SA JAGTER/HUNTER | Junie 2021 | Deur Jokl le Roux

Vat wat jy kry.jpg

Vat wat jy kry – voor jy snoep raak

Deur my jagloopbaan (van bykans ’n halfeeu) was daar veelvuldige geleenthede waartydens ek die kanse tot sukses uitgekanselleer het deur te uitsoekerig of snoep te wees. Van die heel eerste lesse, benewens dié oor wapenveiligheid, deur my oorle pa aan my oorgedra, was om nie te uitsoekerig in die jagveld te wees nie. Sy woorde was iets soos: “Moenie snoep wees nie! Gebruik altyd die eerste die beste geleentheid om vleis vir die pot te kry. Kry net eers iets in die sak en as dit dan moontlik is, kan jy altyd daarop probeer verbeter wat spesie (skiet liewer ’n bosbok as ’n duiker), grootte (skiet ’n diknekspringbokram pleks van ’n ooi) of kondisie (soek die vetste bok uit) betref.”

In daardie tye was daar natuurlik nog nie ’n prys op wild nie. Jag was gratis, en as dit die dag met jou goed gegaan het en jy meer geskiet het as wat jy en jou gesin self kon verbruik, kon jy altyd ’n karmenaadjie aan jou buurman of vriend skenk, of ’n bokkie by die boer aflaai. Hulle was dikwels so besig met die boerdery dat daar nie tyd was om iets vir die pot te gaan soek nie. ’n Ander beperkende faktor op die aantal bokke wat geskiet word, was natuurlik dat dit wat jy geskiet het self uitgedra of gesleep moes word na daar waar jy jou sedan gelaat het. Bakkies was vir boere, nie stadsjapies nie, en van fo-baai-fo’s was daar nog nie veel sprake nie.

 

Ek wil nie die woorde “ter nabetragting” gebruik nie, want ek wil darem vir nog ’n klompie jare probeer jag, maar as ek aan die mymer gaan oor die wonderlike plesier wat ek uit my jare se jag geput het, al was daar vele onsuksesvolle pogings as gevolg van gulsigheid, kom ’n hele paar herinneringe van te snoep probeer wees by my op.

 

JAG IN BOTSWANA

’n Klompie jare gelede het ek ’n uitnodiging gekry om in die suide van Botswana te gaan jag. Die pryse was billik en ’n nuwe jagplek hou altyd opwinding in. Op my wenslys was ’n paar gemsbokke, ’n blouwildebeesbul, moontlik ’n elandkoei en beslis een of twee van daardie groot Kalahari-springbokramme.

 

Van die manne wat vroeër die seisoen daar was, het ramme van tot 35 kg (uitgeslag) geskiet. Ons het 20 000 hektaar, sonder enige binnedrade of vee tot ons beskikking gehad. Daar was genoeg plek vir elkeen om na hartelus te jag en ons het nie die gevaar geloop dat ons in mekaar se pad sou wees nie. Die duineveld was pragtig ná die puik reën van vroeër die seisoen en die wild, veral gemsbokke, was volop en in uiters goeie kondisie.

 

Ons kon elkeen ’n spoorsnyer van San-oorsprong gebruik, en hulle was almal uitstekend in die veld. Ek het egter – ná ek ’n gevoel vir die terrein begin ontwikkel het – besluit om ’n paar keer op my eie te gaan jag. Die grootsheid van die Kalahari het dit van my vereis. Die enigste nadeel daaraan was dat die moontlikheid van verdwaal dan sterk was, aangesien die terrein relatief plat is, en daar geen uitstaande landmerke/bakens vir oriëntasie was nie. Die manne met GPS’e het nie daardie probleem ondervind nie, maar ek het wel reggekom deur byvoorbeeld my pad vanaf ’n karkas na die naaste tweespoorpaadjie uit te merk deur ’n stok aan my sy te sleep. Karkasse moes óf onder bosse/bome ingesleep word, óf met takke toegemaak word om dit teen die alomteenwoordige aasvoëls te beskerm. Ek kon nog wild tot gemsbokgrootte bietjie-bietjie alleen sleep nadat ek die pens uitgehaal het, maar met sebras of elande sou dit maar knor, en sou taktoeslaan die enigste opsie wees.

 

Besluiteloosheid, of dalk was dit vraatsigheid, het my van ’n 17 duim-springbokram beroof. Ek was in die mark vir ’n trofeeram, maar ook vir ’n groot gemsbokbul of vet elandkoei (elandkoeie was teen ’n spesiale prys beskikbaar, en ’n gus-koei sou puik waarde vir geld wees). Ná die oggend se onsuksesvolle pogings het ek het ’n spannetjie springbokke in ’n digte boomkol in ’n duinstraat gewaar, en versigtig benader tot ek my in ’n skadukol kon versteek om die troppie kans te gee om nader aan my te wei. Met my verkyker kon ek ’n fantastiese springbokram identifiseer, maar daar was geen kans op ’n skoot waar hy nie óf in die trop was, óf deur bosse versteek was nie. Ek het die troppie, wat ek op so 40 tot 50 individue geskat het, vir ’n goeie halfuur dopgehou, toe ek uit die hoek van my oog ’n gemsbokkoei oor ’n duin regs van my in my rigting sien aankom.

 

Agter haar het ek nog gemsbokhoringpunte gesien, en besluit om maar geduldig te wees. Opeens het ’n tak wat links van my breek, my aandag daar gevestig. Dit was ’n troppie elande aan’t wei, en ek het agter ’n digte boskasie ’n groot liggaam soos dié van ’n elandbul gewaar, waarvoor ek weens prys nie regtig in die mark was nie.

 

Intussen het die springboktroppie nader en nader aan my gewei, maar die trofeeram was nie sigbaar nie. Die trop saam met die gemsbokkoei het nou tot vier koeie en ’n pragbul aangegroei, en was ook staan-staan al weiende op pad om, as hulle sou koers hou, so 40 meter voor my in ’n leegte verby te kom.

 

’n Vinnige blik in die rigting van die elande, wat intussen ook in die oper duinstraat inbeweeg het, het onthul dat die lyf van ’n groot, moddervet koei definitief puik waarde vir my geld was!

 

Skielik was ek in ’n dilemma. Ek sou net ’n kans kry om een van die spesies te skiet. Wat sou dit wees: die elandkoei, die gemsbokbul of die springboktrofee? Ek het vir slegs die derde keer in my lewe bokkoors gekry! Intussen het al drie spesiegroepe nader aan die leegte in die straat voor my beweeg.

 

Die gemsbokbul het lankal ’n skoot gebied, die elandkoei sou beslis ’n skoot kon bied as ek geduldig was, en ek het geweet daardie springbokram sou nog in sy trop wees. Watter een?! Hoekom moes ek al drie gelyk aangebied word?

 

Miskien moes ek probeer om dalk twee van my keuses te skiet – as ek eers die gemsbokbul kon skiet, en dan dalk die elandkoei in die verwarring wat sou volg? Wie weet, dalk sou daardie springbokram ook ’n kans bied. Ek het mos vyf patrone in die geweer! Teen die tyd dat my bokkoors gewyk het, het die vier gemsbokkoeie al deur die leegte voor my gestap. Die bul was nog in aantog, reguit om met die elande te bots.

 

Intussen het ’n elandkoei agter my rug om begin beweeg, en toe ek haar gewaar, dadelik besef dat sy binne sekondes reg in my “wind” sou inloop. Ek het net ’n sekonde of twee gehad om te besluit en te skiet. Die gemsbokbul het ’n plankdwars skoot op 40 tree gebied, die vet elandkoei het trompop bo-oor my vir die koei agter my staan en staar, en die springbok-trofeeram het met oopgesperde neusvleuels vryerig agter ’n ooi aangeloop, almal binne boogskiet afstand. Daardie horings! Ek gaan maar die ram skiet!

 

Ek het sopas my blitsbesluit geneem toe pandemonium om my losbars. Die elandkoei agter my het my reuk gekry en weggedonder, en nie een van die ander diere het enige vrae gevra nie – almal het onmiddellik uiteengespat. Waar ek van sowat 40 springbokke bewus was, was daar skielik minstens 200 van hulle wat al pronkend in die duinstraat af koers gekies het! Twee van die elande het my amper raakgetrap in my skadukol! Hoekom moes die &%#@$^se koei besluit om agterom my te loop!

 

Ná die tyd, toe die adrenalien gesak het, het ek egter vir myself gelag. Gulsigheid!! Maar hoeveel jagters het al so iets opwindends beleef? Nie baie nie!

 

TERUG NA DIE KAROO

Tydens ’n jag op my jagplek van amper 40 jaar in die Karoo was ek agter ’n koedoe aan vir vleis. Dit was die eerste en moontlik die enigste jag van die seisoen en my vrieskas was leeg. Ná sowat 20 minute se stadige loop en soek waartydens ek knaend my verkyker gebruik het, het ek die noordelike grens van die eiendom benader wat op ’n rantjie langs oos-wes gestrek het.

 

Ek het al voorheen koedoes aan die bure se kant gewaar en het al by meer as een geleentheid een geskiet wat oor die heining gespring het. Met die oorloerslag het ek ses koeie en ’n baie mooi bul sowat 200 meter weg gewaar waar hulle besig was om aan die kniehoogte karoobossies te vreet. Ek het versigtig in die namiddagskaduwee van digte struike ingeskuif en my gemaklik gemaak om te wag dat hulle oor die draad spring.

 

Daar was ’n drinkplek aan my kant van die draad en dit was hul gewoonte om laatmiddag in daardie rigting te beweeg. Ek was in die mark vir vleis, so dit het nie saakgemaak of dit ’n bul of koei was nie, solank laasgenoemde net nie ’n kalf by haar gehad het nie. Enige volwasse koedoe wat oor die draad sou spring, sou ’n maklike skoot bied. Binne tien minute het die eerste koei oorgespring, maar sy het ’n amper-gespeende kalf, wat nog nie ’n viervoet-ses-draad sou kon spring nie, by haar gehad. Ek het dus vir die volgende koedoe gewag. ’n Mooi groot koei het volgende oorgespring, en ek het die grendel toegemaak op die 175 gr Clawgelaaide patroon in die kamer van my 7x64. Ek het reeds begin dink aan die herwinning wat nie te moeilik sou wees nie. Daar was ’n veldpaadjie binne 300 meter daarvandaan.

 

Net voor ek my vuis wou toemaak, het ek gou gekyk hoe die bul vorder. Hy was ’n bietjie laer af met die hang, reg langs die draad, ek het dus vir eers van die koei vergeet. ’n Bul is tog groter en vir een of ander rede het ’n bul wat by die huis aankom altyd ’n effens groter borsmaat tot gevolg. Maar toe begin die bul al met die heining langs te wei, al verder van my af weg. Die koei wie se kalf agtergebly het, besluit toe om terug te spring en die ander koei besluit sy voel te alleen aan my kant en spring ook terug.

 

Dit het alles so vinnig gebeur dat daar nie kans vir ’n skoot was nie, en die hele troppie het rustig weg van my af begin wei, veilig in die buurman se veld. Demmit! Ek moes die groot koei geskiet het toe sy aan my kant van die heining grondgevat het!

 

Haar vleiskwaliteit sou beter wees as die bul s’n, die herwinning sou heelwat makliker wees, en ek sou my vleis kon saamvat huis toe! Gulsigheid, gulsigheid!

 

KOEDOEJAG BY STEYTLERVILLE

Dan was daar die keer toe my gulsigheid gelei het tot baie meer werk as wat nodig was. Dit was in die Steytlerville-omgewing, waar ek vir 15 jaar in ’n ry gaan koedoes jag het totdat die 2015-droogte, wat steeds voortsleep, my jag daar vir eers gestop het. Ek het een oggend vroeg op my ou voorsitplek op ’n loodregte krans van sowat 30 meter hoog my sit onder ’n pruimboom gaan kry. Van daar het ek al ’n hele klompie bulle deur die jare heen geskiet.

 

Die Grootrivier met sy digte soetdoringstand het ’n maand of wat vantevore afgekom ná ’n donderstorm in die opvanggebied. Voor en onder my was ’n 800 meter lange poel waarin die water stadig gevloei het. Ná sowat ’n uur se bespiedingswerk op die talle koedoe-uitgetrapte voetpaadjies in die oewerbos het ek ’n skaflike koedoebul sowat 150 meter van my af gewaar waar hy aan ’n taaibos staan en peusel het.

 

Ek het die logistiek van karkasherwinning oorweeg en besluit dat ek maar die bul kon skiet aangesien daar so 400 meter van die koedoe af ’n ou tweespoorpaadjie was waar ’n mens met ’n voertuig sou kon kom. Met die gedagte dat daar drie manne op die plaas beskikbaar was om my te help koedoe dra/sleep, het ek agter die skietstok reggeskuif. Maar toe gewaar ek die bewegende horingpunte van ’n bul aan die oorkant van die poel, en plaas toe eers die bul onder my op ys.

 

Ná vyf minute het die oorkantse bul sy lyf gewys, en ek het besef dat dit een van daardie Steytlervilledromnekkoedoebulle was. Die skietafstand na hom toe was ’n goeie 120 meter verder, maar ek het kans gesien vir ’n akkurate 270 meter-skoot met my 7x64 Brenneke. Oudergewoonte het ek eers weer die herwinningslogistiek oorweeg, en tot die gevolgtrekking gekom dat, as die bul deur die 60 meter wye poel “geswem” kon word, die herwinningsafstand amper maar dieselfde sou wees as vir die nader maar kleiner bul.

 

My teleskoop was op 200 meter ingestel, en met die nodige skatting van hoe hoog ek op die groot bul se blad moes vat, het ek die skoot versigtig afgedruk. Die bul het in sy spore neergesak. Ek het hom vir sowat tien minute dopgehou om seker te maak hy is dood, en het toe die boer gebel om sy manne en herwinningsvoertuig te stuur.

 

Terwyl ek vir hulle moes wag het ek eers my geweer en rugsak by die veldpaadjie gaan aflaai (met die rivierkruising in gedagte) en die lang ompad na die bopunt van die poel gestap. Ek het kniediep deur die stroom gewaad om weer aan die oorkant tot by my bul terug te stap. Daar gekom, was hy al lekker styf opgeblaas, minstens drie bar, en my gedagte was om nie soos oudergewoonte die pens dadelik te verwyder nie. Ek sou dit ná die waterkruising doen – die dik pens moes eers help om die bul te laat dryf.

 

Met die aankoms van die manne was hulle nie te gretig om die diep poel aan te durf nie, maar ek het hulle met ’n klompie ekstra beloofde note aangemoedig, en oortuig dat die bul lekker gaan dryf – hulle moes eintlik maar net vashou. Niemand het vir seker geweet hoe diep die poel was nie. Toe almal tot by hul nekke nat was, was daar net een pad, en dit was deurdruk. Die bul het inderdaad lekker gedryf, veral toe die stroom ons stadig maar beslis gevat het. Van die manne het begin benoud raak, maar ek het hul aangepor om net vas te klou. Ons was gou-gou aan die einde van die poel, en toe die helpers vir die eerste keer weer grond onder hul voete vind het hulle die bul gelos. Die bul self was egter nog nie moeg geswem nie, en met sy pens nou minstens 3,5 bar, het hy al hoe vinniger in die nou baie sterker stroom begin afdryf.

 

Die uiteinde van die saak was dat ons daardie bul eers amper ’n kilometer verder kon vang waar hy teen ’n klomp dryfhout vasgespoel het. Die plaasmanne wat die terrein soos hul eie werf geken het, was nou baie ongelukkig, want daar was geen veldpaaie binne ’n kilometer daarvandaan nie. Ons moes met moeite ’n nuwe veldpad deur die bosse en struike uitkap, sandwalle met ’n graaf platwerk en erdvarkgate met klippe (skaars) en bosse opvul. Die uiteindelike herwinning het amper die res van die dag geneem! As ek maar die kleiner bul geskiet het!

 

Gulsigheid het my wel ’n baie groter bul besorg, maar ons lywe was stukkend en my beursie baie plat! Een voordeel van die nuwe pad was darem dat dit ’n deel van die oewerbos vir jag oopgemaak het. Daardie area is altyd vermy juis weens die onbereikbaarheid daarvan. En hoeveel jagters het al ’n koedoebul deur ’n rivier geswem?

 

Maar onwyse besluite ofte nie, die herinneringe aan my jagte en alles wat daarmee saamgegaan het sal my altyd bybly, of tot Alzheimer’s oorneem.