Eksklusief vir die web | 24 September 2019 | Deur KOOS BARNARD

'n Erfenis vir jagters

Soos dit maar oral in die wêreld gaan, is Suid-Afrika se geskiedenis ook met wapens geskryf. Sonder wapens sou dit ons voorvaders veel langer geneem het om suidelike Afrika te tem. Ek skryf hierdie stukkie uit die oogpunt van die jagter, maar moet soms noodgedwonge na politieke gebeure verwys.

Soos dit maar oral in die wêreld gaan, is Suid-Afrika se geskiedenis ook met wapens geskryf. Sonder wapens sou dit ons voorvaders veel langer geneem het om suidelike Afrika te tem. Ek skryf hierdie stukkie uit die oogpunt van die jagter, maar moet soms noodgedwonge na politieke gebeure verwys.

Biltongjagters uit die 1880's in Suid-Afrika. (www.theheritageportal.co.za)

SNAPHANE EN SANNAS

In sy dagregister skryf Jan van Riebeeck op die eerste Kersdag in die nuwe land dat daar ’n skaap die vorige nag in die kraal gevang en halfpad opgeëet is deur een of ander “wilt gedierte”. Leeus was algemeen aan die Kaap en in 1854 het een van die wildskuts (persone wat die vee met vuurwapens moes beskerm) een met ’n snaphaan aan die voet van Tafelberg doodgeskiet. Die vuursteen-pangewere (voorlaaiers) van destyds is snaphane genoem na aanleiding van die haan met sy vuursteen wat vorentoe slaan om vonke te maak wat die swartkruit in die kruitpan aan die brand steek, wat dan weer die hooflading aan die brand steek om die koeël te lanseer. Tot in die tyd van die Voortrekkers is daar na gewere verwys as snaphane (veral die ligter kalibers wat vir kleiner wildsoorte gebruik is). 

 

Gewere is natuurlik ook gebruik in die skermutselinge tussen koloniste en die plaaslike inwoners. Eers die Europeërs en die Khoi-mense aan die Kaap en toe vanaf 1779 tussen die witmense en die Xhosas aan die destydse Oosgrens. Later, toe die Voortrekkers noordwaarts verhuis het, was daar natuurlik skermutselinge en groot veldslae met verskeie swart stamme. Eers is Hollandse gewere gebruik en later ’n verbeterde Franse ontwerp (in 1615 ontwikkel) wat deur byna elke Europese land in gebruik geneem is. Die bekendste Hollandse pan-vuursteengeweer was die Oortman wat deur Jacob Oortman van Amsterdam gemaak is. Later jare het gewere wat in Engeland vervaardig is baie gewild geraak.

 

Die Voortrekkers se “sannas” was dus vuursteen-pangewere in verskeie kalibers. Die snaphane was die ligter roers en dié vir gevaarlike grootwild die sogenaamde vier-, ses- of agtponders. Die syfers het na die kalibers verwys; vir ’n vier op die pond-geweer (vierboor) het een pond lood jou slegs vier koeëls gegee, vir ’n ses op die pond-geweer (sesboor) het jy ses koeëls uit ’n pond lood gekry, ensomeer... Veral die vierponders het ’n vreeslike terugskop gehad en selfs Frederik Selous, die bekende jagter, het vertel hoe hierdie monsters sy skietvernuf nadelig beïnvloed het. 

 

Sannas is met enkele loodkoeëls gebruik of ook met lopers (haelkorrels), laasgenoemde veral gedurende oorloë, wanneer voëls gejag is of as daar op kortafstand op hardlopende wild geskiet is – soos bosbokke wat dikwels in ruie veld voorgesit en deur aanjaers na die skuts gedryf is. 

 

Vuursteen-pangewere het lank geneem om te laai en was dikwels onbetroubaar (geweier om af te gaan). Daarom het jagters meestal gewere in pare gedra sodat as die een geweer weier, hulle dadelik die ander kon gryp en daarmee skiet. Helpers is altyd gebruik sodat hulle solank die geweer wat pas afgevuur is weer kon herlaai terwyl die jagter die ander een gebruik. Elke keer as ’n jagter dus gevaarlike wild aangedurf het, het hy met die dood gedobbel. Ten spyte van hul baie tekortkominge het die ou Sanna vir 200 jaar lank die Suid-Afrikaanse geskiedenis help skryf. 

 

Toe slagdoppies ontwikkel is (’n Skotse predikant, James Alexander Forsyth, het met die ontwikkeling begin in 1807) kon die vuurstene en kruitpannetjies vervang word en het die nuwe, sogenaamde doppieslotgewere baie meer betroubaar geraak. Saam met jou kruit en lood moes jy nou egter ook genoeg slagdoppies koop om jou roer aan die skiet te hou. Boere en jagters het self hul koeëls gegiet. Almal wat ver van dorpe en buiteposte gebly het waar kruit gekoop kon word, het groot voorrade aangehou. Daar word vertel dat Voortrekkers selde die beskawing verlaat het sonder ten minste 300 pond buskruit in hul besit. 

HF Gros se foto van 'n jagkamp. Dié foto is waarskynlik geneem gedurende sy toer van die Transvaal in 1888/1889. (www.theheritageportal.co.za)

ENFIELDS EN WITWORTS

Die sogenaamde doppieslotgewere was ook akkurater as die ou sannas en dit was veral Engelse gewere soos die Enfield-doppievoorlaaier wat gewild geraak het. Later het sir Joseph Whitworth ’n doppieslot-voorlaaier ontwikkel wat veel akkurater was as die Enfield-gewere en hierdie “Witworts”, soos die Boere dit genoem het, was baie gewild in Suid-Afrika. Dit het die Boere se jagsuksesse aansienlik verbeter. Whitworths het ’n silindriese koeël (die koeëlvorm wat ons vandag gebruik) van 530gr geskiet en volgens militêre toetse in Engeland het dit op 1100 treë net so akkuraat geskiet soos die ou Lee-Enfield Pattern 1853 op 500 treë. Anders as die meeste ou sannas het die moderner gewere ook “getrokke” lope gehad, m.a.w. lope met groewe in, wat die koeëls laat roteer het en akkuraatheid verbeter het. 

 

Later moes die voorlaaier plek maak vir gewere wat van agter, by die slot gelaai is. Hulle het “papierpatrone” gebruik wat bestaan het uit ’n koeël en die kruit wat in salpeter-deurdrenkte papier toegedraai is met ’n gesmeerde viltpluisie agteraan (binne-in die papierhuls). Die slagdoppie se vonk laat slaan die papier en so ook die kruit aan die brand. Die viltpluisie smeer dan die loop agter die koeël soos dit in die loop afbeweeg. ’n Birminghamse geweersmid, Westley Richards, het in 1858 so ’n geweer gepatenteer wat baie gewild geraak het, ook hier in Suid-Afrika. Plaaslik het die gewere bekend gestaan as Wessel Rykaard of Rigard-gewere en dis ook die geweer wat die Transvalers in 1881 gebruik het om die Engelse by Majuba op te dons. 

'n Skildery van die Slag van Rorke's Drift waar die Martini-Henry roem verwerf toe 140 Engelse soldate dié geweer gebruik het om oor die 4000 Zoeloes gestuit het.  (http://samilitaryhistory.org)

MARTINI-HENRY

Toe gasdigte metaaldoppatrone uiteindelik ontwikkel is (soos wat ons steeds vandag gebruik) het die Martini-Henry een van die gewildste gewere in Suid-Afrika geraak. Dié geweer is in 1871 deur die Britte as militêre geweer aanvaar uit 104 voorleggings. Die naam Martini-Henry is afgelei van die naam van die man wat die slotmeganisme ontwikkel het, die Oostenryker, Friederich von Martini. Die sewegroefloop wat gebruik is op die geweer, is ontwikkel deur die Skot, Alexander Henry, vandaar dan die dubbeldoornaam, Martini-Henry.

 

Die Martini was ’n enkelskootgeweer met ’n valblokaksie en die kaliber was .577/.450. Die .577” is nie die kaliber nie, maar verwys na die .577 Snider-dop wat afgenek is na .450” om die Martini-patroon te vorm. Martini’s het dus .450”-koeëls geskiet van 410 en 480gr (teen ongeveer 1 300 tot 1 350vps). Die ligter koeël, met 70gr kruit gelaai, is vir die korter karabyne gebruik en die swaarder koeël met 85gr kruit vir die langer gewere. Voetsoldate het die langer gewere gebruik en die kavallerie en artilliriste, die karabyne. 

 

In Suid-Afrika het die Martini-Henry roem verwerf op 22/23 Januarie 1879 toe 140 Engelse soldate onder luitenante John Chard en Gonville Bromhead oor die 4000 Zoeloes gestuit het by Rorke’s Drift in Natal. Blykbaar is meer as 20 000 skote deur die soldate met die Martini’s afgevuur tydens hierdie roemryke oorwinning.

 

Uiteindelik sou die Martini ’n gewilde jaggeweer raak in Suid-Afrika en hulle is selfs tydens die Anglo-Boereoorlog saam met die Mausers deur die Boere gebruik. Met die uitbreek van die oorlog het die Boererepublieke sowat 50 000 Mausers en 44000 Martini-Henry’s gehad. 

 

Alhoewel die Martini se koeël baie stadig getrek het, het die swaar stuk lood goed gepenetreer op enige wild en Martini’s is selfs vir olifantjag gebruik. Natuurlik was hierdie ou skilpadkaliber net op kortafstand geskik vir die Groot Vyf.

Boerekrygers met hul Mausers  (https://www.shootingtimes.com)

MAUSER VS MARTINI

Die twee kalibers en gewere wat sekerlik die grootste impak in die latere jare van ons geskiedenis gehad het, was die 7mm-Mauser en die .303-Lee-Metford en Enfield. Eersgenoemde kaliber is in 1892 bekendgestel en die .303 BR in 1888. 

 

Peter Paul von Mauser het reeds in 1871 ’n goeie 11mm-Mauser ontwikkel en dit later opgevolg met ander ontwerpe, die 1893 Mauser en later die 1895/1896 Mauser. Die 7mm het oorspronklik ’n 173gr-koeël teen 2296vps geskiet en as magasyngeweer was die Mauser baie vinniger om te laai as die Martini. Die 7mm-koeël se trajek was dus veel platter as die Martini-koeël s’n en jy kon veel meer patrone op ’n slag dra omdat die Mauser-patrone soveel ligter was as die Martini s’n. 

 

Boeremagte het hoofsaaklik die 1895/96 Mausers gebruik maar daar is later ook (net voor die oorlog) ’n aantal Model 1898-gewere, (die beroemdste Mauser van alle tye) ingevoer. Hierdie verbeterde Mauser, die sogenaamde Pleziergeweer, ook in 7mm of dan 7x57, was ’n pragstuk met ’n halwe voorlaai wat basies soos ons jaggewere van vandag lyk. Burgers kon Plezier Mausers teen £5 van hul landdros bestel. 

 

Behalwe vir die 1895/96 model en die M98 het die Boere ook die 1893 Mauser gebruik (die sogenaamde Spaanse Mauser omdat Spanje dié geweer en 7mm-kaliber in 1893 as militêre kaliber aangeneem het). Dit was die eerste 7mm Mauser wat met rooklose patrone geskiet het.

 

Die 7mm Mauser het onsterflike roem verwerf gedurende die Anglo-Boereoorlog en het daarna as jaggeweer en jagkaliber ewe diep spore in Afrika getrap. Karamojo Bell het dit byvoorbeeld gereeld op olifante gebruik en vele buffels het voor die 7x57 geval – nie omdat dit die beste kaliber vir sulke diere was nie, maar omdat dit al was wat die Boere beskikbaar gehad het. Mausers was bekostigbaar, betroubaar en akkuraat en die lang 173gr-koeël het uitstekende penetrasie gelewer. Vandag, meer as 120 jaar later, staan die Model 98 Mauser en die 7x57 steeds sterk in die jagveld. Die Mauser-ontwerp van 1898 word steeds as die kulminasie van voortreflike geweerontwerp gesien en hierdie gewere is tot vandag toe nog gesog onder jagters en versamelaars.

 

LEE-ENFIELD

Terwyl die Boere die 7mm Mauser gebruik het, het die Britte voor die oorlog staatgemaak op hul Lee-Metfords in .303 BR. Van hierdie gewere is ook as jaggewere na Suid-Afrika ingevoer. In 1895 is die loop van die Lee-Metford verander om die dieper Enfield-groewe te hê in plaas van die sewe vlak Metford-groewe. Van toe af het die gewere as Lee-Enfields bekend gestaan. 

 

Met die Britse oorname in Suid-Afrika in 1902 was Lee-Enfields dus vrylik beskikbaar en so ook hul ammunisie. Die Enfield met sy tienskoot-magasyn het toe ook Suid-Afrika se militêre geweer geraak wat sy gewildheid verder laat styg het. Het die Boere natuurlik gewen, sou ons met Mausers bly skiet het. Juis omdat die Lee-Enfield so vrylik beskikbaar en goedkoop was, het baie duisende mense dit ook as jaggeweer gebruik, hoofsaaklik met militêre volmantel-ammunisie. Dit het soms aan die .303 ’n slegte naam gegee, want partymaal het die volmantelkoeëls getuimel en dodelike wonde veroorsaak, maar op ander kere bloot soos ’n fietsspeek deur die diere gepenetreer sonder om gou genoeg dood te maak. Baie mense het dus die .303 begin vermy. Met ordentlike sagtepunt-koeëls is die ou .303 egter net so dodelik soos enige .308 Win.  

 

Dit, in ’n neutedop, is van die belangrikste gewere en kalibers wat ons plaaslike jagters as erfenis ontvang het. Elkeen van hulle het ’n belangrike rol op die slagveld en in die jagveld gespeel. Ons het egter nie net gewere as erfenis ontvang nie maar ook die titel, Jagter. Kom ons bou voort daarop, al is dit met nuwerwetse roere wat gekamer is vir moderne kalibers. 

 

Lank lewe die jagter en sy roer!

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon