tydens ’n jag. In die jagveld is daar tyd vir mekaar, daar is die eerlike agtergrond van die natuur, die kampvuur met sy magiese invloed en die harde werklikheid dat jag nie ’n speletjie is nie, maar ’n aktiwiteit wat verantwoordelikheid verg.
Hier kan jy wedersydse vertroue vestig, wat later in die lewe nodig kan raak. Hier kan jy ook die septer van manwees onder gunstige omstandighede aangee en jou kind op uitdagings voorberei.
As jy die dieper waardes van jag by ’n kind wat belangstelling toon, kan vestig, plant jy ’n saadjie wat hom waarskynlik lewenslank sal bybly. Laat hom egter bloot ’n bok skiet sonder dat hy daarvoor gereed is, en die natuur kan vir hom verlore wees, en hy vir die natuur.
’N PAAR WENKE
• Moenie ’n kind dwing om te skiet of jag nie. Laat jou eerder deur sy belangstelling lei.
• Die daad van doodmaak moet binne die algehele jagkonteks gesien word.
• Wees versigtig om nie ’n kind te laat skiet met ’n kaliber wat bokant sy ver- moëns is nie. Die vrees wat hy hieruit kan oorhou, kan veel meer skade doen as wat die ondervinding werd is.
• Beperk die kind tot spesies wat betroubaar gedood kan word met die kaliber waarmee hy gemaklik skiet.
• Laat ’n kind verkieslik met ’n teleskoop van lae vergroting skiet. ’n Hoë vergroting gaan net enige bewe beklemtoon en onsekerheid veroorsaak.
• Moet nie verwag dat ’n kind akkuraat moet kan skiet met ’n geweer wat hom nie reg pas nie.
• Leer hom verantwoordelikheid, etiek en respek, maar behou ook die element van pret. ’n Kind se aandagspan is kort; moenie dat skiet of jag vir hom soos ’n eksamen raak nie.
• Wees eerlik oor sy resultate, maar wees taktvol met kritiek. Dit moet vir hom ’n opbouende ervaring wees.
• Moenie sukses as ’n standaard voorhou nie. Leer hom ook hoe om teleurstelling en mislukking te hanteer.
• Besef dat kinders verskil. Een met min selfvertroue moet miskien aangemoedig word, terwyl ’n ander een dalk weer ’n bietjie teruggehou moet word.
• Kweek te alle tye agting vir wapens, diere en medemense. Smoor tekens van “bloeddorstigheid” in die kiem.
• Moenie jag as ’n mededingende aktiwiteit uitbeeld nie. Dit kan sommige kinders ontmoedig.
• Besef altyd dat jy as ouer die voorbeeld stel.