BEL ONS | CALL US
E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Tel: +27 12 485 9382

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401

SA JAGTER/HUNTER | Desember 2017 | Deur HANNES NOETH

Vasbyt in die jagveld

Die jagtog waarvan ek hier vertel, het naby Rorke’s Drift in die noorde van KwaZulu-Natal plaasgevind. Dit was ’n voortsetting van ’n pa-en-seunjagtog – ek en Mynhardt; en Tinus en Pieter s’n – wat oor etlike jare kom. Hierdie jagplek was egter vir ons ’n eerste, want ons ou plek op die walle van die Bloukransrivier naby Weenen, waarvan ek baie mooi herinneringe het, het ongelukkig die slagoffer van ’n grondeis geraak.

EERSTE DAAR

Een voordeel van ’n afgetredene wees, is dat jy baie tyd op hande het, daarom was ek reeds die Woensdag eenuur op die jagplaas. Die res van die geselskap sou eers laat die middag opdaag. Die gedagte was dat ons op die Woensdag slegs die gewere inskiet en dan Donderdag begin jag.

 

Met my aankoms het Martienie, ons gasheer vir die volgende paar dae, my met ’n lekker koppie koffie ingewag. Nog drie netjiese gidse het nader gestaan en kom kennismaak. Duidelik was hulle onder die indruk dat daar nog dieselfde middag gejag gaan word. Ná ek seker gemaak het die .270 en .375 skiet nog waar ek mik, het ek besef die manne gaan teleurgesteld wees as ons eers die volgende dag jag.

’n Rooibok was op my spyskaart en Martienie het aangedui dat Speelman, ’n Suid-Sotho, my gids sou wees. Speelman, Martienie en die ander twee gidse werk elke jaar vir vier maande op die jagplaas en die res van die jaar op ’n saaiplaas, Kransfontein, naby Bethlehem.

 

Voetslaan is vir my terapeuties en daarom het ek verkies om van die kamp af te voet te jag. Aangesien ek my geweer toegerus het met ’n knaldemper en ek nie seker was hoe dit in digte bos sou hanteer nie, het ek my waterbottel en skietstokke aan Speelman toevertrou. Teen drie-uur het ek en Speelman begin stap.

 

Die bos was ruig, die gras het hoog gestaan ná goeie somerreën en die bome het reeds blare begin afgooi. Die terrein waarin ons gestap het, het bestaan uit rante met steil hellings wat afgeplat het in die bedding van ’n droë spruit. Ons het stadig en koes-koes onderdeur die takke, al met ’n wildspaadjie langs teen die steil helling afbeweeg en die terrein gefynkam vir rooibokke deur staan-staan te beweeg, te kyk en te luister. Weens my swak gehoor op 68 (na jare se jag en skiet) moes ek sterk op Speelman se gehoor steun.

 

Ons het baie versigtig getrap sodat die droë blare onder ons voete ons nie verklap nie. Mis en spore was volop, maar bokke was nêrens te sien nie. Laatmiddag het ons vir die eerste keer ’n troppie rooibokke gesien, maar hulle het ons reeds gewaar en tussen die bosse verdwyn. Dit was donker toe ons by die kamp aankom, maar ’n helder kampvuur het ons begroet – my jagmaats het gearriveer.

 

DAG TWEE

Ons het die oggend om 06:30 in sterk skemer begin stap. Toe die son opkom, het ek my verlustig in die natuur – pragtige aalwyne met oranjekleurige blomme het die berghange versier. Speelman het só skielik voor my gestop dat ek byna in hom vasloop. ’n Klompie rooibokooitjies het aan die oorkant van ’n spruit vir ons gestaan en kyk.

 

Weens die lang gras kon ons slegs hul koppe en nekke sien. Dit was ver vir ’n kop- of nekskoot, maar hulle het ons gesien en ek het besef dat as ons nader sou beweeg, die bokke gaan hardloop. Ek het dus ’n nekskoot probeer maar misgeskiet en die bokke het weggedraf. Toe ons aanstap, het ek my skoot berou en daaroor loop en top. Ek het egter gou besef dat ek die skoot moes vergeet en konsentreer op die jag wat voorlê.

 

Teen 08:30 het Speelman beduie dat die natuur roep en het ek rustig gaan sit en my lemoen geëet terwyl ek wag. Hierdie alleentyd is vir my kosbaar. Alleen met jouself, jou Skepper en die natuur. Kan skepsel en Skepper ooit nader aan mekaar wees as juis hier?

 

Toe Speelman terugkom, het ons aanbeweeg, maar slegs twee koedoes die res van die oggend raakgeloop. Teen twaalfuur het ons moeg by die kamp aangekom, gerus en toe die middagsessie aangepak. Met die uitsondering van blouwildebeeste, het ons niks gesien nie. Ek het besef dat dit nie maklik sou wees om ’n rooibok te skiet nie. Met ons aankoms die aand by die kamp het ek verneem Tinus het ’n elandkoei geskiet.

 

DAG DRIE

’n Hardnekkige griep het my sleg laat slaap en ek het besluit om nie gedurende die oggendsessie te jag nie. Pieter het die oggend ’n blouwildebees geskiet en Mynhardt het geen wild gesien nie. Soos die vorige dae, het ek en Speelman weer teen drie-uur die middag vertrek. Afgesien van ’n blesbok en ’n duiker het ons niks gesien nie. Mynhardt het wel die middag ’n rooibokooi met ’n netjiese bladskoot platgetrek.

 

Daardie aand het van my jagmaats begin raad gee: Wil ek nie maar ’n blouwildebees skiet nie, sodat ek darem iets kan huis toe vat? Moet ek nie eerder ’n ander gids probeer nie? My antwoord was dat ek gekom het om ’n rooibok te skiet. Die stap in die veld is al klaar vir my genoeg beloning. Deur te voet te jag, gee jy die bokke ’n kans om weg te kom. As hulle daardie kans benut, is dit goed en mag jy nie kla nie.

 

Speelman was ’n uitstekende, toegewyde gids en ek sou hom beledig deur na iemand anders oor te slaan. My besluit was geneem; ek sou nog tot elfuur die volgende oggend jag en dan die namiddag in die kamp rondkuier. Mynhardt sou dan kreef voorberei vir die aand se braai en ek wou graag daar wees wanneer hy dit doen. Terloops, die kreef het hy by ’n vriend geruil vir gemsbokvleis. Wat die ruilooreenkoms was, weet ek nie, maar vir 4kg kreef moes dit baie na aan die helfte van die gemsbok gewees het.

 

DAG VIER

Die laaste dag van my jagtog het aangebreek. Soos op al die ander dae was ek en Speelman teen skemeroggend reeds in die veld. Die sonsopkoms was weereens asemrowend mooi en so ook die aalwynblomme – ek het ’n paar keer hierdie blomme vir rooibokke aangesien. Ons het deur die digte bosse afgesak na die droë spruit se bedding waar ons op ’n trop blouwildebeeste afgekom het.

 

Ons het tot omtrent 40m van hulle af beweeg alvorens hulle ons gewaar het. Vir ’n oomblik was die versoeking groot om tog maar ’n blouwildebees te skiet. Gelukkig het hulle betyds weggehardloop. Ons het kruis en dwars teen die hang van die berg op beweeg. Teen 08:30 het Speelman na my gekyk en het ek geweet dit is tyd vir sy oggendritueel. Ek kon my lemoen eet en net weer die natuur geniet. Ná ’n kwartier was Speelman soos gewoonlik terug sonder sy lemoen. Ek het altyd gewonder wanneer eet hy sy lemoen, voor of na sy broeklosmaaksessie?

 

Met Speelman terug, het ons verder gejag en ek het my verstom aan sy toegewydheid. Hy het met dieselfde entoesiasme en toewyding voortgegaan as waarmee hy op dag een begin het (ondanks my misskoot). Ná ’n moeisame stap was ons teen 09:30 uiteindelik bo-op die berg se plato. Skielik het Speelman vasgesteek. Ons het links afgekyk na ’n breë, bosbedekte vloedvlakte en ja, daar het hulle gestaan, ’n troppie rooibokke. Dit was ver... maklik 800 meter. Hulle het rustig gewei, onbewus van ons. Die wind was egter nie in ons guns nie en ons sou moes terug beweeg, agter om ’n koppie om windop te kom. In die proses het ons die bokke uit die oog verloor, maar ná omtrent ’n kwartier se stap het ons hulle weer gesien.

 

Die plan was om stadig teen die skadukant van die berg af (verby ’n klomp rotse) te beweeg en hopelik binne skietafstand te kom. Toe, asof uit die niet, verskyn ’n volstruis en hardloop in die rigting van die bokke. Ons het onmiddellik gaan sit. My moed het tot in my skoene gesak, verdomde volstruis!

 

Nadat ons ’n rukkie gewag het, het ons versigtig om ’n rots geloer. Die bokke het steeds daar gestaan en wei. Ons moes nóg nader, dit was steeds te ver om te skiet. Nadat ons nog ’n ent bekruip het, sien ek Speelman kyk vir my. Hy het niks gesê nie, maar sy oë het gevra of ek nie maar wil probeer nie? Ek het die geweer oor die skietstokke geplaas en aangelê. Toe die skoot klap, het ek besef dit was te laag. Gelukkig het die knaldemper sy ding gedoen – die bokke het vir ’n paar oomblikke rond gekyk maar toe weer begin wei.

 

Ons sou nóg nader aan die bokke moes kom. Na omtrent 10 minute se bekruip, was ons by die eindpunt van die kranse se skaduwee. As ons sou aanbeweeg, sou die bokke ons sien. Ek moes ’n skoot probeer. Met my agterstewe op ’n klip en die krans teen my rug, het ek weer dooierus oor die skietstokke geneem. Toe die skoot klap, het ons duidelik die koeël hoor tref. Dit was raak, maar ons kon nie sien wat met die bok gebeur het nie. Die trop het laat spaander teen die hang uit.

 

Ons het vir 10 minute gewag, wat soos ’n ewigheid gevoel het, en toe afgestap in die rigting van ’n groot bergaalwyn wat naby die plek was waar die bok gestaan het. Opgewondenheid, gepaard met onsekerheid het deur my gemaal. Gaan dit dalk ’n lang dag word agter ’n kwesbok aan? Naby die aalwyn het ons baie bloed gekry en toe uiter Speelman die mooiste woorde in die jagveld, “Hier lê die bok”. So wrintiewaar, ’n groot rooibokram het so 15m gelê van waar ek hom geskiet het. Wat ’n pragtige bok!

 

Alhoewel my en Speelman se blydskap groot was, was daar ook ’n deernis en respek vir hierdie pragtige dier. Vir ’n wyle het ek net dankie gesê vir die groot genade en voorreg om op 68 hierdie oomblik te kon beleef.

 

My .270 was ingestel om op 100m in die kol te skiet. Die 150gr PMP-koeëls wat ek self herlaai, val omtrent 10cm van 100 na 200m. Hierdie koeël het omtrent 16cm geval vanwaar ek gemik het. Die bok moes dus omtrent 250m ver gestaan het.

 

Om die ram te herwin, was ’n moeilike proses. Dankie tog vir selfone, want ons moes nog draers se hulp inroep om die ram te dra tot waar die voertuig hom kon oplaai. Teen eenuur die middag het ons moeg maar baie tevrede by die kamp aangekom. Kreef was nog nooit so lekker as daardie aand langs die gesellige kampvuur nie!