SA JAGTER/HUNTER | Julie 2020 | Deur KOOS BARNARD

Swarovski Z5I 2.4-12X50 BT

Swarovski se Z5-reeks teleskope is reeds jare lank bekend aan jagters. Eers het dié reeks net uit twee modelle bestaan, naamlik ’n 3-18x44 en ’n 5-25x52. Soos die gewilde Z3-teleskope, word die Z5’s ook in Amerika gemonteer. Die groot kenmerk wat die Z3- en Z5-produkte van die ander Swarovski-modelle onderskei, is dat hulle hoofbuise 25.4mm in deursnee is en nie 30mm nie.

Daar is steeds derduisende mense wat hoofsaaklik te voet jag en wat dus ligter, kleiner en meer kompakte teleskope verkies. Swarovski het geluister na verbruikers en in 2019 die Z5 2.4-12x50 bekend gestel. Hulle noem dit die Forest Hunter. Met ’n maksimum vergroting van 12x is dit nie die tipiese teleskoop wat jy op daardie afstande wil gebruik wat so gewild is onder die langafstandjagters en ghongskieters nie.

 

Ek het verlede jaar so ’n 2.4-12x50 Forest Hunter gebruik om ’n rooibok mee te jag en die teleskoop het my regtig beïndruk. Op my ouderdom (lees die kwaliteit van my oë) is dié Z5 se beeld vir my net so helder as dié van ’n Z6. Jonger oë mag dalk ’n verskil agterkom maar myne kan nie.

 

KRUISHARE EN STELKNOPPE

Die gewildheid van die Z5-reeks het daartoe gelei dat Swarovski in 2020 besluit het om dié teleskope ook met verligbare kruishare toe te rus. Let wel, dis nie die hele kruishaar wat verlig nie, slegs die senterkolletjie. Dit was ’n goeie besluit, want nou kan al die Z5-aanhangers uiteindelik ook ’n Swarovski met ’n verligbare kruishaar besit.

 

Ek het net voor die inperkingstyd begin het, ’n Z5i 2.4-12x50 as toetsmodel ontvang van Whylo, die plaaslike Swarovski-agent. Ongelukkig het die tyd my ingehaal en kon ek dit net een middag op die skietbaan gebruik. Die toetsmodel het die konvensionele Plex-kruishaar met ’n senterkolletjie wat nie swewend is nie. Verder het dit ook ’n Ballistic Turret-stelknop (kortweg BT genoem). Hierdie stelknop het ringetjies met kleurkodeknoppies en kan gebruik word om vinnig vir afstand te stel (sien blokkie langsaan hoe dit werk).

 

Soos alle Swarovski’s s’n, het ons toetsmodel se verstellings perfek gewerk, en akkuraat en herhaalbaar gestel. En toe die teleskoop eers ingestel was op 100m en ek uitgewerk het waar om die kleurkodeknoppies te plaas, was dit doodmaklik om die teiken op 200 en 300m te tref. Die totale verstelspektrum vir hoogte is sowat 2.5 en 1.4m vir rigting, beide op 100m. Hierdie is ’n jagteleskoop, dis nie bedoel vir tweemyl ghongskietkompetisies nie.

 

Soos met die Z6-teleskope is die verligtingsmeganisme vir die kruishaar bo-op die oogstuk geleë en werk dit met twee skakelaars wat direk langs mekaar lê. Die knoppie aan die linkerkant is die aan/af-skakelaar. Jy skakel die verligting aan deur dié knoppie in te druk en dadelik te los. Druk dit herhaaldelik en los dit elke keer vinnig en die helderheid van die verligting neem af. Met die knoppie regs word die helderheid weer hoër

gestel (daar is 15 verstellings).

 

Deur die aan/af-knoppie in te druk en dit in te hou vir een volle sekonde, word die verligting afgeskakel. Die kleur van die verligte senterkolletjie is helder  oranje en baie mooi sigbaar teen bykans enige agtergrond.

 

VERLIGTING SE BATTERY

Net soos met die meeste teleskope vandag, is die verligting se kragbron ’n enkele CR2032-battery wat onmiddellik voor die beheerknoppies in die toepaslike stoorplek gehuisves word. Anders as sommige teleskoop-verligtingstelsels het die Z5i se stelsel nie ’n outomatiese aan/af-funksie wat dadelik reageer as die teleskoop vertikaal gehou word of gekantel word nie. Die verligting skakel wel af na drie ure indien die gebruiker nie die helderheid daarvan gedurende daardie tydperk verander het nie. Met enige afskakeling word die helderheidverstelling wat laaste gebruik was, gestoor.

 

As die battery se krag begin min raak, sal die verligte kolletjie ’n paar keer flits nadat dit aangeskakel is. Dan het die battery slegs enkele ure se leeftyd oor. As die battery vervang word en die kruishaar word weer aangeskakel, sal die helderheid outomaties op verstelling nommer sewe wees.

 

Met die kruishaar se verligting afgeskakel, werk die senterkolletjie vir my oë ook uitstekend en in helder sonlig verkies ek om sonder die verligting te skiet. Ek het verlede jaar al genoem dat die Z5 2.4-12x50 ’n puik teleskoop is en met die opsie van ’n verligbare kruishaar is dié model uit Swarovski se stal net nóg beter. Dit is werklik ’n teleskoop wat ek met groot vrymoedigheid aanbeveel. Om eerlik te wees; my hart brand om self een te besit.

 

Swarovski-produkte is nie goedkoop nie en die Z5i is geen uitsondering nie. Hierdie modelle is egter veel meer bekostigbaar as dié in die Z6i-reeks en sommige mense verkies dit dan ook bo die Z6i-modelle. Ons toetsmodel se voorgestelde verkoopprys is so rondom R29 000. Z5i-teleskope behoort by die handelaars te wees teen die tyd dat julle hierdie uitgawe van SA JAGTER/HUNTER ontvang.

DIE BALLISTIC TURRET-SISTEEM

Alhoewel die Ballistic Turret-sisteem seker al amper 10 jaar gelede bekendgestel is, mag daar dalk mense wees wat dit nog nie ken nie, daarom ’n kort verduideliking. Hierdie sisteem behels bloot dat jy die verstelknop vir hoogte maklik kan verstel vir skiet op langer afstande sonder om die aantal klikkies te moet tel. Die verstelknop bevat drie ringe met kleurkodes wat só op die stelknop gemonteer kan word dat jy, behalwe vir jou 100m-instelling (zero) nog drie ander instelafstande

kan hê. Die ringetjies het onderskeidelik ’n groen, geel en rooi knoppie. Wil jy dus op enige van daardie verlangde afstande skiet, word die stelknop bloot aangedraai totdat die verlangde kleurkode-knoppie

regoor die zero-merk is.

 

Om die teleskoop aanvanklik in te stel, moet die koppelstuk waarop die ringe met kleurkodes gemonteer is, eers van die res van die stelknop verwyder word. So word die primêre stelknop blootgelê. Nou word die geweer op 100m ingestel en ’n spesiale sluitring of zero-stop in posisie gedraai (dit verhoed dat jy per ongeluk die stelknop verby die 100m-instelling draai). Nadat die teleskoop op 100m ingestel is, is daar twee maniere waarop jy die instellings vir die ander afstande kan bepaal. Die eerste metode is om van ’n ballistiese toepassing gebruik te maak. Daarvoor moet jy die koeël wat jy gebruik se trompsnelheid ken asook die BC (ballistic

coefficient) daarvan.

 

Hierdie inligting kan dan op die ballistiese toepassing gelaai word (daar is verskeie op die mark waarvan Strelok seker die bekendste is). Die toepassing sal dan voorspel hoeveel klikkies jy moet stel om byvoorbeeld ’n 200m, 250m en 300m-zero te bewerkstellig. Elke ringetjie word nou in posisie geplaas na gelang van die vereiste aantal klikkies en dan word die sluitskroef gebruik om die hele stelknop-versameling in posisie te hou. Met die stelknop weer aanmekaargesit, kan jy op die skietbaan gaan toets of die instellings werk en die laaste fynere verstellings maak.

 

Die tweede metode behels dat jy, nadat die geweer op 100m ingestel is, fisies op elke verkose afstand gaan skiet en stel om die zero’s te bepaal. So doen jy sommer dadelik die finale fyn verstellings en word die ringetjies met kleurkodes van meet af aan in die regte posisies geplaas.

Jag in die buurlande

Steenbokjag in die Bo-Kaap

Skote wat steeds weerklink

Vra vir Kassie

Die leeus lag toe laaste

Slaan jou oë op

Inkonka

Monterings vir Lee-Speed

In die jagveld met die 6.5mm Creedmoor

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon