SA JAGTER/HUNTER | Augustus 2021 | Deur Hans Stronkhorst

Tradisie of tegnologie: Wat verkies jy?

Dit was die begin van 2020 en ek en my vrou het ons in Engeland bevind vir ’n korttermyn-werkkontrak. Ons was skaars twee maande aan die werk toe Covid-19 sy tol begin eis. Naas familie en vriende, was die jagveld seker die ding wat ek die meeste gemis het. Met ons Juniemaand-vlugte huis toe wat vroeg in die jaar gekanselleer is, het ek besef dit gaan nog ’n hele ruk wees voor ek weer my voete in die stofpad gaan sit.

Ek beplan al ’n hele ruk om vir my ’n nuwe jaggeweer te koop. Dis tog elke jong jagter se droom en dit was op my “to-do”-lysie wanneer ons na Suid-Afrika terugkeer. Toe ons nou so baie tyd in ons woonstel moes deurbring en nêrens heen kon reis nie, het ek besluit dit sou ’n goeie tyd wees om my kennis op te skerp en ’n bietjie navorsing te doen. Ek het vele boeke, tydskrifte en artikels gelees, baie video’s gekyk, herlaaidata bestudeer, geweerwinkels se webtuistes besoek, en nog vele meer. Ek was nog altyd iemand wat goeie navorsing gedoen het voor ek iets nuuts aanpak of koop, maar in hierdie geval het die navorsing my net meer onseker as ooit gelaat.

Om ’n bietjie meer konteks by die verhaal te voeg, moet ek seker noem waarna ek op soek was. Ek het ’n Ruger M77 Mk2 .338 Winchester Magnum vir my 21ste verjaardag by my pa gekry. Dit was ’n geweer wat ek al van kleins af in die kluis bewonder het en dit was toevallig ook nie my pa se gunsteling nie. Dit was egter asof ek en die Ruger vir mekaar bedoel was. Ek het al vele bokke met dié geweer gejag en tot dusver was elkeen “eenskoot”-doodskote. Die enigste nadeel was dat die geweer vleisskade by kleiner wild veroorsaak het, selfs met verminderde ladings.

 

Ons jag gereeld rooibokke, duikers en vlakvarke en die .338 se koeël bly tog maar groot vir sulke wild. Dus was ek op soek na iets effens kleiner, maar wat steeds genoeg krag sou hê vir klein- tot mediumgrootte wild. En so het die navorsing begin.

Ek was nie te besorg oor die fabrikaat of model van die geweer nie; daar is baie goeie vervaardigers daar buite wat aan my vereistes sou kon voldoen. Die groter vraag was egter die kaliber. Daar is deesdae ’n ongelooflike verskeidenheid en dus het ek besef dat ek goeie navorsing sou moes doen om die regte besluit te neem. Soos wat ek deur die boeke geblaai en aanlyn inligting ingeneem het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die besluit egter tussen tradisie of tegnologie sou wees.

TRADISIE

Wanneer ek van tradisie praat, verwys ek na die kalibers wat al vir ure om die kampvuur bespreek is, soms al vanaf die vroeë 1900’s. Ons het definitief nie van gister af probeer bewys dat een geweer beter is as ’n ander een nie. Maar dit is ook die kalibers wat al vir jare en deur generasies ongelooflike sukses in die jagveld behaal het. Hier verwys ek hoofsaaklik na kalibers soos die .375 H&H, .30-06 Springfield, .308 Winchester en .270 Winchester. Daar is ook die Europese ewe-knieë soos die 9,3x62, 8x68S, 7x64, 7x57 en 6,5x55. 

 

Hierdie kalibers het hulself al vir jare oor en oor bewys en die toets van tyd deurstaan (of so dink ons tot nou). Jou oupa het heel moontlik met een van dié gewere gejag en vir jou vertel dat dit die beste kaliber is, en jy glo ook so. ’n Mens kan ure aan elkeen se tegniese eienskappe bestee, maar die rede hoekom ons almal so oor die kalibers voel, is omdat hulle regtig so goed is. Hulle voorsien in baie se behoeftes en as jy een gebruik, is daar net daardie gevoel van tradisie wat ’n mens eintlik nie kan beskryf nie. Dis deel van jou al van kleintyd af en vorm deel van jou raamwerk as jagter. Dit is meer as net ’n klomp syfers op ’n ballistiese tabel.

 

Hierdie kalibers het hulself al vir jare oor en oor bewys en die toets van tyd deurstaan (of so dink ons tot nou). Jou oupa het heel moontlik met een van dié gewere gejag en vir jou vertel dat dit die beste kaliber is, en jy glo ook so. ’n Mens kan ure aan elkeen se tegniese eienskappe bestee, maar die rede hoekom ons almal so oor die kalibers voel, is omdat hulle regtig so goed is. Hulle voorsien in baie se behoeftes en as jy een gebruik, is daar net daardie gevoel van tradisie wat ’n mens eintlik nie kan beskryf nie. Dis deel van jou al van kleintyd af en vorm deel van jou raamwerk as jagter. Dit is meer as net ’n klomp syfers op ’n ballistiese tabel.

 

Bo en behalwe bogenoemde faktore, hou hierdie kalibers ook baie ander voordele in. Ammunisie is geredelik beskikbaar en nie te duur nie, jare se herlaai en ander data is beskikbaar, en heel moontlik ken jy iemand wat ook so ’n geweer het. Dit is maklik om advies te vra of iets uit te vind; jare se skiet het al elke probleem gevind en uitgesorteer. Hierdie gewere is beskikbaar en betroubaar, sonder twyfel.

 

TEGNOLOGIE

Die eerste geweer wat in my gedagtes opkom rakende hierdie onderwerp, is die 6.5 Creedmoor. Dit is seker die een kaliber wat die meeste opskudding in jare veroorsaak het; dis ongelooflik gewild, en hoekom nie? Die terugskop is min, die koeëls het goeie ballistiese koëffisiënte en die trompsnelheid is perfek vir die meeste jagomstandighede (uitsluitende grootwild).

 

Ander name wat ook hier hoort, is enige nommer gevolg deur “WSM”, “SAUM” of “PRC”. Daar is reeds so baie van dié nuwe kalibers dat dit moeilik is om by te hou. Die jaar 2021 het skaars afgeskop en die nuwe 6.8 Western was bekendgestel.

 

Die meeste van hierdie nuwe kalibers het hul lewe begin as langafstand-teikenkalibers, bedoel vir die skietbaan of ghong-skietgeleenthede. Natuurlik sal die jag- en skietgemeenskap egter alles wil toets, en as gevolg van vele voordele, het baie van dié kalibers baie betroubare jagkalibers geword.

 

Kalibers soos die .300 WSM, .338 Lapua Magnum, 6.5 Creedmoor en .270 WSM is al suksesvol as toegewyde jagkalibers aangeneem en dit is ook verstaanbaar hoekom. Hierdie gewere het goeie ballistiese vermoëns wat in baie gevalle die tradisionele eweknieë verbysteek.

Die lang, swaar koeëls vlieg beter deur die wind en meer gevorderde dopkonstruksie en vorms bied ander voordele.

 

Daar is ook natuurlik ’n paar nadele (vir nou?) van hierdie kalibers. Ammunisie is die meeste van die tyd duur en nie altyd beskikbaar nie, veral in hierdie groeiende mark. Herlaai van patrone is gewoonlik hoe die meeste manne hul ammunisie kry. Daar is ook nog nie so baie inligting en data rondom sekere van dié kalibers beskikbaar nie, maar dit sal met die tyd verander.

 

’n Ander probleem is dat baie van hierdie kalibers verander in sogenaamde wildcats – dikwels ’n goeie idee wat nooit regtig vlamvat nie. ’n Paar jaar later lees jy van iemand wat ’n koedoe met so ’n kaliber gejag het en jy het eintlik al skoon daarvan vergeet. Die bevordering van tegnologie is fantasties, maar dit kan ook sy eie vyand wees.

 

GEVOLGTREKKING

Om ’n lang storie kort te maak, kan ek eerlik sê dat ek nog nie tot ’n gevolgtrekking gekom het nie. Ek is persoonlik ’n groot voorstander van tradisie – dit maak ons wie ons is en hoekom sal ’n mens ontslae raak van iets waarmee daar niks fout is nie? Baie van die tradisionele kalibers is al ouer as 100 jaar, so hoekom sal hulle nie hierdie toets ook kan deurstaan nie?

 

Aan die ander kant glo ek ook in die Engelse sêding van “the numbers don’t lie”; dit is duidelik dat die nuwer kalibers soms die oueres effens ore aansit (op papier, ten minste). Natuurlik is daar iemand wat vir jou sal vertel dat hy sy .308 Winchester só kan laai en skiet om by die buurman se 6.5 Creedmoor by te hou, maar met watter doel? Dan kry jy ook die man wat elke jaar ’n nuwe geweer aanskaf, want die vorige een is net nie meer goed genoeg nie, terwyl die buurman net elke jaar sy betroubare .30-06 uit die kluis haal.

 

Dit is definitief vir die nuwe, jong jagter moeilik om so ’n groot besluit te neem. Ek dink egter die groot vraag is watter van die kalibers die volgende paar jaar gaan oorleef, ongeag die honderde persoonlike redes vir en teen die spesifieke kaliber. Ek kan steeds nie besluit watter een die beste vir my eie jagdoeleindes is nie, en dit lei dan na die punt van die saak: Jy moet op die ou end die geweer kies waarmee jy die akkuraatste skiet en wat vir jou in alle opsigte die beste is, ongeag ander mense se opinie. Praktiese ondervinding is ook goud werd in hierdie opsig, want ’n papier kan vir jou tog net sóveel vertel.

 

Ek wonder dikwels oor watter gewere ek eendag met my vriende langs die kampvuur gaan stry. Gaan ons tradisie kies en hoop dat jare se prestasie die wind van voor sal oorleef, of gaan ons die kans waag met tegnologie en hoop die kaliber kan volgende jaar nog byhou? Die tyd sal leer watter kalibers dit sal wees.