top of page

KOLSKOOT | 2021 |DEUR DAWIE STRAUSS

Foto 3.JPG

Teleskoop of oop visier?

Sommige mense skiet maklik raak, maar ek moet baie oefen om dit reg te kry. Nie dat oefen vir my ’n straf is nie – ek hou van skiet!

 

Ek het my eerste bril in standerd 8 gekry (ons het destyds nog in standerds skoolgegaan; grade is gebruik om die deklinasie van ’n hoek aan te dui). Van kleintyd af was dit dus vir my moeilik om op die visier, korrel en teiken te fokus. Geen wonder dat my gewere van meet af met teleskope toegerus was nie.

 

’n Groot debat woed altyd oor die kwessie of ’n jagter ’n geweer met of sonder ’n teleskoop moet gebruik as hy gevaarlike wild aandurf. Grootwildjagters uit die era toe teleskope nog nie verstelbare vergrotings gehad het nie, het geen goeie woord vir teleskope oor nie. In een artikel skryf ’n grootwildjagter dat hy net die gekweste dier se hare kon sien toe dit op hom afstorm.

 

Hy kon egter glad nie vasstel op watter deel van die lyf sy geweer gerig was nie. Dit het amper sy lewe gekos en hy het net daar besluit om nooit weer gevaarlike wild met ’n teleskoop op sy geweer te jag nie. In ’n ander artikel vertel nog ’n jagter dat hy dieselfde oorgekom het nadat hy vergeet het om die teleskoop na die kleinste vergroting terug te draai. Hy het die vorige dag die geweer gebruik om ’n bok oor ’n ver afstand te skiet. Om hierdie rede het hy ook sy teleskoop afgehaal. 

 

Vir my het ’n teleskoop egter net voordele. Byna alle skuts vaar beter met ’n teleskoop as met oop visiere. Wanneer ’n dier in die skadu staan, kan hy baie beter met ’n teleskoop geïdentifiseer word. Die mikpunt op sy lyf kan ook duidelik waargeneem word.

 

As die jagter vergeet om die vergroting af te draai, sal hy waarskynlik ook vergeet om die visier se klappie van 300 na 100 meter af te slaan. As die jagter oefen om met albei oë oop te mik en die vergroting is afgedraai, sal hy hom nie met ’n verkeerde mikpunt op die dier misgis nie. Dit verg dus ook oefening om met ’n teleskoop te jag as jy aan oop visiere gewoond was. 

 

IN DIE VELD 

Die Land Cruiser het met ’n eentonige gedreun stadig in die sagte sand van die Sapirivier noordwaarts na die Zambezirivier geploeg. ’n Dringende klop op my skouer van Sam, ons spoorsnyer, het my uit my mymering agter op die bankie geruk. Die dagha boy (ou buffelbul) het rustig boop die wal gewei. Morkel en Braam het stil voor uit die kajuit geklim en versigtig teen die wal opgekruip. Met die afklim het my geweerloop met ’n harde “ping” teen die antenna gekap. Die Engelse beskrywing “If looks could kill” is ’n onderbeklemtoning van die oë wat my aangegluur het!

 

Wonder bo wonder het die buffel skynbaar niks gehoor nie. Braam se skoot het eerste geklap en Morkel s’n ’n breukdeel van ’n sekonde daarna. Morkel en Braam het albei weer geskiet en die buffel was nou effens omgekrap. Ek en Braam het mekaar teen die wal ontmoet – hy was op pad ondertoe en ek op pad boontoe. “I’m out of ammo,” het hy gefluister. As hy opgewonde raak, is hy lief om die Rooitaal te praat. Sy .505 Gibbs se patrone was op en sy patroonbelt het met die haastige klim uit die bakkie agtergebly.

 

Bo-op die wal het Morkel en die bul mekaar bekyk. Hy het nog net een patroon in sy .458 Lott oorgehad. Sy magasyn hou net drie, en hy wou die laaste bêre indien die buffel storm. Met my skoot uit die .375 het die buffel geval. Braam en Morkel het baie goeie hart/long-skote gevuur. Ek dink die buffel was in elk geval op pad grond toe – my skoot was net ’n bietjie ekstra versekering. Ons kon nie my skoot op die buffel vind nie, maar toe die buffelkop aan die einde van die jagtog opgelaai word, het Braam iets binne-in die skoongekookte skedel hoor ratel – dit was ’n .375-volmantelkoeël.

 

Die vorige dag het ons ’n seekoeibul in Nyatchamarapan gewaar. Dit was Ben Jansen se beurt om te skiet en Morkel moes hom rugsteun. Ons het versigtig nader beweeg en tot teen die pan gekruip. Toe die bul sy kop hoog genoeg uit die water lig, het Ben se skoot geklap en Morkel s’n byna onmiddellik daarna. Ben se skoot was beslis raak. Ons kon aan die borrels sien dat die bul op pad na die oorkantste wal was.

 

Die bul het weer te voorskyn gekom en nog twee skote is afgevuur. Die borrels het egter getoon dat die dier steeds volstoom van ons af wegbeweeg het. Intussen het ek dooierus gevat deur uit ’n sittende posisie oor my knie aan te lê en die borrels gevolg. Toe die seekoei se kop weer bo die water verskyn, het die kruishaar mooi teen sy agterkop tot stilstand gekom en ek het die sneller gedruk. Die bul was onmiddellik dood. Wanneer my vriend Roelie Jordaan ’n goeie skoot geskiet het, sê hy altyd ’n blinde hoender kan ook soms ’n mieliepit raak pik. Hierdie keer het die .375 inderdaad raak gepik.

 

Op ’n ander jagtog in die Zambezivallei het Braam ook my .375 gebruik om ’n seekoei in die Zambezirivier te skiet. Die ou staatmaker het ’n paar goeie, karaktervolle skrape opgedoen terwyl Braam die dier deur ’n digte boskasie op die rivierwal bekruip het.

 

By ’n ander geleentheid het Morkel en Braam ’n buffeltrop wat onder skadubome gerus het, bekruip. Een bul het onder ’n baie digte boom gestaan en Morkel kon nie sy mikpunt duidelik met die oop visier sien nie. Die teleskoop op die .375 het egter weereens die taak vergemaklik en die ou strydros was ná ’n moeilike herwinning op die jagbakkie.

 

VERSKILLENDE OPSIES 

Volgens my sal ’n swaarkaliber-geweer, toegerus met ’n teleskoop waaraan jy gewoond is, beter resultate vir die geleentheidsjagter lewer as ’n geweer met ’n oop visier. Verreweg die meeste jagters gebruik teleskope op hul gewere. Monteer dus maar ook ’n verstelbare of laevergroting-teleskoop op jou grootkaliber.

 

Vir ’n professionele jagter wat byna daagliks sy dubbelloop met oop visiere gebruik, is dit ’n ander storie. Wanneer hy sy kliënt se lewe moet beskerm, is dit gewoonlik op kort afstand en kan hy instinktief raak skiet.

 

n Ander opsie is natuurlik ’n vinnig verwyderbare teleskoop. Daardie weg het ek ook al probeer volg. Die probleem is egter, wat maak ’n mens met die teleskoop as jy dit in die bos afhaal? Dit kort dan ook ’n bêreplek. Jy het reeds ’n verkyker om jou nek, ’n patroonbelt om jou middel, ’n mes iewers aan die belt, ’n sakkie vir jou kamera, nog ’n sakkie vir jou GPS en nou boonop ’n lywige bergplek vir die teleskoop. Al hierdie goed aan jou lyf maak dit moeilik om stil te bekruip. Afgesien daarvan, haak iets alewig vas as jy deur digte bos beweeg. Om alles te kroon, lyk jy ook nou eerder na ’n Kersboom as ’n jagter!

Lees ook hier

bottom of page